
Foto: Engin Akyurt, Pexels
Large particles are carried from the road by rain into rivers, where they may leach toxic chemicals into the environment, whilst [some of the] smaller particles become airborne and breathed in. [Sufficiently small particles may penetrate into the deeper regions of the lungs.] (Brogan 2023)
There is broad agreement that TWPs disrupt soil structure, suppress beneficial microbial communities, impair plant health, and pose significant risks to human populations. However, the magnitude and specific pathways of these effects are highly context-dependent and often mechanistically complex. (Kang, Liu, Dai, Liu, Haider, Zhang-Habiba en Cai 2025)
Teen die agtergrond van die sterk afname in spoorverkeer en die gelyktydige toename in ligte- en swaarvoertuigverkeer op die Suid-Afrikaanse padverkeerstelsel, ontstaan vrae soos: Watter impak het die slytasie van voertuigbande op die omgewing? Vorm vrygestelde voertuigbandpartikels deel van mikroplastiekbesoedeling? Kom bandpartikels in waterbronne en grondmonsters voor? Watter gesondheidsrisiko’s vloei voort uit hierdie vorm van omgewingsbesoedeling? Speel klimaatsverskille ’n rol wat die intensiteit van bandslytasiebesoedeling betref? Watter soort navorsingsmetodologie word gebruik om die aard, voorkoms en effekte van bandslytasie eksperimenteel te ondersoek? Op watter wyse kan die besoedelaars of “sondebokke” (polluters) finansieel aanspreeklik gehou word vir hierdie vorm van besoedeling van die omgewing? Watter rol speel die verbruiker, byvoorbeeld bestuurdersgedrag, in hierdie proses?
Die doel van die artikel is om sommige van hierdie vrae in verband met die omgewingsimpak van bandslytasie op grond van ’n bondige en narratiewe literatuuroorsig (met ander woorde ’n kort, kritiese opsomming) te bespreek en sodoende bewusmaking te bevorder.
Die Suid-Afrikaanse navorsers Krüger, Snyman en Odendaal (2019:12538) wys daarop dat ’n groot deel van antropogenetiese metaalemissies afkomstig is van voertuigverkeer, wat al drie omgewingsdomeine (lug, water en grond) binnedring en ’n besoedelingdilemma veroorsaak wat kompleks en problematies is.
Chemikalieë soos polisikliese aromatiese koolwaterstof (PAH) en swaarmetale wat in verkrummelde (hersirkuleerde) rubber aanwesig is, is geïdentifiseer as skadelik vir menslike gesondheid en die omgewing, deur ’n Suid-Afrikaanse groep chemici (Sibeko, Adeniji, Okoh en Hlangothi 2020).
Volgens Kang ea (2025) verteenwoordig bandslytasiedeeltjies ’n baie groot aandeel van verkeersverwante mikroplastiekvrystellings en kan dit ’n beduidende bron van mikroplastiek in akwatiese stelsels wees. In Europa word min of meer 1,3 miljoen metrieke ton deeltjies jaarliks vrygestel, terwyl na raming meer as 6 miljoen metrieke ton jaarliks wêreldwyd in landbougrond beland. Deeltjies wat in die lug rondsweef, word ingeasem en kan in verband gebring word met die ontstaan van fisiese gesondheidsrisiko’s, soos respiratoriese en kardiovaskulêre siektetoestande.
Kundel, Wiget, Fliessbach, Bigalke en Weber (2025) het ’n ontleding gedoen van grondmonsters wat versamel is langs die Switserse padnetwerk. Soos verwag, het die monsters wat direk langs die padoppervlaktes verkry is, hoë konsentrasies bandslytasiedeeltjies bevat, met ’n gemiddelde van ongeveer 111 000 deeltjies per kilogram droë grond, terwyl op sommige plekke tot 615 000 deeltjies per kilogram gemeet is. Die konsentrasies het beduidend afgeneem met toename in afstand vanaf die padoppervlakte. Op ’n afstand van 10 meter vanaf die pad was die konsentrasies ongeveer 10 keer laer as op ’n afstand van 1 meter. Die deeltjies was oor die algemeen mikroskopies klein en langwerpig in voorkoms, met ’n gemiddelde Feret-deursnee van ongeveer 63 mikrometer (een duisendste van ’n millimeter).
