Vroue in die politiek

  • 3

Donald Trump se grootste sukses in die tweede jaar van sy bewind is iets waaroor hy nooit sal spog nie.

Hy is die president wat daarin geslaag het om die mees diverse, jong, vroulike demokraties-verkose Kongres byeen te roep. Ek glo dis in direkte reaksie op die seksistiese, rassistiese wyse waarop hy die land probeer skep in sy eie beeld. Kiesers het ander idees gehad.

Die jongste lid van die Kongres ooit is ’n 28-jarige vrou wie se ma van Puerto Rico afkomstig is. Alexandria Ocasio-Cortez is ’n naam wat hopelik nog lank in die Amerikaanse politiek gaan weergalm. Selfs nog voor haar inhuldiging het ouer Republikeinse politici haar al begin aanval, die duidelikste teken nog dat hulle haar as ’n ernstige bedreiging beskou.

Die afgelope week, op dieselfde dag as haar inhuldiging, is ’n video vrygestel waarin sy as student dans. Niks suggestief of vulgêr nie. Sy’s nie onder die invloed van dwelms, skamel geklee of op enige ander wyse onbehoorlik in haar optrede nie. Maar iewers in iemand se ertjie-brein het die gedagte opgekom dat dit ’n skandaal van epiese proporsies is. Maar nie net het dit haar meer gewild gemaak nie, sy het bewys sy verstaan sosiale media beter as die ou ooms wat haar probeer diskrediteer. Sy het ’n nuwe video opgeneem, een waar sy buite haar kantoor in Washington dans. Daai video is binne 24 uur deur 15 miljoen unieke besoekers gesien, en sy is nou selfs meer gewild as voor die eerste video vrygestel was.

Rashida Tlaib,van Palestynse afkoms, was hierdie week weer in Trump se kruisvuur omdat sy na hom verwys het as ’n “motherfucker”. Hyself gebruik natuurlik veel erger taal, maar skielik is dit nuus omdat dit ’n vrou is wat so praat. Trump reken sy het haar familie oneer aangedoen deur sulke taal te besig. Nie een enkele joernalis het gewaag om hom oor sy skynheiligheid uit te daag nie.

Dan is daar Elizabeth Warren, wat so pas aangekondig het dat sy haarself verkiesbaar stel in die 2020-presidentsverkiesing. Sy het skaars die aankondiging gemaak of die Amerikaanse media, voorspelbaar soos altyd, begin met kommentaar oor hoe “unlikeable” sy is. Dis nie ’n eienskap wat ooit by manlike kandidate in oorweging gebring word nie. As dit was, sou Trump waarskynlik gewen het as die mees “unlikeable” kandidaat in onlangse geskiedenis.

Nancy Pelosi, gesoute politikus, is deesdae meer in die nuus oor haar kleredrag as haar politieke vernuf. So ook Tlaib, toe sy in tradisionele drag ingehuldig is. En Ilham Omar, wat in ’n hidjab ingehuldig was. En Ocasio-Cortez, deesdae eenvoudig bekend as AOC, vir die wit pak wat sy aangehad het.

Die laaste manlike politikus wie se kleredrag die media so histeries gehad het, was Barack Obama met daai beige somerpak.

Trump het belowe: “We will make America great again.” Sover het hy dit nie ekonomies, diplomaties, humanitêr of polities reggekry nie. Hy het wel daarin geslaag om ’n diverse groep vroue wat dalk nooit andersins die politiek sou oorweeg het nie, te mobiliseer. Om Michelle Obama aan te haal: “Nowadays, everyone is qualified.” Mooi manier om te sê niemand kan erger aftjop as wat Trump reeds gedoen het nie. Maar dit het groter diversiteit tot gevolg. Inderdaad is Amerika great gemaak.

Maar elkeen van daai vroue stry ’n opdraande stryd. Nie omdat hulle onbevoeg is, of omdat daar een of ander defek in hulle bestaan nie. Dit is baie duidelik dat hulle in die media anders, meer ongunstig, uitgebeeld word wanneer hulle optree op dieselfde manier as manlike politici. Net omdat hulle vroue is.

Die media het duidelik nog niks geleer uit die foute van 2016 nie. Daarmee gee ek nie te kenne dat Hillary Rodham Clinton ’n foutlose president sou gewees het nie. Sy sou nie, maar sy sou waarskynlik ook nie haar eie land se burgers van basiese menseregte ontneem soos wat Trump besig is om te doen nie.

Of Warren die beste kandidaat is om die volgende president te word, is ’n ope vraag. Die feit dat daar nie eers gekyk word na die beleidsplatform waarop sy staan voordat daar gebasuin is dat niemand van haar hou nie, beteken dat sy van die begin af nie ’n regverdige kans gegun word om deel te neem nie.

En hier by ons, in ’n verkiesingsjaar? Is ons gereed vir ’n vroulike president? Natuurlik is Cyril die ANC se kandidaat, maar my grootste vrees is dat iemand soos Bathabile Dlamini op een of ander manier in ’n posisie instrompel waar sy in direkte aanmerking vir die troon kom.

