Waar is ons helde?

  • 3

Mahatma Gandhi, Martin Luther King, Steve Biko, Chris Hani, Nelson Mandela, Beyers Naudé, Bram Fischer, Desmond Tutu ... die lys is lank.

Deur die geskiedenis van die wêreld was daar nog altyd mense wat hulle in tye van morele onsekerheid aangemeld het as rigtingwysers na reg en verkeerd. Nie almal in Nazi-Duitsland het saamgestem met Hitler se beleid nie. Nie almal in apartheid-Suid-Afrika het saamgestem met die regerende party se beleid om mense te skei op grond van kleur nie. Nie almal in Trump se Amerika stem saam met sy beleid om burgerregte terug te rol in die naam van kapitalisme nie. Nie almal in 2018-Suid-Afrika stem saam met Zuma se beleid van nepotisme en korrupsie nie.

Maar waar is die persone wat leiding kan neem en as baken van reg en geregtigheid uitstaan in 2018?

Martin Luther King jnr se verjaarsdag is op 15 Januarie herdenk. Elke jaar op wat die Amerikaners MLK-dag noem, word grepies uit sy toesprake aangehaal met die doel om mense te herinner om vas te hou aan hul burgerregte. Hierdie jaar, met Trump wat by die dag meer irrasioneel optree, is daar ’n dringendheid aan die oproep. Die eerste herdenking van die Women’s Day March is op hande; daar is ywer om te mobiliseer en aktivisties op te tree.

Womens' March 2018, San Francisco (Bron: Master Steve Rapport, 2018, CC BY 2.0, Wikimedia Commons)

Oorlogveterane, rolstoelaktiviste, bejaarde aktiviste, vroueregte-aktiviste, immigrasie-aktiviste, aktiviste vir seksuele regte en meer mobiliseer almal. En aan die middelpunt van dit alles is ’n aantal vroue.

MLK-dag is ’n geleentheid vir mense om hulle spesifieke tipe aktivisme ten toon te stel. Dit het my laat wonder. 2018-Amerika het hulle Linda Sansour en Tarana Burke, hulle Kamala Harris en Ruth Bader Ginsburg. Wat het ons in Suid-Afrika?

Die eerste maand van die jaar is nog nie eers om nie, en dit voel alreeds soos ’n jaar waar valhelms en veiligheidsharnaste noodsaaklike toebehore kan word.

Wat het sover gebeur? Dit lyk alreeds asof opvoeding die slagveld gaan wees hierdie jaar. Daar is die kwessie van studente wat nie instapregistrasie kon doen by universiteite nie. Daar is die beloftes van gratis hoër onderwys waarvoor nie begroot was nie. Daar is elke jaar die situasie met skoolkinders wat nie by skole geregistreer kan word nie, wat ekstra druk op die stelsel plaas. Hierdie jaar was daar alreeds ’n konfrontasie by ’n Afrikaanse skool in Gauteng wat nie swart studente toegelaat het om te registreer nie.

Die eerste week van die nuwe skooljaar is verby, en die meeste skole probeer nog skoliere wat laat aankom, akkommodeer. Finale-jaar mediese studente en junior dokters wat hulle Zuma-jaar voltooi het, probeer werk kry in ’n land met ’n tekort aan dokters en geen beskikbare poste nie.

Werkloosheid neem toe, en ’n onbevoegde minister van maatskaplike ontwikkeling betaal ’n halfmiljoen rand vir ’n televisie-onderhoud wat net opgeblaaste beeldpoetsery is. Sy sou daardie geld beter kon aangewend het met opleiding vir haar personeel, of om stelsels daar te stel om seker te maak Sassa-betalings geskied betyds.

Korrupsie en onbevoegdheid neem toe op alle vlakke, van munisipaal tot nasionaal.

Die ANC en hul alliansievennote baklei oor Zuma. Zuma baklei, na berig word,  om die marionette van sy keuse in beheer te los as hy moet gaan. Die EFF baklei met klere in ’n winkelsentrum. Die DA baklei met (of is dit oor?) Patricia de Lille. Die Wes-Kaap probeer net genoeg water kry om aan die lewe te bly.