Zhang, Yin, Tan, Wang, Yang, Hao, Du, Niu en Ge (2023) wys daarop dat weens die instelling van strenger uitlaatgasstandaarde en die toenemende gebruik van elektriese voertuie, nie-uitlaatvrystellings (veral banddeeltjies) geleidelik begin om uitlaatpypvrystellings te oortref. Omdat elektriese voertuie in baie gevalle swaarder as vergelykbare binnebrandvoertuie weeg, kan die groter massa, tesame met ander faktore soos wringkrag en bestuurstyl, tot verhoogde bandslytasie bydra.
Zhang ea (2023) beklemtoon verder dat (tot en met 2023) geen gestandaardiseerde internasionale reguleringsraamwerk bestaan wat die vrystelling van bandpartikels beperk nie, en ook geen universele toepasbare tegnologie wat bandslytasie volledig uitskakel nie.
Wat Zhang ea (2023) se opmerking oor regulering betref, moet egter in konteks gesien word, omdat internasionale en Europese reguleringsinisiatiewe vir bandslytasie tans ingestel word, maar die regulering van TWP-vrystellings is steeds in ’n ontwikkelingstadium en daar bestaan belangrike leemtes ten opsigte van toetsing, standaardisering en die dekking van verskillende voertuig- en bandkategorieë.
Metingstegnieke en -metodes (byvoorbeeld laboratoriumeksperimente versus werklike padtoetse) is nie eenvormig nie, wat die vergelykbaarheid van data tussen verskillende studies bemoeilik. Dit beklemtoon die behoefte aan gestandaardiseerde toets- en meetingsprosedures op hierdie belangrike navorsingsterrein (Zhang ea 2023).
Bandslytasie blyk tot dusver ’n aktuele en groeiende universele vraagstuk te wees, maar ontvang dit voldoende aandag in verhouding tot die omvang van die problematiek?
Direkte koste
Omdat voertuigbandslytasie, benewens ’n besoedelingdilemma, teoreties gesien, ’n direkte kostefaktor impliseer, is die beginsels van logistieke bestuur (Pienaar en Vogt 2025) hier direk van toepassing. Die fokus verskuif gevolglik van bo en behalwe ’n biologiese, ook na ’n sistemiese en strukturele kwessie. Logistieke bestuur kan gedefinieer word as daardie aspek van voorsieningskettingbestuur waartydens die beplanning, implementering en kontrole van die effektiewe vloei (voorwaarts en terugwaarts) van goedere, tussen die punt van oorsprong en die verbruiker, uitgevoer word (Pienaar en Vogt 2025:29). ’n Wye verskeidenheid aktiwiteite gaan met die vloei van goedere gepaard, soos verpakking, inventarisbestuur, kliëntediens en sluit ook die vervoer/transport van goedere in.
Wat vervoer betref, is bandslytasie ’n tipiese “loopkoste-item” (Pienaar 1985:100), omdat dit direk geassosieer word met die beweging van ’n voertuig. Dit kan ook objektief in fisiese eenhede, byvoorbeeld gram per kilometer, gekwantifiseer word. Op ’n oop teerpad met relatief minder verkeer as in ’n stedelike omgewing, met inagneming van faktore soos bestuurstyl en bandtipe byvoorbeeld, neem bandslytasie toe soos wat die voertuig se snelheid toeneem. Tussen 90–100 kilometer per uur bereik slytasie ’n hoogtepunt en begin dan daal na 100 kilometer per uur (Pienaar 1985:117).
Loopvlakslytasie (Pienaar 1986:205) word op verskillende maniere veroorsaak: Daar is rolweerstandwrywing wat ter sprake kom, asook wrywing waar die band en padoppervlak ontmoet, sowel as die effek van remkragte wanneer die voertuig se spoed verminder.
Kragte tussen die voertuigband en padoppervlak ontstaan as gevolg van deformasie- en wrywingseffekte. Hierdie effekte is ’n direkte gevolg van die relatiewe snelheid tussen die bandstruktuur en die padoppervlak, wat byvoorbeeld die gevolg van remming of stuurbewegings kan wees. Wrywingskragte en relatiewe snelheid veroorsaak wrywing, wat tot temperatuurveranderinge in die bandstruktuur, sowel as in die loopvlak van die band aanleiding gee (Schubert, Ketan, Schabauer, Lex en Hausberger 2026).
