Houdenbek 200 deur JH van der Merwe: ’n lesersindruk

  • 2

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur. 

Titel: Houdenbek 200
Skrywer: JH van der Merwe
ISBN: 9781049259826
Uitgewer: Print on demand / jhvdm@sun.ac.za

Die plaas Houdenbek in die Koue Bokkeveld was in 1825 die omgewingsgetuie van ’n bloedige slaweopstand met twee hoofkarakters, Galant van die Kaap en Willem Nicolaas van der Merwe. In 1982 het André P Brink die gebeure hervertel in sy roman, Houd-den-Bek (A chain of voices), maar benadruk in die skrywersaantekening dat die teks, alhoewel dit teruggevoer kan word na geboekstaafde feite, as fiksie aangebied word en dat hy hom daarom vryhede ten opsigte van topografie, historiese insidensie en personasies veroorloof het. (Nota: Brink het die spelling Houd-den-Bek gebruik en Van der Merwe Houdenbek, derhalwe die onderskeid in hierdie dokument.)

2025 was die 200ste herdenkingsjaar van wat bekend sou word as die Bokkeveldse opstand. Houdenbek 200 is geskryf deur ’n nasaat van die historiese Willem Nicolaas van der Merwe. JH van der Merwe is ’n navorsingsgenoot aan die Sentrum vir Geografiese Analise en professor emeritus aan die Departement Geografie en Omgewingstudie, Universiteit Stellenbosch.

Die teks open soos volg:

Ek het in die Koue Bokkeveld grootgeword met die storie van Houdenbek. Die verhaal het begin op 2 Februarie 1825 toe my oor-oorgrootjie, Willem Nicolaas van der Merwe, eienaar van die plaas Houdenbek in die Koue Bokkeveld, ’n substreek van die Ceres-distrik in die Wes-Kaap Provinsie van Suid-Afrika, deur sy slaaf Galant in sy voordeur doodgeskiet is. Dis nou presies 200 jaar en sewe familiegeslagte later. (15)

Die bekende aanhaling word ingesluit: “The past is a foreign country. They do things differently there.” Dit is die openingslyn van die proloog tot The go-between (1953) deur LP Hartley en is ’n voorafskadu van die diepgaande respek waarmee die skrywer die betrokke gebeure in die teks hanteer (16).

’n Weldeurdagte inleidende hoofstuk, getiteld “Houdenbek Herbesoek” (15–28), verskaf agtergrondinligting aangaande skrywersbelang (supra); die beoogde konteks met die plasing van die geografiese ruimte in ’n historiese tydsgewrig in kombinasie met die inherente uitdagings daarvan; en die benadering en die keuse van bronne.

Oor die bronne word gesê:

Sover moontlik berus gegewens op naspoorbare en dus verifieerbare argivale (primêre) bronne, of minstens op sekondêre bronne soos boeke en tesisse wat op soortgelyke argivale bronne staatmaak. (25)

Getrou aan die akademiese agtergrond van die skrywer, is die tweede hoofstuk ’n gedetailleerde beskrywing van die omgewing wat, met volledige motivering, deurgaans as ’n grensgebied op beide fisiese, sowel as sosio-politiese vlakke beskryf word. Die invloed van die omgewingstoestande van ’n grensgebied op vestigingsdinamika word ondersoek aan die hand van verskeie faktore, insluitend geologiese strukture, waterbronne, topografie, ekologiese drakrag, klimaat, landboupotensiaal, natuurlike plantegroei en dier- en voëllewe. Die toepassing daarvan op die historiese feite verhoed dat dit vervaag tot ’n akademiese feiteverslag en verseker die toeganklikheid daarvan ook vir die nie-akademiese leser:

Uit die Houdenbek-moordverhaal (Theal 1904) blyk dit dat twee van die slagoffers juis vermoor is omdat hulle op die noodlottige oggend beplan het om te gaan “eende jag”. Waarskynlik op die kuile van die Houdenbeksrivier en waarskynlik kolganse en/of geelbekeende – wat toe reeds die volopste spesies sou gewees het. (90)

Die omgewing is die ruimte waarin die rolspelers die tragedie laat uitspeel het, maar sonder die menslike faktor sou dit bloot ’n interessante ruimte gewees het. Die volgende hoofstuk word derhalwe afgestaan aan die menslike bewoners van die grensstreek.

Die skrywer gee tereg toe dat die evolusionêre ontstaansverloop en verspreiding van die menslike spesie oor die wêreld heen nie direk relevant is nie en fokus op die bevolkingsituasie in die suidweste van suidelike Afrika teen die 1800’s. In soverre daar nie geskrewe rekords uit die tydperk voor die 1500’s bestaan nie, word die argeologie – as oorsigtelike kennisbron – aangewend, en die leser sluit aan by die jagter-versamelaars (San) en herders (Khoi), vertoef by die voorkoloniale leefwyse en reis deur die daeraad van private grondbesit, vryburgery, plaasvestiging en die streekskarakter van vroeë veeboerdery, tot by die olifant in die vertrek, slawerny as arbeidsbron.

Hieraan word, uit die aard van die primêre relevansie, aansienlik ruimte afgestaan en verwante onderafdelings soos die leefwyse van slawe, die invloed van slawerny op die ekonomie en godsdiens, spontane en georganiseerde opstande daarteen en die uiteindelike afskaffing word breedvoerig bespreek.

