Elke nou en dan moet organisasies bestek opneem van waar hulle staan, en waarheen hulle op pad is. Besighede hersien hulle visie en missie.
Burgerlike organisasies kyk of hulle nog relevant is, ʼn verskil maak aan mense se lewens en die regering verantwoordbaar hou vir vergrype. Vrywilliger-organisasies stof hul grondwette af en kyk na hulle ledetalle.
Of hulle dit wil erken of nie, is ook kerke vrywilliger-organisasies, en al meer lede is nie meer gewillig om te behoort nie. Anders as by burgerlike organisasies organiseer kerklede nie plakkate en optogte en toi-toi nie. Nee, hulle stem met hul voete. Sommiges kies om te skuif van tradisionele kerke na meer charismatiese gemeentes. Die meeste kies om heeltemal buite georganiseerde godsdiens om te beweeg – nie sonder rede nie.
Die Katolieke Kerk is in sommige lande op die rand van bankrotskap as gevolg van hofsake wat voortspruit uit priesters se misbruik van kinders en die kerk se toesmeerdery. Met sommige charismatiese kerke is dit volwasse vroue wat misbruik word. Of geestelike leiers kan nie hul vingers uit die geldlaai hou nie.
Die meeste mense wat die kerk verlaat, kies om dit om ander redes te doen. Die voorbeelde hierbo genoem, beeld duidelike kriminele oortredings uit. Tog is daar in elke gemeente groot getalle kerkgangers wat kies om die geestelike leier te ondersteun en die klaers soos uitgeworpenes te laat voel. Dis hoekom so baie vergrype so lank aanhou. Dié wat weet, moet kies of hulle ook hul geestelike familie wil verlaat wanneer hulle die leier beskuldig.
Hoe gemaak as die kerk immoreel optree deur landswette te gehoorsaam en daardeur onreg versterk? Die beweging wat Jesus gevolg het, was nooit bedoel om die status quo te ondersteun nie. Inteendeel, die doel was om ʼn morele doring in die korrupte leiers se lewens te wees. Dalk daarom dat die dissipels se grootste teenkanting van die gevestigde kerk gekom het.
Gedurende apartheid was dit maklik vir kerke met ʼn sosiale gewete om sigbaar protes aan te teken en aktief die status quo te onderbreek. Die Anglikaanse Kerk byvoorbeeld het ʼn geskiedenis van priesters wat hulself voor stootskrapers ingegooi het om te keer dat die regering huise platstoot, soos David Russell. Trevor Huddleston het in Sophiatown ʼn gerekende anti-apartheidsaktivis geword juis rondom die gedwonge verskuiwings van gemeenskappe. Of dat hulle die regering kritiseer het, en die regering hulle met briefbomme probeer vermoor het, soos met Michael Lapsley gebeur het. Desmond Tutu se aktivisme het hom die Nobelprys besorg. Kerkeiendom is gebruik om aktiviste te versteek wanneer hulle vir die polisie gevlug het. Die kerk het ʼn morele besluit geneem om geregtigheid na te volg, selfs wanneer dit tot verbreking van landswette gelei het.
Aan die ander kant was daar die NG Kerk, wat gekies het om die apartheidsregime in stand te hou deur politieke besluite met die Bybel te ondersteun. Die skade wat daardie besluit die land en die oorgrote meerderheid landsburgers berokken het, kan nie bereken word nie. Die NG Kerk betaal nou nog die prys, in verminderende ledetalle en wantroue van lidmate en buite die kerk om. En selfs nou nog kies hulle telkemale om eerder te onderdruk as op te bou.
Nou is dit 2019, en die eertydse onderdruktes is nou in beheer. Juis nou, in die aanloop na ʼn verkiesing, is dit relevant om te vra waar die kerk vandag staan. Hoekom was die kerk grootliks tjoepstil in die Zuma-jare? Wanneer daar wel reaksie was, was dit laat en baie lae-profiel. Die kerk se funksie as “speaking truth to power” het tog nie verval nie. As die waarheid gefluister was, was dit so sag dat niemand, insluitend dié in magsposisies, dit kon hoor nie.
Hoekom is dit in aanloop tot die verkiesing relevant? Politici onthou nou skielik dat hulle eintlik kerkgangers is, al was hulle met die vorige verkiesing laas in ʼn plek van aanbidding. En kan hulle asseblief die gemeente toespreek?
Ons almal weet geestelike leiers het ook politieke voorkeure. As hulle dan die altaar beskikbaar stel vir een politieke party, behoort hulle dit nie ook te doen vir al die ander nie? Of is die korrekte morele posisie om eerder weg te bly van politieke uitsprake, veral as jy as gemeente jou nie sterk teen ongeregtigheid uitspreek nie, of nog erger, as jy deur jou optrede binne of buite die kerk ongeregtigheid toesmeer?
