Voorste produksies op die groot skerm te sien by die Fugard-teater

  • 0

Die Fugard-teater het vanjaar ’n rekord 48 titels wat deel uitmaak van die 2020 Fugard Bioscope World Arts Cinema-seisoen wat tot einde Desember vertoon word. Die gewilde filmfees word vanjaar vir die negende jaar gehou en in samewerking met Ken Forrester Vineyards aangebied.

Die Fugard se hoofteater met sy hoëdefinisieskerm, Dolby 7.1 digitale klank en gemaklike sitplekke verseker dat daar geen slegte sitplekke is nie en jy alles eerstehands kan ervaar. Die program sluit lewende opnames van die wêreld se gewildste operas, teater en ballet van groepe soos die National Theatre, Comédies Française, The Royal Opera House, The Royal Ballet, Bolshoi Ballet en Royal Opera en Opera du Paris in.

Wanneer jy mooi daaroor dink, is hierdie regtig ’n wonderlike manier om van die wêreld se voorste produksies te sien sonder om duisende rande uit te haal, of ver te reis of skrikkerig te wees dat jy ’n slegte sitplek gaan bespreek. Boonop is die tye 15:00 en 19:00 die ideale teenvoeter vir die spitsverkeer. Die films word Maandae vertoon.

Jy kan voor die tyd ’n pizza bestel en dan is aandete ook sommer uitgesorteer.

Die seisoen het op 7 Oktober afgeskop en ons het die briljante toneelstuk All about Eve met Gillian Anderson (X-Files) en Lily James (Mamma Mia! Here we go again) gesien. Dit vertel die storie van die teaterlegende Margo Channing wat gewoond is daaraan om die middelpunt van belangstelling te wees. Tot die pragtige, jong Eve op die toneel verskyn en boonop met haar oënskynlike onskuld en naïwiteit almal se harte steel en Margo se kollig wil steel.

Die stuk bevraagteken die samelewing se onnatuurlike fassinasie met jeug, glans en sterre en bied ’n binnekykie in die onsekerheid van ’n aktrise wat voel of sy haar greep op roem verloor.

Gillian se vertolking is briljant en dit was lekker om haar weer in ’n rol te sien wat haar uitdaag, soos in die Britse/Ierse misdaadreeks The Fall, waarin sy ’n polisievrou speel.

Die res van die program is as volg:

28 Oktober: Classic Spring Theatre Company bied The importance of being earnest aan met Olivier-wenner Sophie Thompson (Four weddings and a funeral) en Jeremy Swift (Downton Abbey), in ’n skreeusnaakse verwerking van Oscar Wilde se geliefde meesterstukke.

4 November: Everybody’s talking about Jamie word beskryf as ’n musikale sensasie en vertel die verhaal van ’n 16-jarige van Sheffield wat nie regtig inpas nie, maar ten spyte hiervan, die lewe aangryp.

11 November: Akram Khan se Giselle met die English National Ballet word deur baie gereken as ’n meesterstuk van die 21ste-eeuse danswêreld. Khan is ’n bekroonde choreograaf en gee die ballet nuwe vlerke met behulp van dekor en kostuums deur Academy Award-wenner Tim Yip (Crouching Tiger, Hidden Dragon).

18 November: National Theatre Live se Fleabag. Hierdie is die bekroonde eenvrouvertoning wat die BBC se treffer-reeks Fleabag inspireer het. Dis geskryf en word opgevoer deur Phoebe Waller-Bridge (Fleabag, Killing Eve) met Vicky Jones as regisseur. Dis ’n skreeusnaakse kykie in die lewe van ’n vrou wat probeer om te veel balle tegelykertyd in die lug te hou.

25 November net om 15:00: The Royal Opera House bied Don Giovanni aan. Kasper Holten se aanslag gee nuwe betekenis aan Mozart se tragikomedie met verskeie internasionale sangers, onder leiding van kondukteur Hartmut Haenchen.

2 Desember: National Theatre Live bied die teaterverwerking van Small Island van Andrea Levy se Orange-pryswennerroman aan. Die storie speel af tussen Jamaika en Brittanje, deur die Tweede Wêreldoorlog tot 1948, en volg drie verweefde storielyne. Hortense wil van sy kleindorpie-bestaan in Jamaica wegkom; Gilbert wil ’n prokureur word; en Queenie wil haar Lincolnshire-wortels afskud.

9 Desember: The Royal Opera Ballet presents Concerto / Enigma Variations / Raymonda Act III. Hierdie is ’n gemengde program om The Royal Ballet se veelsydigheid ten beste ten toon te stel.

Petipa se Raymonda Act III is klassieke Russiese ballet wat in een bedryf opgesom word, terwyl Ashton se Enigma Variations eg Brits is. Concerto, MacMillan se fusie van klassieke tegniek met ’n meer kontemporêre inslag vertoon The Royal Ballet se erfenis.

23 Desember: Die Bolshoi Ballet bied The Nutcracker aan.

Die misterieuse Drosselmeyer bring op Oukersaand vir sy peetkind, Marie, ’n neutkraker wat om middernag lewend word. Die tydlose storie met Tsjaikowski se geliefde musiek kry nuwe betekenis met soloïs Margarita Shrainer wat die onskuld van Marie perfek vasvang, en die danser Semyon Chudin as die neutkraker.

Kaartjies kos R120 elk en kan deur die Fugard-teater se kaartjieskantoor by 021 461 4554 of aanlyn by www.thefugard.com bespreek word.

Klik hier vir die volledige program en meer inligting oor elke film.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top