“Net diegene wat die skoen dra, weet waar dit druk.” Dit was een van die leuses van die Stemreg vir Vroue-beweging, maar in werklikheid ’n onderbeklemtoning van wat vroue probeer oordra het oor hoe hulle lewe regeer is, skaars 100 jaar gelede, skryf Elsabé Brits op Vrouedag.

Foto’s uit 1914 van die Britse polisie met beskrywings van militante suffragettes daarby. Die kunswerk Rokeby Venus deur Velázquez's in die Nasionale Galery is deur Mary Richardson (nr 11) beskadig met ‘n mens. Richardson is nege keer in hegtenis geneem. Foto: Wallace Collection/National Archives UK
Die National Union of Women’s Suffrage Societies (NUWSS) onder leiding van Millicent Fawcett is reeds in 1897 in Brittanje gestig; hulle was bekend as "suffragists”. Die meer radikale Women’s Social and Political Union (WSPU) onder leiding van Emmeline Pankhurst is in 1903 gestig; hulle was die “suffragettes”.
Dit was die “suffragettes” wat die bekende wit, groen en pers kleure gedra het. Dit was hulle wat klippe gegooi, vensters gebreek, vergaderings gehou, brande gestig en op eetstakings gegaan het. Talle het hulself vasgeketting teen traliewerk en is as politieke gevangenes in die tronk gegooi. Hulle is pynlik gedwing om te eet deur buise wat in hulle neus afgedruk is.

‘n Suffragette-vergadering in Manchester, England circa 1908. Emmeline Pethick-Lawrence en Emmeline Pankhurst staan in die middel op die platform. Foto: Wiki
“Dade nie woorde nie,” het hulle geglo. Die polisie het jag gemaak op hulle – en in stede daarvan om na hulle te luister, het hulle hulle in die tronk gegooi.
Die vroue – ryk, middelklas en arm – het saam gestaan – nie eens vir gelyke regte nie, maar om te stem sodat hulle oor hulle eie lot kon beskik. Want ’n vrou was ’n besitting, maak nie saak wie sy was nie.
Hoekom het hulle opgestaan? Vroue moes alles wat hulle besit het – indien hulle wel enigiets gehad het – oordra aan hulle man sodra hulle trou. En in die hoogs onwaarskynlike geval dat hulle skei, het hulle dit nie teruggekry nie, en het hulle ook hulle kinders in die proses verloor. Tot in 1878 kon vroue in Brittanje nie universiteit toe gaan nie. Net vier vroue is aanvanklik toegelaat – en hulle is nie met ope arms verwelkom nie.
En eers in 1882 kon getroude vroue uit eie reg eiendom besit; maar ongetroude vroue nie. Die meeste beroepe, ook werk in die staatsdiens, was hulle nie beskore nie.
Om ’n eie bankrekening te open, of later ’n eie kredietkaart te kry, jou werk te behou as jy trou of swanger raak, op die regbank te sit, ’n aanklag in te dien dat jy seksueel gemolesteer of verkrag is, ’n lening te kry, jou eie paspoort afsonderlik van jou man s’n te hê; self ’n motor te koop; te dra net wat jy wil; en ’n magdom ander hekkies om oor te spring het nog voorgelê. Dit het jare geneem voordat vroue op dieselfde gronde as mans kon skei.
In Suid-Afrika het die South African College Council in Augustus 1887 ’n spesiale vergadering gehou om te besluit of vroue toegelaat moet word. Dit is goedgekeur en nege vroue is toegelaat by wat vandag die Universiteit van Kaapstad (UK) is – volgens die UK se webtuiste was twee van hulle Jessie Rose-Innes (née Dodds-Pringle), wat getroud was met James Rodes-Innes, en Mary Sauer (née Cloete), wat getroud was met JW Sauer van Uitkyk, Stellenbosch. Maar baie van ons vroue moes oorsee gaan studeer, soos Charlotte (née Manye) Maxeke, wat in 1898 ’n BSc-graad in Amerika ontvang het, en Gladys Steyn, die land se eerste vroulike advokaat, wat in die 1920’s in Brittanje moes gaan studeer.