Getalle in kerke mag aan die afneem wees, maar die mag wat leiers uitoefen oor die oorblywende gemeentelede, is onveranderd. Al meer word daai mag gebruik om leiers te verryk eerder as gemeenskappe te verander.
Die gevolg? Irrelevante kerke en immorele gemeenskappe. Ons maai wat ons saai. Hierdie verkiesing gaan ʼn bumper crop wees van politici wat nie omgee vir hul kiesers nie. En die kerke, dieselfde kerke wat voorheen vir geregtigheid gestaan het, is hierdie keer weifelend, skoorvoetend om hul nek vir geregtigheid uit te steek.
Dieselfde aktiviste wat destyds gevlug het en versteek was, is nou in beheer. Dit moet moeilik wees om te sien hoedat ideale verwring word deur haat of gulsigheid of magsbeheptheid. Dit gebeur. Die kerk se taak was nog altyd om afstand te hou van mag af en daardie afstand te gebruik om perspektief te behou.
Net soos wat die NG Kerk destyds te na aan die apartheidsregering was, is die liberale kerke nou te na aan hierdie korrupte regering.
Kom ons hoop hulle maak die nodige koersverandering voordat hulle ook in irrelevantheid verval en in die proses ʼn nasie vernietig.
Kommentaar
Dis oor "sosiale geregtigheid" wat die wêreld in die betreurenswaardige toestand is wat hy is - vergeet daarvan.
Die situasie van vandag se sieklike, onbeheerbare wêreld is sinoniem aan wat gebeur wanneer daar ontslae geraak word van 'n hardhandige diktator iewers in een of ander Midde-Oosterse land - die bietjie bestendigheid en respek vir prosedure en regte wat daar nog was verdwyn soos mis voor die son en word vervang deur die allervreeslikste wetteloosheid, anargie en ellende. So vergeet nou bietjie eers van die "sosiale geregtigheid virtue signaling" - ek dink mense IS KEELVOL daarvan.
Ek AS GAY MAN gaan beslis nie aan nog die NG Kerk nog die Hervormde Kerk, Gereformeerde Kerk of die APK - wat behoudend is aan die voorskrifte v/d Heilige Boek eens PROBEER voorskryf WAT EN HOE hulle moet maak nie.
Sou hulle my en my gedrag en lewenswyse gedoog en toelaat dan oortree en VERWERP hulle die skriftuurlik voorskrifte (wat hulle minder as niks in my oë sal maak) vervat in die Bybel - EK HET GEEN REG NIE - GEEN! (En ek IS 'n gay man.)
Doe zo voort NG, doe zo voort!
Die kerk wêreldwyd is oor die algemeen voor 'n kruispad:- sommige evangeliese mega- en klein kerke, asook die tradisionele kerke. Wanneer saad vir koring aangesien word omdat dit by die RKK koöperasie; of NWO gekoop is, en jy sit op die einde met wildekoring ... dan moet jy dalk terugkeer na die Ware saadverskaffer van Sy Woord.
Afvalligheid het ingekom by die boom van "self governance" en menslike oorleweringe asook die eeu-oue deure van verleiding nl die lus van die oë; lus van die vlees; en die grootsheid van die lewe (superstars op verhoë).
Mag ons in die vrees van die Here weer 'n Handelinge kerk word.
Waar daar nie meer Jood, Griek, slaaf, vrou, man(sonder om God se wedersydse orde van submissie weg te gooi nie) vryman en kleur is nie, maar alleenlik die kerk van die Bloedgewastes wat ons onderwerp aan Sy Woord.
Ps. 132 :2. Die Here het Sy Woord bokant Sy Naam verhef. Maw Sy verordeninge/raad/beloftes en ooreenkomste is in Sy NT vervul en is bokant Sy gesag en outoriteit verhef.
Pasop om Trevor Huddleston te gou tot ‘n held te verhef. Daar was gerugte dat hy twee arm seuns in Engeland gemolesteer het. Hy het dit nooit ontken nie en het nadat die gerugte versprei is ‘n senuweeineenstorting gehad. Die Britse regering het egter die saak onder die mat ingevee. Ek neem aan die onderdukking waarvan jy die NG Kerk beskuldig is seker die gay kwessie. As dit die geval is, is die Anglikaanse kerk in SA net so skuldig - vra maar Tutu se dogter. Ten minste praat die NG Kerk daaroor waar die ander kerke net swyg.
Ek versout my deur te sê dat dit in die Bybel gaan oor geregtigheid. Gaan lees asseblief: http://www.truthandfire.com/news-bedford/2018/9/20/social-justice-why-jesus-didnt-pursue-it-why-the-church-shouldnt-fight-for-it van, According to Merriam Webster, “justice” ... tot ... and being ready to punish all disobedience when your obedience is fulfilled
— 2 Corinthians 10:4-6
Sal graag lesers se kommentaar oor dit wil hoor.