
Boek: Pixabay
Hoekom moet grootmense kinder- en jeugboeke lees? Volwassenes kan mos al lees, maar tog is die boeke wat vir jonger lesers geskryf en bemark word, van groter belang as wat daar besef word. Dit is dalk net die boek wat jy nodig het om weer iets wat verlore was, te vind.
Katherine Rundell (2024) is ’n kenner op die gebied van kinderboeke en haar motivering om grootmense aan te moedig om kinderliteratuur te lees is: “[It] helps us refind things we may not even know we have lost.” Sy is self ’n skrywer, met titels soos Why you should read children’s books, even though you are so old and wise (2019), Rooftoppers (2013), The wolf wilder (2015), The good thieves (2019) en The golden mole (2022) op haar kerfstok. Sy is passievol oor kinderliteratuur en veral oor die voordele van kinder- en jeugboeke vir volwasse lesers.
Rundell se artikel “Why adults should read children’s books” (2024) in die aanlyn nuusbrief deur die BBC roer ’n besondere argument aan vir ’n volwasse aanhang van kinder- en jeugboeke. Dit is ’n aanpassing uit haar boek, Why you should read children’s books, even though you are so old and wise (2019), wat die argument meer toeganklik maak vir die minder akademies georiënteerde leser. Rundell ondersteun haar argument deur sprokies as gevallestudie te gebruik. Sy benader die geskiedenis van tekste vir kinders deur die waarde en toepaslikheid van ’n volwasse lesersaanhang te bevorder.
Daar sal uitgebrei word op die toepaslikheid van Rundell se motivering vir volwasse lesers se aanhang van kinder- en jeugliteratuur deur dit in gesprek te bring met Van Oort en Vos se artikel “Afrikaans Huistaal-onderwysers se selfgerigte voorbereiding van jeugverhale” (2022). Dit sal dien as ’n voorbeeld van ’n praktiese toepassing van die aanmoediging en funksionering van Rundell se aanbevelings in ’n Suid-Afrikaanse konteks.
Dit is belangrik om die beperkings van hierdie bespreking duidelik uiteen te sit. Eerstens verwys kinderboeke binne die konteks van Rundell se artikel na boeke vir kinders tot en met die ouderdom van ongeveer 17 jaar. In Suid-Afrikaanse literatuurterminologie verwys dit na boeke vir kinders tussen die ouderdomme 5 tot 17 jaar – dit is slegs ’n gids in terme van ouderdomme, omdat kinders se leesvermoë in ag geneem moet word, asook die boeke wat ouers of enige volwassene kies om vir kinders voor te lees. Daar sal daarom gebruik gemaak word van die oorkoepelende term kinder- en jeugliteratuur om inklusief na enige geskikte boeke of literatuur vir kinders onder die ouderdom van 18 jaar te verwys.
Tweedens verwys die definiëring van goeie stories, goeie literatuur of geslaagde literatuur na verhale wat die toets van tyd deurstaan het. Goeie of geslaagde kinderliteratuur is in hierdie gesprek gelaagde, intertekstuele tekste wat diepgaande leeservarings skep en gereeld in nuwe tekste opgeneem word. Elke herlees het die potensiaal om ’n nuwe interpretasie of ervaring op te lewer op verskillende tye in die leser-ontvanger se lewe (kind, tiener of volwassene). Finansiële aspekte word nie oorweeg in hierdie gesprek nie. Slegs die oorlewing en duursaamheid van die stories en literatuur.
Wees asseblief bewus dat hier nie noodwendig na tekste verwys word wat die kanon van kinderliteratuur gehaal het nie. Kanons word gebaseer op ’n enkele perspektief (afhangend van ’n keuse) wat as ’n waardeskatting dien en nie noodwendig na die literêre kwaliteit of duursaamheid van die verhaal of teks verwys nie.
Rundell (2024) begin haar artikel deur te sê dat sy self huiwer om kinderliteratuur te streng te definieer. “But I do know, with more certainty than I usually feel about anything, what it is not: it’s not exclusively for children. When I write, I write for two people: myself, age 12, and myself, now.” Hierin lê die hoofrede vir ’n volwasse aanhang van kinder- en jeugboeke, en dat volwassenes dit skuldvry en sorgvry kan en behoort te geniet.
Die spook van vooroordeel en aannames
........
