Die afgelope week of wat is dit onmoontlik om enige soort media te absorbeer sonder om jou vas te loop in een of ander voorspelling oor die uitslag.
Die meeste van die gewone kandidate word geweeg en meesal te lig bevind. Die ANC gaan steun verloor; die DA sal iewers moet witvoetjie soek as hulle nog relevant wil bly; die EFF is ’n simbaal wat meer geraas as substansie is – en dies meer. In die meeste gevalle word daar voorspel dat ActionSA, die Patriotic Alliance en die MK-party die gety van die politiek gaan verander. Dalk is dit so, maar dis opvallend hoedat GOOD nie deur enige van die analiste oorweeg en selfs genoem word nie. Ek dink dis ’n oorsig wat die moontlike ontledings skeef trek.
Daily Maverick se Bhekisisa berig dat daar tans ’n tendens onder politieke partye is om beïnvloeders te gebruik om hulle profiele in die media te lig, en dat dit potensieel ’n nadelige effek op die demokratiese proses kan hê. Hulle belowe om oor ’n reeks artikels heen die tendens te ontleed. Ek vermoed hulle ontleding gaan vind dat GOOD nie van hierdie taktiek gebruik maak nie.
........
Hoekom fokus ek op GOOD terwyl hulle grootliks deur die hoofstroommedia ignoreer word?
........
Hoekom fokus ek op GOOD terwyl hulle grootliks deur die hoofstroommedia ignoreer word? Dalk omdat ek sien hoedat hulle strategies werk op munisipale vlak, en aflei dat dit ook op provinsiale en nasionale vlak herhaal word. Die dorpie waar ek bly, is meesal ’n goeie barometer van waar die politieke sentimente lê, en wat op groter vlak elders uitspeel.
Wat sien ek op my voorstoep? GOOD-lede, selfs waar hulle nie in amptelike posisies aangestel is nie (dalk veral waar hulle nie in amptelike posisies aangestel is nie), sorg dat hulle op plaaslike komitees dien. Hulle sorg dat hulle inwoners bystaan met probleme, of dit nou dienslewering, Eskom-verwante probleme, skakeling met die SAPD of wat ook al is. Baie keer gaan mense heel eerste na die GOOD-lid voordat hulle hulle wyksraadslid nader. En dis nie net GOOD-lede nie. Enige lid van die publiek weet hulle kan die GOOD-lede nader.
Die effek? Eerstens bou hulle goeie verhoudinge met die gemeenskap op, en ’n rekord van dienslewering en probleemoplossing. Tweedens, en dis waarskynlik baie meer relevant, leer hulle hoe om op plaaslike vlak met al die relevante rolspelers te skakel. Hulle leer hoe koalisies werk. Hulle leer hoe om netwerke op te bou. Hulle is in effek besig met opleiding om oor te neem wanneer die verkiesing verby is. Hulle grawe wortels wat diep in gemeenskappe strek.
........
Waarskynlik is die stil outjie nie op die stembrief nie, maar sy party is.
........
Dis nie die flashy benadering van baie ander partye wat nou met groot motors rondry en baniere swaai nie. Hulle loop nie rond en probeer stemme werf deur pakkies of T-hemde uit te deel nie. Kiesers is nie dom nie. Ons almal weet dat die konvooie karre en musiek en politici wat rondloop en babas soen en blad skud met almal asof hulle jou beste vriend is, na Woensdag verdwyn. En dan?
Dan is die ou wat nog heeltyd gehelp het dat die munisipaliteit kom kyk wanneer jou drein oorloop, of wat seker maak Eskom se mense kom herstel jou kragtoevoer as jy sonder krag sit, daar. En raai wat?
Kiesers sal stem vir die stil ou wat heeltyd gehelp het eerder as die flash-in-the-pan politikus wat twee dae voor die verkiesing ’n kospakkie aflewer en dan eers weer oor vier jaar gesig wys. Waarskynlik is die stil outjie nie op die stembrief nie, maar sy party is. En lojaliteit is ’n kosbare kommoditeit wat die meeste partye nie in ag neem nie.
Ek vermoed GOOD gaan baie beter vaar as wat die meeste ontleders voorspel. Dalk is dit juis die opskudding wat ons politieke bestel nodig het.
Kommentaar
Ek weet darem nie van GOOD nie. Ek betwyfel dit sterk dat hulle veel beter gaan vaar as in die vorige verkiesing. Hulle kon nie eers 'n halwe persentasiepunt van die stemme kry in 2019 nie. Slegs 70 408 (0,40 %) mense het vir hulle gestem en hulle kon net 2 setels in die Nasionale Vergadering inpalm. Ek mag verkeerd wees, maar ek kan nie dink waarom hulle vanjaar veel beer sal vaar nie. As daar 'n party is wat baie bruin stemme gaan lok vanjaar, dan is dit die Patriotic Alliance van Gayton McKenzie met sy populistiese retoriek van bring terug die doodstraf en gedweep met godsdiens. Ek dink aunty Pat sal gelukkig wees as sy daarin slaag om haar eie setel behou.
Jean/Bettina - en wat’s jou gevoel oor Zackie?