
Nota: Hierdie bespreking verklap niks van die spannende storie nie – daar is bewustelik nie pretbederwers ingebou nie.
*
Die BBC het ’n ou tradisie om jaarliks net voor Kersfees ’n spookstorie uit te saai. Oor dekades heen is daar briljante films gelewer. ’n Hele aantal van dié stories speel in en om kerke af.
Wake up dead man is nie ’n spookstorie nie, maar daar is ’n aantal redes waarom ek nogal aan die BBC se tradisie gedink het terwyl ek hierdie genotvolle film gekyk het.
Die eerste is dat Josh Rian nou ’n tradisie begin skep van goeie gesinsvermaak in die dae voor Kersfees.
Dis ’n whodunnit
Die whodunnit is ’n genre wat veral in Engelse skryfwerk gewild is. Agatha Christie is waarskynlik die doyenne van hierdie subgenre, met Hercule Poirot wat so gewild geword het dat sy biografie deesdae op die internet verskyn asof hy ’n werklike persoon was.
Poirot was nie ’n Britse speurder in diens van Her Majesty nie. Hy was ’n privaatspeurder van Belgiese afkoms.
Wake up dead man bou voort op hierdie tradisie. Dit is reeds die derde whodunnit met die privaatspeurder Benoit Blanc, wat al die legkaartstukkies netjies bymekaar bring.
Johnson erken Christie as een van sy groot helde.
Meer nog, Blanc word gespeel deur Daniel Craig, wat ’n Britse ikoon* is.
Boonop, al is die film Amerikaans en al speel dit af in Chimney Rock, ’n fiktiewe dorpie in die VSA, is die kerk wat vir die film gebruik is, Brits. Dit staan in Londen.
En tog ...
Ten spyte van die sterk Britse gevoel is die film eg Amerikaans.
Die basies storie – sonder om enige van die pret te bederf
Vir die plot is daar openlik ontleen aan John Dickson Carr se The hollow man.
Jud Duplenticy, gespeel deur Josh O’Connor, is ’n jong priester. Hy was ’n rowwe kalant wat op straat leer baklei het en toe suksesvol ’n professionele loopbaan gevolg het as ’n bokser. Ná hy tydens ’n geveg ’n opponent doodgeslaan het in die kryt, is sy bokshandskoene gebêre en het hy ’n priester geword.
Ons ontmoet hom waar hy in ’n woedebui ’n ander priester katswink slaan en dan voor ’n interne verhoor gedaag word. Tydens die verhoor erken hy skuld, maar hy pleit by die kerkowerhede om hom nog ’n kans te gee. Het Jesus nie immers juis die sondaar lief nie? Hy weet wat sonde is. Hy, as vader Jud, weet dus hoe om liefdevol met sondaars te werk.
Sy pleidooi lewer resultate, maar hy moet gestraf word en daarom word hy gestuur na Chimney Rock, waar ’n ander, ouer priester, bekend as monsignor Jefferson Wicks, ’n skrikbewind voer.
Wicks is ’n harde, egoïstiese man wat dit geniet om sy lidmate te verkleineer, terwyl hy ’n klein groepie dissipels om hom vergader en hulle manipuleer met sy charismatiese persoonlikheid. Die brutale Wicks word deur Josh Brolin gespeel.
Benewens Wicks is daar twee ander mense in diens van die kerk. Martha Delacroix (Glen Close) is ’n tannie wat nie nonsens vat nie. Sy hanteer die kerk se boeke; sy maak seker die priester se klere is gereed voor elke diens. Sy speel boonop die orrel ook. Niks ontsnap haar skerp oë nie. Dan is daar Samson Holt (gespeel Thomas Haden Church), wat verlief is op Martha en as opsigter seker maak die geboue en die tuine bly netjies.
Holt is ’n sagte man, en heel vriendelik teenoor die jong priester. Verder is daar niemand wat poog om hom te laat welkom voel nie. Inteendeel. Daar word juis openlik aan hom verduidelik dat hy nie welkom is nie.
Die jong Jud Duplenticy glo egter onwrikbaar in sy roeping om aan die armes en die sondaars die liefde van Christus te bewys. Hy bots dus openlik met die charismatiese monsignor Wicks.
Wicks word op Goeie Vrydag vermoor. Natuurlik wys alle vingers dan na die jong vader Jud.
Om sake te kompliseer, vertel Martha Delacroix aan almal dat Wicks op Paassondag uit die dood sal opstaan.
Nou ja, kyk maar self verder!
Wat moet die kerk nou eintlik doen?
Wake up dead man is nie ’n teïstiese film nie, maar geen persoon kan ontken dat hier diep vrae gevra word oor die kerk en godsdiens nie. Behoort die kerk aan oranje heersers wat Bybels verkoop vir hul eie sak, of behoort die kerk aan die armes en die onderdruktes?
In Denys Arcand se wonderlike film Jésus de Montréal word die hoofkarakter deur die duiwel na ’n hoogte geneem en versoek: Werk met my, en jy kry mag, word die Jesus-karakter vertel. Arcand se Jesus-karakter kies om Jesus van die Bybel se voorbeeld te volg. Hy verwerp die versoeking. Gebeur dieselfde in Wake up dead man? Wat gebeur as Republikeinse roem op iemand wag? Wel, kyk maar self.
Wake up dead man is uiteindelik ’n sonderlinge film oor geloof – deels ook omdat een van die hoofkaraters openlik ateïsties is.
Die Bybel as interteks
Let gerus op na die name van die karakters. Jud – die jong priester – kan maklik Judas wees. Gaan hy sy geloof verloën, of nie?
Lei Jud Duplenticy aan duplicity? Is sy persoonlikheid plenty – soos daardie man in die Bybel uit wie daar duiwels gejaag is (om in varke in te vaar)?
Wicks – die pit van die kers – is nie ’n ligstraal nie. Hell fire and brimstone is meer sy bydrae.
Martha, die dienende een, se van is Delacroix – de la croix vertaal na van die kruis.
Samson, die man wat mure breek ...
Maar hier is meer. Die feit dat die moord op Goeie Vrydag plaasvind, sou kon dui op ’n opoffering van die onskuldige. Is die een wat oorleef, dus die skuldige party, of dalk juis nie?
En wat van die komende opstanding wat deur Martha verkondig word?
’n Reeks wat genot verskaf
Brick, Rian Johnson se debuut, was ’n donker speurverhaal. Hy het daarna meer kommersiële films gemaak, waaronder Star wars: the last Jedi.
Knives out was sy eerste whodunnit. Dit was ’n wonderlike film met ’n opspraakwekkende klomp akteurs en besonder skerp sosiale kommentaar op die Amerikaanse samelewing. Die film was so suksesvol dat Netflix die regte gekoop het op die volgende twee. Verlede jaar is Glass onion uitgesaai. Dit was uiters genotvol, maar het nie die hart van Knives out gehad nie.
Met Wake up dead man het Rian egter weer eens ’n uitsonderlike film gemaak.
Ek beveel Wake up dead man ten sterkste aan as kykgenot oor die feesdae.
’n Onnodige brokkie inligting
* Ek kan nie anders as om dit noem nie. In Craig se eerste professionele rol het hy ’n Afrikaanse polisieman gespeel. Hy was sersant Jaapie Botha in The power of one.

