A history of South Africa: from the distant past to the present day
Fransjohan Pretorius (redakteur)
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 978-1-4853-1385-4 (gedrukte boek); 978-1-4853-1386-1 (e-boek)
...........
In 2012 het Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag by Tafelberg die lig gesien; ’n omvangryke werk van 586 bladsye teks, met Fransjohan Pretorius as die redakteur. Die boek is in opdrag van die Geskiedeniskommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns geskryf.
.............
In 2012 het Geskiedenis van Suid-Afrika: Van voortye tot vandag by Tafelberg die lig gesien; ’n omvangryke werk van 586 bladsye teks, met Fransjohan Pretorius as die redakteur. Die boek is in opdrag van die Geskiedeniskommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns geskryf. ’n Engelse – maar inhoudelik ook ietwat aangepaste – weergawe van die publikasie het in 2014 by Protea Boekhuis verskyn (648 bladsye teks; steeds onder redaksie van Fransjohan Pretorius). Nou, in 2022, het ’n tweede, hersiene uitgawe van die Engelse boek (659 bladsye teks) verskyn, ook by Protea, en nogeens onder Pretorius se bekwame redakteurskap.
Wanneer die 2022- Engelse teks met die Engelse 2014-weergawe vergelyk word, blyk dit dat die eerste 29 hoofstuktemas dieselfde gebly het (later meer daaroor), maar dat ’n uitstekende nuwe slothoofstuk, geskryf deur die bekende joernalis, skrywer en politieke kommentator, Jan-Jan Joubert, bygevoeg is, naamlik “From state capture to Covid: the decline of the ANC, 2014–2020”. Uit ’n vergelyking tussen enersyds die 2014- en 2022- Engelse weergawes, en andersyds die oorspronklike Afrikaanse weergawe, blyk dit dat in die Engelse weergawes die twee hoofstukke wat Jan Visagie geskryf het, “Migrasie en die gemeenskappe noord van die Oranjerivier” en “Oorsake van die Groot Trek na die binneland”, in een hoofstuk gekonsolideer is. Verder is die oorspronklike twee hoofstukke in verband met Afrikanernasionalisme wat Hermann Giliomee vir die Afrikaanse boek geskryf het (oor die periodes 1902 tot 1924, en 1924 tot 1948), in die Engels in een hoofstuk verkort en saamgevoeg om die periode 1902 tot 1948 te bestryk. JW (Hoffie) Hofmeyr se hoofstuk, “Die Afrikaanse kerke in die 20ste eeu”, is in Engels saam met JA (Joan) Millard verwerk en omvorm tot “The South African churches and apartheid”. Ten einde die Engelse weergawe meer gebalanseerd te maak, is twee nuwe hoofstukke bygevoeg, naamlik “Coloureds: a complex history” (deur Cornelius Thomas) en “The Indians in South Africa” (deur Goolam Vahed).
.............
A history of South Africa – net soos die Afrikaanse weergawe – verskaf ’n tematies-chronologiese oorsig van die Suid-Afrikaanse geskiedenis van voortye tot vandag.
..............
A history of South Africa – net soos die Afrikaanse weergawe – verskaf ’n tematies-chronologiese oorsig van die Suid-Afrikaanse geskiedenis van voortye tot vandag. Afgesien van die hoofstukke waarna reeds hierbo verwys is, is daar ook hoofstukke wat handel oor Suid-Afrika se oerverlede (deur Andrie Meyer); die Nederlandse era aan die Kaap (Johan de Villiers); slawerny (Robert Shell); die Kaapse koloniale samelewing onder Britse bestuur in die jare 1806 tot 1834 (Johan de Villiers); die Groot Trek (Jan Visagie); staatsvorming en stryd in die jare 1850 tot 1900 (Jackie Grobler); die minerale revolusie (Wessel Visser); die geskiedenis van ekonomiese ontwikkelinge in die 19de eeu in wat vandag Suid-Afrika is (Grietjie Verhoef); Afrikanernasionalisme in die laaste kwart van die 19de eeu (Hermann Giliomee); die Anglo-Boereoorlog, 1899–1902 (Fransjohan Pretorius); rasseverhoudinge in Suid-Afrika in die eerste helfte van die 20ste eeu (David Scher); swart politieke ontwaking vanaf 1875 tot 1949 (Jackie Grobler); en die vestiging en konsolidasie van die apartheidstaat vanaf 1948 (toe die Nasionale Party aan bewind gekom het) tot 1966, toe HF Verwoerd vermoor is (David Scher).
