Het jy geweet jy kan vanjaar na al die boekeitems kyk wat jy verlede jaar op die TV misgeloop het – én nuwe boekgesprekke ook luister?
Hier is vandag se Woordfees TV-boekeprogram:
02:39 Mynhardt se kombuis
Die eerste Kokkedoor-wenners hou reünie wanneer Tiaan vir Mynhardt ’n video wys van waar hulle die eerste keer saamwerk. Hy vra ook vir Mynhardt uit oor sy Vrystaatse koswortels, sy kookboek wat in grendeltyd gebore is, en sy liefde vir kleur.
Tiaan Langenegger gesels met Mynhardt Joubert.
06:46 Retoervloot met Dan Sleigh
’n Dronk seiner op Leeukop laat in 1713 toe dat ’n VOC-skip die Kaapse hawe binnevaar. Dit lei tot ’n massaslagting wanneer pokke, waarvan die admiraal se vyf kinders herstel het, onder die plaaslike inwoners begin versprei.
Met Heinz Mödler as gesprekleier
07:18 ’n Love letter aan kos
Die skrywer vertel hoe haar kosverslawing die inspirasie was vir ’n hoofkarakter wat háár verslawing as inspirasie gebruik om ’n skrynend snaakse verhaal te skryf oor ’n mislukte verhouding en ’n allesverterende passie vir kos.
Ingrid Winterbach praat met Adele Vorster; Llandi Beeslaar lees voor.
08:58 1 Recce – Die manne agter die mite
Twee lede van die SAW se spesiale magte gesels oor die geheimhouding rondom dié elite-groep soldate, terwyl die skrywer – ’n lid van die “moedermag”, 1 Recce – die operasies onthou, maar ook ligter oomblikke, soos rugby met ’n mak leeu.
Abel Esterhuyse gesels met Alexander Strachan en Clive Cupido
17:31 Digtersparadys 2022
’n Goue herfsmiddag met poësie en musiekbegeleiding deur Wilken Calitz word afgesluit met Dean Balie se spesiale musikale voorlesing uit die nuwe Adam Small-versamelbundel.
Met Philip de Vos, Lynthia Julius, Elias P Nel, Louise Boshoff, Grant Jefthas en Franco Colin, Dean Balie (voorleser) en Kabous Meiring (aanbieder)