Vrouedag 2019: Om tee te drink op Vrouedag is nie genoeg nie

  • 3

Shirmoney Rhode (Foto: Izak de Vries)

Dis weer daardie tyd van die jaar, die tyd wanneer vroue regoor die land hulle mooiste uitrustings uitsoek om die een of ander Vrouedag- of Vrouemaandfunksie by te woon.

Ons gedenk natuurlik nog die nasionale optogte van 1956 waar veteraanvroue na die Uniegebou gemarch het om die bal aan die rol te kry wat vroueregte in Suid-Afrika betref.

Maar behalwe dit, weet ons regtig wat ons as Suid-Afrikaanse vroue nog vier?

Of gaan dit maar net oor die lekker koek en tee wat dikwels by Vrouedagfunksies bedien word? Wat is ons regte as vroue en wat doen ons om daardie regte te beskerm en uit te leef? Help ons om vroue wie se regte geskend word, te ondersteun en te bemagtig of is ons maar net tevrede dat ons eie regte nie geskend word nie?

..............

“Ek wil ’n leeftyd hê, want vroue doen daagliks fenomenale dinge, soms sonder dat enigeen ooit daarvan te hore kom.”

..............

Ek persoonlik vier nie Vrouedag nie – nie omdat ek nie ’n waardering het vir wat die vroue van 1956 gedoen het nie, maar omdat die realiteit van baie vroue in ons land steeds nie rooskleuring is nie.

As gevolg daarvan sukkel ek om aanklank te vind by die “vieringe”. Ek is ook van mening dat Vrouemaandvieringe ook net nog ’n manier geword het om geld te maak.

Wat ek wel vier, is vroue se vermoë om ten spyte van hulle omstandighede aan te hou en daarvoor het ek nie een dag nodig nie. Om dit te vier, wil ek ’n hele jaar hê, of nee, ek wil ’n leeftyd hê, want vroue doen daagliks fenomenale dinge, soms sonder dat enigeen ooit daarvan te hore kom.

Vrouedagfunksies gaan baie selde oor bemagtiging van vroue en in die meeste gevalle is dit maar net ’n geleentheid om op te dress. En om eerlik te wees, dit irriteer my, want ons is meer as net fancy rokke en hoëhakskoene.

Ons het al ver gekom in die stryd om gelykheid in ons samelewing, maar nog nie ver genoeg nie.

As Suid-Afrikaanse vroue geniet ons natuurlik die regte wat uiteengesit is in die handves van regte van ons grondwet. Dis veral artikel nege van ons grondwet wat op gelykheid fokus wat in vroue se guns tel, omdat dit duidelik maak dat daar teen niemand gediskrimineer mag word op grond van hul “ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele oriëntering, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte” nie.

Dis alles goed en wel dat vroue die regte het en dat hulle weet wat hul regte is, maar as daardie regte steeds geskend word, kan ons ongelukkig nie elke jaar op Vrouedag of in Vrouemaand teetjies drink en koekies eet en maak asof ons as gelykes behandel word nie. Maar wat het vroue nog om oor te kla, word daar nog altyd deur die een of ander man êrens gevra. En die antwoord is: baie.

Die Global Wage Report vir 2018/19 wys vir ons presies hoe ongelyk vroue nog in die werkplek behandel word. Vroue word gemiddeld 28 persent minder betaal as hul manlike “gelykes”.

In Suid-Afrika verdien mans 26,1 persent meer as vroue vir ’n uur se werk, vroue wat voltyds werk verdien 22,7 persent minder as mans terwyl vroue wat deeltyds werk ’n skokkende 39 persent minder verdien.

In Suid-Afrika verdien vroue tans 22 persent minder as hul manlike gelykes. Hierdie syfers maak dit vir ons duidelik dat vroue beslis nie as gelykes gesien word as dit by die pay-pakkies kom nie.

Daar is vandag al heelwat meer vroue in magsposisies in werkplekke in SA, maar transformasie in die werkplek is verskriklik stadig en korporatiewe SA word steeds deur veral wit mans bestuur.

Die pay gap is ’n globale probleem en is veral deur die #MeToo- en #TimesUp-bewegings, wat fokus op aanranding, seksuele teistering en ongelykheid in die werkplek, uitgelig.

..............

“As vroue verdien ons meer en ons might as well begin deur self vir mekaar op te daag. ”

..............

In Suid-Afrika self is daar nie baie opspraak gemaak wat dié kwessies in die werkplek betref nie. Hier en daar was daar ’n vrou wat ’n #MeToo-foto op hul sosiale mediaplatforms gelaai het om die beweging te ondersteun en seker maar om net wys dat hulle wel daarvan bewus is, maar ek kan nie onthou dat Suid-Afrikaanse vroue hul eie stories gedeel het wat hierdie kwessies in die werkplek betref (soos vroue van ander lande) nie.

Dis hartseer, veral as ons na die statistieke kyk.

Foto: Unsplash.com

Het ons as Suid-Afrikaanse vroue al so gemaklik geword daarmee dat ons as ongelykes behandel word dat ongelykhede teen ons, ons nie meer ongemaklik maak nie?

