Gert & Joey, nuwe lig op ’n raaisel van dertig jaar: ’n onderhoud met Pieter van Zyl

  • 2

Gert & Joey 
Pieter van Zyl
Penguin Random House South Africa
ISBN: 9781776093144

Pieter van Zyl praat met Naomi Meyer oor sy boek Gert & Joey.

Hallo Pieter, en geluk met die verskyning van Gert & Joey, nuwe lig op 'n raaisel van dertig jaar. En wát 'n raaisel: vir baie van ons bly dit inderdaad nog by, die koerant- en tydskrifstories uit ons kinderdae rondom Gert van Rooyen. Maar waarom hierdie boek skryf en waarom nou?

Dis nie iets wat ek gedink het ek sal ooit skryf nie. Ek weet van kollegas af dat jy jou kop in ’n byenes steek as jy skryf oor mense wie se families nog lewe, soos die Bird Island-boek dit weer bewys het. Jy moet soveel as moontlik pleit en smeek by sommige van die families om te help seker maak al die feite is korrek. Wat mense wat deur een of ander daad of optrede in die kollig beland nie verstaan nie, is dat deur nie met joernaliste te praat nie, laasgenoemde met mense rondom daardie persoon of persone sal moet praat (ekse, bure, vriende, vyande en helaas Facebook-vriende ook). En dan raak dit gevaarlik. Dis interessant dat die mense wat nie wou help nie, juis die mense is wat die grootste bohaai opskop as daar foute of mistastings is.

Daarom was ek baie skrikkerig om so iets soos hierdie boek aan te pak. Gert van Rooyen, Joey Haarhoff en alles wat rondom hulle gebeur het, is meestal in geheimenis onthul; baie maak nie sin nie.

Ek het middel verlede jaar die opdrag van die uitgewer gekry om die boek te skryf. Ek moes ’n inhoudsopgawe opstel en vir oorweging stuur. Hulle het daarvan gehou en dis waarvolgens ek die boek geskryf het.

En dis nou 30 jaar later. My magtag, is dit nie tyd om vir die ouers wat nog lewe antwoorde te gee nie? Daar is slagoffers aan beide kante. Ek stel dit ook duidelik in die boek dat Gert en Joey se mense óók wil antwoorde hê om aan te gaan met hul lewens. Soos ek geskryf het, het ek die frustrasie wat die families en vriende het, aan my eie vel gevoel.

Deur die jare het baie mense gedreig om ’n boek te skryf. Ons het net gevoel ná drie dekades moet daar weer lig gewerp word. Huisgenoot het baie geskryf hieroor en ek het uit artikels, koerantberigte en Facebook- en WhatsApp-groepe wat gemoeid is met die soek na antwoorde van die ses verdwene kinders, leidrade gevat en onderhoude met minstens 20 mense gehad.

My enigste doel met die boek is om nie net antwoorde te vind vir die ses meisies nie, maar ook vir ander kinders – dikwels naamloos – wat by hierdie pedofielnetwerke ingesuig is. Daar was baie verskillende kringe gewees destyds wat almal op een of ander manier verbind is. Daar is soveel mense daar buite wat antwoorde het. Met die boek smeek ek dat iemand sal uitpraat.    

Jy het al toekennings ontvang as ondersoekende joernalis. Maar dink jy, vanuit 'n storie- sowel as navorsingsoogpunt, dat mens nou, soveel jare later, werklik nuwe lig kan werp op 'n raaisel van lank gelede? Of is dit soos 'n manuskrip wat koud geword het: mens kan daarvan af wegstap en nou weer met nuwe, vars oë daarna kyk en nuwe antwoorde kry?

Ek dink beide. Destyds was daar nie internet en sosiale media nie. Daar was tiekiebokse en briewebusse. Inligting versprei deesdae soos ’n veldbrand oor WhatsApp en Facebook. Daar is tientalle van hierdie groepe, waar meestal Afrikaanse mense “grawe”, soos hulle dit stel. Al vir jare lank. En hulle kry interessante, nuwe goed losgespit. Ou polisiefoto’s duik op; slagoffers wat weggekom het; name van mense wat betrokke kan wees en iets weet. En as mens alles lees wat al ooit geskryf is oor die Gert van Rooyen-en-Joey Haarhoff-sage en jy met by die 20 mense onderhoude gevoer het, dan rakel jy name en plekke weer op wat in verband met die kinders gefluister word en onder die stof op polisietoonbanke beland het. Daar is baie nuwe inligting in die boek. Dis al oor en oor deur lesers bevestig.

