Verkiesingsuitslae en kultuurbelange

  • 8

“Afrikaans,” het die jong meisie in die gehoor gesê, “must be eradicated” en moet vervang word met Swahili. Dit was by die Polokwane Literêre Fees in November laasjaar. Daarna moet Engels uitgeroei word.

Die verkiesingsuitslae, en veral die geweldige groei van die Economic Freedom Fighters (EFF), het my weer aan hierdie voorval laat dink. Terwyl almal glasies klink op Cyril Ramaphosa en praat oor die ekonomie red noudat hy die ANC gered het, kan ’n mens dit nie miskyk nie: die agteruitgang van die enigste werklik veelrassige party, die DA, en die verkiesing se ander groot wenner, die VF+, wat sy aantal LP’s meer as verdubbel het. ’n Mens sal voel jy moet saamstem met Christopher Hope, wat in sy jongste boek, The Café de Move-on Blues skryf oor sy besoek aan Suid-Afrika na dekades in die buiteland: “Race, in the new democratic South Africa, far from being relegated to the past, is now more ubiquitous than it had been in the old days of apartheid.”

Maar is daar werklik ’n polarisering aan die gang? Per slot van rekening is dit duidelik dat die kiesers vir Ramaphosa gestem het in wat ’n mens eweseer ’n volwasse, strategiese besluit deur miljoene kan noem om die mag uit die hande van die staatskapers te hou. So ’n interpretasie word ondersteun deur die horisontale verdeling in die stemme, nadat baie mense nasionaal ANC en provinsiaal DA gestem het.

Daar is egter een syfer wat minder aandag kry: dat die ANC en die EFF gesamentlik 68,29% van die stemme gekry het, net ’n raps minder as die 68,5% van 2014.

Alle aanduidings is daar dat kiesers in hierdie verkiesing “wakker geword het”. Vir die eerste keer het township-bewoners, volgens berigte soos dié van Jonny Steinberg, werklik besef dat die ANC nie hul belange op die hart dra nie en aan die ondenkbare gepeusel: Wat sou gebeur as ons die ANC uitstem?

Verskeie opsies is druk bespreek in sjebeens, taxi’s, toue … en uiteindelik is twee van hulle deur waarskynlik meer as ’n miljoen kiesers gevolg: om hul stembriewe te bederf (235 472), of om nie te stem nie.

Hierdie protesstem word egter verswelg deur daardie gesamentlike 68,29%. ’n Mens moet mooi verstaan wat dit beteken: Na al die kommissies, boeke, onthullings en hofsake het die kiesers weer vir die status quo gestem, vir die twee partye wat betrek is by die ergste vergrype, staatskaping deur die Guptas en die rowery van munisipale fondse deur die VBS Bank.

’n Mens kan redeneer dat ’n stem vir die EFF ook ’n protesstem was, maar waarteen presies sou so ’n protes wees? Die EFF se veldtog was een van wilde beloftes wat niemand kon glo nie, behalwe een, of liewer, een reeks beloftes: om alles te nasionaliseer. Wat die kiesers eintlik gesê het, is dalk eerder iets soos: Staatskaping is nie genoeg nie, julle moes verder gegaan het en die staat omskep het in ’n instrument vir verdere kaping.

Patronaatskap is ’n kenmerk van alle politieke ekonomieë. Die probleem in Suid-Afrika is dat patronaatskap al is wat die oorgrote meerderheid van die bevolking het, en dat dit nou nie net in die vlees van die stelsel is nie, maar in sy murg en been. Onder Ramaphosa is twee uitkomste moontlik: dat die status quo maar net gaan voortduur, met die ineenstorting van die staat tot gevolg, of dat daar ’n werkslagting onder staatsamptenare gaan wees.

In albei gevalle beteken dit hordes meer mense op straat. Die arbeidsaristokrasie wat gaan oorbly, gaan aan hulle poste klou vir al wat hulle werd is, wat weer gaan beteken dat jongmense uitgeskop gaan word. Hulle gaan die reeds reuse-kohort werklose jongmense wat grootgeword het met die idee dat ’n aandeel in die ekonomie hul geboortereg is, verder aanvul.

