Van plek-plek na Elders

  • 0

Voet(pad)notas oor Erns Grundling se lang stap en lekker boek

Dis 17:50 op ’n Donderdag-laatmiddag en my digitale slimfoon biep my dat ’n WhatsApp my aandag soek. Ai, wat sal ons tog hedendaags sonder dié goed doen. Ek druk die groen knoppie met die foontjie op. Dis van Erns af: “Ek sit in die stil hoekie langs die bar by die painting van Joel Stransky se famous skop en ’n reeds saliger Joost wat arms in die lug die World Cup vier.”

Nog altyd ’n man wat die besonderhede en drama in alles kan raaksien. Hy sit met ander woorde in Gino’s, Stellenbosch, langs die groot muurskildery van die welbekende Wêreldbeker-moment van 1995. Ons afspraak is daar vir sesuur en Erns is 10 minute vroeg! Kyk, ek ken hom nou al ’n paar jaar langer as ’n dekade en soos ek nog altyd onthou, moes ’n mens maar jou geduld met die knaap hê. Hy was maar nog altyd soort van plek-plek die tyd kwyt. Hier vat, daar los, soos die Namakwalanders sê. Vra maar vir die verskeidenheid redakteurs vir wie hy al werk op deadline moes lewer.

Met dié dat hy plek-plek die weg soms effe byster raak, veral met die deadline-probleem, tesame met ’n liefdesteleurstelling, ’n swart hond op sy hakke en ’n algemene gatvolgeid, het hy besluit om iets daaraan te doen. Onfiks, oorgewig, onvoorbereid en beseer besluit hy dis die perfekte tyd om die Camino Francés in Mei 2015 te gaan stap. Ses weke lank en 1 025 km ver. Van 20 tot 40 km amper elke dag. Nie sleg nie, sy toestand in ag genome. En hy het verder besluit die proses is ook ’n digitale detoks – sonder rekenaar, slimfoon, kamera of horlosie.

Erns Grundlingh (Foto: Myburgh du Plessis)

Nou gesels ek met hom en hy vertel oor hoe hy hom tot in ’n Forrest Gump ingestap het, verby die eindpunt, die legendariese katedraal by Santiago de Compostela tot by Cabo Finisterra, of wat die vroegste pelgrims genoem het die einde van die aarde. Daar waar die land ophou en so ver die oog kan sien, jy net see sien. Gelukkig kon hy betyds daar omdraai.

“Hallo Erns,” groet ek hom met ’n man-hug. “Jy’s vroeg ...”

“Soms verras ek myself,” antwoord hy, “Nou-nou begin die deadline my mis …”

Ek het nog altyd van Erns se kop gehou. Sy humorsin. En dalk het sy geaardheid om laat te wees en deadlines te mis, wel verander na die Camino ...

Ek onthou die eerste keer wat ons ontmoet het, was by Barlinka-woonstelle reg langsaan Gino’s waar ons so pas loop sit het. Ek en hy was albei beoordelaars van die Rittelfees in Vredendal se plaaslike Idols in 2004. (Moenie vra nie ...) Hoe ook al, ek moes vir Erns sesuur die oggend by sy woonstel kry. Hy was dié oggend net ’n uur en 20 minute agter skedule.

’n Paar dae later, met ons Idols-deelnemers aangewys, is ons weer deur Vredendal toe vir die groot konsert. Elke local sou saam met ’n bekende muso sing. In die bussie was Anton Goosen, Piet Botha, Seranti Rheeders en Valiant Swart. Iewers langs die Weskuspad besluit die natuur dis tyd vir ’n noodstop. Die manne staan in ’n streep tussen die bossies langs die draad. Sonder enige onaanvaarbare blootstelling neem Erns ’n foto. Anton is baie prominent die heel naaste aan die kamera. Wydsbeen geplant.

“Ek gaan die foto op LitNet sit (Erns was toe SêNet-webmeester). As ’n kompetisie. Die beste onderskrif wen. Ek sal die vloer open met een,” grinnik Erns.

“En dit is?” wou ek weet.

