Vandag op die Woordfees TV-boekeprogram: Vrydag 15 Julie 2022

  • 0

Het jy geweet jy kan vanjaar na al die boekeitems kyk wat jy verlede jaar op die TV misgeloop het – én nuwe boekgesprekke ook luister?

Hier is vandag se Woordfees TV-boekeprogram:

09:00 Pretoria se Elon Musk

Sy oupa bou sy eie vliegtuig; sy pa speel syferspeletjies. Vandag is die netto waarde van Pretoria se bekendste bleeksiel meer as die jaarlikse begroting van sy geboorteland – jare nadat skoolboelies hom in die hospitaal laat beland het.

Adriaan Basson gesels met Michael Vlismas en Herman Wasserman.

13:19 Die seuntjie met die rooi handsakkie

As ’n seuntjie het Pierre van der Merwe ’n tafeldoek om hom gebind, ’n netjie op sy kop geplak en met blommetjies gespeel hy’s ’n bruid. Vandag deel Elise Bishop haar merkwaardige lewensverhaal na ’n volledige geslagsverandering op 23.

Yvonne Beyers gesels met Elise Bishop.

17:06 Marco Botha – Die spore van Gert Saggiestrap

Tydens sy verblyf tussen die Ju/’hoansi-San in die Omahekestreek, Namibië, het Marco die idee gekry vir Gert Saggiestrap – ’n jongman met drome, maar omstandighede wat teen hom tel. Hy deel sy seldsame ervaring en foto’s met Bun Booyens.

17:38 Digtersparadys 2022

’n Goue herfsmiddag met poësie en musiekbegeleiding deur Wilken Calitz word afgesluit met Dean Balie se spesiale musikale voorlesing uit die nuwe Adam Small-versamelbundel.

Met Philip de Vos, Lynthia Julius, Elias P Nel, Louise Boshoff, Grant Jefthas en Franco Colin, Dean Balie (voorleser) en Kabous Meiring (aanbieder)

22:48 Digtersparadys 2021

’n Bloeiseltuin in die aand, met digters wat uit hulle werk lees terwyl Frazer Barry en sy vrou, Deniel, vir elkeen sy eie, nuut geskepte agtergrondmusiek speel, afgewissel deur kort persoonlike onderhoude met Kabous Meiring.

Met Ashwin Arendse, Bernard Odendaal, Dominique Botha, Hilda Smits, Joan Hambidge, Jolyn Phillips, Veronique Jephtas en Zandra Bezuidenhout

23:48 Jeremy Vearey – Into dark water

Deon gesels met die oud- Wes-Kaapse speurhoof oor sy “polisie-memoires”. Jeremy skryf oor sy oupa, Dêrra Vearey, en dié se sin vir geregtigheid, grootword tydens apartheid, dubbelagente, en die “new enemy” wat hy nou moet konfronteer.

Met Deon Meyer as aanbieder

Klik hier vir die volledige Woordfees TV-program.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top