Vyf goed van ... die middaguurgesprek met Annie Klopper oor Die tragiese saak van Pamina Vermaak

  • 0

Annie Klopper (foto: Naomi Bruwer)

 

Suzanne Koen deel haar gedagtes oor 'n VER[r]as-middaguurgesprek wat op die 20ste September by die US plaasgevind het. Annie Klopper het met Ryan Pedro oor Annie se boek Die tragiese saak van Pamina Vermaak gesels.


  1. Annie dra ’n wit T-hemp, met die letters van Metallica in skokpienk daarop en die frase “Justice for all” onderaan. Ek wonder: as sy swart kortgeknipte hare, ‘n kuif en blou oë moes hê, sou dit Pamina kon wees?
  2. Met die skryf van hierdie selfgeklassifiseerde romkom het Annie haar en haar vriende as teikenlesers in gedagte gehad. As sy dit nie kon geniet nie, sou sy dit nie van lesers kon verwag nie. Aspekte soos register en taalgebruik in die dialoog getuig daarvan dat Annie “wou sing soos (sy) gebek” is. Dis daarom dat sy die dialoog hardop vir haarself gelees het.
  3. Baie aspekte omtrent die verhaal kom vanuit Annie se persoonlike verwysingsraamwerk: onder meer die kontras in milieu tussen Witwaterbaai en die stad waar Pamina beweeg; Pamina se oorlede pa (ook die plateversameling wat sy van hom geërf het); en waarskynlik die mees prominente aspek, die groot rol wat musikale bydraes deurgaans speel. Laasgenoemde getuig van Annie se musiekkennis en ervaring as musiekjoernalis, asook haar vriendskap met onder andere die groeplede van Die Heuwels Fantasties. Met byvoorbeeld ’n eie temalied moedig Die tragiese saak van Pamina Vermaak die eksperimentering met multimodaliteite in literatuur aan.
  4. Pamina se gemengde gesin en sy as die onkonvensionele vroulike hoofspeler weef versigtig temas van ras en feminisme in die narratief in. In Annie se woorde: Pamina “veroorsaak haar eie kak”. Haar probleme is, anders as in die stereotiepe romkom, nie as gevolg van ’n man nie. Die leser word bevredig deur die doelbewuste gebruik van romcom-clichés, soos dat liefde tóg op die ou end gevind word, maar ’n man is nie die eintlike oplossing nie. Eerder dat Pamina leer om met die gevolge van haar besluite saam te leef.
  5. “Hoe sy is, is fine” – of dit nou enige vrou is wat haar met Pamina se “flawed karakter” kan vereenselwig, of Annie wat aanvaar het dat sy nie erkenning as “groot literêre skrywer” met hierdie boek gaan kry nie – sy het iets geskryf wat sy kon geniet, al is dit “kommin”. As jy dus enigiets wil wegneem van Pamina se tragiese saak, is dit om vrede met jouself te maak.

Die tragiese saak van Pamina Vermaak deur Annie Klopper: ’n (musikale) onderhoud

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top