As lesers word daar veronderstel dat ons liniêr behoort te vorder in die kompleksiteit van leesstof wat ons lees: vanaf ’n leer-lees-fase na ’n volwasse- en ervare leser-fase. Dit skep die sentiment dat om kinder- en jeugliteratuur te lees, beteken dat daar ’n agteruitgang in jou leesproses of leesvaardigheid plaasgevind het.
........
Volgens Rundell loop daar ’n spook van vooroordeel en aannames tussen volwasse lesers rond. As lesers word daar veronderstel dat ons liniêr behoort te vorder in die kompleksiteit van leesstof wat ons lees: vanaf ’n leer-lees-fase na ’n volwasse- en ervare leser-fase. Dit skep die sentiment dat om kinder- en jeugliteratuur te lees, beteken dat daar ’n agteruitgang in jou leesproses of leesvaardigheid plaasgevind het. In die terme van die jong mense – “dis nie cool as volwassenes kinder- of jeugboeke lees nie”.
Sy maak lesers bedag daarop dat lees nie ’n uitsluitlik liniêre proses van fase A na fase B is wat slegs in een rigting en altyd hoër moet verloop nie. Volwassenes is ervare lesers en het juis die vaardigheid om hul vryheid van leesmateriaal te kies. Moet nou nie die fout maak om te dink dat daar geen volwassenes is wat hulself in ’n lekker kinder- of jeugboek verlekker nie. Hierdie leser lees veel eerder kinderliteratuur as volwasse romans uit eie keuse. Tog bestaan daar ’n vooropgestelde persepsie dat om kinderliteratuur te lees, op dieselfde neerkom as volwassenes wat met speelgoed speel. En ja, daar is baie volwassenes met asemrowende Lego-versamelings. Die punt is dat die wanpersepsie en veroordeling nie geregverdig kan word nie.
Hierdie spook het nóg ’n kat aan sy stert beet deurdat dit veronderstel dat “children’s fiction can safely be discarded. I would say we do so at our peril, for we discard in adulthood a casket of wonders which, read with an adult eye, have a different kind of alchemy in them” (Rundell 2024).
Dieselfde boek, storie of karakters kan uit verskillende perspektiewe gelees word. Dit is nie ’n nuwe feit nie, maar word soms eenkant geskuif wanneer daar na karakters en situasies gekyk word sonder om die verskil in perspektief van ’n volwasse leser teenoor ’n kind of tiener te oorweeg. Rundell (2024) wys ook uit dat hierdie verhale juis geskryf word vir die deel van ons samelewing sonder enige ekonomiese of politieke mag wat nie hul eie vooroordele afdwing of “inlees” op ’n onderwerp nie.
And because at so many times in life, despite what we tell ourselves, adults are powerless too, we as adults must hasten to children’s books to be reminded of what we have left to us, whenever we need to start out all over again. (Rundell 2024)
Lees daarom kinder- en jeugliteratuur om moontlik ’n nuwe of selfs net ander perspektief te kry oor wat ons vir ons kinders letterkundig nalaat.
Nog ’n aspek om te oorweeg vir die motivering om kinder- en jeugliteratuur as volwassene te lees, is die ervarings van nostalgie wat dit kan oproep.
Hier kan ons terugdink aan die gesprekke rondom Trompie en ander verhale wat in 2022 onder skoot gekom het in reaksie op Hennie van Coller se Netwerk24-rubriek en Corene se Wet se LitNet Akademies-artikel. Dit is duidelik uit hierdie reaksies en gesprekke dat volwasse lesers verskillende leeservarings uit kinder- en jeugboeke kan ervaar en as volwassenes nostalgiese gevoelens en ervarings daaroor kan koester.
Om terug te keur na die motivering vir volwasse lesers van kinder- en jeugliteratuur, haal Rundell (2024) die Brits-Amerikaanse digter, WH Auden, aan: “There are good books which are only for adults, because their comprehension presupposes adult experiences, but there are no good books which are only for children.”
Rundell vestig met hierdie aanhaling die aandag daarop dat werklike goeie, geslaagde verhale nie net vir kinders of jong lesers is nie, maar juis geslaagd is omdat dit ook deur volwassenes geniet kan word. Volwassenes kan die literêre waarde van sulke verhale op ’n ander, dieper en veelvoudige vlak waardeer.