Eers in 1947 het Suid-Afrika sy eerste swart vrouedokter gehad: Mary Malahlele-Xakana, wat aan die Universiteit van Ford Hare studeer het. Die eerste vrouedokter in Suid-Afrika was Jane Elizabeth Waterston wat in 1867 van Skotland hier aangekom het om onderwys te gee, maar toe teruggekeer het om as dokter te kwalifiseer in 1880, toe sy gehoor het dat vroue toegelaat word. Nadat sy gekwalifiseer het, het sy teruggekom en hier onder armes gewerk tot haar dood.
Dit het dekades geneem vir vroue om poste te beklee wat mans eeue gelede al beklee het. Vroue kon nie pensioenvoordele geniet nie, nie as hulle getroud was nie, want “hulle het mos ’n man”. Die voorbeelde is legio. Die eerste vroueprofessor in ingenieurswese by die Universiteit Stellenbosch is eers in 2018 aangestel; sy is Cara Schwarz. Die wêreld is vol van sulke voorbeelde, selfs van vroue wat die werk gedoen het en die mans wat toe die Nobelpryse gewen het. Twee is Rosalind Franklin, wat nie eens in die teekamer toegelaat is nie, en Jocelyn Bell Burnell.
Gedurende 1918 het die Britse parlement die Representation of the People Act 1918 aanvaar. Dit het aan vroue van 30 jaar of ouer stemreg gegee indien sy of haar man reeds op die Local Government Register as ’n kieser geregistreer was, of as sy eiendom besit het of ’n gegradueerde was wat in ’n universiteitskiesafdeling sou stem. Daarmee het 8,4 miljoen Britse vroue stemreg verkry. (Agt jaar tevore het arm, werkersklasmans ook stemreg gekry.)
In die VSA het wit vroue in 1919 stemreg gekry.
Tien jaar later, in Maart 1928, is die wet hersien, dié beperkinge opgehef en het vroue volwaardige stemreg begin geniet. In Suid-Afrika kon wit vroue vanaf 21 Mei 1930 stem.
Dit was die vroue, die suffragettes, wat die katalisator was wat rimpelings van gelyke regte begin het. Uiteindelik het dit gelei tot die Tweede Feministiese Golf van die 1960’s, wat twee dekades lank geduur het. Toe het vroue begin aandring op meer as stemreg – onder meer geboortebeperking, aborsie, gelykheid en veranderinge in kultuur.
Daar is steeds vroue, en meisies, wat geen kanse, of nie gelyke kanse, op onderrig het nie, wat nie motors mag bestuur nie, wat geen besluite het oor haar liggaam of reproduksie nie. Vroue werk steeds in haglike omstandighede, kinders ook – vir hongerlone. Kinderbruide en vroulikegeslagsdeelkending bestaan steeds in 2019. Die werk is nog lank nie klaar nie.
Die Wêreld Ekonomiese Forum het in 2017 gesê dit sal nog ’n 100 jaar neem voordat mans en vroue dieselfde geld verdien – dit is basies oral op die planeet nog nie dieselfde nie. Vroue werk vir die eerste 51 dae van die jaar “gratis” en eers dan haal hulle salarisse dié van mans in. In die VSA is daar ’n wet opgestel in 1923 dat mans en vroue gelyk moet wees in alle opsigte en dit is sowaar eers in 1972 deur die Kongres aanvaar, en verlede jaar het Nevada die 36ste staat geword wat dit deurgevoer het. Meer as 100 jaar later! Dit is moeilik om bevoorregting weg te gee as jy voordeel trek.
Die mense wat die mag hou in dié ongelyke situasies is daarvoor verantwoordelik om dit te verander. Die blaam daarvoor berus nie op die vroue en meisies wat “dan gelukkig is om so te leef nie”. Dit is ’n drogargument en so goed jy meen die slaaf is verantwoordelik vir slawerny.
Die Suid-Afrikaanse regering het pas eers ’n wet oor huwelike wat onder die gewoontereg voltrek is, verander sodat vroue wat in óf ’n monogame óf ’n poligame huwelik is, dieselfde reg op eiendom het as die man. Die Wysigingswet op Erkenning van Gewoontereghuwelike gee nou vir vroue wat voor 1998 in die huwelik getree het, gelyke eiendomsregte. En kinders kan nou van die ma ook erf. Nou eers, en eers nadat die Konstitusionele Hof dit moes beslis.