Ek persoonlik dink vroue het al so tevrede geword dat hulle nie veel meer wil eis nie. Die dinge wat vroue destyds bemagtig het, soos gelyke regte waarvoor geveg is, bemagtig nie noodwendig vandag meer vroue op dieselfde manier nie. Dit is waarom ons nie genoeg opspraak maak teen dinge soos ongelyke vergoeding nie. 

Dan is daar die groot wit olifant in die kamer: geweld teen vroue en kinders. Ons hoor amper daagliks in die media haglike stories van geweld teen vroue en kinders. Vroue gaan daagliks gebuk onder die juk van geweld – veral in hul persoonlike lewens.

In Suid-Afrika is daar nie ’n tekort aan grumoordstories waarin vroue altyd die slagoffers is nie – daar is veral baie femicide-moorde. Stories soos dié van Anene Booysen, Karabo Mokoena, Lekita Moore, Courtney Peters, Hannah Cornelius, Franziska Blöchliger … (die lys is lank). Dit is maar net die stories wat die media haal, want nie alle geweld teen vroue en kinders word gerapporteer nie.

Verkragting is net so ’n groot probleem in SA en baie mans glo duidelik nog altyd dat die vroulike liggaam slegs daar is vir hul plesier. Wat geweld teen vroue betref, wil ek ook melding maak van die feit dat daar ook vroue is wat geweld teen ander vroue gebruik.

Ons is reeds so ’n onderdrukte groep, dis tragies dat sommige vroue geweldadig teenoor mekaar optree, maar dis ’n gesprek vir ’n ander dag.

My wens vir hierdie Vrouedag en -maand is eenvoudig: dat ons mekaar as vroue meer ondersteun en bemagtig. Ondersteun mekaar se besighede, gaan doen vrywilligheidswerk by organisasies wat vroue en kinders bemagtig, doen donasies en skenkings.

Om net mooi aan te trek en tee te drink, is nie genoeg nie. As vroue verdien ons meer en ons might as well begin deur self vir mekaar op te daag. 

Bronne:

https://myconstitution.co.za/af/02.html

https://www.thesouthafrican.com/news/gender-pay-gap-south-africa-charts/

https://www.ilo.org/wcmsp5/groups/public/---dgreports/---dcomm/---publ/documents/publication/wcms_650553.pdf

Lees ook

Vrouedag 2019: Waarom al die protes?

Vrouedag 2019: Wees getrou aan jouself

  • 3

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Elke publieke vakansiedag is 'n geleentheid om stemme te wen en Jan van Riebeeck en apartheid te blameer. Ek dink wel aan die vroue van 1956 op die dag vir hulle waagmoed. Die kerk speel 'n sentrale rol in die onderdrukking en steriotipering van gender. Hoe dikwels hou kerke nie seminare en kampe wat mense wil leer hoe lyk 'n "Christen man" of 'n "Christen huwelik" en alles wat daarmee gepaardgaan. Baie kerke laat vroue nog nie eens op die kansel toe nie. Hulle is letterlik daar vir koek en tee aandra. Maar dis asof kerke 'n heilige koei is in Suid-Afrika, wat met handskoentjies hanteer word.

  • Baie van die sosiale eeuwels wat ons land vandag nog mee sukkel ís beslis 'n direkte uitvloeisel van Apartheid, en as jy nie aan die receiving end staan nie is dit maklik om te sê "hou op vir Apartheid voor gooi". Maar dis nie wat hier ter sprake is nie. Wat jou kommentaar oor die kerk betref stem ek bietjie met jou saam maar onthou tog net wie die kerk en sogenaamde "beskaafheid" kom voorstel het: wit mans. En onthou wie meestal verantwoordelik is vir die tipe leeringe: mans. Kom ons praat oor wat wel ter sprake is. Ongelykheid in die werkplek. Geweld teen vroue en kinders. Magsposisies. Moenie die punt mis kyk nie. Kom ons praat hieroor.

  • Ek neem kennis van die erkenning van vroue en die viering van vrouedag ens. Ek het egter 'n paar vrae rondom die uitsondering van vroue en wat veroorsaak die histerie daaromtrent. Ek het glad nie probleem dat vroue dieselfde vergoeding as mans ontvang nie. Ek het glad nie probleem met erkenning vir vroue hetsy dit op die sportveld, werksplek en in enige sfeer van die samelewing is nie. As daar vrouens is wat die "tradisionele" mans werke wil doen is dit ook reg. Wat my egter bietjie in twyfel laat is hoe gelyk wil vrouens met mans wees. Dieselfde kan gevra word hoe gelyk wil mans met vrouens wees, wat volgens my egter onmoontlik is. Mans kan nooit op dieselfde vlak as vrouens wees nie. Ons samestellings is net eenvoudig so. Ek raak bietjie verward as ek 'n vrou soos 'n gelyke begin behandel, maw soos 'n man. Dan word ek gewoonlik as 'n skurk, ongevoelig of ploert gebrandwerk. As die probleem is dat dames wat mans werk doen nie dieselfde betaling ontvang nie, is jy by die verkeerde maatskappy. Die vraagstuk sal seker nooit opgelos word nie. Wat my tot onsteltenis stem is dat vrouens in poste aangestel word net omdat hulle vrouens is, dit laat my bietjie wonder. Wat goed is vir die een is mos goed vir die ander. Ek dink egter daar is ander maniere hoe vroue hul kan laat geld as met optogte ens. Sterkte vir julle dames. Geniet dit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top