Voorburg/Bridgewater, verlede en hede (deel 2)

  • 0

Lees die eerste deel van die essay hier:

Voorburg/Bridgewater, verlede en hede (deel 1)

Bridgewater Manor word sedert 1987 as ’n aftreeoord bedryf. Die projek is deur Pat en Nick Baines ontwikkel. Dit beslaan slegs ’n baie klein deel van die oorspronklike plaas Voorburg. Daar is 140 wooneenhede wat volgens die lewensregbeginsel vir persone van 60 jaar en ouer beskikbaar gestel word. Die oorspronklike herehuis het heelwat veranderinge en aanbouings met verloop van tyd ondergaan. Twee reusagtige Norfolk-dennebome aan die voorkant van die opstal is die stille getuies van die historiese ontwikkeling van hierdie plaas sedert die vroegste tye van die bestaan daarvan. In die herehuis is ’n kopergedenkplaat (Foto 1) aangebring waarop die naam Voorburg aangedui is en die jaar 1720 verskyn. Dit is die datum waarop Philip Morkel aanvanklik die kleiner eiendomsplaas (Figuur 1) deur middel van die VOC bekom het.

Foto 1. Kopergedenkplaat. (Foto: Handré Brand)

Gewels

Die besoeker aan die Bridgewater-herehuis word met twee imposante gewels aan die noordekant van die herehuis gekonfronteer (Foto 2a). Hans Franzen (2004) verwys na hierdie gewels as “very tall and unsuitable”, ’n siening wat waarskynlik na aan die kol kan wees in terme van die argitektoniese styl van die gebou in die geheel.

Foto 2a. Gewels van die Bridgewater-herehuis (Foto: Handré Brand)

Volgens die Stellenbosse argitek Sam Pellissier (2019) is die gedeelte van ’n gewel wat in reliëf voor die res van die gewel uitgebou is, die risaliet. Soms bevat sekere gedeeltes van ’n gewel interessante uitgeboude dekorasies. Die term risaliet is afkomstig van risalto, wat in Italiaans “uitbou” beteken.

Daar is pilaarstrukture weerskante van die gewelbasis wat deurloop van bo af tot op die grondvlak. Dieselfde struktuur word weerskante van die driehoekige gewelspits herhaal. Prominente dekorasies op die gewels ontbreek, maar die pilaarstrukture is effens na buite uitgebou en dra dus by tot die eenvoudige risaliet van hierdie gewels. Daar is twee konkawe segmente weerskante wat in spirale aan die bokant eindig. Daar is ook horisontale reliëflyne aan die basis en onder die boonste driehoek. Met die gebruik van ’n bietjie verbeelding kan ’n ooreenkoms van Bridgewater se gewels met die Amsterdamse gewels uit 1640 (Foto 2b) dalk raakgesien word.

Foto 2b. Amsterdamse gewels uit 1640 (Fotobron: Trefois (1970).

’n Derde gewel wat aan die voorkant (westekant) van die gebou aangebring is (Foto 2c), bestaan uit ’n eenvoudige driehoekige struktuur met twee reliëfstrukture (een is sirkelvormig en die ander is horisontaal geleë) aan die bokant van die gewel wat ‘n bydrae tot die eenvoudige risaliet lewer.

Foto 2c. Gewel aan voorkant van gebou. (Foto: Handré Brand)

Fleur Secretan

Thea Selzer en Pamela Duff (2018) verwys in hul dokument oor die onlangse geskiedenis van Bridgewater Manor na die tragiese gebeure in verband met Fleur Secretan (Foto 3a).

Foto 3a. Fleur Secretan. (Foto: Handré Brand)

Fleur Secretan was werksaam op Bridgewater as mev Rockey (’n vorige eienaar) se companion (gewoonlik ’n jonger dame wat betaal word vir haar dienste om ‘n ouer dame te versorg en as reisgenoot op te tree). Sy het op 18-jarige ouderdom op ’n tragiese wyse op die landgoed gesterf. ’n Besonderse kunswerk in die vorm van ’n gietysterhek is ter nagedagtenis aan Fleur op die perseel opgerig (Foto 3b).

Foto 3b. Skildery van herdenkingshek van gietyster vir Fleur Secretan (Foto: Handré Brand)

Samevattende gevolgtrekkings

Historiese akkuraatheid behoort deurgaans ’n belangrike nastreefbare doel te wees. Soos uit hierdie artikel blyk, bevat die sekondêre bronne wat oor die historiese ontwikkeling van die plaas Voorburg/Bridgewater geraadpleeg is, nie voldoende inligting om die proses stapsgewys, akkuraat en gedetailleerd vanaf 1720 tot vandag te beskryf nie. Burden (2012) beklemtoon tereg die belangrikheid van die gebruik van primêre bronne wanneer die geskiedenis van ou Kaapse plase nagevors word. Raadpleging van argivale inligting soos die oorspronklike titeloordragte, historiese kaarte en plaasverdelings en -afsnydings beperk die ontstaan van wanopvattings, ontbrekende inligting en teenstrydighede en verhoog terselfdertyd die historiese akkuraatheid van die dokument.

