Vanwaar Van der Merwe? Van De Hoop!

  • 1

Die Van der Merwe-gedenkteken in Oktober 2025, waarop Johannes Hendrik van der Merwe se vrou Elaine en sy broerskind Cecile Dreyer vertoon. (Foto verskyn met toestemming van Johannes Hendrik van der Merwe)

Ek het nie toevallig op die Van der Merwe-fees en sy gedenkteken, of monument se spoor beland nie. Besig met my boek, getiteld Houdenbek 200 (Van der Merwe 2025), oor die Houdenbek-moorde van 1825 in die Koue Bokkeveld, moes ek die Van der Merwe-gedenkskrif (Van der Merwe 1952 – ek verwys deurgaans bladsygewys na dié boekie) weer deeglik onder oë neem. Die hoofslagoffer van die Houdenbek-voorval (Willem Nicolaas van der Merwe) was immers vyfdegeslag nakomeling van tweedegeslag stamvader Schalk Willemzoon van der Merwe. Aan hom het Van der Stel in 1692 die plaas De Hoop, suid-oos van die Paarl, toegeken en daar het hy en sy Hugenote-bruid Anna Prevot grootliks die SA Van der Merwe-geslag gegrondves. Uit hulle sou 135 kleinkinders die land indraf. Die kleisteenbouval van hulle oorspronklike huisie sou die kern van die uiteindelike gedenkteken vorm. Die plaas sou tot 1820 in familiebesit bly, waarna dit tot onlangs na die Roux-familie sou oorgaan. Die lees van die gedenkblad en ’n ondersoek van die feesterrein het die besef laat posvat dat hier erfeniskultuur-met-kwessies skuil. Om die huidige dilemma te verstaan, help dit om die aanloop en geskiedenis van die Van der Merwe-gedenkfees en die gedenkteken wat daaruit lyf gekry het, te skets. Dan sien mens hoe tye verander en hoe die deurleefde verlede in ’n onverskillige volkpsige vervaag.

Die idee

Die idee vir ’n Van der Merwe-huldigingsaamtrek het reeds tydens die 1936-sitting van die Kaapse Sinode van die NG Kerk onder afgevaardigdes ontstaan (59), maar dormant geraak tydens WOII. In 1947 is dit opgevolg met ’n omsendskrywe wat sou lei tot ’n van-vergadering op 12 Julie 1949 op De Aar. Hier is ’n aksiekomitee gestig wat op 29 September 1949 in die Paarl sou ontmoet, die De Hoop terrein en murasie ondersoek en vier subkomitees stig om die werk te doen. Digter-skrywer IW van der Merwe (Boerneef) is op foto’s prominent herkenbaar aan sy kenmerkende swart beret (61). Sewe besluite sou beslag gee aan die essensie van die inisiatief: 1) verkry ’n deel van De Hoop vir ’n gedenkteken; 2) rig ’n grafsteen “by die dodeakker” op; 3) rig ’n monument by of oor die murasie op; 4) omhein die terrein vir behoorlike bewaring; 5) reël ’n eendag-familiereünie op De Hoop (“sodra die monument klaar is”); 6) gee ’n feesbrosjure met geslagsregisters uit; en 7) rig ’n sterk studiefonds op (eers net vir Van der Merwes, maar later wyer, “solank die fonds maar die Van der Merwe-naam dra”).

Aksie het gou gevolg. In Februarie 1950 is ’n “ope brief aan alle Van der Merwes en belangstellendes” deur die propaganda-komitee onder voorsitterskap van redakteur CP van der Merwe “in duisendtalle” aan alle van-lede versprei om nasionaal steun tot deelname (en bydraes) op te vorder. Een daarvan, saam met ander ongenoemde dokumente en ook die gedenkskrif, is “in die gedenkkis by die gedenkteken met ander dokumente verseël en ingemessel, om nie voor die jaar 2052 uitgehaal te word nie” (61). Verskeie streekfeeste het die reünie voorafgegaan, maar “’n groot stap vorentoe was [...] die gulle aanbod en skenking van Paul Roux van ’n stukkie grond rondom die historiese bouval en kerkhof aan die Van der Merwe-geslag”. Roux is minder as vier maande later skielik op 19 Desember 1950 oorlede. Hierdie “gedenkwaardige skenking” (62) is in ’n kontrak, die “Ooreenkoms tussen Paul Roux en die Van der Merwe-réuniekomitee” (die dokumente spel deurlopend die woord reünie as réunie – Afrikaans steeds in wording), geformaliseer. Die ooreenkoms word woordeliks weergegee en bly tot vandag rigtend. Die ses klousules bepaal onder andere wie kostes aan terreinverbetering dra, die versekering van vrye toegang “langs ’n redelike weg” tot die area (wat ’n enklawe geheel omring deur De Hoop sou wees) en gebruikbeperkings op die terrein (geen uitkamping, eksklusiewe gebruik vir Van der Merwe-herdenking en geen ander bouwerk). Die ooreenkoms (62) is gedateer 23/8/1950. Hierop het ’n hoofkomiteevergadering op 3–4 Oktober 1951 in die Paarl die sewepuntplan bevestig en bepaal dat die gedenkfees “in konjunksie met die Van Riebeeck-fees” (63) op Saterdag 29 Maart 1952 moes plaasvind. Nou reeds verklaar die blad “hierdie stukkie grond is reeds opgemeet en beslaan 1,3267 morge” (63). Daar is al begin met die omheining van die terrein, asook “die terreinverbeteringe” (die monument).

