Voorburg/Bridgewater, verlede en hede (deel 1)

  • 2

Inleiding

Die doel van hierdie artikel is om kortliks die historiese ontwikkeling van die plaas Voorburg (wat tans as Bridgewater Manor bekend is) te bespreek. Die plaas was aanvanklik aan die oostelike oewer van die Lourensrivier, Somerset-Wes in die Hottentots-Hollandkom, geleë.

Die skrywer se soektog na en bestudering van inligting, en sy kommunikasie met ander kundiges en belangstellendes het daarop gedui dat ontbrekende inligting en gapings in die historiese ontwikkeling van Voorburg/Bridgewater aan die orde van die dag was.

In hierdie verband waarsku die kultuurhistorikus Matilda Burden (2012) juis: “Probleme en wanopvattings ontstaan telkens rondom ou Kaapse plase as gevolg van veronderstellings en afleidings wat gemaak word na aanleiding van huidige plaasname. Die wyse waarop plase onderverdeel of vergroot is en die belangrike saak watter deel die oorspronklike naam dra en geboue huisves, lei dikwels tot hierdie probleme.”

By die skryf van hierdie artikel is deurentyd daaarteen gewaak om in hierdie soort slaggat te trap. Aan die einde van die artikel word voorstelle gemaak oor die beste roete wat gevolg behoort te word om die geskiedenis van Voorburg/Bridgewater volledig en betroubaar te dokumenteer.

Oordrag, konsolidasie en ontwikkeling van Voorburg

Philip Morkel (*27.2.1677, †12.4.1735) het in 1708 in die Kaap aangekom op die skip Oosterstyn wat voorrade ingeneem het op die roete van die Verre Ooste terug na Nederland. Hy keer in 1709 weer op die Noordbeeck na die Kaapkolonie terug vanaf Duitsland. Philip Morkel was aanvanklik werksaam as ’n artilleris in die Kasteel die Goeie Hoop in Kaapstad en ontvang op 28 November 1709 volle burgerregte van die kolonie. Hy het ook in die Distrik Stellenbosch militêre diensplig verrig en as ’n heemraad opgetree.

Philip Morkel is twee keer getroud, die eerste keer op 25 Maart 1708 met Maria Biebow en na haar dood met Catharina Pasman op 17 September 1713. In 1718 erf Catharina Morkel (née Pasman) die plaas Onverwacht (van ongeveer 500 morge) wat in die Hottentots-Hollandkom geleë was. Na haar dood (in 1764) erf Philip en Catharina Morkel se enigste seun Willem Morkel die plaas. Die oordrag het ook twee ander plase, Mosterdsbaai en Voorburg, ingesluit, sowel as ’n kleiner plaas (ook as Voorburg bekend) van Philip Morkel wat hy op 13 Augustus 1720 bekom het (kyk Figuur 1). Voorburg is dus op hierdie tydstip tot een groot plaas gekonsolideer.

Op die ongedateerde kaart in Figuur 1 word die grense van die kleiner plaas Voorburg as ’n eiendomsplaas aangedui en as Original Stellenbosch Freehold (OSF 1.249) gekarteer. Die groter erfpagplaas Voorburg waarna in die oordrag na Willem Morkel verwys is, word as SQ 2.47 (Stellenbosch Quitrent) in Figuur 1 aangedui. Waarom die datum van die oordrag as 2 Januarie 1816 op die kaart aangedui word, is egter nie vir my duidelik nie, en blyk ‘n teenstrydigheid te wees. Daar is dus twee gelyktydige stappe (Morkel 2019) gedoen in die aanvanklike oordrag en konsolidasie van die groter plaas Voorburg.

Betreklik min erkende sekondêre bronne wat die voorafgaande en verdere historiese ontwikkeling van Voorburg verduidelik, waarvan Heap (1977), Hopkins (1969), Morkel (2002) en Van der Merwe (2013) as voorbeelde genoem kan word, is beskikbaar. Na Willem Morkel (sr) se dood in 1788 is Voorburg deur sy tweede seun (ook Willem Morkel) geërf. Teen 1815 was 32 slawe in diens op Voorburg en in 1825 was daar ongeveer 80 000 wingerdstokke op Voorburg en Mosterdsbaai gesamentlik (Morkel 2002).

