Vat jou hele hart deur Elkarien Fourie: ’n onderhoud

  • 1

Vat jou hele hart
Elkarien Fourie
Uitgewer: Naledi
ISBN: 9780928316469

Skrywers oor hul nuwe boeke: Elkarien Fouie oor Vat jou hele hart

Elkarien, jy het pas Vat jou hele hart geskryf wat handel oor jy en jou man wat nege jaar lank in China gewoon het. Wat het julle gemotiveer om juis China toe te gaan?

My man Tienie het in 2000 as joernalis deur China getoer op uitnodiging van die Chinese ambassade en dit het sy belangstelling geprikkel om die land en sy moontlikhede vir Westerlinge verder te ondersoek. Toe hy as amper afgetredene onder regstellende aksie deurloop en ek boonop ’n aanstelling misloop waarop ek gehoop het, het hy as oudonderwyser ’n kursus in TESOL (Teaching English to Speakers of Other Languages) aan die Universiteit van Pretoria geneem en vooruit gegaan om werk te soek. Hy wou aanvanklik Engels aan Chinese in Nieu-Seeland gee, maar teen 2004 is Chinese nie meer so geredelik daar toegelaat nie en hy kry toe ’n onderwyspos in Nanjing. Intussen het ek TESOL as deel van ’n nagraadse kursus in Engels geneem en die volgende jaar is ons saam na die suid-oostelike Chinese provinsie Jiangsu om ’n jaar of twee onderwys te gee.

Watter werke het julle daar verrig/beroepe beoefen?

Ek het nie formele onderwysopleiding nie en vir my was skoolhou nooit maklik nie, maar dit was nou eenmaal die paspoort tot verblyf in dié land en dus het ek ook ’n kontrak met die Sino-Nieu-Seelandse firma gesluit vir wie Tienie gewerk het. Nadat ek vir ’n groot deel van die jaar daarna terug in Suid-Afrika was weens verpligtinge hier, het ek weer by Tienie aangesluit. Hy het intussen ’n nuwe onderwyskontrak in Beijing aanvaar en ek het ’n eksaminator vir die British Council se IELTS (International English Language Testing System) geword. Die toets word van kandidate vereis om in die meeste Engelssprekende lande te kan werk of studeer. Dit het my in staat gestel om feitlik sonder eie vervoerkoste die meeste noord-Chinese provinsiale hoofstede en omstreke te besoek omdat ek daarheen gestuur is vir onderhoude. Daar was egter in daardie stadium nie ’n visum aan die werk gekoppel nie en daarom het ek ook deeltyds Engels gegee aan die Universiteit van die Minderheidsgroepe (Minzu) in Beijing. Later het Tienie dieselfde twee "balle in die lug gehou" en nie meer skoolonderwys gegee nie en dit was ter wille van die werk vir die British Council dat ons baie langer gebly het as wat beplan was.

Was taal nie ’n groot struikelblok nie?

Aanvanklik ja, toe ons nie eers ’n ekstra spyskaart of koue water in ’n restaurant kon bestel nie en as daar niemand byderhand was wat kon tolk nie. Daar was wel Chinese Engelsonderwysers wat met amptelike sake kon help, en skoolkinders by haarkappers, tandartse en die selfoonwinkel.

Vertel my met watter idee het jy China toe gegaan en met watter idee het jy teruggekom?

Ek het nie baie vooropgestelde idees gehad nie, net dat arbeid goedkoop en alles redelik primitief in hierdie ontwikkelende land was. Die idee waarmee ek teruggekom het, was dat dit ’n land op steroïdes is. Peter Abelson skryf byvoorbeeld op die Applied Economics-webwerf dat ’n omgewingskundige hom in 1996 vertel het ’n vyfde van al die hyskrane ter wêreld is op daardie stadium in Sjanghai in gebruik. Nog ’n statistiek oor hierdie land waar statistieke met jou kop toor, is dat meer sement in China gebruik is tussen 2011 en 2013 as in die VSA in die hele 20ste eeu. Dit het gelyk of die ontwikkeling baie ambisieus, halsoorkop en soms met gevaarlike kortpaaie geskied in die resies om die ontwikkelde wêreld in te haal. Die groot ingenieursprojekte van die antieke tyd, soos die Groot Muur en die Groot Kanaal, het inderdaad navolgers in die blitstreine, ysingwekkend hoë glasbrûe en die vonds van ’n alternatiewe energiebron op die maan. Maar wat my ook getref het, was dat dit ’n enigmatiese streek van uiterstes is: nie net die grootste riviere, hoogste berge en grootste stede in die wêreld is hier te kry nie, maar ook groot uiterstes in die sosio-ekonomiese peil van die bevolking.

