Vertellings uit die vergetelheid: Die opkoms en val van Bophuthatswana, 1977–1994 deur Danie Schoeman: ’n lesersindruk

  • 0

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur. LitNet het die skrywer nie versoek om dit te stuur en geen vergoeding is aan die skrywer betaal nie.

Titel: Vertellings uit die vergetelheid: Die opkoms en val van Bophuthatswana, 1977–1994
Skrywer: Danie Schoeman
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9781991256386

Dertig jaar na die totstandkoming van die sogenaamde nuwe Suid-Afrika in 1994 – en soveel te meer in die lig van die pas afgelope nasionale en provinsiale verkiesings – word, soos verwag kan word, veel aandag aan die geskiedenis van die afgelope 30 jaar geskenk, en heelwat oor die hede en oor die toekoms gewroeg.  In sekere opsigte kry die geskiedenis van die era wat die politieke omwenteling van 1994 voorafgegaan het, al minder aandag, hoewel daar steeds diegene is wat die stryde van vóór 1994 wil oorveg en/of met nostalgie (of met weersin) aan die verbygegane era terugdink.

Een van die hoekpilare van die Nasionale Party (NP) se beleid van apartheid (afsonderlike ontwikkeling) was die tuislandbeleid, waarvolgens die land se swart kultuurgroepe ’n groot mate  van selfstandigheid in hul onderskeie tradisionele grondgebiede moes bekom, met die ideaal (aldus die NP) dat hulle uiteindelik politieke onafhanklikheid sou verkry.  Soos algemeen bekend, het dít tot die totstandkoming van die sogenaamde TBVC-state (Transkei, Bophuthatswana, Venda en Ciskei) gelei, soos wat elk van dié tuislande in die jare 1976 tot 1981 “onafhanklik” geword het. Hulle is – om vanselfsprekende redes – nooit formeel internasionaal erken nie.

Hoe bedenklik en onprakties die beleid ook al was waarvolgens die TBVC-state tot stand gekom het, het elk van dié “lande” ’n eie geskiedenis gehad wat deel was van die verenigde Suid-Afrika se geskiedenis, en vanaf 1994 inderdaad ook weer deel geword het van die Republiek van Suid-Afrika (RSA) en sy geskiedenis; nie dat hul “onafhanklikheidsjare” ooit heeltemal los te dink is van die RSA nie.

........
Vanuit ’n historiese oogpunt beskou is dit aan te beveel dat daar steeds na die geskiedenis van die TBVC-state – as deel van die veel omvangryker geskiedenis van afsonderlike ontwikkeling – gekyk sal word. 
........

Vanuit ’n historiese oogpunt beskou is dit aan te beveel dat daar steeds na die geskiedenis van die TBVC-state – as deel van die veel omvangryker geskiedenis van afsonderlike ontwikkeling – gekyk sal word.  Danie Schoeman doen juis dít wanneer hy in sy boek die opkoms en val van Bophuthatswana (“Bop”) onder die loep neem. Hy skryf die boek grootliks op grond van sy persoonlike Bop-ervaringe, want nadat hy ’n aantal jare by die Buro vir Ekonomiese Navorsing, Samewerking en Ontwikkeling (Benso) in Pretoria werksaam was, het hy in 1977 ekonomiese adviseur vir Bophuthatswana se president Lucas Mangope (1923–2018) geword, ’n pos wat hy etlike jare lank  beklee het. Later (1990–1994) was hy weer in Bophuthatswana en is hy dus ook by die onderhandelinge wat tot die politieke omwenteling van 1994 gelei het, betrek.

Schoeman struktureer sy boek in die vorm van ses hoofstukke, elk met talle onderafdelings.  Die eerste hoofstuk word aan die historiese agtergrond gewy, insluitende die geskiedenis van die Batswana en die besetting van hul grondgebied deur Boere en Britte. In die tweede hoofstuk skets Schoeman die lewe in Bophuthatswana soos hy dit vanaf November 1977 eerstehands ervaar het, insluitende sy werksomgewing; verblyf te Rooigrond; Bop se “republiekwording” (middernag 5–6 Desember 1977); die vestiging van Mmabatho as hoofsetel; en die bou van Sun City – met al sy vermaak en verleidings (ook vir sommige van Pretoria se blanke staatsamptenare).