Dana Snyman en ander se reaksie op die boek is dat dit ’n deeglike oorsig bied – vir die eerste keer – oor al die rolspelers en aspekte van die saak. Die polisie het ook al hul waardering vir my uitgespreek oor die inligting in die boek en wat ek vir hulle kon aanstuur:

The FCS [Family Violence, Child Protection and Sexual Offences Investigation] Unit has already started with an enquiry that will look into all these allegations.

Every allegation coming forward based on the book will form part of the investigations into the enquiry. Thank you for your continued assistance in this matter. – Kolonel Brenda Muridili

Die boek handel ook oor ander verdwene kinders, soos jy hier bo genoem het. Wil jy hierop uitbrei?

Die fokus is op Gert en Joey en ook die ses verdwene meisies en hul families. Maar ook op die ander kinders:

  1. Glenn Wood (14) van George verdwyn op 19 Julie 1988.
  2. Tracey-Lee Scott-Crossley van Johannesburg is op 1 Augustus 1988 ontvoer.
  3. Fiona Harvey (11) van Pietermaritzburg verdwyn op 22 Desember 1988.
  4. Joan Horn (12) van Pretoria is op 7 Julie 1989 ontvoer.
  5. Odette Boucher (11) van Kempton Park is sedert 22 September 1989 soek.
  6. Helena de Villiers (12) van Boksburg is vermoor nadat sy op 12 Mei 1993 weggeraak het.
  7. Aletta Saunders (11) het op 1 Oktober 1993 in Oos-Londen verdwyn.
  8. Anne-Marie Wapenaar (12) van Kempton Park het saam met Odette Boucher vermis geraak.
  9. Yolanda Wessels (12) van Kempton Park het op 2 November 1989 weggeraak.
  10. Joan Booysen van Pretoria is deur Gert en Joey ontvoer, maar het ontsnap.
  11. Jannie Botha (7) van Pretoria het op 30 Maart 1992 verdwyn.

Maar daar was ook heel moontlik swart seuns en meisies betrokke. Pedofiele het nie voorkeure nie, vertel die kenners my.

En Gert en Joey was die “besems” wat die kinders in die rigting van pedofielnetwerke “gevee” het. Daar was en is groot pedofielkringe. Die regering en polisie kan betrokke wees, of kon gewees het.

Volgens die mees onlangse syfers van die polisie se buro vir vermiste kinders raak ’n kind elke vyf uur weg. Sowat 23% van daardie kinders word nooit opgespoor nie. Die meisies wat deur Gert en Joey ontvoer is, is deel van daardie ellelange lys van sowat 1 697 name.

Waar is hulle? Met die boek wil ek ook owerhede aanmoedig om na hierdie kinders te help soek.

Hoe lank was jy hiermee besig? Nou die dag verwys Laurika Rauch in 'n ander onderhoud na Rilke se Letters to a young poet, waar hy sê "Everything is gestation and then bringing forth." Was jy ook in jou kinderdae baie bewus van die Gert van Rooyen-stories? Op die agterblad van jou boek word genoem dat jy grootgeword het "digby die Moot, vanwaar Van Rooyen en Haarhoff glo op slagoffers jag gemaak het".

My spertyd vir die boek was ses maande vanaf Oktober verlede jaar tot Maart vanjaar. Toe ek my ouers vertel van die boek, het die stories uitgeborrel van ons tyd daar. Daarom is die eerste hoofstuk “Ek en Gert”. Ek is in Bronberg, Pretoria gebore. My ouers het saam met Gert in ’n kerkkoor gesing en hulle het selfs saam op toer gegaan. Ek onthou hoe ons in 1998 in Hoërskool Gimnasium gebid het vir die vermiste meisies. My maatjies in Kempton Park, waar my ouma-hulle gebly het, was saam met hulle in die klas. En selfs op universiteit op Potchefstroom was daar ’n dorpshuis vir seniormanstudente, Oom Gert Hulle, met die lollipop op die muur wat my koue rillings gegee het ... Dis asof ek my hele lewe lank voorberei is vir die boek.

