Vaughan Gardiner: "Ek hou daarvan om ’n hand te hê in alles wat ek vrystel"

  • 0

Die sanger en liedskrywer Vaughan Gardiner het pas ’n nuwe album, Sit vanaand op herhaal, uitgereik. Hy beantwoord ’n paar vrae oor die album, die bedryf en die toekoms.

Goeiedag, Vaughan. Hoe's dinge?

Dinge gaan baie goed. My nuwe album is pas vrygestel en ek is baie opgewonde om te sien wat die mense daarvan sê.


Vaughangrootweb

 

Geluk met die bekendstelling daarvan. Sit vanaand op herhaal is ’n deurlopend sterk, grootliks opgewekte album – het jy spesifiek gemik vir enige deurlopende temas of ’n algemene "gevoel" met die snitte op die album, of hoe het die samestelling daarvan verloop? Hoe het die proses en inslag verskil van hoe jy dit met jou vorige albums aangepak het?

Ek was lus vir iets meer opgewek – my vorige albums het baie ballades op gehad, en waar daar steeds nou ballades is (en ek maar altyd sal mal wees oor ’n goeie ballade), is daar ook nou ’n bietjie meer van ’n vinniger pop-aanslag. Liefde bly altyd ’n groot tema vir my, maar ons het met die album bietjie gaan kyk na die temas rondom liefde – wanneer mens eers verlief raak, hoe jy voel voor jy daai persoon die eerste keer benader, wat gebeur wanneer liefde uitmekaar val of wanneer mense besef hulle is nie eintlik reg vir mekaar nie, verlore liefde, ens.

Dis ’n stewige album, met 12 sterk snitte op, waarvan 10 Afrikaans en twee Engels is. Dis ’n interessante balans – wou jy spesifiek net die twee Engelse snitte doen, of is dit maar net hoe dit uitgewerk het? In watter taal skryf en sing jy meer gemaklik? Dui die insluiting van die Engelse snitte moontlik daarop dat jy ’n oog op ’n voet in die internasionale musiektoneel het, of hoe beskou jy dit?

Ek dink nie ek het ooit beplan om Engelse snitte op die album te sit nie, maar ons het hulle geskryf en toe besluit ek ek wil hulle graag op die album hê. Dit het maar heel spontaan gebeur.

Jou vorige albums is onder die vaandel van Mozi Records uitgereik, maar volgens jou webwerf het jy van hulle weggebreek en word jou musiek nou onder die vaandel van Luisternet Musiek uitgereik. Dit is natuurlik vir beide gevestigde en jong kunstenaars ’n kwelpunt – of daar meer voordele in die eie roete of in die platemaatskappy-roete is. Waarom het jy besluit om jou eie koers in te slaan? Wat is die voordele en nadele verbonde aan die verskillende metodes?

Luisternet Musiek is ’n kleiner platemaatskappy, wat onder andere die groep Adam se platemaatskappy is. Dit was vir my ’n groot aantrekking omdat ek nog altyd mal is oor Adam se vars, interessante musiek en ek ook daarvan hou om ’n hand te hê in alles wat ek vrystel. Ek en Hugo Ludik van Adam het ook daarna begin om saam musiek te vervaardig by ons ateljee, Muse Studios. Dis vir my lekker om agter die skerms te werk en te bou aan die musiek van begin tot die eindproduk, en om aan ander kunstenaars se musiek te kan bou wat dalk nie dieselfde “klank” as my musiek het nie – dit hou mens op jou tone en leer jou vreeslik baie.

Jy het al wyd naam gemaak as liedjieskrywer – uiteraard vir jou eie musiek, maar ook vir kunstenaars soos David Fourie, Nadine en Steve Hofmeyr. Wanneer jy vir ’n ander kunstenaar skryf, werk jy spesifiek met hul stemme in jou kop, of skryf jy ’n liedjie en besluit dan of jy dit self wil opneem of vir iemand anders wil voorlê? Hoe weet jy, in die skryfproses, wanneer ’n liedjie "reg" is? As jy jou eie liedjies op die radio hoor in iemand anders se stem, hoe werk daardie gevoel?

Ek skryf graag spesifiek vir ’n kunstenaar se stem. Dit werk wel nie altyd so nie – soms skryf jy ’n liedjie omdat jy ’n idee het en dan besluit jy by wie dit die beste gaan werk. Maar dis altyd goed om met iemand se “range” en klank in jou kop te werk, in plaas daarvan om hulle stem te probeer forseer om by die liedjie te pas. Ek dink dit help nooit om al jou beste liedjies vir jouself te hou nie – dan gaan niemand jou mos vertrou om vir hulle te skryf nie. Dis vir my ’n verskriklike lekker gevoel om op die radio iets te hoor wat ek geskryf het wat iemand anders sing. Daar’s liedjies wat ek vir ander kunstenaars geskryf het wat ek nie self sou kon sing nie – die “range” is verkeerd of dis ’n lied wat deur ’n vrou gesing moet word of dis net nie heeltemal my styl nie – en dis lekker om dan daai lied te hoor tot sy volle reg kom in iemand anders se stem.