Manlike bevoorregting bestaan en dit is moeilik om vir iemand iets te verduidelik waaraan hulle so gewoond is – hulle weet skaars hulle geniet die voordele daarvan. Of om aan vroue wat so gewoond daaraan is om dit nie te hê nie, te verduidelik wat hulle nie het nie. Die reaksie teen feminisme – wat dit probeer uitlig – is dan baie keer onmiddellik een van aggressie.
Dit is dinge soos om meer geld te verdien en mense wat gewoon net aanvaar die man is die “baas van of die plaas”, of van die besigheid, of is die professor of dokter. Daar word nie gefrons indien ’n man seksueel “ervare” is nie, maar ’n vrou wat is, is ’n slet.
Om dronk te word by ’n kuierplek is maar “tipies man”, maar vir ’n vrou is dit “darem nie mooi nie”. Durf sy dit waag, is sy in elk geval in fisieke gevaar en ’n teiken vir seksuele geweld. Dit is manlike bevoorregting om nie bang te wees dat jy verkrag sal word op ’n afspraak nie – of eenvoudig nie seksueel geteister sal word nie.
Mans loop nie op straat en dan word daar aanmerkings oor hulle klere, hare, skoene en lywe gemaak nie. Ook nie op sosiale media nie. Daar word nie vir hulle gesê wat hulle behoort aan te trek nie. Hulle liggame word nie polisieer nie. Daar word nie vir hulle gesê om hare op hulle liggame te verwyder of “beter na hulself om te sien nie”.
Dit is manlike bevoorregting om al jou ambisies en loopbaandrome na te jaag sonder dat iemand vra of jy ’n goeie pa is. “Hoe doen jy dit? Werk en kinders grootmaak?” Hulle keuses oor ouerskap beïnvloed ook nie hulle loopbane nie. Al vir eeue lank is die mans gestuur om ’n opvoeding te kry en nie die vroue nie; is daar gewens vir ’n seun
Die vroue doen die sloofwerk in landboubedrywighede waar mense bestaansboerderye het. Op haar kop is daar ’n waardeprys as sy trou, en sy moet wegbeweeg van haar familie en elders aanpas.
Bevoorregting van mans het al onsigbaar geword, omdat dit deel van die kultuur en sosiale strukture geword het. Dit is dominant, sterk, en ons is gebaai daarin – versterk deur kleedkamerpraatjies eie aan sportsoorte soos rugby en sokker.
Dit speel af langs ons sportvelde – waar seuns van baie kleins af hierby ingewy word. Dit is soos om laer te trek en ’n baie manlike kultuur vroeg reeds te vestig – by alle bevolkingsgroepe in die land – een waar vroue uitgesluit en minderes is.
Die kultuur om “een van die manne” te wees behoort herskryf te word en dit lê by mans om dit te verander. Alles is nie binêr nie, dit is veel meer divers, en nog minder is die samelewing heteronormatief.
Dit is al lankal tyd dat ons samelewing besef dit is nie vroue se verantwoordelikheid om hulself die hele tyd teen verkragting en seksuele teistering te beskerm nie. Ons hoef nie so te leef nie. Ons hoef nie die hele tyd oor ons skouer te loer nie. En seuns moet geleer word en mans moet besef dit is oral en altyd verkeerd om vroue te teister en te verkrag – van die speelgrond tot die raadsaal. Altyd.
Die blote feit dat Brett Kavanaugh sowaar ’n regter in die Amerikaanse Hooggeregshof geword het, wys waar die wêreld steeds is. Dit kom nadat Christine Blasey Ford voor ’n regterlike kommissie van die senaat en die wêreld getuig het hoe Kavanaugh haar seksueel aangerand het. Sy het skitterend en braaf getuig oor hoe hy haar op die bed neergepen het terwyl twee ander mans gelag het.
Michael Kehler bestudeer aspekte van manlikheid aan die Universiteit van Calgary, en hy het in ’n artikel in The Conversation geskryf:
Men need to stop legitimizing, validating and excusing the harassing, objectifying and sexualizing of women along with the marginalizing and belittling of other men who do not subscribe to the Kavanaugh-esque rules of boys being boys.
To speak up and speak out within and among men and boys, alongside women and girls as allies, is to push back on the myth that boys and men are naturally aggressive, dominating and oppressive. Masculinity is not simply genetic, we learn how to become certain kinds of boys and we also learn which boys are more valued than others.
