Veronica – die kleur van liefde

  • 2

Titel: Veronica – die kleur van liefde
Skrywer: Alita Steenkamp
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799360103

 

Koop Veronica – die kleur van liefde by Kalahari.com.

"Die kleur van liefde is ’n verhaal van onreg. Twee mense raak verlief op mekaar. Dis die sestigerjare. Selinah Phaswane raak swanger en beide sy en Paul Mills weet dat dit onmoontlik sal wees om die baba te behou. Op Paul se aandrang vlug Selinah met die pasgebore baba na Lydenburg waar daar ’n groot bruin gemeenskap is. Sy laat haar baba in die sorg van die Nagels, min wetend dat haar kind daar nooit enige liefde of koestering sal ervaar nie."

So word die verhaal van Veronica - die kleur van liefde op kalahari.net opgesom. Maar die verhaal, gebaseer op die werklikheid, handel oor baie meer as net Veronica se oorsprong en kinderjare. Dis 'n storie oor 'n vrou se hartseer en haar uitstyg bo haar omstandighede.

Naomi Meyer het met Alita Steenkamp, die skrywer van die ware verhaal van Veronica van Vollenhoven, gesels.

Hallo Alita, dankie vir die geleentheid om te gesels. As jy dink aan die storie van Veronica van Vollenhoven, hoe laat dit jou persoonlik voel?

Veronica se verhaal kan niemand koud laat nie, want daar was bloot te veel onreg in haar verlede gewees. Ek is terselfdertyd trots op dit wat ons twee saam reggekry het, maar veral beïndruk met die wyse waarop sy net nooit toegelaat het dat die lewe haar onderkry nie. Met die skryf hiervan het ek besef hoe bevoorreg ek was om in ’n gelukkige, gekoesterde gesin groot te word. My ouers woon steeds in die huis waarin ek grootgeword het. As kind was ek totaal onbewus van die onreg wat teenoor baie mense gepleeg is, maar in ons huis is ons altyd geleer om ouer mense te respekteer, ongeag hulle velkleur. Die skryf van Veronica se storie laat my opnuut dankbaar voel vir die voorregte wat ek nog altyd gehad het.

Vir my as leser was daar één ding wat ek wou gehad het moes gebeur. As ek verklap wat dit is, verklap ek te veel. Hoe gemaak as mens iemand se lewensverhaal moet neerskryf en daar is moeilike inligting wat jy eenvoudig nie mag verander nie? Hoe gemaak om jou leser tevrede te hou?

Dit is waarskynlik die grootste beperking van hierdie genre. Daar is soveel gebeure in die verhaal wat ’n mens dalk met so ’n klein bietjie kreatiwiteit in iets heeltemal anders sou kon verander het. Tog is die sin van die skryf van die boek juis dat alles wat in die boek gebeur, die waarheid is. Die werklike lewe is ongelukkig geen sprokiesverhaal nie. Wanneer ek nou terugkyk, besef ek dat ek dalk te min daaraan gedink het om die leser gelukkig te hou, en te hard probeer het om bloot net aan Veronica ’n stem te gee. Hopelik het ek dit dus intuïtief reggekry om ook hiervan ’n lekkerleeservaring te maak.

Jy skryf die storie met al die tegnieke van ‘n lekkerleesboek – die cliffhangers aan die einde van elke hoofstuk wil maak dat mens verder lees. Is dit maklik om iemand anders se storie te skryf, of wat is moeilik daaromtrent?

Vir my is dit veel makliker om iemand anders se storie te skryf as om te gaan sit en my eie storie uit te dink. Alhoewel ek ’n hele paar jaar gelede my skryfloopbaan afgeskop het met ’n paar tydskrifverhale, het die lewe intussen gebeur en het ek oorgeskuif na die skryf van artikels en nooit weer my hand aan fiksie gewaag nie. Met die skryf van iemand anders se verhaal kry jy eintlik die gebeure op ’n skinkbord en dan is jou taak as skrywer bloot om sin daarvan te maak en dit in ’n verhaal saam te bind. Die moeilikste was om van die sensitiewe inligting uit Veronica te kry. Dit was asof sy weggeskram het van party dinge, terwyl sy weer maklik oor ander gesels het. Ek kan verstaan waarom sy sommige dinge nie met die lesers wou deel nie, en daarom het ek maar probeer om haar privaatheid in daardie opsig te respekteer.

Wat was vir jou die lekkerste deel van die storie om te skryf?

Met die vorige outobiografieë wat ek geskryf het, het ek myself baie meer laat bind en hard probeer om dit woord vir woord uit die persoon oor wie die outobiografie gaan, se mond te vertel. Met Veronica het ek vir die eerste keer probeer om so ’n bietjie van digterlike vryheid gebruik te maak en die verhaal in te kleur. Dit was natuurlik makliker om dit so te doen, omdat ek die verteltrant afgewissel het tussen ’n eerstepersoonsverteller en ’n derdepersoonsverteller. Uiteindelik was dit heerlik om elke teëltjie in die mosaïekpatroon te plaas om tot by die volledige prentjie te kom.

Wat het jy self uit Veronica van Vollenhoven se verhaal wysgeword of geleer?

Die belangrikste les in hierdie verhaal lê vir my in die woorde van Fiela Komoetie, Daleen Matthee se skepping: “God vergewe ons baie, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ’n kind aandoen nie.” Ten spyte van die vele kere wat daar onreg teenoor Veronica gepleeg is, het sy elke keer opgestaan en op ’n verrassende manier gesorg dat sy bo uitkom. Uit Veronica se verhaal het ek beslis geleer om nooit tou op te gooi nie, en altyd weer op te staan.

Wat is die kleur van liefde?

Ek hoop die lesers sal aan die einde van die boek weet dat liefde geen kleur het nie. Dalk het ons nog ’n lang pad om te stap in ons land, maar daar is reeds mense wat ervaar het hoe liefde ’n mens verby velkleur kan laat kyk.

Die boek was sekerlik vir Veronica van Vollenhoven ‘n droom wat waar geword het. As jy moet raai, wat gaan sy nou doen?

My grootste wens is dat Veronica weer aktief haar wonderlike Godgegewe talent om klere te ontwerp en te maak, sal gebruik. Al is dit net op klein skaal. Tog weet ek nie of dit ooit sal realiseer nie. Sy het tans groot drome om van haar hoenderboerdery ’n winsgewende onderneming te maak en ek wens haar dit toe dat sy dit sal regkry. Ek hoop ook dat sy hierdie boek sal gebruik en daarmee ’n pad sal stap en dat sy weer as ’n geleentheidspreker jongmense sal inspireer.

  • 2

Kommentaar

    • Goeiedag Heaven
      Ek hoop dit gaan goed.
      Dit is deur LAPA Uitgewers gepubliseer, hulle mag dalk help.
      Kyk ook op Amazon of die boek nie as e-boek beskikbaar is nie.
      Vriendelike groete

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top