In die teater-, fliek- én TV-wêrelde het jy ook as akteur al jou merk gemaak. Hoe het die akteursloopbaan aan jou kant posgevat (ek verstaan jy het B Rek studeer)? Wat geniet jy daaromtrent? Die rol van musiekvervaardiger en ook liedjieskrywer vir films is natuurlik interessant – hoe werk dít anders as om ’n liedjie vir slegs die musiekbedryf te skryf?

Ek het gegaan van B Rek studeer tot sing en vervaardig, tot toneelspeel, toe musiekregisseur speel, tot intellektuelegoederereg studeer – en nou doen ek maar als. Sean Else het my genooi om ’n oudisie by te woon vir Jock of the Bushveld, en toe ek die hoofrol kry, het dit soort van die bal aan die rol gesit wat toneelspel aanbetref. Ek geniet maar als, omdat dit alles kuns is, en dit wat jy leer in een bedryf is iets wat jy in die ander kan gebruik. Selfs B Rek het al gehelp in my vermaaklikheidsloopbaan! Om ’n liedjie vir ’n film te skryf is bietjie anders – mens skryf gewoonlik met ’n baie sterk en spesifieke tema in jou kop. Jou “back story” is klaar daar en al wat jy moet doen, is om ’n manier te kry om dit uit te beeld in die musiek en lirieke.

Gepraat van die akteursloopbaan: interessant genoeg het jy al Koos Kombuis vertolk in die teaterstuk "Kytie – ’n Koos Kombuis storie" en was jy ook in "Tree aan!" en "Ons vir jou". Wat politieke inslag betref, kan jy kwalik verder as Koos Kombuis en Bok van Blerk van mekaar af kry. Politiek is ook deesdae ’n pyl in verskeie kunstenaars se kokers. Wat is jou gevoel daaroor – die rol van ideologie of politiek in populêre musiek? Dit het nogal ’n geneigdheid om openbare menings te verdeel. Is die bohaai te groot, of wat is die kernelemente hiervan in terme van voor- en nadele vir die kunstenaar en vir die gehoor?

Musiek is al vir honderde jare gebruik as politieke mondstuk. Ek dink baie mense skryf wat op hulle harte lê, en as dit wat op jou hart lê, jou regering en politiek is, kan mens verstaan dat dit is wat in jou musiek uitkom. Dit maak ook sin dat musiek gebruik word om politieke menings oor te dra, want musiek het die mag om mense saam te bring, om iets te raak diep binne jou wat jy nie altyd weet daar is nie. Musiek het meer mag as wat baie van ons besef en dis die verantwoordelikheid van die skrywer om altyd te dink aan die uitwerking wat sy musiek op mense gaan hê.

Jy het, as musikant en akteur, al ’n rits interessante vertonings agter die blad. Is daar eniges wat vir jou uitstaan as hoogtepunte? Enige interessante staaltjies waarvan ons nie weet nie, of dalk plekke of gebeure wat jy eerder sal wil vergeet?

My gunsteling-optrede was op die Afrikaans is Groot-bootreis. Die aand van my vertoning was die golwe vier meter hoog en die boot het so gewieg ’n mens kon nie reguit loop nie. Ek moes myself heeltyd stut terwyl ek kitaar speel op die verhoog, met my bene wyd uitmekaar uit. Een keer het ek vorentoe geloop na die gehoor, en op daai oomblik het die boot so gewieg ek het links agter begin loop en voor regs geëindig (terwyl ek my bes probeer het om in ’n reguit lyn te loop). Dit was snaaks, en toevallig ook een van my lekkerste optredes ooit. Die vreemdste een was by KKNK een jaar, toe ’n meisie so stadig maar seker, trap vir trap, opgeloop het verhoog toe, langs my kom staan het en my ’n soen op die wang gegee het. My vrou het in die gehoor gesit en lag, terwyl iemand die meisie van die verhoog af gehelp het. Ek was bloedrooi.

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Vaughan Gardiner, in so verre jy dit kan beheer?

Ek en Nerine en Hugo het baie albums wat ons besig is om aan te skryf op die oomblik, en ek en Hugo het baie wat ons vervaardig. Dit hou ons redelik besig op die oomblik, maar besig is lekker! Veral as mens kan werk saam met mense wat positief is en lus is vir werk.

Wat is die sin van die lewe?

Liefde – vir jou medemens, vir jou vyand, vir die Here.

vaughancoverrou

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top