Vat jou hele hart begin by die begin – China se antieke geskiedenis. Vertel bietjie daarvan, asseblief.

Aspekte van die lang en roemryke geskiedenis van China is ingeweef in my ervarings soos ek dit teëgekom en nagevors het, maar die ontwikkeling van die skrif is veral fassinerend. Daarom het ek besluit om aan die begin van elke hoofstuk die etimologie van ’n woord of term wat in die hoofstuk voorkom, te wys soos dit sedert die Sjāng-dinastie, amper 2 000 jaar voor Christus, die eerste keer geskryf is op skilpaddoppe en os-sleutelbene wat dan in vuur gegooi is om die toekoms te voorspel na gelang van hoe die bene gekraak het.

China is sekerlik baie lande, op ’n manier, of hoe? Het jy baie stede of baie landelike gebiede beleef terwyl julle daar was, en hoe het jy die verskille tussen die gebiede ervaar?

Dit is beslis asof China uit baie lande bestaan en daarom is dit so moeilik en onjuis om te veralgemeen. Dit is ook nie net een homogene volk nie, en benewens die hoofgroep is daar nog 55 minderheidsgroepe wat hoofsaaklik aan die buiterande van die land gekonsentreer is. Dit is waarom ek Scott Kronick se uitspraak voor in die boek aanhaal wat daarop neerkom dat hoe langer jy in China bly, hoe minder geneë is jy om daaroor te skryf, omdat dit so ’n komplekse land met so ’n lang geskiedenis is en alles so vinnig verander. In Yancheng, waar ons in 2005 begin werk het, het die man in die rekenaarwinkel ’n vorm op ’n geheuestokkie in ’n oogwink uitgedruk terwyl die boekwinkel langsaan nog ’n abakus gebruik het om die totaal van aankope uit te reken. Die helfte (700 miljoen mense) van die bevolking is aanlyn, wat meer as dubbel die bevolking van die VSA is, en die internetgebruikers neem steeds vinnig toe terwyl betreklik min mense ooit ’n landlyn gehad het.

Watter soort politieke samelewing is dit? Het jy gevoel dat jy vrylik kon praat oor wat jy rondom jou sien terwyl jy daar was? En voel jy nou of jy kan praat en deel sonder dat iemand jou sal stilmaak?

Op politieke gebied het die regering steeds ’n ystergreep op sy mense se vryheid van spraak en toegang tot inligting, hoewel netizens (soos wat internetgebruikers genoem word) tog ’n mag geword het waarmee die regering deeglik rekening hou. Facebook word nie toegelaat nie, maar die jongmense weet gewoonlik hoe om oor die Groot Kubermuur te kom. Daar is ’n ekwivalent in ’n gewilde Chinese sosialemedia-webwerf waar lewendige debatte gevoer word. ’n Vrou wat byvoorbeeld in 2013 vir ’n hele paar jaar verban is na ’n kamp vir "heropleiding" omdat sy "die sosiale orde bedreig" het, se storie het op die internet opslae gemaak, waarna die hele stelsel hersien is. Haar oortreding? Sy het aangehou agiteer toe net ’n paar verkragters van haar dogter (nie diegene met "konneksies" nie) deur die plaaslike kaders van haar dorp aangekla en gestraf is. Dit lyk of die bevolking die onsubtiele en formulegedrewe propaganda van die regering as vanselfsprekend aanvaar en studente gebruik self graag geykte uitdrukkings wanneer hulle Engels aanleer.

’n Mens kan maar net wonder hoe lank die regering dit nog gaan regkry om sy bevolking se onafhanklike denke aan bande te lê in die lig van die toeganklikheid van die wêreldwye web. Westerlinge wat geld hier verdien, hou hulle liefs uit die politiek en godsdiens, maar ’n kollega by Minzu se kontrak is beëindig nadat hy betrokke geraak het by die onafhanklikheidstrewe van die Uighur-minderheidsgroep in die weste van China. Terug in Suid-Afrika is ’n mens vry om die negatiewe saam met die positiewe te noem, maar hoewel Chinese amptenare hier belangstel in my boek, sal hulle beslis nie van alles daarin hou nie.