Die rol van gerugte en halwe waarhede in die aanloop tot die tragedie kan nie ontken word nie en hierdie geneigdheid van die mensdom, soos wat dit afgespeel het in die afsondering van die Koue Bokkeveld, word onder verskeie hoofde aangespreek. Die ontstaan en eskalasie van onverskillige uitsprake en swak administratiewe kommunikasie word ’n werklikheid in die hede wanneer dit teenoor die beperkte paaie en passe en vervoerkoste van destyds gestel word, en twee vroeëre historiese gebeurtenisse wat daaruit gevolg het, naamlik die Roggeveldse rebellie van 1772 en die Namakwalandse moorde (op die Pienaar-familie) van 1796, maak deel uit van hierdie narratief.

Hoofstuk 4, “Hoofakteurs in die Koue Bokkevelddrama” (181–252), verskaf die feitelik-historiese weergawe van Brink se gefiksionaliseerde weergawe en verskeie eiename en bewerings wat later deel van die klagstaat sou uitmaak, sal hier deur lesers herken word. Die aankoms van die Van der Merwes aan die Kaap, sowel as foto’s van die familie se woning in Nederland, die skildwapen en die gedenkterrein (beide 1952 en 2025) op De Hoop in die Paarl open hierdie hoofstuk. Die ruimte, naamlik die plaas Houdenbek, word ook tot akteur verhef en ’n tydlyn wat strek van die toekenningsbewyse en afbakeningsgeskiedenis tot by die oorsprong, betekenis en spelvariasies van die naam volg.

Tradisioneel word Willem Nicolaas van der Merwe, Galant en in ’n mindere mate Barend Petrus van der Merwe, wat oorleef het, asook Abel as hoofkarakters in die drama beskou en die teks fokus derhalwe op hulle profiele. Die werklikheid van sistemiese historiese ongelykhede is hier duidelik waarneembaar, die Van der Merwes se inligting beslaan etlike bladsye en die skrywer gee toe dat daar oor Galant en Abel weinig inligting bestaan: “By gebrek aan bronmateriaal kan die ontleder slegs oor enkele aspekte van die man Galant se persoon en lewe uit die beskikbare materiaal haal [...]” (235) en: “Oor hierdie karakter [Abel] is relatief min bekend” (252).

Die klagtes teen Van der Merwe (wat ook uit die latere klagstaat blyk) word hier genoem en die meriete daarvan kortliks bespreek, voordat die aanloop tot die donker dag in Februarie 1825 dan afgesluit word met: “Die verhoog is nou opgestel, die rekwisiete uitgepak, die spelers voorgestel en die gordyn moet nog net voor die gebeure weggetrek word” (252).

Hoofstuk 5 open met die gordyne wyd oopgetrek. Die tempo neem toe nadat met ’n kort samevatting van die aanloopgebeure sedert vroeg 1823 weggespring word en die gebeure van 1–2 Februarie 1825 by die hoofwonings op die plase Rosendal, Houdenbek en Sandrivier word daarna aangebied deur die gebruik van ’n kontroleerbare dag-en-uur-benadering, met verwysing na die individuele aksies van elke betrokke karakter as uitvoering van ’n historiese draaiboek, gebaseer op ’n herkonstruksie van die hofrekords. ’n Samevatting hiervan word ook in tabel A-4 van die Addendum verskaf (412–8) en dien as nuttige kruisverwysing tydens die bestudering van die narratief.

Die toeganklikheid van hierdie hoofstuk en die wyse waarop die spanningslyn geskep en behou word, is uitstaande en vergelykbaar met ’n goeie spanningsroman. Die leser is volkome bekend met die ruimte en agtergrond en die onvermydelike konflik ontplof met die drif van ’n vulkaan wanneer frustrasie as woedende geweld manifesteer.

Die verhoorprosedure volg daarna en word as hofdrama in chronologiese volgorde aangebied. Die voorsittende regter, Sy Edele Sir JA Truter, het oor beperkte aktiewe mag beskik, omdat die Britse Gemenereg, wat ’n akkusatiwiese aard het, gevolg is. Die fiskaal (in die hede sal dit ’n verteenwoordiger van die Nasionale Vervolgingsgesag wees), Daniël de Nyssen, was verantwoordelik vir die opstel van die klagstaat en die 13 aangeklaagdes is verteenwoordig deur advokate JH Hofmeyr en A Faure. Beide klagstaat en uitspraak is ook by Brink se teks ingesluit en Van der Merwe se gemotiveerde kommentaar op die weergawe wat Brink se teks vergesel – die hersamestelling van ’n vertaling vir die doeleindes van ’n bepaalde fiktiewe narratief – is insiggewend (338–9).

Aansluitend hierby is die kritiese ontleding en bepaling van akkuraatheid van weergawes en mites binne vakkundige genres, insluitend tydskrifartikels, koerantrubrieke, joernaalartikels en tesisse, ewe veelseggend en dit sluit aan by die teorieë aangaande die menslike behoefte om mites te skep (sien In die rede geval – Charl-Pierre Naudé, Naledi Uitgewers).

Die detail wat die teks verskaf aangaande die aanloop, word volgehou tydens die afloop en nadraai in die formaat van ’n nabetragting wat ’n aanvang neem met ’n blik op die oorlewendes, maar dan uitkring na die breër gemeenskap en die owerheid.

Houdenbek 200 is meer as ’n herdenkingteks; dis ’n herbesoek en herevaluering van streeksgeskiedenis in beide historiese en omgewingskonteks. Die skrywer se persoonlike verbintenis met en belangstelling in die gebeure van Februarie 1825 word gebalanseer met sy akademiese kennis en afgerond met deeglike navorsing, vergelyking en motivering.

Wat hy beskryf as “die skeppingsproses van onthou” (385), kan opgesom word soos volg: “Oortuigings en insigte groei en historiese begrip vereis dat die beoordelaar lae van oortuiging moet ‘terugrol’ na die betrokke historiese tyd om rolspelers en hul optrede in konteks te kan begryp” (387).

Hierin slaag die skrywer sonder twyfel.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top