Mag ek 'n persoonlike vraag vra? Nou die dag se onderhoud met Murray la Vita sluit ook hierby aan. Die blondekop-seuntjie in jou familie. As jy iets oor hom wil sê, is jy welkom. As jy nie wil nie, wil jy dalk iets sê oor jou familie in die algemeen? Jou boek is aan hulle opgedra.

My familie het deur ’n baie moeilike jaar gegaan. Dit het ons nader aan mekaar gebring, maar die huil en seer wil net nie weggaan nie. Klein Adam Clayton is op 7 dood in ’n motorongeluk. My kleinsus en sy ma, Tina Clayton, het bestuur. Sy en my ma, Nellie, in die passasiersitplek, en die ander kleintjies en sussies van Adam, Elizabeth (11) en Melody (5), het seergekry, maar herstel gelukkig goed. Fisiek. Maar sielkundig is dit ’n nagmerrie. Ons was ’n gedugte span daar in die hospitaal in Bloemfontein om mekaar op enige manier te ondersteun. My pa is ’n afgetrede predikant van Welkom wat nou op Rosendal in die Vrystaat woon en nog steeds een keer ’n Sondag vir die klein gemeenskappie preek. Ek is so trots op my familie wat hierdeur werk. Soos in enige pastorie moes ons gedurig van ander mense hoor wat deur tragedies gaan. En hierdie keer is dit ons op koerantvoorblaaie. By my ouers het ek geleer om alle mense lief te hê, selfs dié met wie ek nie saamstem of van hou nie. Dit het my gehelp met die boek, om myself oop te maak vir al die karakters oor wie ek geskryf het.

Vertel my meer van jou, Pieter. Die eerste keer wat ek jou ontmoet het, was as uitruilstudent in Duitsland. In watter skool was jy? Was skool vir jou lekker?

Ja, genau. Ons was mos saam daar anderkant. Dit was my gap year. Ons albei se leeslus het ons mos laat kliek. In my rugsak was Marita van der Vyver se Griet skryf ’n sprokie, Barrie Hough se My kat word herfs, De Aanslag deur Harry Mulisch en die Duitse vertalings van The Prince of tides deur Pat Conroy (Herr der Gezeiten) en Michael Ende se The neverending story (Die unendliche Geschichte).

Ek het in Berchtesgaden en Bremen beland. Dit was my mees opwindende en vreesaanjaende  jare. Ek moes my voete vinnig vind en het baie vriende en vyande gemaak. Dit was mos in die vroeë negentigs met ons demokrasie wat aan ’n spinnedraad gehang het. Ek onthou ek moes in ‘n klas in Bremen vertel van die einde van apartheid en ons ervarings met die oorgang. Ek het foto’s gewys van die inhuldiging van president Nelson Mandela, politieke moorde met brande motorbande (necklacing). Ek het vertel van Rosie Makandela, ons huishulp, wat dood is weens haar man se rondslapery, en hoe sy my pa gevra het ons moet Nonzima grootmaak as sy nie meer daar is nie. Met die uitstap moet ek van die onderwyser hoor: “Sit net jou stoel op jou tafel. Ons het nie swartes wat dit vir ons doen nie.”

So ek het skoolgegaan in Suid-Afrika en dit daar ewe veel gehaat, omdat ek wou droom en net wou doen wat my siel gevoed het. Ek was in vier verskillende laerskole en twee universiteite, Potchefstroom en Stellenbosch, waar ek ’n BA-graad, honneurs in Afrikaans-Nederlands, honneurs in sielkunde en ’n BPhil in joernalistiek verwerf het.

My ma noem my haar Storieman, van kleins af. Hallo, ek is Pieter Jurie van Zyl. Ek is verslaaf aan mense se stories vertel. Dis maar al. Vir die volgende 45 jaar.