Het jy terwyl julle daar was, sekere dinge gemis (soos kosse), of het jy jou oopgestel vir nuwe dinge en dit omhels gedurende daardie tyd?

Dit is nie moeilik om van die Chinese kos te hou nie, hoewel dit taamlik verskil van hoe ons dit hier ken, waar veral die suidelike cuisine rondom Hongkong bekend is. Hulle eet wel alles van klein skilpadjies en eendetonge tot eiers wat in ’n soort kompos begrawe word tot dit blou is. Ek het alles behalwe hond probeer, maar wat ek die meeste gemis het, was my ma se beskuit vir ontbyt. Hulle sê mense mag allerhande smake aanleer, maar hulle verkies altyd die ontbyt waarmee hulle grootgeword het, en ek het nooit Chinese kos gevind wat ’n bevredigende ontbyt was nie, behalwe joghurt en miskien hardgekookte eiers. Later was graankos in bokse soos ons dit ken, algemeen beskikbaar in Westerse supermarkte en ek het dit begin gebruik. My man was tevrede met die vrugte wat hy altyd soggens eet.

Wat was een van die interessantste ervarings wat jy beleef het gedurende julle tyd daar?

Daar is sogenaamde heilige berge vir Boeddhiste en Taoïste en ek het drie van hulle geklim: Táishān saam met ’n wildvreemde student wat deur ’n ou dame gevra is om my te vergesel en sy taak baie ernstig opgeneem het; Huángshān saam met twee jong vroue wat ek in ’n hostel aan die voet van die berg ontmoet het, en Éméishān saam met my dogter wat kom kuier het.

Waarom het julle nie in China gebly nie?

’n Mens sal altyd soos ’n seer vinger uitstaan, hoewel die lewe in die hoofstad gemaklik was en skaars herinner het aan my eerste ruk in die Jiangsu-provinsie. Die lugbesoedeling in Beijing het egter toenemend erger geword, en al sou ons wou aangebly het, is daar baie streng beheer oor waiguoren (buitelanders) se verblyfreg en as jy volgens hulle te oud word om te werk en saam daarmee ’n werkspermit te bekom, moet jy verkas. Chinese tree redelik vroeg af om jongeres ’n kans in die arbeidsmark te gee. Daarteenoor was ons dikwels verstom oor hoe maklik Chinese ’n vastrapplek en ’n R5-winkel in elke ander land kry, maar die omgekeerde is baie moeilik. ’n Uitweg om in China te kan bly, is om met ’n Chinees te trou, wat baie Westerse mans doen omdat hulle so gesog is onder Chinese meisies.

Jy het al dikwels gereis. Waarom het jy juis oor China geskryf? Of was hierdie vir jou spesifiek ’n besonderse reis na binne ook?

Ek het oor China geskryf omdat dit die vreemde land was waar ek die langste gewoon het, dit so ’n fassinerende plek is, en ook omdat min Suid-Afrikaners die land ken en al daar was. Dat dit ’n reis na binne was, mag ’n geykte beeld wees, maar dis onvermydelik wat gebeur as ’n mens die vreemde invaar en baie op jouself aangewese is. Hulle sê jy leer iemand eers werklik ken as jy saam reis en dit is ook waar dat jy jouself beter leer ken as jy net met jou "eie hart" op reis is. Jy leer jou eie swak en sterk punte beter ken en ek het sterker en meer selfstandig teruggekom as wat ek gegaan het. Hoewel ek met aanhangers van ander gelowe as my eie kennis gemaak het, het ek ook vaster in my oortuigings as Christen teruggekeer.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Marthie Klynveld

    'n Absoluut wonderlike boek! Sterk aanbeveel vir reisigers na daardie kontrei ... en verpligte leesstof vir ouers van jongelinge wat in China wil gaan skoolhou vir n jaar of twee! Baie geluk met jou kosbare bydrae tot ons Afrikaanse reisliteratuur, Elkarien Fourie!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top