Eendag was daar ...
Sprokies is ’n goeie voorbeeld van verhale wat vir baie lesers herinneringe oproep. Moontlik omdat daar ’n diepgaande verbintenis is tussen die sprokie, die voorleser en die een wat die sprokie of storie ervaar – as leeservaring of waar dit dalk vir kinders voorgelees word. Die aantal interessante studies oor en rondom sprokies is oneindig en dit beslaan nie net die bekende Grimm- en Hans Christian Andersen-sprokies uit Europa nie. Sprokies sluit ook die verhale wat inheems tot Afrika, Amerika, Indië, Asië en Australasië is, in omdat volksverhale belangrike elemente met sprokies deel.
........
Sprokies is moontlik waar die letterkundige kringloop vir lesers begin. Sprokies, volksverhale en stories wat al vir eeue vir kinders vertel word, saai die saadjies van lees, moraliteit, lewenslesse en dit is ook ’n manier om die verlede te onthou.
........
Indien daar veronderstel word dat sprokies literêre tekste is, wat dit inderdaad is, vind ons herkenbare literêre argetipes en verhaalstrukture in hierdie verhale: kenmerkende elemente soos vertelmodus, karakters soos ’n booswig, ’n vegter vir die goeie en ander eienskappe. Hierdie verhaalstrukture word in Vladimir Propp (1968) se strukturele klassifikasie van volksverhale en sprokies goed uiteengesit. Dit kan steeds in moderne verhale nagespeur word. In sommige gevalle word dit as inspirasie vir verskeie volwasse romans en selfs films gebruik.
Sprokies is moontlik waar die letterkundige kringloop vir lesers begin. Sprokies, volksverhale en stories wat al vir eeue vir kinders vertel word, saai die saadjies van lees, moraliteit, lewenslesse en dit is ook ’n manier om die verlede te onthou.
Rundell (2024) wys aan die hand van sprokies ’n belangrike aspek van kinderliteratuur uit. Hierdie verhale hou die gees van hoop, optimisme en die oortuiging dat die goeie die kwaad sal oorwin lewend.
Sprokies is dus ’n kreatiewe manier om die gesamentlike geheue van moraliteit, hoop en liefde in verteerbare stories te “berg” of te versteek en sodoende tyd kan oorleef of oorbrug. Die klassieke sprokies oorleef al vir meer as 300 jaar. Hier kan ons spesifiek dink aan die sprokies van die Grimm-broers en Andersen. Interessant genoeg wys navorsing daarop dat baie van Andersen se sprokies, wat Die Meerminnetjie, Die Ys- of Sneeukoningin en Die lelike eendjie insluit, moontlik hul oorsprong in volksverhale gehad het, wat Andersen as kind by sy ouma gehoor het of in boeke gelees het. Sy lewensverhaal self kan amper as ’n sprokie beskou word. Sy biografie Hans Christian Andersen: The life of a storyteller (Wullschläger 2000) is beslis die lees werd.
Rundell bou beslis ’n sterk argument vir die waarde van kinderliteratuur wat die toets van tyd weerstaan het, aan die hand van sprokies en die nostalgie wat dit vir volwasse lesers kan skep en die selfverrykende aspekte. Wat haar motivering betref, is dit dalk meer omstandigheidsgebaseerd. Die leeskultuur in Suid-Afrika verskil van dié van Europa, spesifiek Engeland, waar Rundell gebaseer is. Om nie te praat van die leesvaardigheidsprobleme in Afrika as geheel nie. Tog dra haar motivering by tot net nóg ’n rede vir volwassenes om kinderliteratuur te lees.
Insigte binne die onderwyskonteks
Dit is van waarde om die praktiese nut van ’n volwasse aanhang van kinderliteratuur in te reken, veral vir die insigte wat dit binne die onderwys kan bied.