In ’n gevallestudie waarin ’n vier-as-kombinasievragmotor van die Alpha Carriers-maatskappy as illustrasie gebruik word, word die totale bandgebruikkoste (in 2024) as 155 sent per kilometer vir hierdie spesifieke voertuig aangedui (Pienaar en Vogt 2025).
Besoedeling as gevolg van bandslytasie word as ’n ongeprysde negatiewe eksternaliteit beskou, omdat die partikels wat deur die slytasie van bande vrygestel word, aansienlike skade aan die omgewing en openbare gesondheid veroorsaak, terwyl die koste van hierdie skade nie by die aankoopprys van die bande of die koste van vervoer ingesluit word nie.
Dit blyk dus dat voertuigbandslytasie ’n direkte en wesenlike uitgawe vir maatskappye meebring wat die totale bandgebruikkoste tydens die vervoer van goedere betref, sowel as besoedelingimplikasies tot gevolg het, wat ’n addisionele indirekte (ongeprysde) omgewingsverwante-kostefaktor meebring.
Die sondebok word verantwoordelik gehou
Die besoedelaar betaal-beginsel (polluter pays principle) is die algemeen aanvaarde praktyk waarvolgens diegene wat besoedeling veroorsaak, die koste daarvan moet dra om die besoedeling te bestuur (met ander woorde voorkoming, beheer en rehabilitasie), om sodoende skade aan menslike gesondheid of die omgewing te voorkom (Ward en Hicks 2022). Byvoorbeeld, ’n fabriek wat ’n potensieel giftige stof as ’n neweproduk van sy bedrywighede produseer, word gewoonlik verantwoordelik gehou vir die veilige verwydering van die neweprodukte. Die besoedelaar betaal-beginsel vorm deel van ’n breër stel beginsels wat daarop gerig is om volhoubare ontwikkeling wêreldwyd te bevorder. Hierdie beginsels word formeel vervat in die 1992-Rio-verklaring (Ward en Hicks 2022).
Die Nasionale Omgewingsbestuurswet van 1998 (NEMA) is Suid-Afrika se primêre wetgewende raamwerk vir omgewingsbestuur (Savannah Environmental 2026). Dit spel die fundamentele beginsels vir omgewingsbestuur uit en bepaal die verpligte vereistes vir omgewingsimpakstudies. NEMA is van toepassing op alle ekonomiese sektore en vereis dat potensiële omgewingsgevolge van gelyste of gespesifiseerde aktiwiteite oorweeg, ondersoek, geassesseer en aan die bevoegde owerheid gerapporteer word, soos in die wet en toepaslike regulasies uiteengesit word.
Die basis waarop die wetgewing ontwerp is, is die besoedelaar betaal-beginsel en sluit infrastruktuurontwikkeling, mynboubedrywighede, energieprojekte en industriële fasiliteite in. Nakoming van NEMA is verpligtend, met siviele en strafregtelike strawwe vir nie-nakoming, wat boetes van etlike miljoene rande en swaar gevangenisstraf kan insluit (Savannah Environmental 2026).
In die mate waartoe NEMA en die beginsel die polluter pays in die praktyk en in die vorm van gevallestudies in Suid-Afrika konsekwent en suksesvol toegepas word, is ’n onderwerp wat buite die bestek van hierdie artikel val. Ridl en Couzens (2010:112) sê in hierdie verband:
It appears that we might be entering into a crucial phase in the development of South African environmental law – it is going to require extreme vigilance (even activism) from environmental lawyers if, out of the current maelstrom of case law, statute law, politics and policy, a proper balance amongst economic growth, social development and environmental protection is to emerge.
Voertuigbandpartikels en grondkwaliteit
Volgens Kang ea (2025) neem die struktuur en kwaliteit van landbougrond beduidend af wanneer bandslytasiepartikels in landbougrond aanwesig is. Dié navorsingsgroep doen ’n globale literatuuroorsig waarin bevind word dat afnames van tot en met 25% in grondporositeit, 20–35% in die ontbinding van organiese materiaal en 40–60% in die aanwesigheid van stikstofbindende bakterieë aanwesig is in (oorspronklik) hoë kwaliteit landbougrond. Die bevindings van laboratoriumtoetse dui verder daarop dat toksiese stowwe en swaarmetale, soos sink, koper en PAH, ook in grondmonsters aanwesig is. Die risiko’s vir fisiese blokkering van plantwortels, sink-geïnduseerde oksidatiewe stres, inperking van fotosintese en groeivertraging is dus van wesenlike belang. Die prosesse hou ook risiko’s in vir bio-akkumulasie in die voedselketting.
