Waar staan menseregte in die Midde-Ooste?

  • 2

Foto van Qatar: https://pixabay.com/photos/skyscrapers-building-architectural-3850732/

Dink aan ’n gebied wat nog nooit veel erg gehad het aan menseregte nie, en die Midde-Ooste is gewoonlik die eerste waaraan ’n mens dink.

............
Oor ’n week begin die Sokkerwêreldbeker in Qatar, ’n land wat na bewering toegelaat het dat honderde mense wat in slawerny werk, sterf tydens die oprigting van die stadions en stede ter voorbereiding vir die sport.
...........

Hierdie week is die gebied weer eens vir al die verkeerde redes op die voorgrond. Oor ’n week begin die Sokkerwêreldbeker in Qatar, ’n land wat na bewering toegelaat het dat honderde mense wat in slawerny werk, sterf tydens die oprigting van die stadions en stede ter voorbereiding vir die sport. Qatar het na berig word in die omgewing van $200 biljoen bestee om die gasheer te kan wees vir die Beker. Dis onseker hoeveel van daai geld aan lone bestee is, maar in ’n land waar arbeiders nie veel regte het nie, sou dit ’n minimale bedrag wees. Sokkerster David Beckham, aan die ander kant, het na bewering ’n kontrak vir £ 150 miljoen geteken om Qatar se ambassadeur vir die sport te wees.

In Qatar is die kafala-sisteem, wat werkers verbied om van werk te verander, eers onlangs afgeskaf. Daar is ook wetgewing ingestel om werkers ’n minimumloon van £1 ’n uur te betaal, in vergelyking met die ongeveer 60p wat hulle tans ontvang. Dis ongeveer R20 per uur, in vergelyking met die R23,19 per uur wat werkers in Suid-Afrika betaal word. Volgens die Internasionale Arbeidsorganisasie sal ongeveer 400 000 werkers in Qatar voordeel trek uit die nuwe wetgewing. Dan moet hulle boonop tussen agt tot tien uur ’n dag werk in die versengende hitte.

In ’n verdere toegewing aan Westerse invloede is die aankondiging gemaak dat protesteerders toegelaat sal word om by die stadions te demonstreer en dat homoseksuele paartjies toegelaat sal word om te soen. Waarskynlik is dit net buitelandse paartjies en buitelandse protesteerders. Ek vermoed dit sal maar swaar gaan vir inwoners van Qatar die oomblik dat buitelandse joernaliste die land verlaat na afloop van die Wêreldbekerverrigtinge.

Maar Qatar is nie al land in die Midde-Ooste wat hierdie week amok maak nie.

............
Iran het die afgelope ongeveer twee maande gebuk gegaan onder protes oor die neerdrukkende hijab-wetgewing spesifiek, en die gebrek aan vroueregte in die algemeen.
............

Iran het die afgelope ongeveer twee maande gebuk gegaan onder protes oor die neerdrukkende hijab-wetgewing spesifiek, en die gebrek aan vroueregte in die algemeen. Nou is die eerste protesteerder ter dood veroordeel en die vrees bestaan dat nog meer tereggestel gaan word. Dis gedoen in ’n poging om ander protesteerders te ontmoedig van verdere protes. Ongeveer 326 mense is alreeds dood in die 57 dae wat die protes aan die gang is. In plaas van protes ontmoedig, het die nuus alreeds gelei daartoe dat Frankryk sanksies teen Iran aangekondig het.

Brutale onderdrukking van protes het nog nooit gelei daartoe dat protes ophou nie. Dit inspireer eerder meer mense om hulle by die protesteerders te skaar. Iran se kortsigtige, kragdadige optrede gaan heel waarskynlik lei tot die ineenstorting van die huidige regime. Pleks dat hulle maar geleer het uit Suid-Afrikaanse geskiedenis. Iran het die weerstand teen apartheid ondersteun. Dis waarskynlik die rede hoekom ons huidige diplomatieke respons tot die menseregte vergrype in Iran ten beste beskryf kan word as “see no evil, hear no evil”.

...........
Gesien in die konteks van ons diplomatieke nie-reaksie op Rusland se inval in die Oekraïne, lyk dit al meer asof Suid-Afrika aan die kant van diktators en oorlogrampokkers skaar.
..............

Gesien in die konteks van ons diplomatieke nie-reaksie op Rusland se inval in die Oekraïne, lyk dit al meer asof Suid-Afrika aan die kant van diktators en oorlogrampokkers skaar.

Of is dit dat ons politieke leiers onthou wie lojaal teenoor hulle was en gehelp het in hul stryd om apartheid te beëindig?

  • 2

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Maar Qatar is baie veiliger as Suid-Afrika lyk dit my. Mens kan dit sien aan die verskil in die moordsyfers, wat persentasiegewys veel laer is as Suid-Afrika se moordsyfer.

  • Marius Schrenk

    Nog 'n bemoeisieke organisasie (LitNet). Steek sy neus in almal se sake ... veral as dit by gekwestes kom. Die arbeid kom van die Ooste af, waar mense vrek van die ellende onder hul regerings. Iran was die RSA se grootste olievoorsiener gedurende apartheid.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top