Voëlvrou: ’n onderhoud met Marlize Hobbs

  • 0

Foto van Marlize Hobbs: Facebook

Voëlvrou
Marlize Hobbs
Protea
ISBN: 9781485311133

Marlize Hobbs beantwoord Naomi Meyer se vrae oor Voëlvrou.

Baie geluk met die verskyning van Voëlvrou. Jy het twee verjaardae, nie waar nie? Asof die Marlize in die werklike lewe ook ’n fiksie-element het. Is jy, as skrywer, ook daardie twee karakters: Minerva en Marlize? Hoe ken mens uit wie’s wie? En is dit nodig?

Baie dankie Naomi, dit is lekker om weer met jou te gesels.

Minerva het ontstaan toe ek ’n sendeling in Hillbrow was en vir myself ’n straatnaam wou kies. Minerva is die beskermer van die kunste in mitologie. Haar intensie is dus om kreatiewe prosesse lewend te hou en kunsvorme se essensie te beskerm, selfs te bedek om dit veilig te hou. Sy het ook die doel gedien om Marlize veilig en buite die bereik van negatiewe elemente te hou in ’n tyd toe ek baie kwesbaar was.

Ek het steeds ’n Minerva-Facebook-blad, maar ek gebruik dit nie meer nie. Ek het my vrou, Cheryne, onder die naam Minerva ontmoet en vir sekere mense is ek steeds Minerva of Min.

Ek dink Minerva en Marlize is uiteindelik besig om mekaar te vind. Hulle het ’n tipe vriendskap of ooreenkoms gevorm in die tyd waarin ek Voëlvrou geskryf het. Minerva het ook met tyd ouer en wyser geword, maar sy is nog steeds absoluut aweregs en hardegat en ja, met tye aggressief. Marlize is bloot ’n tipiese Taurus. (O, vergeef my die aanhang van astrologie!) Ek is hardkoppig en Cheryne noem my "voetjie-dwars". Ek sukkel om met enige iets saam te stem. Ek dink Voëlvrou is ’n strewe om Marlize en Minerva nader aan mekaar te bring. Minerva is natuurlik baie meer eksoties as Marlize. En teatraal. Sy kan baie flambojant wees, waar Marlize is te prakties is om enige vorm van ekshibisionisme te toon. Marlize is steeds my geheime self. In haar is die bron wat stories skryf en Minerva help haar om dit uit te kry. Wanneer ek dus Minerva gebruik om Marlize se storie te vertel, is ek besig om die kuns in Marlize so suiwer as moontlik na vore te laat kom, sonder om dit skade te berokken.

(Dit was nou vreemd – om my-/onsself aan myself te verduidelik. Ek wonder of ek sin maak?)

Die twee verjaarsdae was bloot omdat ek ’n dag van my eie wou hê (want ek moes met my tweelingbroer deel). Toe dwing ek my vriende om dit te vier en vir my koek te koop en partytjie te hou wanneer dit 5 Oktober is. En hulle glo en aanvaar dit! Cheryne onthou getrou dat dit my tweede verjaarsdag is. Ek kry selfs presente en koek. Interessant genoeg het my dogtertjie ook twee belangrike dae wat ons vier. Die een is haar verjaarsdag en die ander is Lentedag (1 September) waarop sy in my sorg geplaas is. Dit is ook waar haar naam, Lente, vandaan kom. 

Losweg op dieselfde tema: Praat met my oor die ek-verteller en die sy-verteller. Mens sou jou amper verbeel die ek-verteller is die ware jy, maar dis nie so eenvoudig nie. Watter een van die vertellers staan vir jou nader aan die self? En waarom ’n onderskeid tref tussen die twee?

