Vir wat die alewige naamsveranderinge?

  • 6

Die ATKV-Woordveertjies is verlede week toegeken. My uitnodiging het aangedui dat die geleentheid by die HB Thom-teater in Stellenbosch sou plaasvind.

Vrydag is die toekennings egter in die Adam Small-teater gedoen. Daar was nie ’n verandering van venue nie. Die naam van die venue was verander. Dis nie die eerste gebou op die kampus wat van naam verander het nie. Ek het klas geloop, in die 1980’s en 1990’s, in die BJ Vorster-gebou, en die gradeplegtigheid was in die DF Malan-sentrum. Sedert demokrasie Stellenbosch bereik het, ’n bietjie later as die res van die land, is daar vinnig ontslae geraak van name soos Vorster en Malan. Dis vervang met meer neutrale name. Die BJ Vorster-gebou is nou byvoorbeeld die Lettere en Wysbegeerte-gebou.

Dis heeltemal in pas met die res van die land, en veral die res van die Wes-Kaap. Modderdamweg is nou die Jakes Gerwel Boulevard. Elke oorpas op die N2 in Kaapstad is vernoem na een of ander persoon wat ’n rol in die stad spesifiek, maar ook in die land meer algemeen, se geskiedenis gespeel het.

Onlangs is daar insette gevra omdat daar oorweging geskenk word aan ’n naamsverandering vir Kaapstad se lughawe. Dorpe se name verander, straatname verander, geboue se name verander. Dikwels gaan dit gepaard met enorme finansiële koste.

Die naamsverandering van die HB Thom-/Adam Small-teater kon seker nie te duur gewees het nie. Dis immers net ’n naambord hier, ’n briefhoof daar, kennisgewing op die universiteit se webwerf, ’n paar inligtingsborde op kampus en dis al.

Vergelyk dit met die naamsverandering van ’n besige pad soos Modderdamweg na Jakes Gerwel Boulevard. Dis nie net die nasionale pad wie se kennisgewingborde moet verander nie. Padkaarte moet verander. Al die besighede op daardie roete moet hulle besonderhede verander. In sommige gevalle mag besighede selfs verliese gely het omdat hulle klante eerder op ander plekke gaan besigheid doen het omdat hulle nie die adres vir die besigheid kon vind nie. Toerisme word geaffekteer. Dit moet wyd geadverteer word, want verwarring deur bestuurders wat onbekend is met die pad, kan ongelukke veroorsaak. Die koste kan etlike miljoene rande beloop.

Om die naam van ’n internasionale lughawe te verander, kan selfs meer geld beloop. Lugrederye dwarsoor die wêreld moet in kennis gestel word. Beskrywing van lugroetes moet verander word, en so aan ensovoorts.

In elke geval is daar ook aansienlike koste net aan die verpakking van die naam verbonde. Oorlegpleging met belanghebbendes. Uitgebreide konsultasievoering, deur konsultante wat ’n plaas se prys vra. Dan is daar die signage. Naamsveranderinge is fantastiese nuus vir letterskilders. En die advertensiewese. En politici, veral kort voor ’n verkiesing. Dis mos dan wanneer almal hard probeer relevant wees.

Maar dien die naamsveranderinge enige doel, anders as om liggelowige mense ’n peperduur rat voor die oë te hou?

Natuurlik. Heel eerste word die persoon wat herdenk word en wie se naam “verewig” word (tot wanneer die volgende politieke regime weer veranderinge aanbring), onder die algemene bewussyn gebring van mense wat dalk andersins nooit van hom of haar sou geweet het nie.

Ten tweede is dit ’n staatsbefondste “we were here”-graffiti om die oorwinning van die politieke heerser te vier. Maar in die geval van Jakes Gerwel en Adam Small, en ook Krotoa, as die lughawe so hernoem sou word, is dit ook erkenning aan ’n gemarginaliseerde groep dat hulle gesien word, dat uitnemende presteerders uit hul midde gedenk word. Dit is ook erkenning dat onregte wat teen hulle gepleeg is, nie sonder meer vergeet word nie. Dit doen iets vir nasiebou. Selfs al is dit ’n siniese politieke skuif, gemik daarop om stemme te werf, dan beteken dit steeds iets.

Dit laat gemarginaliseerde groepe voel dat daar aan hulle erkenning gegee word. Dit laat mense voel dat hulle behoort wanneer hulle ’n sekere gebied binnegaan. Dit laat mense voel hulle kom tuis.

In die geval waar omstrede name verwyder word en vervang word met meer neutrale name, of met name met ’n ander politieke verband, is dit ’n stilswyende erkenning dat vergrype van die verlede, en die daders daarvan, nie meer gevier sal word nie. Dis ’n erkenning dat daar sekere gebeure en name is wat nog sout in rou wonde vryf. Dis ’n erkenning dat nasiebou vereis dat sekere name uitgevee en vervang moet word met ander name.