Kundel ea (2025) se bevindings sluit hierby aan en beklemtoon dat die karsogeniese middel benzop[a]pireen (wat onder andere in uitlaatgasse voorkom) in Switserse grondmonsters waargeneem is, veral in dié wat naby aan snelweë onttrek is. 63% van die monsters wat deur Kundel ea (2025) ontleed is, het die Switserse gronddrempelwaarde vir hierdie spesifieke middel oorskry. Dié chemiese middel en die bandslytasiepartikels blyk dus twee kante van dieselfde muntstuk (besoedeling) te wees, sonder dat enige vorm van oorsaaklikheid geïmpliseer word.
Bouredji, Lumière, Lakhmi, Muresan-Paslaru, Pourchez en Forest (2025) kom tot die gevolgtrekking dat die toksisiteit van bandslytasiepartikels in die grond aan twee hoofbronne toegeskryf kan word, naamlik die intrinsieke toksiese eienskappe van band- en padoppervlakdeeltjies, asook eksogene kontaminante wat hierdie deeltjies vanuit die plaaslike omgewing akkumuleer. Gevolglik is dit van wesenlike belang om die gesamentlike toksiese effekte van bandslytasiepartikels en byvoorbeeld benzop[a]pireen in grondmonsters te ondersoek.
Waterstelsels
Hapich, Van Emmerik, Waldschläger, Maurer, Yang en Gray (2026) stel ondersoek in na die wyse waarop bandslytasiedeeltjies tydens reënval in stedelike gebiede vervoer word. Hulle gebruik ’n reënval-afvoersimulator om die effek van faktore soos oppervlakongelykheid, reënvalintensiteit en terreinhelling te bepaal. Krio-gemaalde (cryo-milled) bandloopvlakmateriaal, deur die Verenigde State Bandvervaardigers Assosiasie verskaf, is in die eksperiment gebruik. Die deeltjies bestaan uit ’n saamgestelde mengsel van bandmateriaal afkomstig van passasiersmotors (41%), ligte vragmotors (14%) en swaardiens-/kommersiële vragmotors (45%). Hierdie verhoudings is verteenwoordigend van die banddeeltjies wat normaalweg in natuurlike omgewings binne die VSA aangetref word. Lae oppervlakongelykheid, hoë reënvalintensiteit en lae hellings het aanleiding gegee tot die vinnigste afvoer van partikels, met reënvalintensiteit as die belangrikste faktor. Relatief groter deeltjies (>1 000 mikrometer) het (wanneer hulle eers in beweging kom) vinniger as kleiner deeltjies (<125 mikrometer) beweeg. Dit is in teenstelling met die bewegingspatrone wat normaalweg by mineralesedimente waargeneem word. Vloeidiepte was belangriker as vloeisnelheid of skuifspanning. Dit beteken dat die deeltjies eerder as oppervlaklading as bodemlading vervoer word. Dit verskil ook fundamenteel van sedimentvervoer, moontlik weens die hidrofobiese eienskappe van die deeltjies en asook die moontlikheid dat lugborrels aan die deeltjies vaskleef (Hapich ea 2026).
Die volle implikasies van hierdie bevindings bly ’n ope vraag, omdat die bestaande stedelike stormwaterstelsels hoofsaaklik ontwerp is om sedimentasie te hanteer. Die vervoer van bandslytasiedeeltjies deur water verskil egter fundamenteel van sedimentvervoer, gevolglik is die konvensionele voorkomende maatreëls waarskynlik nie doeltreffend genoeg om hierdie deeltjies te onderskep voordat dit natuurlike waterstrome bereik nie.
