Verkiesing 2019: vir wie om te stem?

  • 3

ʼn Spotprent verskyn ʼn rukkie terug in die New York Times. Dit wys ʼn groot yslike advertensiebord met ʼn wolf se gesig, met ʼn woordborrel, “I will eat you”. Die bord is in ʼn groen landery waarop skape wei. Die een skaap sê goedkeurend vir die ander een: “He tells it like it is.”

Die leser word in geen twyfel gelaat nie dat daai skaap vir die wolf gaan stem, terwyl hy eintlik behoort te weet hy stem teen sy eie belang in. Dis die vraag wat my soms laat rondrol in die nag: hoekom stem mense vir iemand wat vir hulle geen voordeel inhou nie, en wat hulle inderwaarheid aktief benadeel?

In die Amerikaanse konteks het Trump nou al oor en oor bewys hy voel vere vir vroue, kinders, minderhede, menseregte, die omgewing, die ekonomie (behalwe soverre dit homself en sy maters verryk), internasionale betrekkinge en die land se reputasie. Tog het die party wat hom aan bewind gebring het, in die pas afgelope verkiesing beter gedoen as wat verwag was. Dieselfde mense wie se mediese bystand hy weggeneem het, minderhede vir wie hy soveel minagting toon, vroue, swartes, die werkersklas, het steeds vir hom gestem. Dit ten spyte van die feit dat tydens sy bewind veel meer van hul regte weggeneem is as onder vorige administrasies.

Dieselfde gebeur in Suid-Afrika. Zuma se ANC het keer op keer op keer bewys dat hulle bereid is om ʼn man wat die land tot by die afgrond van vernietiging gebring het, te beskerm. Hy is dalk nie meer in beheer nie, maar dit word elke dag duideliker dat sy netwerk meer mag het, en hul tentakels dieper ingegrawe is, as wat ons vermoed het. Die Zondo-kommissie wat staatskaping ondersoek, is nog maar besig om die renoster se oortjie te ontgin.

Dan is daar Cyril. Thuma Mina, Ramaphoria Cyril. Natuurlik is sy hande nie skoon nie. Wie het dit verwag, behalwe die hordes wittes wat hande in die lug gevolunteer het om gestuur te word, waarheen weet nugter alleen. Was die verwagting regtig dat Cyril in die binnekring sou sit sonder dat sy hande ooit sou stowwerig word? Of dat hy so oblivious is dat hy nooit eers snuf in die neus gekry het oor Zuma en die Guptas nie? Of dat hy nooit koerante lees nie –daar was tog jare lank berig oor dié goed. En saam met hom die res van die ANC. Solank as wat Zuma hulle nie stemme gekos het nie, kon hulle oë toemaak vir wat reg onder hul neuse aan die gebeur was. Maak nie saak watter skade die land berokken was nie, solank dit nie die ANC geskaad het nie, kon hulle hul koppe wegdraai.

Dan is daar die DA. So besig om own goals te score dat hulle nog steeds nie ʼn samehangende identiteit kon uitkerf, of  ʼn ordentlike verkiesingsboodskap nie. Zuma was ʼn geskenk vir die opposisiepartye in Mzansi, netjies opgemaak en met ʼn groot rooi strik versier. Wie het dan tog ʼn weldeurdagte plan nodig as jy net kan sê: “Zuma bad, DA/EFF/COPE/VF+ etc good.” Nou word Zuma as geheime wapen in KZN ontplooi, waar die DA nog nooit regtig relevant was nie. Wat doen hulle? In plaas van fokus op ʼn verkiesingsmanifes wat samehangend is, in plaas van daarop fokus op kiesers te verenig, raak hulle betrokke in interne gevegte wat hulle meer stemme kos as wat dit inbring. In plaas van hulself aantreklik maak vir nuwe kiesers, vervreem hulle ʼn groot deel van die potensiële basis en dit ter wille van kiesers wat in elk geval nie iewers anders sal gaan nie. Own goals.

