Vreemde dinge kan op ’n Dinsdag gebeur deur Jaco Jacobs: ’n kinderboekresensie

  • 0

Titel: Vreemde dinge kan op ’n Dinsdag gebeur
Skrywer: Jaco Jacobs
Illustrasies: Gabi Boy
Uitgewer: Pan Macmillan
ISBN: 9781779992024

Jaco Jacobs se 300ste boek, Vreemde dinge kan op ’n Dinsdag gebeur, het onlangs verskyn. Gestel ’n graad 1’jie begin sy pad met lekkerleesboeke met ’n Jaco Jacobs-boek, Jacobs publiseer geen verdere boeke nie, en die outjie mag net een Jacobs-titel per maand lees. Ons leser sal, sou hy dit regkry om by een Jacobs-titel ’n maand te bly, in sy 30’s wees voor hy deur die lys is. Ja, 300 boeke in 25 jaar beteken 12 boeke per jaar en dus een per maand. Hoeveel mense, hoeveel kinders lees ’n boek per maand? Laat staan nog skryf ’n boek per maand. Neem ook kennis dat hierdie 300 boeke nie die honderde vertalings wat Jacobs ook doen, insluit nie.

In Vreemde dinge kan op ’n Dinsdag gebeur, is Barto, soos heelwat outjies van sy portuurgroep, waarskynlik nie gek oor sy weeklikse biblioteekuitstappies saam met sy ouma nie. Dis elke week dieselfde. Sy ouma en haar vriendinne sit en tee drink en die boekmeisie sit daar eenkant in die tuin en lees. Hy moet homself maar besig hou. Dié Dinsdag kom daar vanuit nêrens nie ’n bal na hom aangerol, en ten spyte van die boekmeisie wat hom daarteen waarsku, skop hy die bal die bosse in.

Jaco Jacobs ken van kleins af die betowerende kragte van ’n biblioteek, en hierdie storie-idee broei waarskynlik lankal in sy kop … en hart.  Hy onthou dat daar ’n struik nes die een waardeur Barto agter die bal aan moes gaan, by hulle Carnarvon-dorpsbiblioteek was, en weet dat daar verkwiklike, vreemde dinge by ’n biblioteek kan gebeur.

Verkwiklik en vreemd? Ja wel, anderkant ’n digte struik vind Barto die bal, maar ongelukkig aan die voete van ’n veeleisende trolprinses, en so skop ’n unieke avontuur af. Eie aan ’n skrywer wat graag raaisels by sy pretboeke insluit, moet Barto en die verkleurmeisie voorts  ook drie raaisels oplos wanneer twee kabouters wat glo in “optelgoed is kaboutergoed”, die bal volgende in die hande kry. Gelukkig kon Barto uitwerk “watter woord korter word as twee letters bygesit word”, want dié een het die verkleurmeisie uitgeboul. Dit alles voor Henrietta, die draak, op die toneel verskyn en ook in die geheimsinnige bal belangstel.

Jacobs se lesers word met Vreemde dinge kan op ’n Dinsdag gebeur, inderdaad daaraan herinner dat niks te vreemd vir ’n goeie storie is nie.

Barto het daardie Dinsdag ontdek hoeveel pret boeke en stories kan wees. Jaco Jacobs het ’n spesiale talent om sy lesers by stories in te pluk en die storie dan te laat sing om boeke en lees te huldig en aanloklik te maak. En dit alles sonder lessies of moralisering. Jare gelede het  Bertus in sy prenteboek, Bertus soek ’n boek, se ma hom ook teen sy sin biblioteek toe gesleep. Daar is sy siening van biblioteke ook deur ’n baie eienaardige bibliotekaresse verander. Een van die voorwaardes vir lidmaatskap was dat kinders van lekkers móés hou, en die biblioteek se rakke het as’t ware lewendig geword toe sy hom rondgewys het.

In Jacobs se Die boekwinkel tussen die wolke is die hoofkarakter ’n boekfluisteraar en kommunikeer sy met boeke. In sy rympieboek Al staan jy op jou kop is daar ’n rympie, “Pasop! Dis ’n boek”. Daarin waarsku Jacobs dat ’n boek soos ’n deur is, en wie weet wat gebeur as jy daardie deur oopmaak? Barto was nog nie eers binne nie; voor dinge begin gebeur het, wou hy net in die biblioteek se tuin rondslenter. Uiteindelik was dit sy ouma wat vir hóm moes wag, omdat hy eers ’n boek wou gaan uitneem.

Vreemde dinge kan op ’n Dinsdag gebeur is ’n baie mooi geïllustreerde kinderboek, en die versierde raam en gebosseleerde drukwerk in goud op die omslag verklap ’n viering nog voor jy dit oopmaak om Gabi Boy se prettige lyntekeninge te ervaar. Die eenvoudige illustrasies in swart, wit en turkoois voel ouwêrelds en klassiek en sluit perfek aan by die humor in Jacobs se teks.

Vreemde dinge kan op ’n Dinsdag gebeur is ’n waardige mylpaalboek. As bonuslekkerte kom daar saam met die boek ’n pak speelkaarte met karakters uit Jaco Jacobs-boeke waarmee die troefkaartspeletjie gespeel kan word. Minki van die Minki-reeks se breinkrag is byvoorbeeld 9, terwyl die skoenvretende Flaffie se breinkrag 3 is. Timo, wat met die weerligvoël kon kommunikeer, se cool-faktor is 9, terwyl die boelies, Max en Mel, se cool-faktor 2 is. Ander eienskappe is spierkrag, humorsin en dapperheid. Ja, die pak kaarte dien sommer ook as lusmakers vir ander Jaco Jacobs-boeke.

Jaco Jacobs is een van ons beste boek- en leesambassadeurs. Hy skep boeke wat kinders sal geniet en by hulle ’n liefde vir lees en boeke sal kweek. Met blootstelling aan lekkerleesboeke, en goed toegeruste biblioteke, is dit dalk moontlik dat vreemde dinge nie net op Dinsdae gebeur nie. Vreemde dinge kan op ’n Dinsdag gebeur en sy pak speelkaarte is dalk net die troefkaart wat leeslakse of leessku kinders sal aanmoedig om daardie bal te skop of selfs deur die struiktonnel te stap en boekavonture te beleef.

Vreemde dinge kan op ’n Dinsdag gebeur is ook in Engels beskikbaar as Strange things can happen on a Tuesday.

Ander Jaco Jacobs-titels waarna in hierdie resensie verwys is:

  • Bertus soek ’n boek
  • Die boekwinkel tussen die wolke
  • Al staan jy op jou kop
  • Minki se verjaardag (Minki-karakter op speelkaart)
  • Flaffie (Flaffie-karakter op speelkaart)
  • Die Weerligvoël (Timo-karakter op speelkaart)
  • Tom en die beste poets ooit (Max en Mel-karakters op speelkaart).
Lees ook:

Jaco Jacobs gesels oor sy 300ste boek (en oor Wêreldboekboekdag)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top