Jaco Jacobs gesels oor sy 300ste boek (en oor Wêreldboekboekdag)

  • 0

Jaco Jacobs is een van die mees bekroonde skrywers ooit in Afrikaans. Izak de Vries het aan hom ’n paar vrae gestel.

Jaco, so ongeveer 25 jaar gelede het Miemie du Plessis jou gebel en gevra: “Jaco Jacobs. Wie is jy?” Nou wil ek by jou weet: Wie is Miemie du Plessis en wat het jy aan haar vertel oor Jaco Jacobs?

Toe ek destyds in 2001 my eerste manuskrip aan haar voorgelê het, was Miemie pas aangestel as uitgewer van kinder- en jeugboeke by LAPA. Sy is opgelei in maatskaplike werk, maar het jare in die biblioteekdiens gewerk voordat sy kinderboekuitgewer geword het. Miemie is iemand met ontsettend baie kennis van die kinderboekbedryf en kinders se leesvoorkeure en -behoeftes, en sy het ’n passie vir leesbevordering. Uit die staanspoor het sy dit duidelik gemaak dat sy die soort boeke wil uitgee wat lees vir kinders pret maak; wat in voeling is met hul leef-, taal- en ervaringswêreld. Sy het baanbrekerswerk gedoen om boeke en skrywers na kinders te neem – die hele idee van plaaslike skrywers wat skoletoere doen, het by haar begin. Sy is die onbesonge heldin van ons plaaslike kinderboekbedryf, en sy verkies dit om agter die skerms te werk.

Oor daardie eerste vraag wat sy my gevra het: Ek het geen benul meer wat ek geantwoord het nie! Dis die soort openingsvraag wat jou tot ’n eksistensiële krisis kan dryf, he-he! Maar wat ek jou wel kan sê, is dat Jaco Jacobs as skrywer die afgelope 25 jaar ongelooflik baie aan Miemie se kennis, entoesiasme, oordeelsvermoë en werksywer te danke het.

Nou, 25 jaar later, gaan Miemie du Plessis jou 300ste boek uitgee. Vertel ons meer oor boek 300, asseblief?

My 300ste boek se titel is Vreemde dinge kan op ’n Dinsdag gebeur. (Die Engelse vertaling, Strange things can happen on a Tuesday, verskyn gelyktydig met die Afrikaanse boek.) Dit is ’n prettige fantasieverhaal wat afskop (letterlik!) met ’n geheimsinnige bal wat uit ’n struik in ’n biblioteektuin ingerol kom. Die storie is snaaks en vol avontuur, maar dit gaan in wese oor die wonder van boeke en stories. Vreemd genoeg het die boek amper nie die lig gesien nie. Ek het die storie ’n jaar of drie terug geskryf, en dit het onder ’n stapel papiere op my lessenaar beland. My gevoel was dat Miemie nie daarvan gaan hou nie, en ek het besig geraak met ander skryfwerk. Kort voor ons daardie jaar met vakansie is, het ek my einde-van-die-jaar-regpak gedoen, en die storie weer ontdek. Toe ek dit lees, het ek besef ek hou eintlik baie daarvan, en het dit tog maar vir Miemie gestuur met die woorde: “Dis nogal vreemderig, maar dalk het jy lus om dit te lees. No hard feelings as jy nie daarvan hou nie.” Groot was my verbasing toe sy amper dadelik terugskryf: “Oe, hierdie storie het my diep gelukkig gemaak.” En sy het so baie daarvan gehou dat sy my hele publikasieprogram só beplan het dat dit my 300ste boek kan wees.

Die bemarkingsvideo op Facebook is baie oulik! (Klik hier om dit te sien.)

Jy en Miemie het van die eerste boek af na skole toe gegaan. Jou tassie is reeds weer gepak om voor nog kinders te gaan optree. Waarom doen jy soveel moeite vir skoolkinders?

Dit is geen geheim dat ons land (en die wêreld) hom in ’n leeskrisis bevind nie. Daarom is dit belangriker as ooit om kinders opgewonde te maak oor lees en oor boeke. Dit is wat ek al 25 jaar lank met hierdie skoletoere doen: Ek probeer vir kinders wys daar is hope boeke om uit te kies, iets vir elke smaak, en dat boeke meer is as net skoolwerk en eksamens – dit is pret. Dit kan jou laat lag en laat gril en laat naels kou. 

Lees jy self?

Ja, natuurlik. Ek dink elke skrywer is in die eerste plek ’n leser. Dis deesdae nogal ’n uitdaging om genoeg tyd te kry om my behoorlik in ’n boek in te grawe, maar wanneer ek, soos op die oomblik, nie ’n roman lees nie, geniet ek dit om kortverhale en bundels met kinderverse te lees. Ek het nou die dag weer Vertellers: Die groot Afrikaanse verhaalboek uit my boekrak gehaal, en nou lees ek heerlik peusel-peusel daaraan. 

Wêreldboekdag word op 23 April gevier. Wat is die belang van Wêreldboekdag?

Deesdae is my ervaring dat skrywers, skole en uitgewers nogal moeite doen en hande vat om dié dag te vier, as ’n manier om kinders bewus te maak van boeke en lees. Kinders trek soos boekkarakters aan, skrywers word genooi om by skole op te tree of aanlyn praatjies te hou, en dit alles help om boeke ’n bietjie in die kollig te plaas. Ek dink dit is ’n wonderlike inisiatief.

Pretvraag: Waarom dra jy altyd sulke oulike sokkies?

Ek is ’n drawwer, en helderkleurige sokkies is nogal ’n drawwerding. Wanneer ek Saterdae my weeklikse long run doen, plaas ek gewoonlik agterna ’n selfie op sosiale media om darem te wys ek het my 20 of 25 kilometer agter die blad. (Ja, drafselfies is ook ’n drawwerding!) Op een of ander manier het ek mettertyd sinoniem geword met funky sokkies. Vanjaar het ’n hele klomp skole regoor die land op my verjaardag die kinders toegelaat om bont sokkies skool toe te dra en vir my verjaardagboodskappe op sosiale media gestuur. Met my vorige skoletoer, kort ná my verjaardag, het byna al die skole die kinders bont sokkies laat dra, en ek het ’n hele klompie fantastiese drafsokkies gekry met skole se logo’s op. Tuis gekom het ek dadelik daarmee gaan draf en boek-en-sokkies-foto’s geneem om vir die kinders te wys ek waardeer die moeite. So, op dié manier het funky sokkies en boeke so half deel van my “handelsmerk” geword – en ek is mal daaroor! Dis net nog ’n manier om te wys hoeveel pret boeke en lees kan wees.

Lees ook:

Jy’s seker nie ernstig nie

Wêreldhardopleesdag, 5 Februarie 2025: Jaco Jacobs lees voor uit Dit is nie ’n boek nie

Die pad na lesers se harte loop deur hul lagspiere

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top