Juis, nie alles mans is só nie. Maar mans sal ook niks verloor om deel te word van die gesprek nie. Die stilte of kritiek van mans en vroue wanneer bevoorregting en gelyke regte ter sprake is, is nie verskoonbaar nie. Dit hou die status quo netjies op sy plek.
Aborsiewette in Amerika
Vanjaar het 30 state in die VSA hulle aborsiewette gewysig of is hulle besig om dit te doen. Hiervan is 15 besig om te werk aan wetgewing wat aborsie verbied ná ses weke, berig die BBC. Dit terwyl van die klinieke wat dié diens verskaf, sukkel om hulle deure oop te hou.
Dit word die “Heartbeat Bills” genoem, omdat die politici meen dit is wanneer ’n hartklop opgespoor kan word. Dus moet daar ’n hart wees. Dit is nie korrek nie; ’n fetus het nie op ses weke ’n hart nie, ook nie veel meer nie. Daar is bloot stamselle wat uiteindelik die hart sal word.
In Alabama is aborsie nou onwettig, selfs al was daar bloedskande en verkragtig.
Op ses weke is talle vroue nie bewus daarvan dat hulle swanger is nie. Dit laat baie vroue sonder enige keuse oor hulle eie liggame en reproduktiewe gesondheid. Dit alles nadat vroue in 1973 uiteindelik dié reg gekry het danksy die Roe v Wade-uitspraak in die Amerikaanse Hooggeregshof om ’n aborsie in al 50 state te ondergaan.
Om sake om te keer, sal drukgroepe wat pro-aborsie is na die Hooggeregshof moet gaan. Maar diegene wat teen aborsie is, sal alles doen om Roe vs Wade ter syde gestel te kry. Die regbank tans in die Amerikaanse Hooggeregshof is vyandelik teenoor vroueregte, en Kavanaugh is ook daar.
Mag die verkrampte besluite wat mans die VSA al weer oor die regte van vroue maak, nie ook oorspoel na die res van die wêreld en na ons nie. Want nie net moet jy die skoene self dra om te weet waar hulle knyp nie, maar ook ’n paar honderd kilometer in hulle loop om te weet hoe dit voel.
Vroue se daaglikse stryd gaan hand aan hand met swangerskap en ’n poging om kinders te voed en klee. Net 25% van kinders word in elk geval in ’n gesin groot – die res word, soos nog altyd, alleen deur ma’s, oumas en tannies versorg. Die meeste mans wat saam aan daardie wonder van bevrugting deelgeneem het, is net mooi nêrens te sien nie.
Soos altyd word vroue se liggame en hulle menseregte misgekyk en dan verpolitiseer. Hulle vernietig lewe, glo soos “misdadigers”.
Maar daar is niks heilig aan die manier waarop kinders in ons land grootword nie. Die seksuele, fisieke en emosionele mishandeling van kinders en vroue is so epidemies dat oorsese kenners dit bestudeer. Daar word so hard geveg deur skynheiliges om die embrio’s te red, maar sodra die kind gebore word, staan die einstes eenkant. Trek ons ons moue op en help regtig? Nee.
Mary Wollstonecraft was reg toe sy in 1790 in haar boek A vindication of the rights of woman geskyf het:
My own sex, I hope, will excuse me, if I treat them like rational creatures, instead of flattering their fascinating graces, and viewing them as if they were in a state of perpetual childhood, unable to stand alone. I earnestly wish to point out in what true dignity and human happiness consists – I wish to persuade women to endeavour to acquire strength, both mind and body, and to convince them that the soft phrases, susceptibility of heart, delicacy of sentiment, and refinement of taste, are almost synonymous with epithets of weakness, and that those beings who are only objects of pity and that kind of love, which has been termed its sister, will soon become objects of contempt.
Bronne
BBC https://www.bbc.com/news/world-us-canada-47940659
National Archives UK
Child Gauge 2018: http://www.ci.uct.ac.za/ci/child-gauge/2018
Mary Wollstonecraft, 1790. A vindication of the rights of woman
The Conversation: https://theconversation.com/masculinity-should-not-be-defined-by-the-kavanaugh-hearings-104551
.............
Lees ook
Vrouedag 2019: Om tee te drink op vrouedag is nie genoeg nie