Die buiteperd tot nou toe was die EFF. Hulle populistiese retoriek maak hulle gewild onder veral jonger kiesers wat grond en opvoeding en data wil hê – en nie noodwendig in daai volgorde nie. Of hulle veel nuwe stemme gaan bykry in die verkiesing moet nog gesien word. Hulle sterkte lê in hul vermoë om jong kiesers te mobiliseer – en daai kiesers voel nie noodwendig dat daar iets moreel verkeerd is aan hul VBS-verbintenisse nie, veral nie as ander partye ook daarby betrek was nie. Met hul basiese boodskap is daar seker nie veel fout te vinde nie, maar die implementering daarvan, en Julius. Ai.

Dan is daar die mushroom-partye, wat opspring net voor die verkiesing en vermenigvuldig soos ... wel, paddastoele. Hulle verwelk gewoonlik ook net so vinnig. Die EFF het bewys dat, met ʼn deeglike strategie kan ʼn fungus groei en die politieke landskap hervorm. Bygesê, mal soos wat ek oor antie Patsy is, dink ek nie haar nuwe politieke party gaan beter vaar as die laaste paar inkarnasies nie. Kiesers sal maar altyd wonder na watter party sy gaan oorloop sodra die verkiesing verby is.

Die ander partye is soos stocking fillers onder die kersboom. Elkeen het ietsie goeds, maar hulle eintlike rol is om dit te laat lyk of die geskenk meer om die lyf het as wat dit regtig het. Oëverblindery. Abrakadabra. Kul jou hier, kul jou daar en siedaar ... jy’t ʼn koalisie verkies wat jy nie wou hê nie.

Dus: vir wie om te stem in die komende verkiesing? Rather the devil you know than the devil you don’t know?

Daar is nie een party wat sonder meer op my steun kan staatmaak nie. Lojaliteit aan ʼn party is nie meer ʼn opsie nie, want nie een van die partye vergoed lojaliteit met diens en voordele nie.

Om ʼn bedorwe stem uit te bring werk dalk in ʼn volwasse demokrasie. Nie in hierdie een nie. As jy die moeite doen om in daai lyn te gaan staan, maak seker jou kruisie beteken iets.

Wat ek gaan doen, is om heel eerste vir myself ʼn lysie te maak van goeie waardes en ideale wat nie onderhandelbaar is nie. Dan gaan ek elke manifes met ʼn fynkam deur, om te kyk watter party die naaste daaraan kom om my lysie te match.

Dis die party wat my stem kry.

Ek stel voor, liewe leser, dat jy dieselfde doen.

  • 3

Kommentaar

  • Dalk help dit om te kyk wat al in die algemeen oor politici gesê is. Hier is 'n paar.
    “Politicians are the same all over. They promise to build bridges even when there are no rivers.” Nikita Khrushchev
    “Nobody trusts anyone in authority today.
    It is one of the main features of our age.
    Wherever you look, there are lying politicians,
    crooked bankers, corrupt police officers,
    cheating journalists and double-dealing media barons,
    sinister children's entertainers,
    rotten and greedy energy companies,
    and out-of-control security services.” Adam Curtis
    “Money and corruption are ruining the land,
    crooked politicians betray the working man,
    pocketing the profits and treating us like sheep,
    and we're tired of hearing promises
    that we know they'll never keep.” Ray Davies
    (Beide here het dit seker geskryf na 'n besoek aan Suid-Afrika – lol.)

  • Ek wend ‘n daadwerklike poging aan om Afrikaans te lees. Alles wat ek graag wil weet is wel in Engels beskikbaar. Asseblief, doen dit dan in Afrikaans.

  • Johnnes Comestor

    Ek verkies Afrikaans orals en altyd, maar Willie Esterhuyse noem dit "strategies en takties outyds" (Netwerk24, 19.12.2018).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top