Vos en Van Oort (2022:730) se artikel “Afrikaans Huistaal-onderwysers se selfgerigte voorbereiding van jeugverhale” benadruk die waarde van ’n volwasse aanhang van jeugverhale spesifiek binne die ruimte van onderwys:
[D]ie waarde van die lees van literêre tekste [...] ’n opvoedingsproses wat tot leerders se kognitiewe, emosionele, estetiese, sosiale, psigologiese, kulturele en morele dimensies van ontwikkeling bydra. Burger (2018:107–58) voeg by dat die literêre leesproses betrokkenheid by en nadenke oor (jeug)verhale behels wat kreatiewe, kritiese, empatiese en selfgerigte denke tot gevolg het. (Vos en Van Oort 2022:730)
Kinder- en jeugliteratuur het die vermoë om op verskillende vlakke te funksioneer en as gevolg ook om op verskillende tye op ander vlakke te funksioneer. Dit is daarom nie alleenlik op die vlak van analitiese en letterkundige beoordeling funksioneel nie, maar ook binne die konteks van die onderwys. Dit kan selfs verder bydra tot lesers van enige ouderdom se insig, maak nie saak op watter ouderdom nie.
Vos en Van Oort wys tereg daarop dat binne die skoolkonteks dit belangrik is dat volwassenes, met betrekking tot spesifiek jeugverhale, die tekste moet kan verteer om dit vir jonger lesers te kan aanbied en die vaardigheid te kan oordra. Indien ’n onderwyser byvoorbeeld nie oor die nodige vaardighede beskik om ’n jeugverhaal letterkundig te lees en te ontleed nie, hoe sal hy of sy dit aan ontwikkelende lesers kan oordra? Hierdie artikel wil nie daarop fokus dat onderwysers kinder- en jeugliteratuur behoort te lees nie, maar dat dit slegs een praktiese voorbeeld en toepassing is van Rundell se motiverings vir volwassenes om kinder- en jeugliteratuur deel van hul leeslys te maak. Of hul professie of werk dit van hulle vereis of nie.
.......
Dit is die grondleggingsproses vir abstrakte denke oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe en kan as ’n tipe literêre leeskringloop beskou word waar volwassenes voorlees, kinders leer lees en deur die vaardigheid van lees die wêreld om hulle beter leer ken en verstaan.
.......
Katherine Rundell se artikel het ten doel om volwasse lesers te motiveer om kinder- en jeugliteratuur te lees ten spyte van die wanpersepsies en vooroordele daaroor. Volwassenes moet lees sodat kinders stories kan vind, meen Rundell (2024).
Die verhale wat kinders lees, wat vir hulle gelees word en met hulle gedeel word, is ’n manier van skriftelike oorlewering van moraliteit, hoop en verbeelding. Dit is die grondleggingsproses vir abstrakte denke oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe en kan as ’n tipe literêre leeskringloop beskou word waar volwassenes voorlees, kinders leer lees en deur die vaardigheid van lees die wêreld om hulle beter leer ken en verstaan. Juis daarom wil Rundell in haar artikel die spook van vooroordeel en aannames teenwerk deur volwassenes uit te nooi om kinder- en jeugliteratuur te lees en selfs te herlees. Want dit is in hierdie boeke en stories waar jy soms dinge kan vind wat lankal vergete gebly het.
Bronne
De Wet, C. 2022. Gendertemas in Topsy Smith se Trompie-boeke. LitNet Akademies, 19(2). https://www.litnet.co.za/gendertemas-in-topsy-smith-se-trompie-boeke/ (5 Julie 2024 geraadpleeg).
Propp, V. 1968. Morphology of the Folktale. Vertaal deur Laurence Scott. VSA: American Folklore Society.
Rundell, K. 2023. Why adults should read children’s books. https://www.bbc.com/culture/article/20230711-why-adults-should-read-childrens-books/ (29 Maart 2024 geraadpleeg).
Theron, A.S. 2017. Ondersoek na die rol van die “verwonde” kind in die werk van enkele kinder/jeugverhaalskrywers in navolging van Alice Miller. Ongepubliseerde MA-tesis, Universiteit van Kaapstad.
Van Coller, H. 2022. Gewone mense word al meer randfigure. https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/gewone-mense-word-al-hoe-meer-randfigure-20220506 (5 Julie 2024 geraadpleeg).
Vos, E. en R. van Oort. 2022. Afrikaans Huistaal-onderwysers se selfgerigte voorbereiding van jeugverhale. LitNet Akademies, 19(3). https://www.litnet.co.za/afrikaans-huistaal-onderwysers-se-selfgerigte-voorbereiding-van-jeugverhale/ (9 Mei 2024 geraadpleeg).
Wullschläger, J. 2000. Hans Christian Andersen: The Life of a Storyteller. Engeland: Penguin Books.

