Verhale van hoop: ’n onderhoud met Pieter van Zyl

  • 1

Foto’s van boekomslag (LAPA); foto van Pieter van Zyl (verskaf)

Titel: Verhale van hoop, só help jy jou geliefde en jouself
Skrywer: Pieter van Zyl
ISBN: 9780639606002
Uitgewer: LAPA

.........
Elke dag moet ’n geestesgesondheidsdag wees, want anders kan jy aan terminale depressie sterf. Of aan huishoudelike geweld. Dis ’n werklikheid wat mens nie weg kan wens nie. Jy moet dit weg skryf. Want inligting is mag.
............

Pieter van Zyl praat met Naomi Meyer oor sy boek Verhale van hoop en die navorsing wat hy daarvoor gedoen het.

Pieter, volgens ASAIPA (die alliansie van Suid-Afrikaanse onafhanklike praktisyns) is Juliemaand geestesgesondheidsmaand. Waarom het jy Verhale van hoop geskryf?

Dis juis hoekom ek die boek geskryf het. Elke dag moet ’n geestesgesondheidsdag wees, want anders kan jy aan terminale depressie sterf. Of aan huishoudelike geweld. Dis ’n werklikheid wat mens nie weg kan wens nie. Jy moet dit weg skryf. Want inligting is mag.

Ek het hierdie week ’n onderhoud gehad met ’n familie van twee susters en die een se seun. Hulle moes vier keer vlug vir hulle lewens omdat een sussie se man weier om behandeling te kry vir sy bipolariteit. Hulle kom uit ’n baie gelowige Moslem-huis en wou nie uitpraat nie. Die man is wonderlik en liefdevol as hy sy medikasie drink, maar daarsonder is hy ’n monster wat gewelddadig raak en die vroue se lewens bedreig het. Gelukkig het hulle ’n goeie vriendin gehad wat hulle onderdak gegee het as hulle moet vlug. Hulle het nou ’n huis op ’n geheime plek waar hy hulle nie kan opspoor nie.

Om psigies siek te wees is nie gelyk aan gewelddadigheid nie. Maar dit kan ’n simptoom wees weens frustrasie of onttrekking as behandeling eenvoudig net gestaak word.

Ek lewe self met major depressie en angssteuring, maar lewe ook saam met iemand wat met bipolêre steuring gediagnoseer is. Ek skryf ook my eie ervaring in die boek.

Ek het een oggend om 04:23 in my woonstel in Seepunt gesit tussen bloed en verwoesting. My lewensmaat het in ’n maniese fase alles stukkend gegooi. Ek het ’n swaar kristalasbak teen die kop gekry en moes hospitaal toe jaag vir steke. Die letsels is steeds daar.

Ek het toe gewens ek het ’n boek of een of ander betroubare maniere gehad om die regte dinge te doen om die situasie vir ons albei te ontlont. Eers met my navorsing vir die boek het ek besef iemand wat jy enige tyd van die dag of nag kan bel, is jou beste wapen teen chaos. Of ’n boek met ander se stories en praktiese raad deur kundiges kan lewens red.

............
Eers met my navorsing vir die boek het ek besef iemand wat jy enige tyd van die dag of nag kan bel, is jou beste wapen teen chaos. Of ’n boek met ander se stories en praktiese raad deur kundiges kan lewens red.
..............

Ek is baie dankbaar dat mense my al gekontak het met stories oor hoe die boek hulle uit ’n hoek gehelp het. "Jy red lewens" en "Jy is ’n mediasendeling" is van die grootste komplimente wat ek nog gekry het.

Ek vra waarom jy dit geskryf het, maar daar was baie ander mense betrokke by die navorsingsproses. Hoe het julle besluit op die gevallestudies en verhale wat in die boek ingesluit is? Hoe het hulle oor jou pad gekom?

