Wanneer die krieke stil word: ’n onderhoud met Petro Kotze-Odendaal

  • 0

Louise Viljoen, J-Bay, praat met Petro Kotze-Odendaal oor Petro se onlangse boek, Wanneer die krieke stil word.

Som Wanneer die krieke stil word in ’n kort paragraaf op, asseblief.

Dit is ’n ware lewensverhaal oor om die wedstryd van die lewe met ’n laat wegspring te begin, weens ’n alkoholispa en ’n gebroke ma. Dis ’n verhaal van omgee-engele in die vorm van medemense se liefde en sorg. ’n Verhaal waar lesers se emosies en waardesisteme uitgedaag word. Waar woede, simpatie, onbegrip, hoop en wanhoop wipplank ry. ’n Verhaal waar elke hart gekonfronteer word met die onwilligheid of gewilligheid om te vergewe en vorentoe te gaan. ’n Storie van hoop ten spyte van seksuele molestering, vernedering, armoede, gebrek, kanker, depressie, angsaanvalle, weduweeskap en enkelouerskap. ’n Storie waar ons sien dat liefde altyd ’n tweede kans kry, en waar lesers glimlag met die wete dat selfs die gebrokenes weer kan blom.

Waarom wou jy die trauma en seer uit jou verlede verwoord en daaroor skryf?

Daar is te veel mense wat nie oor hulle trauma en seer praat nie. Ons word mos van kleins af geleer dat ons nie ons vuil wasgoed in die openbaar moet was nie. Maar geheime in die donker het ’n houvas op jou menswees, op jou vry lewe. My storie is soveel mense se storie. Om daaroor te skryf en te praat maak mense vry en gesond. Dis tog hoekom ons hier is, is dit nie? Om ons lewensverhale in te span om vir ander ook hoop te bring. My storie het groot grondgebied vir die Koninkryk van God gebring. Soveel mense het my al ge-e-pos en ge-whatsapp om dankie te sê omdat my storie hulle weer laat hoop.

Hoe het jy die skryfproses aangepak? Stelselmatig en georden? Of het jy flertse herinneringe neergepen om later in ’n geheel te omvorm?

Ek het eers al die onthou uitgeskryf, hoewel in groeperings. Eers my kinderlewe, toe my lewe as jong volwassene, daarna my lewe as getroude en jong mamma, en laastens my lewe as enkelma tot waar ek vandag is. Daarna het ek hoofstuk vir hoofstuk die emosies ingeskryf; baie lelike woorde het mooier geword. Ek het dinge toe self ook baie beter verstaan.

Was daar tye dat jy eerder nie verder aan die manuskrip wou werk nie? Miskien weens die emosionele en liggaamlike tol wat dit geverg het? Indien wel, wat het jou laat deurdruk daarmee?

Nadat ek die rofweg-manuskrip geskryf het, moes ek moeilike vrae aan myself begin antwoord. Hoekom het ek nooit uit die mishandelde (abusive) huwelik geloop nie? Waarom het ek toegelaat dat mense my so verniel? Hierdie vrae het vir my soos ’n doodloopstraat gevoel. Ek moes gaan bid, gaan soek. Dit het gemaak dat ek die manuskrip vir langer as ’n jaar diep weggebêre het. Maar tog het die antwoorde gekom en na ’n jaar het ek die manuskrip afgestof. Die antwoorde wat ek gekry het, het gemaak dat die manuskrip van middelmatig na uitstekend kon vorder.

Was daar sekere gebeure waaroor jy eerder nie wou skryf nie? Het jy dit uitgelaat of het jy dit tog neergepen en in die boek opgeneem?

Daar is baie gebeure waaroor ek nie geskryf het nie. Sommige is net so donker en skokkend dat dit nie in ’n boek opgeneem kan word nie. Al is daar nie meer kamers in my hart met ’n Geen toegang-bordjie nie, is dit beter dat sommige feite ongesê bly.

Was dit moeilik om die woorde te vind om jou herinneringe, gewaarwordinge en gevoelens neer te skryf? Of was die skryfproses vir jou ’n ervaring waar die woorde net bly stroom het, asof ’n damwal breek?

Om emosioneel en fisies te ly maak dat ’n mens se emosies afgestomp raak. My mentor, Stefaans Coetzee, moes gereeld sê dat ek emosies moet inskryf. Ware trauma maak dat jy buite ’n gebeurtenis gaan staan en net feite skryf; geen emosies nie. Ek is nie ’n emosionele persoonlikheidstipe nie. Feite is maklik; voel baie moeiliker.

Hulle sê skryf is terapeuties. Het jy dit as sulks ervaar? Of het die oopkrap van ou wonde vir jou net meer trauma besorg?

Ek moet eerlik sê dat indien ek nog ou wonde gehad het, ek nie die boek sou skryf nie. Niemand hou daarvan om in ’n oop wond te krap nie. Dis te seer. Skryf was nie vir my ’n heelword-proses nie; ek was reeds heel. Dit is eerder ’n gedeelte van my lewe waarop ek terugkyk en weet die Here was en is goed. Dis herinneringe wat ek kan afsluit, en nou kan ek vorentoe loop na ’n baie mooi toekoms.

Hoe het jy gevoel toe jou verhaal uiteindelik as voltooide manuskrip voor jou lê en jy besef ander mense gaan daardeur ’n geweldig intieme kykie in jou hart en herinneringe kry?

Om ’n afgehandelde, goedgekeurde manuskrip in jou hande te hou is ’n gevoel wat baie soos die geboorte van ’n nuwe baba voel. Jy voel verlig en dankbaar, maar ook effens bang omdat jy nie weet waartoe hierdie “baba” in staat is nie. Dis waar, lesers kry ’n baie persoonlike kyk in jou hart, maar is dit nie waaroor pastoorwees gaan nie? Om werklik en eg (real) te wees! Om te preek moet jy jou hart gee en nie pretensieus wil wees nie. Mense weet as jy voorgee. As my storie iemand kan help, heelmaak of vrymaak, dan is dit mos die moeite werd. Waarom moet ek skaam wees, stilbly oor die oortredings wat ander mense teen my begaan het? Ek het dit nie gekies nie. My storie is ’n trofee van God se groot krag, nie ’n lelike wond of letsel wat weggesteek moet word nie.

Wat hoop jy sal jou lesers ervaar wanneer hulle jou boek lees? Met ander woorde, wat sou jy graag wil hê moet hulle uit jou storie leer?

Dat daar lewe ná vergifnis is. Vergifnis is die grootste liefdesdaad wat jy aan jouself kan bewys. Liefde kry altyd ’n tweede kans. Jy is nie ’n produk van wat met jou gebeur het nie. Jy is ’n produk van God se genade en hoe jy kies om te reageer op dit wat met jou gebeur het. God kan jou seerste seer vat en die mooiste mooi daarvan maak.

Het jy enige praktiese raad en wenke vir voornemende skrywers van hulle eie seer lewensverhale?

Word eers heeltemal gesond en kry antwoorde op jou vrae voor jy publiseer. Skryf kan terapeuties wees, ou wonde oopkrap of hoofstukke afsluit. ’n Goeie mentor, asook ’n goeie manuskripontwikkelaar is lewensbelangrik. Bid gedurig oor elke hoofstuk, want net die Here weet regtig die ware toestand van jou hart.

Dankie dat jy jou hart met ons deel, Petro.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top