
Foto: Christel Sagniez op Pixabay
“Wolraad Woltemade kan dien as voorbeeld van hoe ’n reddingsdaadoperasie tot gelykheid en broederskap kan lei en almal kan inspireer wat hulle daarmee vereenselwig.” Dit is die mening van Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van DAK Netwerk met verwysing na die kranslegging ter ere van Wolraad Woltemade by die hoofkantoor van Old Mutual te Pinelands.
.............
Die kansellering van die kranslegging het reaksie van DAK Netwerk ontlok. Ons vind dit kortsigtig en nie in belang van nasiebou nie en na ons mening het Old Mutual ’n gulde geleentheid deur hul vingers laat glip om hulde te bring aan ’n man wat menselewens gered het en nie mense om die lewe gebring het nie. Hy was dus ’n held en nie ’n skurk nie en daarom verdien sy heldedaad verering.
...............
Die kansellering van die kranslegging het reaksie van DAK Netwerk ontlok. Ons vind dit kortsigtig en nie in belang van nasiebou nie en na ons mening het Old Mutual ’n gulde geleentheid deur hul vingers laat glip om hulde te bring aan ’n man wat menselewens gered het en nie mense om die lewe gebring het nie. Hy was dus ’n held en nie ’n skurk nie en daarom verdien sy heldedaad verering.
Wolraad Woltemade was ’n melkboer en ’n gewone burger wat gedoen het wat enige redelike man sou doen om onder daardie gegewe omstandighede die lewens van drenkelinge te red wat in gevaar verkeer en ’n gewisse dood in die oё gestaar het. Hy was ’n onbaatsugtige mens en het in die proses sy eie lewe verloor deur sy reddingsdaad.
Old Mutual moet daarteen waak om nie onwetend rassepolarisasie in die hand te werk nie, en liefs daarop konsentreer om sosiale kohesie en versoening te help skep en te bevorder. Ons moet fokus op wat ons as Suid-Afrikaners in gemeen het in plaas van om te konsentreer op verskille tussen ons. Strewe ons werklik na ’n inklusiewe Suid-Afrika waar alle kultuurgroepe geakkommodeer móét en kan word? Die verering van Wolraad Woltemade kan nie aanstoot gee nie, of iemand moet dit kan bewys. Inteendeel, sy heldedaad moet besing word.
Die Departement van Kuns en Kultuur kan ’n groter rol speel om ons as Suid-Afrikaners saam te bind tot samehorigheid en groter eenheid bewerkstellig. Tans is ons verwyderd van mekaar en bestaan die rede waarom ’n spreekwoordelike brug gebou moet word om hierdie uiteenlopende groepe en menings nader aan mekaar te bring.
Juniemaand is jeugmaand waarin die jeug gevier moet word. Die vraag wat onwillekeurig ontstaan, is hoe inklusief die programme en feesvieringe is om die jeug vanuit alle gemeenskappe in te sluit. Jeugmaand moet die fokus plaas op alle jeug vanuit alle kultuurgroepe en ’n bewuswording skep om hul almal se rol vir ’n beter Suid-Afrika te bevestig. Dit is die doel waarna ons moet strewe – eenheid in verskeidenheid. Die jeug vanuit minderheidsgroepe moet nie bedreig of uitgesluit voel nie. Die konsepregulasies wat deel vorm van die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming, dra nie by tot die ontwikkeling van ’n erkenning van jeuggroepe of jongmense vanuit hierdie gemeenskappe en hul bydrae wat hulle ook kan lewer tot die ontwikkeling van ons land nie. Die konsepwetgewing sal dringend hersien moet word. Dit veroorsaak vervreemding en verwydering van ’n algemene gedeelde burgerskap – iets wat ons as Suid-Afrikaners nie op hierdie stadium kan bekostig nie. Almal is dit eens dat die toekoms vir jongmense onder hierdie wetgewing baie troebel lyk. Dit bevat die moontlikheid dat daar ’n uitstroming gaan wees van hoogs gekwalifiseerde professionele mense, wat Suid-Afrika nadelig gaan raak.
Die boek Animal Farm deur George Orwell, soos onlangs vertaal deur Wium van Zyl, met die titel Diereplaas kom hier ter sprake. Dit vertel van ’n proses wat steeds herhaal word: die politieke idealisme wat “die kiem dra van nuwe elitisme en magsvergrype wat die swakkes verblind en tot uitbuiting verdoem”. Suid-Afrika is baie herkenbaar in die temas soos in die boek vervat. Minderhede soos deur die regering verwoord, kan baie maklik aan hierdie tipe behandeling onderwerp word. Die beginsel van “Alle diere is gelyk, maar sommige diere is meer gelyk as ander” mag nooit hier van toepassing wees nie. Tans skyn dit asof alle burgers gelyk is, maar dat sommige meer gelyk is as ander. Hier word spesifiek verwys na die frase “African in particular and blacks in general”. Dit is ’n onderskeid wat onaanvaarbaar is en wat groot polarisasie tot gevolg het. Suid-Afrika is ’n mengelmoes van kulture wat almal gelyk deur die Grondwet geag word en moet so erken word in uitsprake, gesprekke en amptelike programme.