Die fees

Op 29 Maart 1952 is die Van der Merwe-gedenkteken op die plaas De Hoop suid-oos van die Paarl ingewy. Ek was presies vyf dae oud. My oupa, pa en twee ouer broers – geslagte 8, 9 en 10 van die Van der Merwes in Suid-Afrika – het die geleentheid, later bekend as die Van der Merwe-reünie of -fees, bygewoon. Vir die organiseerders van die fees was dit ’n saak van diepe erns. Die deelnemers en organiseerders van die fees (Van der Merwe 1952:8–9) lees soos ’n who’s who van Afrikaners in die vroeg 1950’s. Kerkmense, boere en politici.

Die feesrede is deur AJ van der Merwe, moderator van die Kaaplandse NG Kerk, gelewer. Hy was voorsitter van die Riebeeck-feeskommissie en van die reüniehoofkomitee, waarvan ses lede dié van vangenote uit die drie provinsies Kaap, Vrystaat en Transvaal verteenwoordig het. Hulle was óf predikante (4) óf boere (2) en darem een sakeman. Die feesboodskap (19) deur die eerste minister, DF Malan, is op 6 Maart per telegram ontvang en het begin met die woorde: “Die Afrikanervolk sou in alle opsigte baie armer gewees het sonder sy Van der Merwes.” Hy eindig aanmoedigend met: “Mag hulle verder nog baie vermeerder!” Dit was immers die dekade voor republiekwording en die oproep vir “republiekbabas”. Feesboodskappe van al vier provinsiale moderators van die NG Kerk, die Gereformeerde Kerk en die Voortrekkerbeweging (21–6) is ingebind. Die dokument erken ook ’n lys van sowat 200 hoofsaaklik Van der Merwe-donateurs en hulle sowat £2000 (pond) bydraes.

Die grootse bouwerk

Wat is dit wat op daardie dag in 1952 ingewy is en wat versinnebeeld dit? Die gedenkteken is ontwerp deur die vermaarde argitek JDP (Hannes) van der Merwe, wat saam met JA Clift van die Paarl as boukontrakteurs opgetree het. Dié firma is in 1906 gestig en het ook die Hugenote-monument en Rhodes Memorial-gebou (https://www.cliftgranite.co.za/) ontwerp. Van der Merwe was vennoot van die maatskappy wat ook die Sanlam- en Ou Mutual-hoofkantore, sowel as die Nico Malan-kompleks (nou Kunstekaap) ontwerp het en hy was lid van die toesigkomitee oor die Taalmonument. ’n Voetsteen met sy naam is ná sy dood in 2012 onder die Van der Merwe-wapen teen die monumentmuur geplaas. Lees meer oor hom hier.

Die monument het in 1952 nog so daar uitgesien dat mens die volgende kon sien: Die struktuur is ontwerp om die oorblyfsels van die oorspronklike De Hoop-bouval uit 1692 te omarm. Hierdie oorblyfsel het totaal verdwyn – slegs die vierkantige gebouvoetspoor met fondamentstene om die rand bly behoue. Die morfologie van die monument spreek simbolies boekdele. Hoewel die feesdokument dit nie só uitlê nie, vertolk ek dit as dat die struktuur noord-suid strek vanuit sewe “bastionne” deur ’n sentrale bindmuur met inskripsietablette na ’n eindpuntsuil. Die bastionne verbeel die sewe Van der Merwe-voorgeslagte (1660–1952) wat deur die toenmalig teenwoordige geslagte 8–10 opwaarts die toekoms ingedra word – verbeeld deur die opreikende suil. Iets van die Taalmonument word hierin sigbaar. Die sentrale muurplakette dra die huldigingsboodskap aan die stamfamilie en hulle direkte nasate, asook die familiewapen, wat kulmineer in die suil met die derdegeslagnaamlysting as die identiteitsdraers die van-toekoms in. Die indrukwekkende struktuur dek sowat 20 x 15 m en is gebou van 80 x 40 cm Paarl-granietblokke. Die gedenkmuur is 1,8 m hoog en die suil reik 5,4 m die blou lug in.