Al my werk het ’n ek-verteller. In hierdie geval is daar ook ’n sy-verteller van wie die skrywer praat. En daar is ’n band tussen die ek-skrywer en die storie wat uiteindelik verband hou met wie die verteller is of waar sy vandaan kom om haar gevorm te kry. Maar ek skryf nie so doelbewus nie – dis meer ’n vloei uit my onderbewussyn, selfs ’n onbewuste vloei wat ek eers na die tyd, wanneer ek dit herlees, werklik sien. Die gebruik van ’n ek-verteller is egter baie gevaarlik en kan mens baie weerloos maak voor jou leser, want is dit outobiografies? Ek skryf self in die boek dat jy niks kan vertrou wat ’n skrywer sê nie; dit is alles stories. Cheryne het met my vorige boek (As sy weer kom) vir my verduidelik hoe sy kan sien dat elke karakter wat ek beskryf en oor skryf en ’n stem aan gee, uiteindelik ook ek is. Mens kan jou afvra hoeveel van jou eie karakter inslag in jou verbeelde mense vind, daardie karakters wat hul by jou aanmeld. Die karakters is egter volledig en nie bloot dele uit my nie. Elkeen funksioneer apart en in geheel. Die Voëlvrou is wel my vlerke. Sy is my prewelgebed. Sy het my gered. Sy het baie intensie en baie hoop. Sy is ’n verskuilde engel.

Normaalweg sou ek in ’n onderhoud vra: Vertel my die plot, sonder om te veel van die intrige te verklap. Miskien kan jy vertel wat die sneller van die storie was. Was daar ’n oomblik van inspirasie, toe jy weet: Dit moet ’n storie wees, ’n boek?

Die idee is al vir langer as ’n dekade in my kop; ek het egter nie geweet hoe om dit te laat gebeur nie. Hoe om gestalte te gee aan ’n tipe voëlmens wat in ’n klein stat ? [Nie juis ’n woord wat baie mense meer sal ken nie, is dit?] val en hoe mense daarop reageer nie. Daar moet natuurlik ’n verklaring ook wees oor wie sy is en wat die bande tussen haar en die verteller is, haar en die ander karakters. Ek dink nie ek het al ooit so weldeurdag geskryf nie. Voor enige sin neergepen is, het ek baie lank daaraan gedink. Ek het sinne herskryf, oorgeskryf, hardop gelees. Ek wou nie die leser of die storie teleurstel nie. Ek wou nie die karakters teleurstel nie. Miskien, die belangrikste van alles, wou ek nie my eie binnemens teleurstel nie, want dit is tog waar stories vonk kry.

Voëlvrou is tydens die inperking geskryf, in hierdie virusjaar. Was dit vir jou maklik om te skryf, te midde van jou fibromialgie ook? Is skryf vir jou terapeuties? En dan ook: Kon jy gemaklik fokus? Was hierdie tyd nie soms vir jou ontsaglik neerdrukkend en verlammend nie? Hoe vind mens dan die energie om voort te gaan, te midde hiervan?

Waar begin ek om hierdie vraag in konteks te beantwoord? Eerstens: Gedeeltes van die manuskrip was voor die inperking geskryf en ek het tydens die inperking uitgebrei en bygevoeg en finale redigering gedoen. Ek dink ek het myself vir jare al voorberei op inperking. Ek gaan nie uit na mense toe nie en ek ontvang ook nie mense in my huis nie. Mense veroorsaak pyn (fisieke fibromialgiepyn). Ek het ’n dagboek begin die dag toe inperking begin het. Ek het elke oggend iets daarin geskryf. Dit was met tye amper onmoontlik om te skryf. Daar was hierdie kombers van donkerte oor my kop, soos wanneer mens as kind jou kop onder die kombers druk om nie die monster in jou kamerdeur te sien nie.

Die virus het gebeur in Desember 2019, toe ek besig was om my meestersgraad in maatskaplike werk te voltooi. Ek het heeltyd gesit en skryf en aan niks anders gedink nie. Ek het slegs Kersdag en Nuwejaarsdag gerus. Toe het ek ’n dringende skoueroperasie nodig en ek is 27 Januarie 2020 geopereer en skielik afgeboek vir ses weke, waartydens ek nie die huis verlaat het nie. Ek was ’n week terug by die werk, toe is ons huis toe gestuur en ’n paar dae later het inperking begin. Ek was dus basies sedert Desember in een of ander vorm van inperking.

