Vandag op die Woordfees TV-boekeprogram: Donderdag 21 Julie 2022

  • 0

Het jy geweet jy kan vanjaar na al die boekeitems kyk wat jy verlede jaar op die TV misgeloop het – én nuwe boekgesprekke ook luister?

Hier is vandag se Woordfees TV-boekeprogram:

02:16 Veertig jaar getroud met ’n narsis

Ná ’n huwelik van 40 jaar skraap ’n vrou die moed bymekaar om weg te breek uit ’n verhouding gekenmerk deur ekstreme geweld en emosionele aftakeling. Sy begin haar eie storie skryf om in die proses die vrou terug te vind wat sy eens was.

Anastasia de Vries gesels met Ilse Verster; Melanie Scholtz lees voor.

02:49 Miss Benson’s Beetle with Rachel Joyce

’n Eensame onderwyseres besluit op die ingewing van die oomblik om na ’n afgeleë eiland te reis op soek na ’n mitiese goue kewer. Die tog ontaard in ’n avontuur wat haar lewe vir altyd verander. Rachel Joyce vertel meer van haar geliefde heldin.

Met Lana Barnett as aanbieder

06:36 Digtersparadys 2021

’n Bloeiseltuin in die aand, met digters wat uit hulle werk lees terwyl Frazer Barry en sy vrou, Deniel, vir elkeen sy eie, nuut geskepte agtergrondmusiek speel, afgewissel deur kort persoonlike onderhoude met Kabous Meiring.

Met Ashwin Arendse, Bernard Odendaal, Dominique Botha, Hilda Smits, Joan Hambidge, Jolyn Phillips, Veronique Jephtas en Zandra Bezuidenhout

08:39 Damon Galgut – The promise

Vier begrafnisse, ’n plaas in die Vrystaat en ’n onvervulde belofte. Marthinus, teatermaker en ou vriend, praat met Damon oor sy roman wat die Bookerprys in 2021 gewen het, The promise. Damon vertel, onder meer, hoe ’n siekbed as kind sy liefde vir fiksie laat ontvlam het en oor hoekom hy graag met die hand skryf.

In gesprek met Marthinus Basson

09:15 Die getuienis met Francois Smith

’n Christelik fundamentalistiese egpaar beland op ’n baie donker plek wanneer hulle ná ’n visioen besluit om die pad te vat en getuienis te lewer. Francois verduidelik hoekom die verskillende maniere van trauma-belewenis hom so boei.

In gesprek met Marius Swart

10:33 1 Recce – Die manne agter die mite

Twee lede van die SAW se spesiale magte gesels oor die geheimhouding rondom dié elite-groep soldate, terwyl die skrywer – ’n lid van die “moedermag”, 1 Recce – die operasies onthou, maar ook ligter oomblikke, soos rugby met ’n mak leeu.

Abel Esterhuyse gesels met Alexander Strachan en Clive Cupido

11:05 Rusland en SA – ’n ongemaklike huwelik

Die inval in Oekraïne het die kollig opnuut laat val op SA se historiese bande met Rusland, die onderwerp van ’n vurige bespreking tussen die skrywer Leopold Scholtz, ’n Russiese historikus en ’n teoloog wat ses jaar in Kiëf gewerk het.

Piet Croucamp gesels met Leopold Scholtz, Irina Filatova en Erik von Alten.

23:52 Azille Coetzee – Die teenoorgestelde is net so waar

’n Millenniërroman deur die skrywer van In my vel, waarin drie vriendinne wat ’n studentewoonstel gedeel het die beroepswêreld betree en ’n pad moet vind deur verhoudings, seks, lojaliteit en die onsekerheid van 30. Bibi vra Azille uit.

Azille Coetzee in gesprek met Bibi Slippers

Klik hier vir die volledige Woordfees TV-program.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top