Skryf jy aan iets anders? 

Ek skaaf aan iets. Dis ’n passieprojek wat ek seker al vier jaar aan werk en voor wag om gepubliseer te word. Ek het met by die 30 families en geliefdes gesels oor hulle ervaring met ’n iemand in hul midde wat met een of ander psigiese siekte lewe. Ek skryf ook oor my eie ervarings met depressie, angsstoornis en bipolêre gemoedsteuring. Ek het ’n uitgewer gehad, maar dié het vroeër vanjaar besluit om alle “selfhelp-boeke en sommige van hulle kookboeke” te sny. Dit het indirek daartoe gelei dat ek ’n ineenstorting gehad het. Saam met ’n psigiater wil ek daaraan skaaf met baie praktiese raad. Dis ’n boek wat ek nie gaan toelaat om deur die krake te val nie. Hierdie mense ... ek ... verdien om hul stories van aftakeling, vrees, liefde, woede, geduld, dapperheid en sorg te vertel. Om iemand lief te hê wat ’n paar krakies het, is inderdaad uitmergelend by tye, maar ook inspirerend, want as daardie krakies met goud ingevul word, sorg dit vir ’n baie spesiale kunswerk, soos die antieke Japannese kintsukuroi-pottebakkery. Dit kan dalk die titel wees.

Ek is op die oomblik besig om drie boeke te lees, wat my ook kriewelrig maak om dalk fiksie te skryf: Die tragiese saak van Pamina Vermaak deur Annie Klopper (2018), Swart koring deur Joan Hambidge (1996), en André P Brink se Die kreef raak gewoond daaraan (1991). Joan se boek het ek saam met Annie s’n begin lees omdat beide ’n genre op sy kop keer: die hygroman en “chicklit”. In al drie die boeke gaan karakters “op reis” om hulself te vind. Dalk is dit iets wat ek ook in ’n boek mag durf waag om te doen.

My kortverhale is al opgeneem in Deborah Steinmair en Gerda Taljaard se Skrik op die lyf en Hartlam. ’n Gruwelverhaal en ’n liefdesverhaal. Sal ’n kombinasie kan werk?

Wil jy iets oor jou reise van die afgelope tyd vertel? (Reise: letterlik of figuurlik.)

As Huisgenoot-joernalis ry ek die land plat: van Memel tot Mier. In die beginjare was ek in Amerika vir Michael Jackson, op Maledive vir ‘n reisstorie, en in Engeland vir Madiba se verjaarsdag in Hyde Park. Nou is dit meestal die platteland, soos in Aberdeen, waar ons ’n storie oor Fanie Marx en sy Bernice se pasgebore baba skryf. Fanie is ’n gewilde deelnemer aan die kykNET-reeks Boer soek ’n vrou. Dis vir my so lekker op klein dorpies om met interessante inwoners te praat, soos die tannie in Graaff-Reinet wat desjare enigiets wat te doen het met ’n padda versamel het. Of die oom met die huis vol klokke in Molteno.

Die reise wat egter hierdie jaar die grootste impak in my lewe gehad het, is die pad van rou saam met my familie oor klein Adam. En my reis na binne, toe ek twee weke lank in die psigiatriese eenheid van ’n hospitaal in die Tuine, Kaapstad, was. Dit was weens erge depressie en angs.

Gert en Joey se verdwene ses meisies en al daardie derduisende ander kom besoek my soms steeds in my nagmerries. 

  • 2

Kommentaar

  • So trots op jou Pieter. Sien jou een van die dae in die Kaap. Ek wil gaan klippe optel op die strand en elkeen kry 'n naam dan staan ek met my rug na die see toe en gooi my seer en verlede klip in die see sodat die see die seer diep binne die oseaan kan gaan afwas en skoon was.

  • Veronica Venter

    Ek het in die Huis 9 Singletonweg, Fynnlands, Durban gewoon toe ek in Std 9 was in 1977. Dit was die huis waar inligting oor die meisies later heen gelei het. Sterkte met jou boek. Ek hoop julle vind iets uit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top