Die konsentrasies voertuigbanddeeltjies wat in akwatiese omgewings voorkom, wissel aansienlik volgens die bepaalde waterbron, metode van steekproefneming en ontledingsmetodes. Sun, Wang, Ouyang, Liu en Zhang (2025) rapporteer konsentrasies wat wissel van 0,03 tot 179 milligram per liter. Dit akkumuleer hoofsaaklik in sedimente weens die hoë partikeldigtheid (Song, Lin, Oh, Grossart en Yang 2025), alhoewel die chemiese samestelling van die water, turbulensie, asook vorm en grootte van die partikels ook ’n rol speel.
Die bestanddele waaruit die bandpartikels bestaan kan toksiese mengsels (leachates) vrystel, insluitend swaarmetale (veral sink) en organiese verbindings soos 6-PPD. 6-PPD verwys na chemiese bymiddels wat oor nuttige industriële gebruiksdoeleindes beskik, soos om rubber teen oksidasie-afbraak te beskerm, maar onbedoelde en ernstige risiko’s vir ekosisteme kan inhou wanneer dit omgeskakel word in ander chemiese verbindings en op dié wyse akwatiese omgewings binnedring. Hierdie vrystellings kan oksidatiewe stres, DNS-skade, veranderde immuunreaksies en versteurde voedingsgedrag by akwatiese organismes veroorsaak. Die uitwerking wissel volgens spesie en blootstellingskonsentrasie (Song ea 2025).
Moontlike oplossings
Kang ea (2025) stel ’n drievlakbenadering tot remediëring voor: ’n groter fokus op bronvermindering deur gevorderde tegniese voertuigbandsamestellings te ontwikkel met die doel om slytasie beduidend te verminder; omgewingsonderskepping deur middel van doeltreffende bio-ontwerpte filtrasiestelsels en membrane; en die chemiese hantering van kontaminante deur nuwe bio-remediëringstegnieke te ontwikkel.
Kumar, Biswas, Mulla, Singh, Shukla, Ahanger, Shekhawat, Verma, Siddiqui en Seth (2024) fokus op die hantering van mikro- en nanoplastiekbesoedeling, wat voertuigbandslytasiepartikels ook insluit. Wat die identifisering en monitering betref, word die gebruik van gevorderde analitiese tegnieke soos spektroskopie, mikroskopie en spektrofluorometrie aanbeveel.
Geen enkelvoudige en eenvoudige oplossing bestaan vir die besoedeling wat voertuigbandpartikels tot gevolg het nie (Sivalingam, Gayathri, Boopathy, Choi en Sangeetha-Selvan 2026). In aansluiting by Kang ea (2025), doen hierdie Indiese en Koreaanse groep navorsers ook veelvlakkige oplossings aan die hand, naamlik die voorkoming van besoedeling by voertuigbande op sigself, as die primêre bron of oorsprong van die dilemma; die vroegtydige opvang en verwydering van skadelike chemikalieë, voordat dit waterbronne soos riviere en oseane bereik; die chemiese afbraak of neutralisering van besoedelingstowwe; en uiteindelik die algehele vervanging/uitskakeling van skadelike chemikalieë (byvoorbeeld 6-PPD) wat met voertuigbandslytasie in verband staan.
Ten slotte
In hierdie literatuuroorsig word beklemtoon dat voertuigbandslytasie nie bloot as ’n onvermydelike neweproduk van padvervoer beskou kan word nie, maar as ’n betekenisvolle en komplekse vorm van omgewingsbesoedeling wat toenemende wetenskaplike aandag verdien.
Alhoewel goeie padvervoerstelsels noodsaaklik is vir enige moderne ekonomie, kan die omgewingskoste wat voertuigbandslytasie meebring, nie langer uitsluitlik buite die vervoerstelsel geplaas word nie. Voertuigbandbesoedeling is ’n sistemiese probleem waarin voertuigmassa, bandontwerp, bestuurstyl, padoppervlak, reënval, stormwaterbestuur en regulering intens met mekaar verweef is. Die grootste uitdaging vir die toekoms lê gevolglik daarin om betroubare, gestandaardiseerde meetmetodes te ontwikkel; die werklike ekologiese en gesondheidsrisiko’s te kwantifiseer; en verantwoordelikheid en koste op ’n billike en wetenskaplik verdedigbare wyse aan die diverse en relevante rolspelers toe te ken.
