Het jy geweet jy kan vanjaar na al die boekeitems kyk wat jy verlede jaar op die TV misgeloop het – én nuwe boekgesprekke ook luister?
Hier is vandag se Woordfees TV-boekeprogram:
00:51 Wanneer gister en vandag nie lepellê
Diana Ferrus gesels met with Kirby van der Merwe (Eugene), Audrey Jantjies (As die katjiepiering blom) en Brian Fredericks (Hou jou oë oop). Die drie romansiers deel die agtergrondstories van hulle boeke, en ook hoe hulle die spanning ondersoek wat soms in hul gemeenskappe bestaan tussen iemand se komvandaan en sy lewe vandag.
Diana Ferrus gesels met Kirby van der Merwe, Audrey Jantjies en Brian Fredericks.
03:35 Ingrid Jones – Lockdown-reseptestories
’n Hartverwarmende kuier rondom komvandaanresepte met happies, waartydens Reuben Riffel die joernalis Ingrid Jones en Adéle Smith, Fahiem Stellenboom en Sandra van der Rheede uitvra oor hulle Facebook-gespeksblad wat ’n boek geword het.
Met Reuben Riffel as aanbieder
04:23 Anton Müller – ’n Outistiese seun onthou
Op sy unieke manier vertel Anton, Stellenbosch se outistiese dorpsbibliotekaris, vir Hannes van sy boek, hoe hy Ma Helen onthou en Paul Roos – die “gewone” laerskool waarop sy ma aangedring het – en wys hy hoe briljant hy met datums is.
Met Hannes van Wyk as gesprekleier en Anton se broer, Corrie Müller
07:01 Die Boereoorlog ingekleur
Tinus le Roux vertel hoekom hy juis ABO-foto’s wou inkleur, van die juwele waarop hy tydens sy navorsing afgekom het, en wys aan die hand van ’n paar voorbeelde hoe detail wat in die swart-en-wit weggesteek was na vore kom in die kleur.
Fransjohan Pretorius gesels met Tinus le Roux.
10:04 Dol heuning met SJ Naudé
Die Hertzogpryswenner – die eerste wat twee keer na mekaar dié prys vir prosa ontvang – noem homself “’n aktivis vir die kortverhaal” en gesels oor inspirasie en die waarde van skryfopleiding. Sandra Prinsloo lees voor uit een van sy verhale.
Met Marius Swart as gesprekleier; Sandra Prinsloo lees voor.
11:20 Mynhardt se kombuis
Die eerste Kokkedoor-wenners hou reünie wanneer Tiaan vir Mynhardt ’n video wys van waar hulle die eerste keer saamwerk. Hy vra ook vir Mynhardt uit oor sy Vrystaatse koswortels, sy kookboek wat in grendeltyd gebore is, en sy liefde vir kleur.
Tiaan Langenegger gesels met Mynhardt Joubert.