Voorblad deur Hannes Visser: ’n lesersindruk

  • 1

Titel: Voorblad
Skrywer: Hannes Visser
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781991256270

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur. 

Voorblad is ’n misdaadroman en die debuut van Hannes Visser, ’n skrywer tot dusver bekend vir sy digkuns. Hannes was ’n derdeplekwenner in 2022 se AVBOB-poësiekompetisie en sy digbundel, Die jaar toe pa, was op die kortlys vir die Andrew Murray-prys in 2020. Wat my betower het van hierdie gewilde digbundel (waarvan al drie oplae gedruk is), is die woordekonomie, die bedrieglike eenvoud daarvan en die vermoë om in die stem van ’n tienjarige te kan skryf. Ek het dus hoë verwagtinge gehad vir Voorblad.

In Voorblad ontmoet ons vir Alex Rheeder, enkellopende joernalis by Dagbreeknuus, motorfietsliefhebber en ’n vat-nie-nonsens-nie-tipe wat doen wat gedoen moet word. Soos dit ’n goeie karakter betaam, het hy wonde uit die verlede. Hy rou steeds oor die dood van sy geliefde vrou.

Saam met hom by die koerant werk Lynette, ’n enkelma met wie hy ’n gemaklike verhouding het, en Petrie, die irriterendste antagonis wat ek nog ooit raakgelees het.

As joernalis is Alex gewoond daaraan om boodskappe met nuus uit verskeie bronne te ontvang. Wanneer hy boodskappe uit ’n onbekende oord ontvang, raak dinge gou vreemd. Alex bevind hom telkens eerste op die toneel van ’n reeks moorde – selfs voor die polisie. Dit lei dus na groot agterdog by kaptein Harold Beukes wat reeds niks goed te sê het oor die media nie. Alex besef hy is op een of ander manier verbind aan die reeks moorde en dat hulle een ding gemeen het: Die slagoffers is almal oortreders van kindermishandeling. Hy besluit dus om self ondersoek in te stel, iets wat nie sonder sy gevare is nie.

Die verhaal was boeiend genoeg vir hierdie leser om nie die boek neer te sit nie. Veral aan die einde is die spanning styf gedraai, met ’n kinkel. Wat werklik uitstaan in hierdie boek, is die karakterisering en dialoog of eie stem van sekere karakters. Petrie se aanmekaar gepraat-neul en gehap na asem is onvergeetlik. Ook Vingertjies, die informele herwinner en informant, se manier van praat is eie aan hom. Die karakters en die ruimte waarin hulle beweeg, is geloofwaardig. Daar is ook ’n verskuilde tema wat soos ’n draad deur die boek loop: Wat is die verskillende maniere waarop mense geregtigheid probeer verkry? Dit vra vrae oor vigilante optrede en die motiewe waarmee mense geregtigheid probeer verkry. En natuurlik die grootste vraag: Watter sake haal die voorblad en watter behoort dit te haal? Is daar werklik geregtigheid, veral vir slagoffers van kindermishandeling?

Die tema verduidelik dan die teenwoordigheid van Petrie, immer op soek na geregtigheid vir homself, maar blind vir sy eie ongeregtigheid. As dit nie daarvoor was nie, sou hy net ’n baie irriterende bystander gewees het. En dit het my uiteindelik gepla – hierdie karakter was amper te sleg om waar te wees!

Lynette se karakter is ongelukkig vir my effe tweedimensioneel en die beskrywings van haar uitrustings het nie gehelp nie. (Miskien is die skrywer nie iemand wat na vroueklere oplet nie.) Wat ook vir my geskort het, was Lynette se agtergrondverhaal. Al wat ons van haar weet, is dat sy ’n enkelma is en dat chauvinisme in die werkplek dalk aan ’n teer punt raak. Hierdie karakter kon soveel meer gewees het.

Ek was teleurgesteld in die ontwikkeling van die verhouding tussen Alex en Lynette. Duidelik is daar ’n verdieping in hulle verhouding met die verloop van die storie en mens sou verwag dat verwarrende emosies en onbeholpe interaksies meer voorkom tussen man en vrou. Ek sou ook graag wou weet hoe dit gekom het dat die twee so gemaklik is rondom mekaar en mekaar vertrou. (Die stadige ontwikkeling van dié twee se verhouding laat my wonder of daar ’n opvolg beplan word.)

Oor die algemeen het ek nie so emosioneel betrek gevoel by die storie en die gruwels van moord en kindermishandeling soos wat ek gewoond is by ander misdaadromans in Afrikaans nie. Ek moet egter erken dat daar ’n toneel is wat briljant geskryf is en hierdie kritiek ophef: Dié van die moord op Pieter Fick. My eerste gedagte was dat hierdie toneel die boek moes afgeskop het.

Dit spyt my om te sê dat die skryfstyl soms gepla het. Daar is lang sinne en oorbodige beskrywings van handeling. Daar is ook heelwat punktuasiefoute, nie net een of twee nie.

Tóg glo ek dat Hannes Visser kan skryf en ek sien uit na die opvolg (indien een beplan word). Alex en Lynette het op my gegroei. Ek sal hulle graag weer wil sien.

Lees ook:

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 1

Kommentaar

  • Ek stem nie met als saam wat jy sê nie, maar ek is nou eers halfpad gelees.

    Veral jou punt: "mens sou verwag dat verwarrende emosies en onbeholpe interaksies meer voorkom tussen man en vrou."

    Dis mos nie 'n romanza nie?

    Tot dusver vind ek die karakters is vars met unieke stemme, die aanslag op 'n drafstap, al op die spanningsdraad. As leser voel ek nooit mislei, asof daar 'n klomp red herrings ingegooi word en ek moet raai-raai riepa speel nie. Dis my soort spanningsverhaal die. Ek lees heerlik daaraan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top