Dit beteken iets. Dit beteken aansienlik meer as die rand-en-sent-waarde wat kritici so graag daaraan heg. Net persone wat gewoond is daaraan om hulle helde se name op geboue te sien, wat grootgeword het met die idee dat dit reg so is, verstaan nie die impak wat dit maak op iemand anders wie se mense nog nooit vereer was nie om hulle name op ’n gebou of ’n pad te sien.

Net persone wat nog altyd gemaak verstaan is dat hulle groep nie goed genoeg is nie, weet wat dit aan die groep se psige doen om op daardie manier gevier te word.

Dankie Adam Small. Dankie Jakes Gerwel. Net jammer julle moes sterwe voordat julle so vereer kon word.

  • 6

Kommentaar

  • Vrydenker Vlakvark Sonder Naamgenoot Standbeeld

    Mense en leiers het voete van klei en waarskynlik ook geraamtes in die hangkas. Waarom enigsins mense se name toeken aan mensgemaakte konstruksies en standbeelde oprig? Vandag 'n standbeeld vir Ramesses II oprig, môre die standbeeld se gesig wegkap. Hoeveel van die post-1994 name gaan spoedig in die vergetelheid verdwyn soos wat die geraamtes uit die hangkaste te voorskyn tree of 'n nuwe generasie aktiviste en "vryheidsvegters" met hul ideologië hul stempels nalaat? Leer ons dan nie uit die verlede nie?
    Noem liewer die straat "Suksesstraat" of "Naasteliefdestraat" of "Omgeestraat" of "Skoonwaterstraat" en die lughawe "Veiligvlieg" en die aankomssaal "Welcome in South Africa Portal". Kom ons wees opbouend kreatief en nie slawe van die verlede nie.

  • Solank die instansie soos die universiteit net onderrig van wêreldklasgehalte lewer kan hulle die geboue enige naam noem.

  • Johnnes Comestor

    As 'n persoonsnaam verander word, kan dit mense wat aan daardie persoon se groep behoort, uitgeskuif laat voel. Dit laat hulle onwelkom en ontuis voel in wat hulle eens as hulle vaderland beskou het. Is die benaming Adam Small werklik meer neutraal as HB Thom? Watter een van die twee het die meeste tot die Universiteit Stellenbosch bygedra? Watter een het die grootste gees gehad of was die voortreflikste akademikus? Verandering moet verkieslik verbetering wees. Is dit hier die geval?

  • Anthony Wilson

    Dankie Bettina Wyngaard weereens vir 'n baie goeie artikel. Ek dink dit is so gepas dat die HB Thom Teater na Adam Small vernoem is want hy is die dramaturg wat die beste drama ooit in Afrikaans, "Kanna hy kô hystoe" geskryf het. André P Brink het dit self gesê. Dit is ook goed wanneer dit na iemand vernoem word wat dit verdien. Ek dink al sou ons 'n EFF-regering kry sal hulle nie 'n problem daarmee het nie. Ek is 'n gereelde luisteraar van 702 en weet jy hoe teleurgesteld was ek dat toe Adam Small, Jakes Gerwel en selfs Richard van der Ross oorlede is het hulle nie juis 'n ophef daaroor gemaak het nie. Dat dié verandering by opvoedkundige inrigtings gebeur is vir my baie gepas. Die straat wat verby UWK loop wat nou Jaques Gerwel is, is net so gepas. Ja ek is bevooroordeel want daar word maar BAIE min na MY mense vernoem! Die Khoi-San name is almal sommer net uitgevee! Baie dankie! Thank you very much! Reya Leboga! Knyabonga gha Khulu! Esta Munt Obrigado, sou my Portuguese Pa gesê het.

  • Weet jy wie was HB Thom? Hy was die eerste nie-politiese rektor en verantwoordelik vir die stigting van die drama- en mediese fakulteite van US. Andre Brink was maar net ‘n kritikus uit ‘n sekere oogpunt. NP van Wyk Louw en Opperman het net sulke goeie dramas geskryf. Omdat hulle in Standaardafrikaans en nie in Kaaps geskryf het nie, maak hul dramas nie swakker nie. Ek sou voorstel dit sou eerder versoenend wees as albei name gebruik word Soos die Tutu-Murray prys. Beide was nie politici nie.

  • Anthony Wilson

    Germanicus - NP van wyk Louw; Periandros van Korinthe - DJ Opperman. Goeie dramas om te lees maar onopvoerbaar want wie behalwe Rymkletsers praat werklik in rym! Jy verstaan as ek sê dat daar baie min na MY mense vernoem is en het ek dan nie gesê: "Ja ek IS bevooroordeel!" Dankie vir u opinie! Dit word so aangeteken! Groete!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top