Op grond van die literatuur blyk duidelik dat voertuigbandslytasie ’n groeiende omgewingsvraagstuk is. Waaroor nog meer onsekerheid bestaan, is of die wetenskap, industrie en beleidmakers vinnig genoeg reageer op die impak en gevolge van hierdie turksvyagtige uitdaging. Dit illustreer ook die beginsel dat in die mate wat tegnies-industriële probleme op ’n innoverende wyse opgelos word, dikwels aanverwante kwessies van ’n ander aard daardeur geskep word.
Eindnotas
Die feit dat die bronne waarna in hierdie artikel verwys word op ’n selektiewe wyse hanteer is, kan waarskynlik as ’n beperking beskou word. Die neweprodukte van voertuigbandbesoedeling kom ook in die atmosfeer voor en aan hierdie faktor, asook moontlike gesondheidsimplikasies, is relatief min aandag gegee. Die hoofdoel met die artikel is hoofsaaklik bewusmaking van die omgewingsimplikasies wat die vrystelling van voertuigbandslytasie en -partikels inhou, en nie om ’n omvattende akademiese artikel oor die onderwerp te skryf, of ’n wetenskaplike bydrae te lewer nie.
Wessel Pienaar word bedank vir sy bereidwilligheid om die teksgedeelte onder die kantopskrif “Direkte koste”, voor publikasie, vir feitelike korrektheid te kontroleer en redigeer, asook Johann le Roux vir sy insette in verband met NEMA.
Vir die doeleindes van hierdie artikel is KI hoofsaaklik gebruik vir vertalingsdoeleindes, basiese taalkundige versorging en parafrasering. Google Scholar en die US Biblioteek se databasisse is gebruik om toepaslike publikasies vir oorweging en seleksie te identifiseer.
Bibliografie
Bouredji, A, L Lumière, R Lakhmi, B Muresan-Paslaru, J Pourchez en V Forest. 2025. A toxicological comparison of tire and road wear particles emitted on rural and urban roads, alone or with the co-exposed pollutant benzo[a]pyrene: size and origin as key factors in controlling the in vitro pro-inflammatory response. Environment International, 205:109920. https://doi.org/10.1016/j.envint.2025.109920. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0160412025006713 (12 September 2026 geraadpleeg).
Brogan, C. 2023. Prioritise tackling toxic emissions from tyres, urge Imperial experts. Imperial College London. 23 Februarie. https://www.imperial.ac.uk/news/243333/prioritise-tackling-toxic-emissions-from-tyres/ (1 September 2026 geraadpleeg).
Hapich, H, THM van Emmerik, K Waldschläger, B Maurer, Z Yang en AB Gray. 2026. Urban wash-off of tire wear particles. Journal of Hydrology, 67:135237. https://doi.org/10.1016/j.jhydrol.2026.135237. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0022169426003343 (11 September 2026 geraadpleeg).
Kang, J, X Liu, B Dai, T Liu, FU Haider, P Zhang-Habiba en J Cai. 2025. Tyre wear particles in the environment: Sources, toxicity, and remediation approaches. Sustainability, 17(12):5433. https://doi.org/10.3390/su17125433 https://www.mdpi.com/2071-1050/17/12/5433 (5 September 2026 geraadpleeg).
Krüger, A-L, R Snyman en J Odendaal. 2019. The impact of urban pollution on metal contamination of selected forest pockets in Cape Town, South Africa. Environmental Science and Pollution Research, 26:12537–49 https://doi.org/10.1007/s11356-019-04679-0. https://digitalknowledge.cput.ac.za/bitstream/11189/8287/1/The%20impact%20of%20urban%20pollution%20on%20metal%20contamination%20of%20selected.pdf (15 September 2026 geraadpleeg).
Kumar, D, JK Biswas, SI Mulla, R Singh, R Shukla, MA Ahanger, GS Shekhawat, KK Verma, MW Siddiqui en CS Seth. 2024. Micro and nanoplastics pollution: sources, distribution, uptake in plants, toxicological effects, and innovative remediation strategies for environmental sustainability. Plant Physiology and Biochemistry, 213:108795. https://doi.org/10.1016/j.plaphy.2024.108795. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0981942824004637 (14 September 2026 geraadpleeg).
