Vat ’n blaaskans met boeiende kykstof in Maart op VIA!

  • 0

As die eerste episodes van Swartskaap jou laat regop sit het, maak dan reg vir nog fassinerende kykstof: Splinternuwe episodes van dié dokumentêre werklikheidsreeks wag op jou. Nuwe uur lange episodes begin op Dinsdag 2 Maart om 20:30. Van die hoogtepunte waarna jy kan uitsien, is ’n kykie na die onwettige onderwêreld van “cage fighting” en ’n besoek aan die Hell’s Angels-motorfietsbende in Johannesburg. Stories en gerugte vlieg oor dié krygers van die grootpad, maar selde kry die media soveel toegang tot hul heiligdom. Kyk die herhalings op Woensdae 08:30 of Dinsdae 14:30.

Landbouweekliks, in vennootskap met Landbouweekblad, bly ’n moet-kyk. Die aanbieders Elma Postma en HemelBesem lê weer in seisoen 13 besoek af by inspirerende landbouers wat ’n verskil maak. Van mango-produksie tot forel-telery kom onder die vergrootglas in dié aktualiteitsprogram oor boere en hul planne. Kyk saam van Dinsdag 23 Maart om 19:30, met herhalings Sondae om 17:00.

In seisoen 2 van Gesondheid, prontuit (in vennootskap met Cipla) werp dr. Rust Theron weer lig op kopkrapmediesegevalle – ware stories van regte mense wat vreemde siektes oorleef het. Hul stories is nie net aangrypend nie, dit bied ook waardevolle inligting vir kykers wat dalk self met hul gesondheid sukkel. Voorkoming is die beste medisyne, so kyk saam en wees ingelig! Halfuur lange episodes van dié werklikheidsprogram begin Woensdag 24 Maart om 18:30 – f kyk weer Sondae om 22:30.

En dan is ons terug in die kombuis vir seisoen 2 van Sjefhuis met meestersjef Bertus Basson wat regstaan om jong talent raak te sien en op te raap vir ’n internskap in sy eie kombuis. Agt nuwe leerlingsjefs kook ’n storm los onder sy wakende, kritiese oog, terwyl die aanbieder Crystal-Donna Roberts waar nodig ’n simpatieke skouer bied. Wie se kos gaan vasbrand, en wie gaan vlieg? En wat gebeur as die agtstuks huis toe gaan, want soos laas woon almal weer saam onder een dak. Daar is kombuis- én huismoles! Kyk self elke Maandagaand van 29 Maart om 17:30. Heruitsendings oor naweke begin op Saterdag 24 April om 19:00.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top