Die nuwe geskiedenis van Suid-Afrika kan eenvoudig nie die geskiedenis van die verlede vergeet nie. Ons land se verdeelde geskiedenis kan eenvoudig nie die geskiedenis van die verlede vergeet nie. Iemand het by geleentheid gesê dat ’n land sonder geskiedenis soos ’n mens sonder ’n geheue is. Ons geskiedenis is ingegraveer en kan nie eensklaps weggewens of vergeet word nie. Dit is ’n werklikheid wat aanvaar moet word. Net soos Andries Pretorius, Hendrik Potgieter en Piet Retief deel van die verlede is, net so moet Doman, Autshomao en Krotoa ingesluit word. Ook moet ons die vrymoedigheid hê om erkenning te gee aan Abdullah Abdurahman, Clements Kadalie, Yusuf Dadoo asook Lilian Ngoyi en Pixley Seme, om ’n paar te noem.
Die kwessie rondom Wolraad Woltemade het opnuut bewys dat ons nie ’n gedeelde geskiedenis het of wil erken nie. Ook kan die enkele gebeurtenis soos die heldedaad van Wolraad Woltemade nie slegs deur Afrikaners toegeëien word nie. Woltemade moet as ’n Suid-Afrikaanse held gereken word en daarvolgens gevier en omarm word.
Wolraad Woltemade is gewis ’n Suid-Afrikaanse held en daarom verdien hy die eerbetoon wat die FAK aan hom wil bewys. Trouens, sy heldedaad moet besing en vereer word. Dit is van belang in hierdie geval en moet so gesien en erken word.
Suid-Afrika het nou helde soos Wolraad Woltemade nodig om ons te red uit die put van politieke korrektheid, van werkloosheid, beurtkrag, misdaad, ekonomiese insinking, swak gesondheidsdiens, swak onderwys, swak polisiëring en vele ander wat dringend aandag moet geniet. Dit moet nou die prioriteit wees. Nie kleinlike politiekery wat verder bydra tot ons onbenydenswaardige posisie nie. Ons het leiers met politieke wil, durf en moed nodig om ons van ’n gewisse dood te red.
Ten slotte: Dit is interessant om te lees dat die tweede naam van die minister van indiensneming en arbeid, Thulas Nxesi, Wolte(r)made is. Dit kan aangeneem word dat sy ouers hom beslis na die held Wolraad Woltemade vernoem het.
- Danie van Wyk, Uitvoerende voorsitter, DAK Netwerk
Lees ook:
’n Onderhoud met Danie van Wyk, nuwe voorsitter van die DAK Netwerk
Kommentaar
Goed gestel, Mnr van Wyk! Die betekenis van menswees en waarde van lewe in die verhaal. Destyds wou Van Plettenberg ook nie groot ophef maak oor Wolraad se heldedade nie, en nou is politiek weer besig om dit te probeer dood druk, lyk dit vir my.
Wat jy skryf van Animal Farm is ook presies wat besig is om te gebeur! Ek wens so dat ALLE Suid-Afrikaners dit kon lees!
Onthou net dat Afrikaners kom van vele nasies wat hier kom saam groei het. Wolraad was nie noodwendig 'n burger van die land nie, maar sou Afrikaans moes ken omdat dit toe al die algemene taal geword het wat in die kolonie gebruik was. Afrikaans self is 'n mengelmoes.
Ek en 'n vervaardiger gaan 'n TV-reeks voorstel/voorlê aan die Silwerskermfees. Dit is gebaseer op my en Dr Dan Sleigh se gesamentlike navorsing. Kom ons hoop en bid dat kykNET bereid sal wees om dit te maak. Die film en dokumentêr is al vele kere oor die 10 jaar waarmee ek besig is om iets te laat gebeur, afgekeur. Ons gee die voorstel môre in en hoop en bid dit word die keer goedgekeur en kry die befondsing om die verhaal te vertel in sy volle glorie.
Sal nooit gebeur nie. Te noue assosiasies met kolonialisme, blanke meerderwaardigheid en Afrikaner nasionalisme.
Durf Wil Moed en INTEGRITEIT! Sien uit na Strauss en Sleigh se weergawe. My gemeenskap is geneties die mees diverse groep in die wêreld. Nasies is in ons bloed versoen. Daardie versoening SAL nog uitwerk in ons gemeenskappe. Geen eiesinnige vashou aan gister se bitterheid sal dit kan keer nie. Dankie Danie. !Ke (mense):e (wat) /xarra(verskillend is) //ke (saam/een) Attaqua-dialek.