In hierdie benarde situasie kan die aandrang op nasionalisering net groei. En diegene in die ANC wat nog daaroor twyfel, gaan dit aan die EFF oorlaat om die rol van revolusionêre avant-garde te speel, om die water te toets. Dit het natuurlik reeds gebeur met die veldtog om onteiening sonder vergoeding.

Dit is waar die voorval in Polokwane ter sprake kom. Die meisie het haar stelling teenoor my gemaak tydens ’n onderhoud met ’n radio-omroeper op die verhoog. Ek weet nie of die meisie ’n lid van die EFF is nie, en die gehoor het gunstig gereageer op my vraag aan haar oor watter van die drie dialekte van Swahili sy ingevoer wil hê.

Onderliggend aan al hierdie tendense is ’n groeiende identiteitspolitiek, maar ’n valse een. Verskeie EFF-“denkers” praat van ’n Afrikanistiese ideaal wat ver van realiseerbaar is en kan legitimiteit fabriseer net deur dit in kolonialistiese rasseverband te plaas. En die EFF het gewys hoe om hierdie fabrikasie ’n praktiese inkleding te gee wat swart mense oor alle partygrense heen mobiliseer.

Hierin speel die aversie teen Afrikaans wat so duidelik in sy bastion, Limpopo, blyk, ’n groot rol. EFF-leiers soos Mbuyiseni Ndlozi doen spesiaal ekstra moeite om die Afrika-wortels van Afrikaans te ontken en selfs die naam van Afrikaans as deel van ’n witheid-komplot te sien. Die EFF-resep is eenvoudig dog moorddadig doeltreffend: Gryp enige rasse- of taalvoorval aan vir ’n histeriese veldtog op sosiale media, hits die skares op en trek rasgedrewe politici van ander partye in.

In Schweizer-Reneke het hierdie resep eksieperfeksie gewerk, ’n veldtog wat die DA waarskynlik ’n groot klomp stemme aan die VF+ laat afstaan het weens sy onbeholpenheid om sy jeugleier in Noordwes te repudieer vir sy deelname aan die demonisering van die mooi, jong, weerlose vrou in die middel van alles.

Nasionalisering is nie haalbaar nie, maar die ANC sal moet kom met verdere pseudonasionaliserings, soos die staatsoorname van die Reserwebank, of enkele plase onteien as simboliese stappe om die massas gelukkig te hou. ’n Ander effektiewe pseudonasionalisering is om Afrikaanse skole te dwing om te verengels, en in hierdie opsig is die uitslag in Gauteng ’n terugslag. Panyza Lesufi het as’t ware ’n nuwe mandaat gekry om sy veldtog teen Afrikaans voort te sit.

Die VF+, AfriForum en hul aanhangsels soos Steve Hofmeyr speel natuurlik mooi saam deur ou kolonialistiese vlae rond te swaai, musiekvideo’s van die Gelofte te maak of net Afrikaans te praat in die parlement. Die koeël is deur die kerk – enige stryd om Afrikaans het nou sinoniem met ver-regse nostalgie vir die ou Suid-Afrika geword.

Dit sou egter ’n fout wees om van polarisasie te praat. Eerder van ’n swart mobilisering, ’n Afrikanasionalisme wat Afrikane definieer op grond van hul natuurlike uitsluiting uit ander groeperings, en viktimiserings uit die verlede, soos 16 Junie 1976. Ondersteuners van regse groepe, veral op die platteland, kan nie verkwalik word as hulle eenvoudig ter wille van hul veiligheid op hul beurt laer trek nie, hoe futiel en teenproduktief dit ook al mag wees.

Wat staan ons te doen? Dit is belangrik om daarop te let dat VF+-kiesers nog steeds nie die meerderheid onder wit Afrikaanssprekendes is nie; en nóg belangriker: om te werk aan die afbreek van die fabrikasie dat Afrikaans ’n witmanstaal is. Inisiatiewe soos DAK moet uitgebrei word, met as kardinale faset daarvan ’n fokus op die haglike ekonomiese omstandighede van die meerderheid Afrikaanssprekers. Dit gaan hier nie om Afrikaans nie, maar oor om die land se mens te red.

