Verkiesing 2019: Hoekom 10 miljoen stemgeregtigdes nie registreer nie

  • 4

Hierdie jaar is ons demokrasie 25 jaar oud.

Die reënboognasie is ’n kwarteeu oud, maar in stede van ’n gesonde, fikse jong volwassene, hinkepink ons soos ’n bejaarde met artritis, bysiende en doof. Dis wat korrupsie, swak ekonomiese vooruitsigte, werkloosheid en gebrek aan respek vir basiese regsbeginsels aan ’n jong demokrasie doen. Of nee, nie ’n bejaarde nie, ’n vuisvoos bokser wat besig is om sy fut te verloor. Tutu se reënboognasie het sy glans verloor. Die dae toe Suid-Afrika aan die res van die wêreld voorgehou is as ’n toonbeeld van hoop, is lankal verby. Ons “glory days” is minstens 10 jaar in die truspieeltjie.

Oor twee dae gaan ons stembusse toe. Dis nie meer iets om oor opgewonde te wees nie. Daar is glad nie meer die morele klaarheid wat met elke vorige verkiesing bestaan het nie. Daar is nie een party wat uitstaan nie. Die ANC het nie verander nie, dis nog dieselfde hoop wat ons as land vir so lank aan Zuma se genade oorgelaat het. Ons het geen groter bewys nodig as die blote feit dat soveel van sy akoliete en medebeskuldigdes nog steeds kabinetsposte vul nie.

Die DA? Hulle verkiesingslagspreuk is “Stop die ANC en EFF.” Geen aanduiding van hoekom hulle beter as die ander is nie. Geen beduidende beleidsoorwegings nie. Ja, hulle munisipaliteite het beter finansiële bestuur as die ander, maar terselfdertyd laat hulle rasseverhoudinge baie swart en bruin kiesers koud.

Auntie Pat en haar Good Party? Kyk, ek was nog altyd ’n groot bewonderaar van sterk, dinamiese vroue, maar hoeveel keer moet mens met dieselfde slap riem gevang word? Kort na die eerste verkiesing het sy die PAC verlaat en na ‘n ander party oorgeloop. Die ID-party het in die volgende verkiesing grootliks sukses behaal op grond van haar reputasie. Kort na die verkiesing toe verander sy weer van party. Dr Phil sê: “The best predictor of future behaviour is past behaviour.” Gaan sy weer oorloop ná die verkiesing? Hoekom vir ’n party stem wanneer jy nie seker is hulle is nog oor vyf maande daar nie?

So kan mens met die lys afgaan. Die Vryheidsfront se truuk om die bruin stem te probeer wen. Die EFF se Julius-probleem. Cope se onsigbaarheid.

Dit verbaas my nie dat feitlik 10 miljoen stemgeregtigdes nie eens geregistreer het om te stem nie. Vir ’n lang ruk het ek myself probeer troos deur te dink dat dit tekenend is van ’n demokrasie wat werk. Net in volwasse demokrasieë is kiesers so houtgerus dat hulle kan wegbly en van stemdag eerder ’n braaidag maak. Reg? Reg?

Verkeerd.

Kiesers is so verwyderd van die proses, en voel so magteloos om iets te verander, dat hulle nie eens belangstel om deel te neem aan die proses nie. Die veronderstelling is dat hulle stem geen verskil aan die uitkomste sal maak nie.

Dan is daar die groep wat weet hulle hoef nie te stem om te kry wat hulle wil hê nie. Sluit ’n nasionale pad, brand ’n gebou af, en voilà! Daar word gehoor gegee aan eise. Dis ’n bose kringloop, want op plaaslike vlak lyk dit al meer of munisipale regerings nie reageer op gesprekvoering nie. Hulle skrik wakker eers as die klippe val en die vuurhoutjies getrek word.

Maar dink net watter verskil 10 miljoen betrokke kiesers kan maak. Wat sou gebeur as daai 10 miljoen byvoorbeeld sou besluit om een spesifieke party te ondersteun? Dit kan baie maklik die verskil maak aan wie regeer en wie die oppossisie is.

Hierdie is die eerste verkiesing waar ek huiwer om voorspellings te maak. Baie lede van verskeie ander partye reken hulle moet ANC stem om Ramaphosa se hand te versterk. Ek reken dis ’n fout. Ons het ’n sterk en effektiewe opposisie nodig. Ons het koalisieregering nodig, waar nie een enkele party die gesprekvoering bepaal nie.

Ons het betrokke kiesers nodig wat hul verkose lede tot verantwoording kan roep. Eers as dit gebeur, kan ons spog oor ’n kwarteeu van demokrasie.

Ek sal Woensdagoggend baie vroeg reeds by die stembus wees. Ons het te hard gewerk, en te ver gekom, om nou ons reg om te besluit wie ons verteenwoordigers sal wees, aan die genade oor te laat.

Wees betrokke. Gaan stem. Gaan braai agterna, as dit jou ding is. Maar moenie wegbly en agterna steen en been kla oor hoe onregverdig die politiek is en hoe vrot die politici is nie. As jy jou stemreg abdikeer, dan abdikeer jy ook die reg om agterna te kla.

Maar demokrasie eindig nie by die stembus nie. Dis waar dit begin. Hou jou verteenwoordigers op hul tone. Dis al manier waarop ons ons demokrasie kan beskerm.

En dit het elke titsel beskerming nodig.

 

  • 4

Kommentaar

  • Goeie skrywe Bettina.
    Net soos dit my verstand te bowe gaan dat mense kan afbreek en brand om hul sin te kry net so gaan dit my verstand te bowe dat soveel mense nie eers die moeite doen om te registreer en gaan stem nie.
    Vir my is daar geen verskoning nie.

  • Avatar
    De Villiers Hauptfleisch

    Ek verstaan meeste van daardie 10 miljoen mense wat nie geregistreer het nie is jong persone en waarskynlik swart wat andersins vir die ANC of EFF sou gestem het. As dit waar is, dan is dit vir baie kiesers waarskynlik nie slegte nuus nie.

  • Avatar
    Jan Posthumus

    "Wees betrokke. Gaan stem. Gaan braai agterna, as dit jou ding is. Maar moenie wegbly en agterna steen en been kla oor hoe onregverdig die politiek is en hoe vrot die politici is nie. As jy jou stemreg abdikeer, dan abdikeer jy ook die reg om agterna te kla ..."
    Bogemelde stelling van De Viilliers is SNERT!
    Die teenoorgestelde is waar - as jy gaan stem het jy geen reg om agterna te kla nie. Deur te stem maak jy jouself deel van die probleem! Hier is hoe dit werk:
    https://measurementsoffaith.wordpress.com/2014/01/19/stupid-is-as-stupid-does/

  • Avatar
    Evanthe Schurink

    Politieke anomie vreet aan ons demokrasie. Die meerderheid mense in ons land wag nou al eeue lank dat hulle lewenskwaliteit sal verbeter. Elkeen van ons in hierdie land het 'n verskillende storie. Ons Afrikaners is trots dat ons uit die swart verbrande aarde kon opstaan. Maar die groot meerderheid kon dit nog nooit regkry om die juk van kolonialisme af te skud nie al is hulle nou vry het hulle drome na 25 jaar 'n groter nagmerrie geword. Hulle is nou vervreem van die nuwe demokrasie en van hulle pre-koloniale tradisionele leiers. Om die meerderheidsgroep 'n kans te gee word die minderheidsgroep afgebreek en ook vervreem. Vervreemding en geweld gaan hand aan hand.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top