’n Volgende hoofstuk (deur Kobus du Pisani) neem die geskiedenis van apartheid ’n stap verder, wanneer John Vorster en apartheid (afsonderlike ontwikkeling) bespreek word. Daarna word swart verset teen apartheid vanaf die 1950’s tot die 1980’s deur Jackie Grobler onder die loep geneem. Die eerste bewindsjare van PW Botha, 1978 tot 1984, kom onder die kapstok van “Adapt or die” aan bod (Hermann Giliomee). Opstand, oorlog en oorgang in die Sturm und Drang-jare 1984 tot 1994 word treffend in nóg ’n hoofstuk deur Hermann Giliomee bespreek, terwyl hy ook ’n hoofstuk getiteld “Apartheid: a different angle” bygedra het. Verder is daar ook hoofstukke deur kenners in verband met die Suid-Afrikaanse ekonomie in die 20ste eeu (Grietjie Verhoef) en die ontwikkeling van vakbonde en georganiseerde arbeid (Wessel Visser). Daar is ’n hoofstuk wat oor die eerste dekade van post-apartheid Suid-Afrika, 1994–2004, handel (Japie Brits), en in “The troubled teens: South African democracy” skryf Jan-Jan Joubert insiggewend oor die jare 2004 tot 2013. Ewe belangrik is John Lambert se hoofstuk, “English-speaking South Africans: uncertain of their identity”. Elize van Eeden se hoofstuk handel oor die omgewingsgeskiedenis van Suid-Afrika. Daar is ook enkele korter inligtingstukke as “blokke” of “ruite” by die teks ingevoeg, byvoorbeeld oor Cuito Cuanavale (deur Leopold Scholtz), oor die Chinese in Suid-Afrika (Karen Harris), asook oor ’n hele aantal historiese figure.
In die bibliografie word vir elk van die 30 hoofstukke ’n hele aantal boeke en ander bronne gelys, wat met vrug deur die belangstellende leser geraadpleeg kan word. Agt uitstekende kaarte (deur Ingrid Booysen) word ingesluit, maar ongelukkig geen foto’s of ander illustrasies nie, waarskynlik omdat dít die reeds omvangryke boek nog dikker (en duurder) sou maak.
...........
Soos in die geval van die vorige Afrikaanse en Engelse weergawes, word ook in die 2022- Engelse uitgawe ’n omvangryke register ingesluit (pp 691–716), wat die ernstige navorser of belangstellende leser help om die inhoud maklik te ontsluit.
..............
Soos in die geval van die vorige Afrikaanse en Engelse weergawes, word ook in die 2022- Engelse uitgawe ’n omvangryke register ingesluit (pp 691–716), wat die ernstige navorser of belangstellende leser help om die inhoud maklik te ontsluit. Die Engelse vertaling (deur Bridget Theron) is uitstekend, en die boek lees gemaklik.
..............
A history of South Africa: from the distant past to the present day sluit aan by – en behoort dan ook saam gelees te word met – ander algemene geskiedeniswerke in verband met die Suid-Afrikaanse geskiedenis.
...............
A history of South Africa: from the distant past to the present day sluit aan by – en behoort dan ook saam gelees te word met – ander algemene geskiedeniswerke in verband met die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Ten eerste is daar Hermann Giliomee en Bernard Mbenga (redakteurs) se New history of South Africa (2007), wat ook in 2007 in Afrikaans gepubliseer is as Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika, en waarvan sowel die Engelse as Afrikaanse weergawes in 2022 onder dieselfde titel as vroeër, maar as hersiene uitgawes (en met Bill Nasson wat as derde redakteur bygekom het) gepubliseer is. Vroeëre algemene geskiedeniswerke in verband met die Suid-Afrikaanse geskiedenis sluit in TRH Davenport se South Africa: a modern history (1978; met latere uitgawes saam met Christopher Saunders) en Trewhella Cameron en SB Spies (redakteurs) se An illustrated history of South Africa (1986), tesame met ’n Afrikaanse weergawe, naamlik Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika in woord en beeld. En dan, wat die geskiedenis van Suid-Afrika sedert die begin van die 20ste eeu betref, is daar Thula Simpson se insiggewende History of South Africa: from 1902 to the present (2021).
...........
Pretorius en sy span bekwame medewerkers het aan hul oorspronklik gestelde doelwit voldoen, naamlik om ’n goeie, gebalanseerde weergawe van die geskiedenis van Suid-Afrika te skryf waarin die bydraes van álle rolspelers in ons land se veelbewoë geskiedenis na waarde geag word en tot hul reg kom.
............
Pretorius en sy span bekwame medewerkers het aan hul oorspronklik gestelde doelwit voldoen, naamlik om ’n goeie, gebalanseerde weergawe van die geskiedenis van Suid-Afrika te skryf waarin die bydraes van álle rolspelers in ons land se veelbewoë geskiedenis na waarde geag word en tot hul reg kom. Hierdie omvangryke en goed versorgde publikasie slaag op voortreflike wyse daarin om die komplekse en omstrede geskiedenis van Suid-Afrika in perspektief te plaas. Die medewerkers is almal kenners van hul onderskeie temas en die inhoud van elke hoofstuk is dus uitstekend nagevors. Die boek is op die algemene leserspubliek gerig, maar danksy die register kan die boek ook as ’n handige naslaanwerk gebruik word. Vanselfsprekend is die laaste woord oor ons geskiedenis nog nie geskryf nie en sal dit ook nooit geskryf word nie, want die debat sal en moet voortgaan. Die jongste uitgawe van Pretorius en sy medewerkers se boek oor die geskiedenis van Suid-Afrika – net soos die oorspronklike Afrikaanse weergawe – word baie sterk aanbeveel.
- André Wessels, Senior Professor (Emeritus) en Navorsingsgenoot, Departement Geskiedenis, Universiteit van die Vrystaat
Lees ook:
A century of South African naval history: ’n onderhoud met André Wessels
Geskiedskrywing in die "Nuwe Suid-Afrika" – om te vergewe sónder om te vergeet