Na die voltooiing van my meestersgraad was ek baie depressief en half verlore, want wat sou ek doen? Toe begin ek ou dokumente op my rekenaar deursoek en ek kom op ’n verdwaalde stukkie storie af.  Ek lees daardeur en ek besef dat daar ’n siekte gebeur in die verhaal, soos wat dit tans met ons gaan in terme van die pandemie. Ek besef toe dat ek iets beet het. Party dae het ek makliker geskryf en ander dae moeiliker, baie kere glad nie. Dit was nie maklik nie. Die stres van inperking het ook ’n groot invloed op my geestesgesondheid gehad: Ek is bipolêr en ly ook aan epilepsie. Vir die eerste keer in jare het ek epileptiese aanvalle gekry. Intussen moet mens moed hou en nie bang word vir jou eie liggaam nie. Skryf het my uit my liggaam gevat, uit my kop, uit my gemoed. Dit was terapeuties en baie genesend. 

Jou stories handel dikwels oor jou met jou fiksie en waarheid saam-saam. Jy raak aan sekere persoonlike realiteite: die kanker van jou vrou, die dogtertjie in jou/julle lewe. Wat is te heilig om oor te skryf? Of is die storie, die oomblik as jy daaroor skryf, reeds nie meer die waarheid nie?

Baie keer gebruik ek biografiese besonderhede, maar ek verander daaraan, veral as ek nie myself te oop wil stel nie. Aan die ander kant is die emosies wat beskryf word, baie werklik en is dit dus emosioneel biografies. Daar is nie heilige koeie nie. Maar daar is ’n vorm van respek vir die onderwerp wat jy aanpak, die verskillende temas wat jy inwerk, die vlakke waarop die verhaal plaasvind. Dit is vir my belangrik om met agting om te gaan met die ervarings van mense, want ons almal het iets wat ons van vlug, van wil ontvlug, en is stories nie juis die ontvlugting wat ons nodig het nie? Selfs al vertel die storie oor ’n ontstellende ervaring, bring dit verligting dat iemand bereid was om dit te sê, te skryf en uit te laat.

Ons skep ons eie waarhede. Lesers besluit self wat hulle wil glo en wat hulle nie wil glo nie, maar glo mý dan: Die emosies in die verhaal is universeel vir ons almal.

Dan is jou storie(s) ook dikwels vervleg met ’n Sotho-vrou s’n. Een van jou alter ego’s skryf oor hoe sy sukkel om haar in die vel van die Afrikavrou te plaas. (Is hierdie sin reeds problematies – want is jou een wit karakter dan nie ook van Afrika nie?) My punt is: Jy’s kennelik bewus van die kompleksiteit van skryf as wit persoon oor die realiteite van mense in ander omstandighede – in die besonder in Suid-Afrika. Hoekom dan daaroor skryf oor hierdie verskille, die eenders- en anders-wees, en hoe doen jy dit?

Die Afrikavroue in my boeke is Tswanas. Die stat waarin Voëlvrou afspeel is ’n Tswanastat wat in die ou Bophuthatswana geleë is. Ek het vir vier jaar as maatskaplike werker gewerk in Ganyesa, waar ek Tswanas baie goed leer ken het en basiese Tswana leer praat het. Waar ek lief geword het vir die mense en waar ek myself binne die konteks van die Tswanas en die stat leer ken het, want ek het ook daar gebly. Ek het verder grootgeword met sterk Tswanavroue wat op ons plaas gewerk het. Ek het ’n gevoel van behoort gekry in Ganyesa. ’n Gevoel dat daar raakpunte is. En dis op hierdie raakpunte van sterk vroue ten spyte van moeilike omstandighede dat ek dit ook in Voëlvrou so uitgebeeld het.

Is "Voëlvrou" ’n soort titel, soos "Mannin"? Was die titel eerste, of eerste die storie?

Nee, dit was eerste die verhaal van die gevlerkte wese en daarna die titel. Dit was ook moeilik vir my om ’n titel te kry waarmee ek tevrede was. Ek dink egter die titel werk soos dit nou is.