Ek het begin stories versamel op my reise deur die land. Ek het elke jaar al my verlof op een slag geneem en veral op klein dorpies gaan rondvra waar daar nie sielkundiges of psigiaters naby is nie. Hoe het hulle geleer om met die psigiese siekte (dis maar die term waarop ons, saam met kenners, ooreengekom het) as mede-inwoner in die huis saam te lewe?

..........
Ek het die byna 40 onderhoude almal self gedoen en opgeneem en getranskribeer voor ek dit in kortverhale verwerk het.
...........

Ek het die byna 40 onderhoude almal self gedoen en opgeneem en getranskribeer voor ek dit in kortverhale verwerk het. Saam met my uitgewer by LAPA, Louis Gaigher, het ons eers 20 gekies wat stories vertel van siektes wat die algemeenste voorkom en nuwe diagnoses in die psigiatriese "Bybel", DSM-5-TR, soos pornografieverslawing. Daar is baie insiggewende onderhoude oor outisme waarop ek nog baie graag sal wil uitbrei, want mense verstaan nie regtig wat dit beteken om "op die spektrum" te wees nie.

...............
Ek het met die hulp van sielkundiges en die SA Depressie-en-angs-groep (Sadag) baie mense opgespoor wat hul stories wou vertel, en ook weer gepraat met van die mense met wie ek as joernalis al onderhoude gedoen het.
.................

Ek het met die hulp van sielkundiges en die SA Depressie-en-angs-groep (Sadag) baie mense opgespoor wat hul stories wou vertel, en ook weer gepraat met van die mense met wie ek as joernalis al onderhoude gedoen het.

Talle was bereid om dit onder hul eie name te doen, maar om die ontwil van minderjarige kinders en diegene wat dit anoniem wou doen, het ek saam met my teksredakteur, Jeanette Ferreira, besluit om skuilname te gebruik. Ook om dit meer universeel te maak.

My eie stories is voor in die boek om ander aan te moedig om ’n psigiese siekte nie as ’n skandvlek te sien nie, maar as ’n ander manier om na die lewe te kyk. Dit help my, dink ek, om makliker meegevoel te hê met mense wat hindernisse probeer oorkom.

..............
My eie stories is voor in die boek om ander aan te moedig om ’n psigiese siekte nie as ’n skandvlek te sien nie, maar as ’n ander manier om na die lewe te kyk. Dit help my, dink ek, om makliker meegevoel te hê met mense wat hindernisse probeer oorkom.
...............

Dit laat ’n mens soms harder en slimmer werk om ’n bydra te lewer.

Soos wat ek met die boek wou doen. Ek het die boek in my persoonlike hoedanigheid geskryf, maar met baie steun van my redakteurs by Huisgenoot: Esmaré Weideman, Izelle Venter, Julia Viljoen, Henriëtte Loubser en nou Yvonne Beyers. ’n Vangnet van vroue!

Wil jy van die navorsingsproses vertel?

Die onderwerpe waaroor die mense in die boek praat en waaroor kenners raad gee, is angsverslawing, bipolêre gemoedsteuring, depressie, eetsteurings, obsessief-kompulsiewe steuring, pornografieverslawing, opgaarsteuring, posttraumatiese stressteuring, histrioniese steuring, grenslynpersoonlikheidsteuring, skisofrenie, tourettesindroom en delusionele steuring.

Ek het ’n honneursgraad in sielkunde aan Stellenbosch-universiteit behaal. Dis egter jare en jare gelede, in 1997. Daar het soveel verander. Gelukkig het Suid-Afrika van die beste sielkundiges en psigiaters, wat baie vrygewig met hul raad, leiding, praktiese wenke en tyd is. In die tien jaar waarin ek aan die boek gewerk het, het ek gereeld by hulle gaan aanklop om te lees wat ek geskryf het en my op hoogte te bring met die nuutste navorsing en behandeling.

