Vandag op die Woordfees TV-boekeprogram: Dinsdag 26 Julie 2022

  • 0

Het jy geweet jy kan vanjaar na al die boekeitems kyk wat jy verlede jaar op die TV misgeloop het – én nuwe boekgesprekke ook luister?

Hier is vandag se Woordfees TV-boekeprogram:

05:48 Vuur in sy vingers: NP Van Wyk Louw

Die pa wat so oor hartseer flieks kon huil, die mentor wat onder ’n olyfboom poësie sou praat (tuinierswerk lank vergete) – dís oor wie Willie Reinet, Louw se dogter, en Ian Raper, sy eertydse assistent, uitvra. Met foto’s en voorlesing.

Willie Burger gesels met Reinet en Ian Raper; Anton Schmidt lees voor.

06:49 Erika Murray-Theron – Ons pad met Parkinsons

Haar man, haar rots en jeugliefde, het sy begin verloor die dag toe hy met Parkinsonsiekte gediagnoseer is, vertel Erika aan Juliana. Tog het dit haar etlike jare ná Tom se dood geneem om te kon skryf oor wat sy daardie tyd geleer het.

Erika Murray-Theron, in gesprek met Juliana Coetzer; Rika Sennett lees voor.

11:17 Pretoria se Elon Musk

Sy oupa bou sy eie vliegtuig; sy pa speel syferspeletjies. Vandag is die netto waarde van Pretoria se bekendste bleeksiel meer as die jaarlikse begroting van sy geboorteland – jare nadat skoolboelies hom in die hospitaal laat beland het.

Adriaan Basson gesels met Michael Vlismas en Herman Wasserman.

11:50 Veertig jaar getroud met ’n narsis

Ná ’n huwelik van 40 jaar skraap ’n vrou die moed bymekaar om weg te breek uit ’n verhouding gekenmerk deur ekstreme geweld en emosionele aftakeling. Sy begin haar eie storie skryf om in die proses die vrou terug te vind wat sy eens was.

Anastasia de Vries gesels met Ilse Verster; Melanie Scholtz lees voor.

12:22 Rudie van Rensburg – Hans bars die bioborrel

In sy derde Hans-sage, Hans bars die bioborrel, raak die 93-jarige Hans van Kraaienburg (en Vasie) slaags met ’n ouetehuisboelie tydens die pandemie se vlak 5-grendeltyd. Erns vra Rudie uit, en Tobie laat Hans vonkel in sy voorlesing.

Rudie van Rensburg in gesprek met Erns Grundling; Tobie Cronjé lees voor.

16:28 Hoerkind

Die bekende joernalis deel randeier-staaltjies uit sy memoires. Dit sluit herinneringe in aan ’n verblyf in die Heilsleër, sy alkoholis-ouers, waar sy liefde vir ou Afrikaans vandaan kom, en sy vriendskap met Sheila Cussons.

Joan Hambidge gesels met Herman Lategan.

23:28 Kaptein Ben Bliksem Booysen

Marinda Steyn en haar kinders het gruwellegendes geword met hulle moordtog in Krugersdorp. Kaptein Ben Booysen vertel hoe hy man-alleen ingeklim het en die net nouer kon trek tot en met die arrestasie van ses mense vir minstens 11 moorde.

Met Jana Breytenbach as gesprekleier

Klik hier vir die volledige Woordfees TV-program.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top