Kundel, D, A Wiget, A Fliessbach, M Bigalke en CJ Weber. 2025. Tracks of travel: unveiling tire particle concentrations in Swiss cantonal road soils. Microplastics Nanoplastics, 5:1–13. https://doi.org/10.1186/s43591-025-00112-1. https://www.scilit.com/publications/f9af1a01e3333447e6f6c606e29f3700 (9 September 2026 geraadpleeg).
Pienaar, WP. 1985. Vervoerekonomiese bepaling van voertuigloopkoste vir aanwending in die evaluering van pad- en verkeersingenieursprojekte. DCom Proefskrif, Universiteit van Suid-Afrika.
Pienaar, WP. 1986. Vervoerekonomie (BCom [hons] en BAdmin [hons]). Departement Vervoerekonomie, Universiteit van Suid-Afrika.
Pienaar, WP en J Vogt. 2025. Business logistics management. Goodwood, Kaapstad: Oxford University Press.
Ridl, J en E Couzens. 2010. Misplacing Nema. A consideration of some problematic aspects of South Africa’s new EIA regulations. Potchefstroom Electronic Law Journal, 13(5):79–120. https://doi.org/10.17159/1727-3781/2010/v13i5a2711. https://perjournal.co.za/article/view/2711/2518 (13 September 2026 geraadpleeg).
Savannah Environmental. 2026. Understanding South Africa’s National Environmental Management Act (NEMA). 18 Januarie. https://savannahsa.com/BlogPostSingle?slug=nema-guide (9 September 2026 geraadpleeg).
Schubert, L, EE Ketan, M Schabauer, C Lex en S Hausberger. 2026. Tire wear particle emissions: a review of measurement approaches and impact on reported results. Aerosol and Air Quality Research, 26:65. https://doi.org/10.1007/s44408-026-00147-w. https://link.springer.com/article/10.1007/s44408-026-00147-w?utm_source=chatgpt.com#citeas (10 September 2026 geraadpleeg).
Sibeko, MA, AO Adeniji, OO Okoh en SP Hlangothi. 2020. Trends in the management of waste tyres and recent experimental approaches in the analysis of polycyclic aromatic hydrocarbons (PAHs) from rubber crumbs. Environmental Science and Pollution Research. https://doi.org/10.1007/s11356-020-09703-2 (15 September 2026 geraadpleeg).
Sivalingam, S, J Gayathri, G Boopathy, D Choi en K Sangeetha-Selvan. 2026. Comprehensive review on environmental pollution caused by 6PPD-quinone and remediation strategies. Royal Society of Chemistry Advances, 16(2):1943–55. doi: 10.1039/d5ra06263b. PMID: 41509529; PMCID: PMC12776585. https://pmc-ncbi-nlm-nih-gov.ez.sun.ac.za/articles/PMC12776585/ (15 September 2026 geraadpleeg).
Song, W, L Lin, S Oh, H Grossart en Y Yang. 2025. Tire wear particles in aquatic environments: from biota to ecosystem impacts. Journal of Environmental Management, 388:126059. https://doi.org/10.1016/j.jenvman.2025.126059. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0301479725020353?via%3Dihub (12 September 2026 geraadpleeg).
Sun, W, B Wang, W Ouyang, Z Liu en H Zhang. 2025. Tire wear particles in aquatic environments: a systematic review of sources, detection, distribution, and toxicological impacts. Ecotoxicology and Environmental Safety, 305:119236. https://doi.org/10.1016/j.ecoenv.2025.119236. https://www.sciencedirect.com/science/article/pii/S0147651325015817?via%3Dihub (14 September 2026 geraadpleeg).
Ward, B en N Hicks. 2022. What is the polluter pays principle? London School for Economics and Political Science. The Grantham Research Institute on Climate Change and the Environment. 18 Julie. https://www.lse.ac.uk/granthaminstitute/explainers/what-is-the-polluter-pays-principle/ (9 September 2026 geraadpleeg).
Zhang, M, H Yin, J Tan, X Wang, Z Yang, L Hao, T Du, Z Niu en Y Ge. 2023. A comprehensive review of tyre wear particles: formation, measurements, properties, and influencing factors. Atmospheric Environment, 297:119597. https://doi.org/10.1016/j.atmosenv.2023.119597. https://www.sciencedirect.com/science/article/abs/pii/S1352231023000237 (12 September 2026 geraadpleeg).