Zuma se eerste kabinetskommeling vir die jaar, en sy staatsrede, met die nou al te verwagte EFF-uitsetting, het nog nie eers plaasgevind nie.

Elke era het nog altyd morele helde opgelewer wat rigtingwysers na reg en verkeerd is. Bitter selde word hulle in hul tyd erken as helde. Soos die spreekwoord sê: “Hindsight is 20/20 vision.”

Ek word herinner aan ’n uittreksel van ’n Martin Luther King jnr-toespraak:

I reject the idea that we should just be patient and wait 100 or 200 years and the problem will sort itself out. I think there is an answer to that myth. Time is neutral, it can be used either constructively or destructively. Somewhere we must come to see that human progress never rolls in on the wheels of inevitability. It comes through the tireless efforts and the persistent work of dedicated individuals ... and without this hard work, time itself becomes an ally of this primitive forces of social stagnation ... and the guardians of the status quo are always on hand with their oxygen tents to keep the old order alive ... and so it is necessary to help time and to realize that the time is always right to do what is right. (Oberlin college archives: Aanhaling uit sy toespraak getitel "Remaining awake through a Great Revolution", Oberlin, Junie 1965.)

Waar is die Suid-Afrikaners wat bereid is om die status quo van suurstof te ontneem? Waar is die Suid-Afrikaners wat bereid is om die regte ding te doen? Ons kan nie met heimwee verlang na die dae van Thuli Madonsela se integtiteit en terselfdertyd die huidige moreel bankrot leierskap op alle vlakke as onvermydelik aanvaar nie.

Martin Luther King jnr het ons herinner die tyd is altyd reg om die regte ding te doen. Wat hy moes bygevoeg het, is dat dit van ons afhang om dit te doen.

  • 3

Kommentaar

  • Marietjie Luyt

    Daar is en was wel swart kinders in die Hoërskool Overvaal, wat bereid was om in Afrikaans onderrig te word. Die huidige strydpunt gaan daaroor dat die "55" kinders waarvan mnr Lesufi praat - eintlik is hulle net agt, so blyk dit nou - in Engels onderrig wil word. Daar is wel 'n skool, Phoenix High, sowat 5 km vanaf Overvaal, wat meer as genoeg plek vir hierdie leerlinge het.

    Iets anders is op die spel. Daar is 'n beweging, gelei deur mnr Lesufi, die LUR vir Onderwys in Gauteng en van sy handlangers en ondersteuners, om Afrikaanse skole te dwing om te verengels. Van sy ondersteuners het onomwonde gesê dat daar geen Afrikaanse staatskole in Suid-Afrika mag wees nie, en dat alle onderrig in staatskole in Engels moet geskied.

    Een van die ouers wat graag wil hê haar kind moet by Overvaal skoolgaan, gee as rede hiervoor aan dat Overvaal met die onlangse matriekeksamen 'n 100% slaagsyfer gehad het, teenoor die slaagsyfer van 75% by Phoenix. Dat moedertaalonderrig dalk iets met hierdie prestasie te doen het, oorweeg sy nie.

    Ek sien juis dat Virginia Keppler in artikels in The Citizen skryf dat ouers van Eersterus uiters besorg is oor hierdie rigting waarin die LUR beweeg, en dat hulle meen hy wil hulle hul taal en kultuur ontneem.

    Hier is die skakels:
    https://citizen.co.za/news/south-africa/1789828/hands-off-afrikaans-say-defiant-pupils-at-fh-odendaal/#.Wmk5_uMquPw.facebook
    https://citizen.co.za/news/south-africa/1789824/coloureds-stand-up-for-their-culture-as-many-believe-there-is-a-war-against-afrikaans/#.Wmk5IKD-hG8.facebook

  • Bettina dit spreek vanself waar jy teenoor die Afrikaner staan deur net te kyk na jou lang lys van helde.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top