Die mosbegroeide Van der Merwe-grafgedenkteken in Oktober 2025. Elfdegeslag Cecile Dreyer (née Van der Merwe) hou die gedenkskrif vas. Sy is saam met Johannes Hendrik van der Merwe op die foto. (Foto: Elaine van der Merwe)

Daar is egter ook ’n tweede huldigingselement wat besoek moet word: die grafsteen – by die historiese grafte van die eerste bewoners. Die grafskrif is met moeite ontleed, omdat dit geheel deur mos oorgroei is. Die gedenkblad (2) help weer uit, en dit lees:

HIER RUS
DIE STOFLIKE OORSKOT VAN DIE
BEWONERS VAN DE HOOP 1692–1820
SOVER BEKEND DIE VOOROUERS VAN
ALLE VD MERWES VAN SUID-AFRIKA
AANSKOU DIE ROTS WAAR JULLE UIT GEKAP IS EN
DIE PUT WAAR JULLE UIT GEGRAWE IS – JESAJA 51:1

Die gedenkterrein is tans nie omhein nie. Indrukwekkende gegoteysterhekke tussen granietmure gee simbolies pad- en voettoegang tot die terrein. Ek kon ses hoekpale (twee graniet en vier swaar ysterpaalstrukture) op die terrein eien as hoekpunte wat die eiendom grootliks afpen. Geknipte doringdraadlussies om sommige ysterpale getuig van vroeëre omheining. Die terrein is oorgroei met indringerplantegroei en fynbosboskasie.

Status van die terrein en monument

Die statuur van die gedenkteken sou mens laat glo dat hierdie 73-jaar-oue-monument pertinent sou figureer of minstens gelys sou wees by agentskappe gemoeid met ons Suid-Afrikaanse kultuurerfenis. Aanlyn ondersoek van erfenisdatabasisse, opgevolg met e-pos- en telefoonskakeling nasionaal (SAHRA), provinsiaal (Wes-Kaap-regering) en plaaslik (Drakenstein Munisipaliteit), asook private bewaringsorganisasies (Heemkring) het min bewustheid van of besondere belangstelling in die gedenkterrein onthul. Databasisse met honderde inskrywings lys dit gewoon nie en ek is gevra vir besonderhede “omdat erfenisbestuur en -bewaring ’n provinsiale aangeleentheid is”.

Ons samelewing was sedert 1952 meer ontvanklik vir die Van der Merwe-grap in reaksie op die huldigingsfees. Met Fanus Rautenbach aan die spits is die legendariese Koos van der Merwe tot komiese verteenwoordiger van die Afrikaner in die lewe geroep. ’n Wekroep om toegewyde aandag aan kultuurerfenis in die Paarl-vallei kan nie tydiger wees nie: Die omgewing lyk onderworpe aan bykans ongebreidelde stedelike ontwikkeling. Johan Nel getuig in ’n onlangse brief in Die Burger van die onverkwiklike toestand om die Du Preez-gedenknaald by De Zoete Inval in Suider-Paarl. Ek het dit opgespoor en hoop meegaande foto demonstreer die dilemma van sommige erfenisgoed in die omgewing. Die gedenknaald vertoon konteksloos soos ’n uitroepteken sonder ’n voorafsin.

Foto: Johannes Hendrik van der Merwe

Hoe nou verder?

Die huidige situasie van die Van der Merwe-monument kan selektief saamgevat word:

  • Die gedenkterrein is in ’n verwaarloosde, blootgestelde toestand.
  • Die huidige eienaars van De Hoop is nie verantwoordelik vir die onderhoud van die terrein nie en het reeds lofwaardige opruimingswerk gedoen – volledig buite hulle verpligting.
  • Hierdie eienaars is bereid om meer geredelike, gekontroleerde toegang tot die terrein te verseker.
  • Regtens is die monumentterrein ’n onafhanklike eiendom. ’n Diagram uit Landmeter-Generaal-rekords toon dit beslaan 1,3267 ha, die gelyste eienaar is die Van der Merwe-reüniekomitee en die registrasiedatum is 13 April 1962.
  • Die individuele lede van bogenoemde “eienaar” is uiteraard almal reeds oorlede en vervangende lede is na my beste wete nooit herkies, heraangewys, of andersins regtens benoem nie. Vraag: Wie ageer tans namens die eienaar? Niemand?
  • Die De Hoop-werf is reeds gegradeer as ’n voorgestelde erfenishulpbron, maar nie die Van der Merwe-gedenkteken nie. As private struktuur kwalifiseer dit nie vir enige provinsiale bestuur, onderhoud, of finansiële steun nie. Die provinsie moedig eienaars aan om items volgens die voorgeskrewe amptelike prosedure vir opname as provinsiale kulturele erfenis te nomineer. Dit vereis analise deur ’n erfenishulpbron-praktisyn wat ’n ondersoekverslag opstel om ’n amptelike aansoek te vergesel.
  • Enkele regsimplikasies lyk spekulatief soos volg:
    • Die skriftelike ooreenkoms van 23/08/1950 is aangegaan met verteenwoordigers van die Van der Merwe-reüniekomitee om die eiendom “deur hulle namens die Van der Merwe-families vir altyd te behou” – ’n onbepaalde tydsduur, as verteenwoordigers van (al) die Van der Merwe-families in Suid-Afrika.
    • In die afwesigheid van ’n funksionerende komitee kan versuim om lede aan te wys lei tot beskuldiging dat afstand gedoen is van belange in die gedenkgrond, die komitee sy bestaansrede verloor het en sy eiendomsreg in gedrang bring. Die risiko van onteiening “vir ’n openbare doel” doem op. Dit lyk raadsaam om die komitee te laat herleef deur ’n aanvaarbare regsproses.
    • Om ’n herhaling van die huidige impasse deur die afsterwing van komiteelede oor tyd te vermy kan oordrag aan ’n instansie permanent getaak met kultuurhandhawing, bemarking en toeristebenutting oorweeg word. Erfenisartefakte het die potensiaal om deur innoverende pakketverpakking as toerismehulpbron te dien. Die gedenkblad (64) het reeds die terrein gepropageer as “ons Mekka”, ons “Stone of Scone”. Dit beteken die entrepreneur het reeds die 101 000 Van der Merwes in Suid-Afrika (https://forebears.io/south-africa/surnames) as potensiële kliënte! Elke Van der Merwe behoort minstens eenmaal in ’n leeftyd die terrein te besoek – en terug te keer as jy eers die gewyde grond onder jou voete gevoel het!

Die opskrif tot hierdie artikel kon maklik ook gewees het: “O wee, Van der Merwe!” Het die Van der Merwe-reüniekomitee van 1952 profetiese insigte (al daardie predikante!) op dié erfenisterrein openbaar toe hulle gemaan het (63): “[S]kande oor die van der Merwes as hulle dit ooit gaan laat verwaarloos!”

Bronne

Nel, J. 2025. Zoete Inval dalk my volgende tuiste. Die Burger, 14 Oktober.
Van der Merwe, CP. 1952. My naam is Van der Merwe – Van der Merwe-gedenkboek (453–1952). Kaapstad, Quagga Books / Van der Merwe-reüniekomitee.
Van der Merwe, JH. 2025. Houdenbek 200. (Uitgewer in onderhandeling).

 

Persoonlike konsultasie

Alexander, Corne (Erfenishulpbron Bestuursdiens, Wes-Kaap Provinsiale Regering)
Cloete, Nancy (Suid-Afrikaanse Erfenishulpbron Agentskap – SAHRA)
Du Toit, A (eienaar van De Hoop)
Le Roux, Paul (Drakenstein Heemkring)
Theunissen, Clive (hoof, Erfenishulpbronkantoor, Drakenstein Munisipaliteit)
Van Zyl, DC (afgetrede regsadviseur, Vermont)

Lees ook:

Houdenbek 200 deur JH van der Merwe: ’n lesersindruk

  • 1

Kommentaar

  • Barend vd Merwe

    Dankie hiervoor. Dit is jammer ek word nou eers hiervan bewus. My pa was nogal lief vir die onderwerp van die van der Merwe-genealogie, en ek wens sommer ek kon hom die terrein gaan wys. Ongelukkig is hy al 8 jaar terug oorlede. Ek self is al die jare so bietjie meer skepties oor die dinge. Hoeveel van ons is werklik dit wat die rekords wys? Iewers het die melkman mos ook dalk 'n aandeel gehad... Nietemin, die van der Merwes is maar moeilike mense, ek het hele klompie van hulle persoonlik geken. Dalk sal ek nogtans eendag gaan kyk na die terrein.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top