Uit die argief: Filmfundi – Swordfish-filmresensie, 10 September 2001

  • 0

Swordfish-bemarkingsplakkaat (bron: Netflix)

  • Hierdie artikel het oorspronklik op 10 September 2001 op LitNet verskyn.

Swordfish

Met: Hugh Jackman, John Travolta, Halle Berry, Sam Shepard, Don Cheadle, Rudolf Martin
Draaiboek: Skip Woods
Regie: Dominic Sena

“Weet jy wat is fout met Hollywood?” vra John Travolta aan die begin van hierdie prent. “Die flieks wat gemaak word, is onuitspreeklik swak.” Goed dan, hy maak sy uitspraak veel kleurryker — en die ironie wanneer ’n mens agterkom wie en wat sy karakter is, is ysingwekkend. Veral aangesien hy die geloofwaardigheid van gyselaarrolprente bespreek, en wat die aard van die gelukkige einde behoort te wees.

.......

Sien, Gabriel Shear (Travolta) voel homself geroepe om wêreldwye terrorisme uit te wis. Dit kan hy net doen, glo hy, deur ’n groter terroris te wees as enigiemand anders. Daarvoor het hy baie geld nodig, en om sy hande op miljarde dollars te lê, het hy Stanley Jobson (Jackman) se hulp nodig.

........

Sien, Gabriel Shear (Travolta) voel homself geroepe om wêreldwye terrorisme uit te wis. Dit kan hy net doen, glo hy, deur ’n groter terroris te wees as enigiemand anders. Daarvoor het hy baie geld nodig, en om sy hande op miljarde dollars te lê, het hy Stanley Jobson (Jackman) se hulp nodig.

Stan is een van die twee beste kuberkrakers op aarde. Gabriel wou albei skynbaar gebruik, maar die ander een, Axl Torvalds (Martin) het in die polisie se hande beland en moes dus Ö opgeoffer word vir die saak. Gabriel gee nie om om menselewens op te offer vir die saak nie — selfs sy eie, indien nodig. Swordfish herinner plek-plek aan ’n Shakespeariaanse tragedie. Shakespeare het egter nie motorjaagtogte, bomme, helikopters en ander vuurspuwende hardeware tot sy beskikking gehad nie.

Al is Stan glad nie lus om by Gabriel se planne betrokke te raak nie, het Gabriel fassinerende metodes om hom te oortuig. Een daarvan is om hom genoeg geld aan te bied sodat Stan sy dogter Holly kan terugkry van sy alkoholiese eks-vrou en haar porno-produserende tweede man. Stan word oortuig deur die geld-aas, die rekenaartegnologie wat Gabriel aan hom oorlaat, en ook die aandag van die wulpse Ginger (Berry), maar hy moet kophou wanneer Gabriel met hom begin jakkalsdraaie gooi.

Net so moet die kyker vasklou aan die sitplek om by te hou deur Swordfish se jakkalsdraaie. Nes jy dink jy’t nou als gesien wat jy moontlik kan, dan word daar nog ’n keer opgerat! Kykers wat sielkundig maklik kneus, moet weet waarvoor hulle hulle inlaat, of liewer ’n ander fliek kies!

Aksievrate wat nog nie Swordfish gesien het nie, sal hulle egter wil haas om te gaan kyk na hierdie interessante verhaal met sy rekenaaragtergrond, sterk spanningslyn, goeie spel (Travolta, Jackman en Berry veral), intrigerende karakters en een van die interessantste ontploffingskote wat ek in ’n lang tyd gesien het. Selfs die herhaling daarvan heelwat later in die fliek steur nie: dit laat terugflits en hede weer bymekaar uitkom, en die tweede keer is die spoed veel vinniger. Moet net nie te deeglik luister na die woorde van ’n liedjie in die toneel waarin Stan as kuberkraker in sy element is nie, en veral nie na die een liedjie wat tydens die slottitels speel nie. Dit was nou werklik onnodig.

Maar tog: boeiender kan dit skaars. En wie sê daar kan nie ’n gelukkige einde wees nie?!?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top