Hoe maak jy met jou stories – gaan sit jy as die inspirasie jou pak en skryf dit alles neer? Ek verwys na jou aanhaling van Jeanne Goosen na aan die begin. Werk jy organies, beplan jy vooruit? Hoe maak jy dan met die ander praktiese werklikhede van elke dag?

Die voordeel van skryf tydens inperking was dat tyd soos ’n ewigheid tussen my en die lewe gelê het. Gewoonlik moet ek mooi beplan en skryf wanneer ek kán, nie wanneer ek lús is nie. In grendeltyd kon ek gaan skryf wanneer die inspirasie my beetgekry het. Ek dink nie ek sal weer so ’n kans kry terwyl ek gewone werksure het nie. Maar Cheryne help baie om dinge te doen, sodat ek kan skryf. Met die nuwe boek waaraan ek werk, sit ek en sy saam en gesels daaroor en sy is ook my muse. Jeanne Goosen kon met ’n enkele idee ’n boek of toneelstuk skryf sonder om haarself te dwing om een of ander lengte aan die boek te gee. Sy kon ’n storie vat en dit van begin tot einde op ’n bandopnemer deurgesels, binne enkele dae.

Van Jeanne Goosen gepraat. Sy het ’n belangrike rol in jou lewe gespeel. Wil jy iets oor haar sê?

Ek en Jeanne se versorger tydens die laaste paar jaar van haar lewe gesels gereeld oor Jeanne en verbeel ons dat sy in die hemele sit met haar voete op ’n tafel en ’n lang sigaret rook, terwyl sy haar kop skud en sê ons moet nou oor dit kom, want sy is happy en sy is by Reinet en haar broer en haar geliefde diere wat afgesterf het. Dit bring my steeds van stryk. Hierdie boek is die eerste boek van my wat sy nie gelees het nie. Ek voel asof ek daardie validation wat Jeanne my gegee het, iewers moet gaan soek, maar ek weet niemand se goedkeuring kan beteken wat Jeanne s’n het nie. Dis asof Jeanne vir my sê dat dit tyd is dat ek my binnestem begin vertrou.

Wat kan jy van hierdie jaar sê, en verlang jy na die normaliteit van vroeër, wat dit ook al beteken?

Ek glo dat ons almal reeds op ’n sekere vlak weet dat die aarde nie langer kon aangaan soos dit het nie. Dat die mensdom wakker geruk moet word. Dat ons beweeg in ’n nuwe werklikheid in en jy moet aanpas of baie swaarkry. Die jaar het my geleer buigsaam wees. Dit het my teruggebring by daagliks skryf, want ek hou dagboek. Ek het ook begin om elke oggend te mediteer en positiewe intensies uit te stuur na my geliefdes. Ek weet dat basies niemand onaangeraak staan deur die pandemie nie, net soos wat niemand in die stat waar die Voëlvrou geval het, onaangeraak kon staan teen die vreemde nuutheid in hulle midde nie. Ons almal probeer sin maak uit verandering. Ons probeer die chaos of waansin om ons sinvol bestuur. Ek verlang nie na die vroeër normale nie. Ek dink dit is nodig dat die mensdom anders begin dink en leef teenoor mekaar en die aarde, maar dit lyk nie vir my of daar geluister word nie en daarom sal die virus dalk nog lank met ons wees. Mense het geen konsiderasie vir diegene om hulle nie. Die belang van higiëne en maskers word afgemaak. Sosiale distansie word nie gehandhaaf nie. Baie keer is hierdie dinge as gevolg van omstandighede wat die mense nie kan verhelp nie, maar dit is ’n baie lang gesprek oor armoede en onkunde.

Cheryne het COVID-19 gehad. Sy het ook kanker. Sy het oorleef. Dit was ’n maand waarin ek baie bang was, baie kere nie geweet het wat om te doen nie. Dit het my nader aan haar en Lente gebring, maar ook aan myself. En daar het ’n engel in die vorm van ’n vriendin gekom wat self deur Covid is en sy het ’n klomp goed vir ons kom aflewer soos ’n nebuliser en ’n oximeter. Ons bure het vir ons inkopies gaan doen en ek het weer vir ’n slag bewus geword van al die engele om my. Daarvoor is ek dankbaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top