........
Vertellings uit die vergetelheid: Die opkoms en val van Bophuthatswana na 1977–1994 is in ’n leesbare styl geskryf, bevat talle grafieke, tabelle en foto’s, en ontruk inderdaad ’n stuk (grootliks) vergete (en gediskrediteerde) geskiedenis aan die vergetelheid.
........

In die derde hoofstuk kom Bophuthatswana se ekonomie aan bod, insluitende boerdery-aktiwiteite, nywerheidsontwikkelings, mynbou, die toerisme-, dobbel- en vermaaklikheidsbedryf, en wildbewaring. “Dienslewering” is die tema van hoofstuk 4, waar sake soos onderwys, behuising, vervoer, die bou van damme ten einde watervoorsiening te verbeter, radio en televisie, pos- en telekommunikasiedienste, en die polisie en weermag se rol bespreek word.

In die vyfde hoofstuk word die politieke omgewing aan die orde gestel, met Lucas Mangope wat as die “Moses van die Batswana” beskou word; en staatskaping wat tot die agteruitgang in Bop gelei het. In die laaste hoofstuk word die jare van die Konvensie vir ’n Demokratiese Suid-Afrika (Kodesa) beskryf: onderhandelinge wat uiteindelik tot die herinkorporering van die TBVC-state in die RSA en die daarstel van ’n waarlik demokratiese RSA sou lei.

Vertellings uit die vergetelheid: Die opkoms en val van Bophuthatswana na 1977–1994 is in ’n leesbare styl geskryf, bevat talle grafieke, tabelle en foto’s, en ontruk inderdaad ’n stuk (grootliks) vergete (en gediskrediteerde) geskiedenis aan die vergetelheid.  Hierdie verhaal mag beslis nie in die golwe van politieke korrektheid verlore gaan nie. Die feite wat in die boek vervat word, maak van die publikasie ’n belangrike naslaanbron, selfs al stem ’n mens nie noodwendig met al die interpretasies saam nie.

Danie Schoeman skryf as “insider” en in ’n groot mate onbeskaamd vanuit ’n Bop-oogpunt oor Bophuthatswana se kort bestaan. Hy erken wel “Bophuthatswana is in sonde ontvang en gebore”; ’n “onbenullige klein landjie met sy sewe legkaartstukke wat verstrooid in Suid-Afrika rondgelê het” (bl 9). Hy erken ook dat “Apartheid [...] ’n bose politieke ideologie [was] wat basiese menseregte misken en vertrap het”, maar dat dit die hoop gebied het “dat Suid-Afrika sy heil kon vind in ’n konstellasie van state soos die federale VSA of ’n Europese Unie” (10).

.......
Nie alle lesers sal met Schoeman se sienswyses saamstem nie, maar hy plaas wel ’n groot volume feite, data en perspektiewe op die tafel, iets wat hopelik tot debat en verdere navorsing sal lei
.......

Nie alle lesers sal met Schoeman se sienswyses saamstem nie, maar hy plaas wel ’n groot volume feite, data en perspektiewe op die tafel, iets wat hopelik tot debat en verdere navorsing sal lei. Soos die befaamde Nederlandse historikus Pieter Geyl dekades gelede tereg opgemerk het, is die geskiedenis inderdaad ’n diskussie sonder einde. En ons land benodig méér mense wat op ’n ingeligte wyse oor ’n verskeidenheid land- en verwante sake gesprek kan voer, ook oor ons gedeelde omstrede verlede. Vertellings uit die vergetelheid lewer beslis ’n bydrae tot die breë apartheidshistoriografie. Hopelik sal meer persone wat by die TBVC-state betrokke was, hul herinneringe te boek stel, en sal ook meer akademiese studies oor dié state die lig sien.

  • André Wessels is senior professor (emeritus) en navorsingsgenoot, Departement Geskiedenis, Universiteit van die Vrystaat.

Lees ook:

Vertellings uit die vergetelheid deur Danie Schoeman: ’n lesersindruk

A history of South Africa: from the distant past to the present day, onder redaksie van Fransjohan Pretorius: ’n resensie

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top