Vandag, twintig jaar gelede

  • 0

Foto vir vrye gebruik, fotobron: https://commons.wikimedia.org/wiki/File:North_face_south_tower_after_plane_strike_9-11.jpg

Dagsê!

Lang jare gelede het ek ’n klompie fliekresensies vir LitNet geskryf – enige verskoning om te gaan fliek is goed genoeg. So kyk ek toe na ’n skop-skiet-en-boomklim-fliek genaamd Swordfish. John Travolta speel die rol van ’n man wat besluit het om wêreldterrorisme uit te wis. En dit kan jy net doen as jy ’n groter terroris is as enigiemand anders. Hy het onder meer vir Hugh Jackman en Halle Berry in sy span. Groot spanning en groot ontploffings. Lekker, man, lekker.

Ek skryf my resensie en stuur dit per e-pos aan LitNet op 10 September 2001. Lees die resensie hier.

Die volgende middag sit ek in my kantoor in die biblioteek van die privaatskool waar ek werk (nou nog, ja!) en ’n jong kollega wat ook in die koshuis inwoon, klop aan my deur. Hy vra of ek inligting (boek, artikel, watookal) oor die Wêreldhandelsentrum in New York het. Nou wat sal ek in ’n kleinerige skoolbiblioteek aan die suidpunt van Afrika maak met so ’n uiters spesifieke inligtingsbron?!

Ek vra waarom hy dit soek. Nee, vertel hy, dit is pas vernietig. Hoe nou? vra ek. Kom kyk, nooi hy my. Op die koshuis se televisie sien ek toe die eerste beelde van die verskrikking.

En ek dink by myself: ai, as ek daardie resensie 24 uur later eers gestuur het, het dit heel anders gelyk!

Later verneem ek dat een van die meisies in ons skool ’n e-pos ontvang het van ’n vriend wat in New York werk en vertel het hoe hy vanuit sy kantoor ’n vliegtuig in die gebou sien vasvlieg het. Sy was dalk een van die eerste Suid-Afrikaners wat van die aanval te hore gekom het.

Ek het vandag nog ’n soort tydskapsule van die aanval wat ek hierdie tyd van die jaar vir my klasse wys: koerante en tydskrifte wat verslag doen oor die gebeure. Ook publikasies van ’n jaar later, twee jaar, vyf en tien jaar later. En steeds kan ek myself skop dat ek eers op 12 September 2001 begin koerante versamel het: die "onskuld" van ons voorblaaie op 11 September sou nou, twee dekades later, juis fassinerend gewees het!

Coenraad Walters

Lees ook:

Uit die argief: Filmfundi – Swordfish-filmresensie, 10 September 2001

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top