Kandaza

 ’n Verdere belangrike historiese feit is dat Ebrahim Rhoda (ongedateerd) die wortels van die Strandse Moslemgemeenskap op grond van sy genealogiese navorsing na Voorburg terugvoer. Die twee broers Leander en Jakobus was as slawe geregistreer in die slaweregister van Willem Morkel, die eienaar van Voorburg. Hulle is onderskeidelik op 1 Maart 1819 en 1 September 1824 gebore. Hul moeder, Kandaza, is op 5 Desember 1816 op 25-jarige ouderdom as ’n slaaf op Voorburg geregistreer en die register dui aan dat sy in 1791 in die Kaap gebore is, na alle waarskynlikheid op Voorburg. Na die vrystelling van die slawe (1838) het Kandaza en haar twee seuns hulle in die omgewing van die huidige Strand gevestig en by die plaaslike Moslem-gemeenskap ingeskakel. Kandaza se naam is na Jaria verander, en Leander na Faggedien, terwyl Jacobus die naam Samodien gekry het.

Figuur 1. Kaart wat die ligging van die gekonsolideerde plaas Voorburg aandui. (Fotobron: Stellenbosch Museum, Dept Kultuursake en Sport)

Die matriarg van die Moslem-familie Rhoda is dus (na alle waarskynlikheid) op Voorburg gebore.

Die H-vormige plaasopstal is volgens Hans Fransen (2004) tussen 1788 en 1803 opgerig. Teen 1840 is Voorburg deur ’n nuwe eienaar (ene dr Mills, volgens Van der Merwe 2013) aangekoop, en die naam is daarna na Bridgewater verander.

Figuur 2. Kaart met die ligging van die drie aanliggende historiese plase Voorburg,  Onverwacht (hier as Groote Verwachting aangedui) en Rome. (Fotobron: Raymond Smith 2017)

Deel II van hierdie artikel verskyn binnekort.

Bibliografie

Burden, M. 2012. From Waarburg to Matjieskuil: investigating an old Cape farm. South African Journal of Cultural History, 26(2): 1-30.

Fransen, H. 2004. The old buildings of the Cape. Jeppestown: Jonathan Ball Publishers.

Heap, P. 1977. The story of Hottentots Holland. Sir Lowry’s Pass: Peggy Heap.

Hopkins, HC. Nederduits Gereformeerde Gemeente Somerset-Wes 1819-1969. Paarl: Paarlse Drukpers.

Jonker, H. 2019. Persoonlike kommunikasie, 26 September.

Morkel, AT. 2002. Suid-Afrika se stamouers. https://www.stamouers.com/stamouers/k-to-m/341-morkel-philip

Morkel. AT. 2019.  Persoonlike kommunikasie, 30 Augustus.

Rhoda, E. Ongedateerd. Researching family roots and the Strand Muslim community: from ‘Voorburg’ to Lower Gordons Bay Road, Strand. https://family.morkel.net/wp-content/uploads/rhoda-voorburg-to-lower-gordons-bay-road.pd

Van der Merwe, G. 2013. Die Morkels van Die Bos. Drie eeue tien gelagte een plaas. Somerset-Wes: G van der Merwe.

  • 2

Kommentaar

  • Ger5t van der Merwe

    Opnuut tot die besef gekom dat die oorspronklike Helderbergkom wat eens produktiewe landbougrond was, nou deur geboue en strate (alles harde oppervlaktes) oorgeneem is. Groot verlies vir landbou asookvir aanvulling van ondergrondse water.

  • Ek stem heelhartig saam met jou Gert. In Deel 11 van hierdie artikel beklemtoon ek juis hierdie aspek, en vra die vraag wanneer die hersonering van landbougrond in hierdie omgewing 'n onomkeerbare kritiese grens gaan oorsteek.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top