Vermis deur Jeanette Stals, 'n onderhoud

  • 0

Vermis
Jeanette Stals
Uitgewer: LAPA
ISBN: 97807993853331

Skrywers oor hul nuwe boeke: Jeanette Stals beantwoord Naomi Meyer se vrae oor Vermis.

Jeanette, jou boek Vermis het pas verskyn. Wil jy kortliks vertel waaroor die storie handel?

‘n Tienermeisie, Elodie (14 jaar oud), kom saam met haar ouers uit Londen en hulle gaan hier in Stellenbosch in die Rustenbosch-gastehuis tuis. Die pa (James) is hier vir konsultasiewerk by die bou van ‘n dam op ‘n plaas buite die dorp tussen die berge. Elodie en haar ma (Gwen) hou bietjie vakansie en Elodie woon ook vioollesse by wat prof Bam van die US vir haar inruim. Sy is baie talentvol en hoop om verder in die rigting te studeer en uiteindelik ‘n violiste te word.

Die verhaal begin met Elodie wat een oggend net skoonveld is, met geen teken dat sy in haar bed geslaap het en ook geen leidrade waar sy kan wees en of sy uit vrye wil iewers heen is nie. Luna, ‘n jong vrouespeurder, is deel van die span wat die raaisel moet oplos en sy kry ‘n kamer in die gastehuis van waar sy ‘n ogie kan hou oor almal wat kom en gaan, sowel as oor die ouers self.

Die perspektief wissel tussen Luna, Elodie en Gwen.

Die ontknoping lewer ‘n verrassing.

Was daar iets wat vir jou die prikkel van die verhaal was, of hoe het die storie ontstaan?

Die ontvoering vind in Stellenbosch plaas (al het die beplanning daarvan reeds in Londen ‘n aanvang geneem). Die prikkel was die feit dat ek self ‘n kleindogter het wat by die tienerstadium is en ‘n mens besef hoe kwesbaar hulle is. Ek het ook by einste Rustenbosch-gastehuis gewerk en kon my die situasie goed indink. Die mooi en fantasties heerlike blyplek is intussen afgebreek om plek te maak vir studentebehuising. Nuwe ontwikkeling kan nie gestuit word nie, net soos die polisiestasie in Kyamandi wat in Vermis genoem word, ook intussen afgebreek is. Die rede is nog vir my duister.

Hoe goed ken jy die ekspatkultuur in Londen? Is daar vriende of familie van jou wat hier woon en het hulle gehelp met navorsing rondom die omgewing?

Ek het vriende wat in die buitewyke van Londen woon. Hulle het wel ‘n paar vrae beantwoord, maar dit is nie van veel toepassing nie. Soos genoem, speel die verhaal hier af waar die gesin vakansie hou. Hulle woon wel in Londen, maar albei ouers is in Suid-Afrika gebore en het hier grootgeword. Hulle was studente aan die Stellenbosch-universiteit. James se pa is oorspronklik van Ierland en het teruggegaan toe hy van James se ma geskei is. James het ‘n groot chip op die skouer en ‘n wrok teen sy pa omdat hy voel sy pa het hom en sy ma “verwerp”. Maar sy pa lewe nie meer nie en James het teruggegaan bloot omdat hy geglo het daar is beter vooruitsigte en ook om Ierse burgerskap te verkry. Hierdie feite kleur slegs die agtergrond van die storie in en help om die misdaad te motiveer; dit word nie breedvoerig uitgebeeld nie.

Het jy die hele storie vooruit beplan of self geweet wat gaan gebeur?

Ek het slegs in breë trekke geweet waaroor dit sou gaan, maar besonderhede soos wie die misdaad gepleeg het en waarom, kristalliseer mettertyd uit soos wat die karakters vorm aanneem.

Het jy gunstelingkarakters of mense met wie jy die meeste identifiseer?

Luna, wat by Katoog, die eerste boek in die reeks, die heldin was. Sy is geneig om impulsief te wees en haar gut feeling te vertrou, maar ook iemand wat deurdruk met iets wanneer sy haarself tot iets verbind het. Verder is daar Johan, haar halfbroer, wat die stem van rede en die anker van sekuriteit vir haar is. Die laaste een is die jeugdige Elodie – ‘n sensitiewe, kreatiewe meisie met drome oor die toekoms.

Wat was vir jou die lekkerste aspek van die skryf van hierdie boek?

Om weer met Luna en Johan kontak te hê, en meer nog, met hulle saam te werk. ‘n Mens mis die karakters wanneer ‘n storie afgehandel is, soos familie wat baie ver weggaan. Ook was dit vir my belangrik om die kwessie van vroue wat as seksslawe aangehou word, aan te sny, al is dit net indirek.

En wat was die moeilikste?

Om die manuskrip en die mense daarin finaal uit my hande te laat gaan.

Jy is ‘n ervare skrywer, en hierdie is jou tweede misdaadroman. Waarom misdaadfiksie?

Ek lees baie in hierdie genre. Hoekom sal sekere mense dinge doen wat teen ander se grein ingaan? Hoe ver kan iemand gedryf word voor hy/sy krake kry of verkrummel? Dit is vrae wat my fassineer. Ek geniet dit om spanning op te bou en uit te beeld. En in hierdie genre is die moontlikhede vir ‘n plot feitlik oneindig.

Skryf jy reeds weer aan ‘n volgende boek en wil jy iets daarrondom verklap?

My volgende manuskrip is by LAPA. Luna bevind haar onoffisieel in Mauritius op ‘n ietwat ongewone missie. Meer as dit kan ek nie sê nie, want die uitgewer moet nog besluit of dit gaan gebeur.

Wat lees jy of watter film of teaterstuk het jy onlangs gesien wat jou bybly?

Al Michael Connelly, Lee Child en Robert Crais se boeke gelees. Onlangs ook Koors van Deon Meyer, wat my baie beïndruk het. Wat vroueskrywers betref hou ek van Tess Gerritsen en Patricia Cornwell se boeke (albei ook met misdaad bedrywig), terwyl Snakes in suits van Paul Babiak en Robert Hare geskryf is as ‘n studie in die agtergrond en werkswyse van psigopate. Cecilia van LAPA het dit vir my aanbeveel en dit was baie insiggewend.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top