  • 8

Kommentaar

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Genugtig, hoe naïef! Met uitsprake en mense soos die, het die Afrikaner/Afrikaanses nie vyande nodig nie. Mense wat vir Mnr Ramaphosa stem (sy naam was nie eers op die stembrief nie!) is volgens die artikel, "volwasse." Mens wil amper vra, wat de hel is so volwasse wanner jy vir Ramaphosa stem?! Daarteenoor word die bewering gemaak dat die VF+, en luister hierna, "aanhangsels" soos Steve Hofmeyr bydra tot die probleem. 'n Tipiese oordrewe en oorvereenvoudigde aanklag ... buite konteks en perspektief. Oorreageer en moedswillige standpunte (van Hofmeyr) was/is daar wel maar wat teen 'n spesifieke agtergrond geskied en verseker nie die reël in sy betoë en standpunte is nie. Diegene wat hom ken bevestig dit. Om hom die rede te wil maak oor hoekom jy dan liewer DA of ANC moet stem, is kennelik nie 'n goeie poging nie.
    Die 400 000 plus "aanhangsels" wat in die verkiesing VF+ gestem het, het dit gedoen om een rede en een rede alleen. Dis die enigste party/mense (met foute en al) wat nog opstaan en praat oor belange wat vir die Afrikaner/Afrikaanses belangrik is; hulle taal en kultuurgoedere. Dis nou as mens nie Mnr Lekota bytel nie wat immers begrip het daarvoor en die Afrikaner as 'n minderheidsgroep erken en in eie reg aanvaar. As 'n party soos hulle aan bewind was, kon dinge veel anders verloop het. Selfs Piet Croucamp bevestig dit en sê dat dit belaglik en moedswillig is om die VF+ ("aanhangsels" soos u dit stel) as ekstreem of verregs te etiketteer. Hy sien dit eerder as konserwatief, behoudend en glo dat hulle tot oor 'n halfmiljoen sal groei. Feit is, daar kan net werklike "eenheid" in die land wees wanneer die verskeidenheid in diep verdeelde samelewings erken en gerespekteer word.
    Niemand, beslis nie Mnr Ramaphosa nie en ook nie die DA is meer bereid om op te staan vir hierdie belange nie. Trouens, dit gaan erger word want dis getalle-politiek wat hulle bedryf en die enigste opsie vir hulle is die groot poel swart kiesers. Om hulle steun te kry gaan meer en meer anti-Afrikaans maar (eintlik!) meer spesifiek, anti-wit gepraat moet word, want dis oor wie dit eintlik maar nog steeds gaan al word dit net nie pertinent gesê nie. Wat word nie verstaan nie?
    Die VF+ daarteenoor dien belange-politiek want hulle kan nie alles vir almal wees nie en wil ook nie. Met die tipiese hardkoppigheid van ons mense is daar ook uitdagings vir die VF+. Ook hulle kan nie net sommer aanvaar dat Afrikaanses vir hulle moet stem omdat hulle sê hulle sal daardie belange dien nie. Stemme moet VERDIEN word. Kopstampe sal daar dus wees, daar's 'n lang geskiedenis daarvan, maar ek werk eerder binne daardie opset as die alternatief. En dis waar die keuse lê: Volgens artikels (en mense) soos dié kan daar net vrede wees as jy afstand doen van enige iets wat in die pad staan van die wil van die meerderheid en die wil van die meerderheid het absoluut niks met Afrikaanse belange te doen nie. Die moeilike besluit vir u, is die keuse tussen die ANC (nie die skyn Ramaphosa-idee/propaganda nie, hy kan enige tyd herroep word as hy nie doen wat die ANC sê of wil hê nie) of die DA. Hoop u vind gou 'n tuiste by een van die twee. Intussen sal dit dalk goed wees om nie te probeer voorgee dat u namens die meerderheid praat nie. Dis 'n irrelevante debat. Wat ter sake is, is watter belange van ons mense is vir u belangrik, hoekom en dink u werklik dat die ANC of DA hulle hande stompies sal werk om daardie belange te dien?