Aan die einde van elke hoofstuk is daar raad en inligting. Ook ’n lys met afkortings. Elke deel van die boek is deur kenners nagegaan. Oral dui ek die kenners aan by wie ek die inligting gekry het of die feite nagegaan het. Ek het geen steen onaangeroer gelaat nie. Die Akeso psigiatriese privaathospitale het my ook bygestaan met hul beste kenners.

Die skrywer en psigoterapeut Juliana Coetzer het ook die teks gelees en bevind die boek bevat "verhale van mense met probleme waarmee ons almal kan identifiseer. Aangrypend vertel. En uitstekende raad deur kenners." Watter beter goue sterretjie kan ek voor vra.

Maar dis nie hoekom ek die boek geskryf het nie. Ek wil bewustheid en begrip skep. Want vrees en onbegrip skep haat of onverdraagsaamheid. En daarvan is daar alreeds genoeg op hierdie planeetjie van ons.

Het die feit dat jy ’n joernalis is en soms ’n verhaal moet gaan soek, jou in jou navorsingsproses gehelp?

Beslis. Ek was in 2007 en 2008 met ’n Rosalynn Carter Fellowship for Mental Health Reporting in Atlanta, Georgia. In my tyd daar het ek besef hoe min raad daar is vir spesifiek die geliefdes wat iemand moet versorg wat met ’n psigiese siekte saamleef.

My projek wat ek in daardie tyd voltooi het, was ’n handleiding vir joernaliste oor hoe om oor trauma te berig, hoe om mense wat pas trauma beleef het, te hanteer. En ook met hul eie trauma om te gaan, en enige posttraumatiese stres.

By Huisgenoot sedert 2003 het ek vinnig geleer dis mense se stories wat met lesers resoneer, nie net ’n klomp harde feite en wenke nie.

............
My werk hier het ook aan my bewys dat deur te luister, meer as deur iemand met ’n klomp vrae te teister, jy soveel meer leer. En hoe baie stiltes eintlik beteken.
.............

My werk hier het ook aan my bewys dat deur te luister, meer as deur iemand met ’n klomp vrae te teister, jy soveel meer leer. En hoe baie stiltes eintlik beteken.

As mens nie in iets of in jou eie vermoë glo nie, is mens nie in staat om iets uit te rig nie. Maar mens het nog méér as dit nodig. Waarom dink jy is die “hoop”-deel van die titel belangrik?

............
Sonder hoop is daar nie lewe nie.
.............

Sonder hoop is daar nie lewe nie. Die verhale in die boek het nie almal gelukkige eindes nie, of het glad nie eindes nie, maar die raad en wenke maak dit verhale van hoop. En dis ook verhale van hoop omdat dit lesers wat dieselfde dinge ervaar, bemoedig dat hulle nie alleen is nie. Wat vir een werk, werk nie vir almal nie. Een soort behandeling of medisyne en kombinasies daarvan, selfs vir dieselfde siekte, gaan nie vir almal werk nie. Dit het 12 jaar geduur vir my om die regte kombinasie van psigiatriese medisyne met die hulp van my psigiater te vind. Maar hoop is die beste medisyne. Dit laat jou opstaan in die oggend, uit die bed uit klim en die lewe aandurf. Elke dag.

As jy nie voel jy het sulke mense in jou lewe nie, is die beste beginpunt Sadag se Cipla-noodlyn (0800 456 789) wat 24 uur per dag beman word. Hulle sal jou dan na ’n steungroep in jou gebied verwys of jou help om een te begin.

As jy voel jy wil jou lewe beëindig, moet jy so gou moontlik in ’n privaat of staatshospitaal opgeneem word. Sadag het ook ’n selfmoord­krisislyn: 0800 567 567.

Lees ook:

Die Breytenbach Galery se kinder- en jeugliteratuurskryfskool: Pieter van Zyl se terugvoer

Gert & Joey, nuwe lig op ’n raaisel van dertig jaar: ’n onderhoud met Pieter van Zyl

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top