Die historiese ontwikkeling van Voorburg/Bridgewater kan volledig en akkuraat beskryf word slegs deurdat bronne in die Kaapse Argief, Akteskantoor en Kantoor van die Landmetergeneraal in die toekoms bestudeer word.

Voorburg/Bridgewater was voorheen, net soos die aanliggende plase Bizweni, Rome (kyk foto’s 4a) en Die Bos (Onverwacht) bekende wingerdplase wat gesamentlik groot oppervlaktes landbougrond beslaan het.

Oor dekades heen is hierdie historiese plase geleidelik en stuk vir stuk vir stedelike ontwikkeling gehersoneer (Foto’s 4b-d). Daar is sonder twyfel baie ekonomiese voordele wat verstedeliking inhou, maar sodra kosbare “groen” landbougrond in geboue en teerstrate omskep word, is dit permanent en onomkeerbaar. Die nadelige impak hiervan op die koolstofvoetspoor en grondwaterbronne is vanselfsprekend en is bloot enkele nadele wat genoem word.

Die vraag oor die “tragedy of the commons” (Meadows 2008, bl 116) kan tereg in hierdie verband gestel word: Wanneer is genoeg werklik genoeg? Landbougrond wat as ’n gemeenskaplike hulpbron benutbaar is, behoort onder geen omstandighede toenemend ingeperk te word nie. Daar is ’n gevaarlike teoretiese kritieke grens wat oorgesteek kan word in die proses van voortdurende inperking van ’n hulpbron. Hierdie soort gevaartekens is soms onsigbaar vir baie rolspelers. Hoe meer beperk die bron word, hoe beter is die kanse dat die bron totaal vernietig kan word.

Die vraag ontstaan dus wanneer ‘n kritieke grens hier bereik gaan word. Wanneer kom hersoneringsplanne vir aanliggende plase in die omgewing, soos Myrtle Grove, Knorhoek, Waterkloof, Mount Rhodes, Onderkloof, Cape Lands, Steepacres en Mamerow aan die beurt? Wanneer verrys een aaneengeskakelde stedelike gebied vanaf die Lourensrivier wat ooswaarts strek tot by die dorpie Sir Lowryspas?

Foto 4a. Rome-herehuis soos dit tans daar uitsien (Foto: Handré Brand)

Foto 4b. Huidige ligging van die Rome-opstal, aanliggende wingerde en dorpsgebied (Fotobron: Google Earth)

Foto 4c. Rome-herehuis in 1884 geleë in ‘n ongeskonde natuurlike omgewing (Fotobron: Smith 2017)

Foto 4d. Lugfoto van die plaas Rome voor stedelike ontwikkeling plaasgevind het (Foto: Handré Brand)

Dankbetuiging

Die volgende persone word bedank vir hul kommentaar, hulp, wenke en insette om die gehalte van hierdie artikel te verhoog: Jean du Plessis (Somerset-Wes), Ashley Jansen van Vuuren (Bridgewater Manor), Hannelie Jonker (Stellenbosch Museum), André T Morkel (Melbourne), Isabel Murray (Argief, NG Kerk in Afrika), Sam Pellissier (argitek, Stellenbosch), Eve Smit (Rome Homestead).

Bibliografie

Burden, M. 2012. From Waarburg to Matjieskuil: investigating an old Cape farm. South African Journal of Cultural History, 26(2):1–30.

Fransen, H. 2004. The old buildings of the Cape. Jeppestown: Jonathan Ball Publishers.

Heap, P. 1977. The story of Hottentots Holland. Sir Lowry’s Pass: Peggy Heap.

Hopkins, HC. Nederduitse Gereformeerde Gemeente Somerset-Wes 1819–1969. Paarl: Paarlse Drukpers.

Jonker, H. 2019. Persoonlike kommunikasie, 26 September.

Meadows, DH. 2008. Thinking in systems. Vermont: Chelsea Green Publishing.

Morkel, AT. 2002. Suid-Afrika se stamouers. https://www.stamouers.com/stamouers/k-to-m/341-morkel-philip.

—. 2019. Persoonlike kommunikasie, 30 Augustus.

Nederlandse Woordeboek. https://www.woorden.org/woord/risaliet.

Pellissier, S. 2019. Persoonlike kommunikasie, 2 Oktober.

Rhoda, E. Sd. Researching family roots and the Strand Muslim community: from “Voorburg” to Lower Gordons Bay Road, Strand. https://family.morkel.net/wp-content/uploads/rhoda-voorburg-to-lower-gordons-bay-road.pdf

Selzer, T en P Duff (2018). History of Bridgewater Manor. Ongepubliseerde dokument.

Smith, R. 2017. Proposed Alterations, Additions & Partial Demolition at Erf 496 No 118 Dummer Street, Somerset West. Heritage statement. HWC case no 17060501 in terms of Section 34 of the National Heritage Resources Act regarding. https://raymondsmith.co.za/wp-content/uploads/2017/07/broad-oaks-heritage-statement.pdf.

Trefois, C. 1970. Old-Dutch stylish elements in South African rural architecture. Stigting Simon van der Stel, 9–52.

Van der Merwe, G. 2013. Die Morkels van Die Bos. Drie eeue tien geslagte een plaas. Somerset-Wes: G van der Merwe.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top