  • Hierdie Afrikaanse aanhangsel wil vir jou sê jy droom indien jy dink jou ANC/EFF/DA-"patriotte" gaan enigsins die ekonomie verander. Dit pas nie in met sosialistiese denke nie. Ek vertrou jy weet daarvan? Die meisie in Limpopo sal, wanneer sy groter word, daarop let dat haar eie mense geriefliker in Afrikaans kommunikeer as enige dialek van Swahili, soos deur jou gestel. Ek glo in elk geval nie dat jy haar 'n vraag gestel het nie. Die land het 11 amptelike tale - indien jy vergeet het - nie net Swahili en Engels nie.

  • Die twee grootste wanpersepsies in die anti-Afrikanerbetoog is dat Afrikaners koloniste is en dat apartheid 'n Afrikanerskepping is.

    Voor 1806, maw voor die Engelse se oorname van die Kaap, was daar geen diskriminasie op grond van ras nie! Die enigste onderskeid was op godsdiens gebaseer. Raak gekersten en word deel van die gemeenskap, was die benadering. Die sogenaamde bruin Afrikaners is net so geregtig op die benaming Afrikaner as ek.

    'n Kolonis word gevestig as 'n burger van 'n vêraf land. Hy moet in belang van daardie land optree en die belange daarvan bevorder.

    Die Afrikaner het uit agtergeblewe werknemers en slawe van die VOC ontkiem. Hul teenwoordigheid hier, kan aan geen politiek agenda gekoppel word nie, want hul aanvanklike werkgewer, die VOC was 'n privaat maatskappy wat toevallig 'n Hollandse maatskappy was.

    Dis juis Afrikanernasionalisme wat Suid Afrika die suksesvolste ekonomie in Afrika gemaak het wat ons as 'n koloniale teenpool bewys. Koloniste skep nie, hulle skep af en dra weg.

    As ons arrogante swart landgenote dan nie van ons hou nie, laat hulle ons dan met rus laat sodat ons 'n eie gebied, volgens ons eie behoeftes kan ontwikkel. Daar is genoeg ruimte daarvoor.

  • Avatar
    Nico M Ferreira

    Ek is nie seker hoe julle by Swahili uitgekom het nie. Swahili is beslis nie 'n amptelike taal in die RSA nie.
    Nico M Ferreira

  • Net om die situasie duideliker te skets: ek was op die verhoog en in vraetyd het die meisie opgestaan en gesê Afrikaans moet uitgeroei word. Ek het gereageer deur te vra hoe sy dit gaan doen, en gesê dit gaan onmoontlik wees. Toe het ek haar die ironiese vraag gevra, oor watter dialek sy dan wil invoer. Sy het nie geantwoord nie. Die gehoor het gedink dis snaaks, maar ook nie almal nie.

  • Avatar
    johan van Rensburg

    Wanneer mens die insetsels van Pienaar en Claassens teen mekaar opweeg is dit duidelik dié van liberalis teenoor meer behoudend. Een van "kom Afrikaner, kom ons staan nou maar alles af" of "nee, ons is geregtig op ’n plekkie in die Afrikason waar ons ons eie taal en kultuur ongestoord kan beoefen met die reg op ’n politieke party wat ons sake in die parlement kan debatteer”.

  • Al regeer enige party het Suid-Afrika reeds in 'n onomkeerbare meerderheid van armoede, werkloosheid, hongersnood, misdaad, en baie ander onbeskaafdhede verval. Weens die onverantwoordelike bevolkingsgroei en korrupsie wat reeds gepleeg is en die massas wat aandring dat
    alles wat hul nodig het deur ander en die regering gratis aan hulle verskaf moet word, sal dit net eenvoudig al meer onhaalbaar word.
    Om dus te glo dat redenasies oor taal of individue se voorkeure wanneer hy stem of sing of 'n vlaggie swaai enige verskil sal maak is naïef.

  • Avatar
    Johnnes Comestor

    Danie Bosman, jou naamgenoot, die liedjieskrywer, was familie van my. Ek is dankbaar dat jy steeds op die regte spoor is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top