Helen Zille en Patricia de Lille is twee sterk vroue wat weet hoe om politiek te bedryf. Maar selfs sonder die media se hulp is hulle albei meer as gereed om hul eie kele af te sny.

Ek het aan die begin van die EFF se bestaan groot hoop gehad dat hulle jong, dinamiese vroue geleenthede sou gee om in leierskap te groei. Die hoop het beskaam.

Die laaste jong vroulike politikus oor wie ek opgewonde kon raak, was Lindiwe Mazibuko. Die DA het egter seker gemaak dat sy binne hulle strukture so fyngemaal word dat sy waarskynlik nooit weer die openbare politiek sal betree nie.

Dis ’n jammerte, want sy is presidensiële materiaal.

 

  • 3

Kommentaar

  • Ockert Mouton

    Bettina, jy het geen idee wat in die Amerikaanse politiek aan't gebeur is nie. Ocasio Cortez wil o a 'n 70% belastingkoers instel. Rêrig? Nie eers in Amerika is daar genoeg stupid mense om daarvoor te val nie. Het jy ook die ander kere gesien wat sy 'n gat van haarself gemaak het?
    Trump is besig om sy verkiesingsbeloftes na te kom en meer as 60 miljoen mense het vir hom daaroor gestem, maar dit is mos heeltemal ongehoord vir 'n politikus om sy woord te hou.
    Elizabeth Warren is een v minstens 30 presidensiële kandidate vir die Demokrate in 2020. Hoekom so baie? Want hulle dink hulle kan enige vervolging vir misdade aan politieke toesmeerdery toeskryf. Daar is egter nie 'n manier hoe hulle die regsgevolge v hul dade sal kan vryspring nie. Dit geld vir beide kante van die politieke spektrum.
    Weet jy van die 70+ duisend geslote dagvaardings wat al uitgereik is?
    Weet jy van die militêre verhore wat al begin het? Sivvies wat as sg enemy combatants geklassifiseer is omdat hulle hoogverraad gepleeg het of die vyand andersins bygestaan het, kan in militêre howe teregstaan. Hillary en Barack, John Brennen, James Comey, Andrew McCabe o a sal daarvan aangekla word. En weet jy wat? Hulle kan die doodstraf kry, maar dit sal nie gou gebeur nie, want hulle gaan nog jare lank tussen die tronk en die howe beweeg totdat hul sake afgehandel is.
    Weet jy van die $200+ miljoen se opgradering van die tronk op Guantanamo Bay? Dit is een van drie plekke wat spesiaal voorberei word vir hulle. Daar is ook twee groot gevangenisskepe in Gitmo se hawe vasgemeer.
    Trump se ekonomie doen op papier verskriklik goed. Die beste ooit, gemeet volgens dieselfde false en gemanipuleerde maatstawwe wat deur sy voorgangers ingestel is. Die realiteit in die werklike ekonomie verskil heelwat, maar dis goed so, want die wêreld is 'n sentrale bankbeheerde ekonomie; welke ekonomie in die nie te verre toekoms gaan vou. En wie gaan die skuld daarvoor dra? Wel, die Reserwebank en Trump gaan die skuld op mekaar wil pak. Trump gaan elke keer tekere as die Fed die rentekoerse lig, want dit is sleg vir ekonomiese groei en té hoë rentekoerse gaan die finale strooi wees vir die ekonomie om te vou. Ek glo Trump en die voorsitter van die Fed, Powel, werk saam, want vou die ekonomie kan hy die skuld op die bank pak. Dit sal meebring dat die Fed vir die eerste keer geoudit gaan word - die wetsontwerp is verlede week ter tafel gelê - en dan gaan dit amptelik aan die lig kom watse kriminele hulle is. Die struktuur van die bank gaan verander, maar ek weet nie presies in hoe verre nie. Wat ek wel van seker is, is dat die fiat geldstelsel waarin ons tans is, tot 'n einde gaan kom en dat ons terugbeweeg na 'n goudstandaard. Gold will bring down the Fed. Daar hang nie verniet 'n portret v Andrew Jackson in sy kantoor nie; welke eks-president ook baie pro goudstandaard / raak ontslae van die Reserwebank was.
    Én die Internal Revenue Service gaan ook verdwyn; welke wetsontwerp ook verlede week ter tafel gelê is. Dis nog nie duidelik of die wet in die huidige parlementêre sitting deurgevoer gaan word nie en of dit net vir 'n latere datum in reserwe gehou word.

  • Hallo Bettina
    Ek sal nooit droom om vir Trump vir 'n ete te nooi nie. Sy manier van dinge sê en doen druis in teen amper alle riglyne vir optrede wat ek in die mense wat ek ken waardeer en op die prys stel.

    Maar ek steun sy verkiesing as president.

    Indien Hillary verkies was, sou die VSA 'n veel groter en veel meer verdoemende staatskaping ondergaan het as waarvan die Zuptas ooit kon droom.

    Dit sou 'n ramp vir die VSA en vir die wêreld gewees het.

  • Mense wat Trump ondersteun, is of biljoenêrs, of rassiste - kyk na jou bankbalans om te weet watter een jy is ...

    Gelukkig is albei spesies aan die uitsterf 😀

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top