“Daar’s ’n pis innie bos,/ maak hom los tokkelos ...”

Nou ja, die eerste bier is voor ons neergesit en ons het onsself los gepraat oor eertyd se dinge.

“Baie geluk met Elders, Erns. Dis ’n baie goeie boek. En ’n baie brawe, eerlike boek. Jy kruip nêrens weg met daai boek nie. Dis soos nou die aand. Ek het vir Zolani Mahola in ’n konsert hoor sing. Daar’s ’n hele band agter haar, maar een hele song sing sy sonder ’n noot begeleiding. Niks om agter weg te kruip nie. Nes sy, moet jy glo in wie jy is en wat jy doen as jy so oop en bloot wil staan. Hoe het mense na aan jou, soos jou ma-hulle, gereageer oor die blootstellinge waaroor jy in die boek skryf, of het hulle nie?”

“Ek is self nogal verbaas dat ek sover so min ‘flack’ kry van mense wat ek dalk verras, verbaas of skok. (Hy lag.) Miskien het ek hulle nie regtig geskok nie! Maar soos daai deel in die boek van die daggapitte – wat ek my ma laat glo het is saadjies vir my Zen-tuin – het ek geskryf nes ek dit onthou het. Dalk was sy nie so naïef soos wat ek moontlik gedink het nie. En ek het nog nie met haar daaroor gepraat nie. Die boek is vir hulle ’n groot verrassing. My pa het hom nou al van hoek tot kant deurgelees en ons het lekker daaroor gechat. Ek was verras dat daar nie iets was wat hom ontstel het nie. Ek het baie respek vir hom, want dis nogal erg as jou seun so ’n boek skryf, so bietjie close to the bone, en jy is dan basies ’n karakter daarin. Ek is baie bevoorreg dat ek met albei my ouers ’n hegte band het. Daar is blinde kolle, geraamtes en kak, maar nou ja, ons is mense. Yvonne Beyers, wat destyds joernalistiek saam met my geswot het, het van die begin af saam gelees. En aanhou aanmoedig: ‘Hou aan, jy is op die regte pad.’ Ek het geweet die Camino is die regte pad, Elders was die moeilike pad ...”

Erns met ’n kat in Rabanal del Camino

In dié stadium is ons biere op en die kelner wil weet of ons nog ’n koue gaan vat.

“Ja, wat, ek pas net my nuwe mantra toe,” reken Erns.

“Herinner my?” por ek.

“Walk it off ...”

Dié mantra het gekom na 17 dae op ’n dag wat Erns 23 km moes stap, maar toe dikneus verkoue was. So erg dat hy gedink het hy moet nou professionele raad kry. Waar hy kan. Al wie hy op daai oomblik kon vra, was Mike, die opsigter (’n Amerikaner van Michigan) van die vorige nag se herberg en ’n ou gesoute Camino-stapper. Erns wou weet of hy in die bed moet bly, ’n dag moet rus, dalk net ’n kort entjie stap. “Wat is die beste raad vir so ’n verkoue?” vra hy desperaat vir Mike. Lakoniese Mike gee Erns net een kyk oor sy mop en antwoord droog: “Walk it off.”

Van daar het dit Erns se leuse geword. Soos met die aankoms by die Cruz de Ferro, naas die Santiago de Compostela, die bekendste baken op die Camino – ’n nederige houtpaal met ’n ysterkruis bo-op. Die tradisie is dat pelgrims iets persoonlik daar los. Foto’s, briefies, selfs kledingstukke. By sy aankoms het Erns ’n lint met Suid-Afrikaanse vlaggies gevat en dit om ’n klip gedraai. Maar nie voor hy daarop geskryf het nie: “Walk it off.”

Erns en sy Duitse vriend Sebastian (Foto: Timna Kirshenbaum)

“Erns, jy is al lankal ’n Weg-joernalis en dus ’n reisskrywer. Nou het jy hierdie boek geskryf. Wat dink jy is die belangrikste – die behoefte om te reis en daaroor te skryf of die soeke na die self in die reis?”

Erns antwoord dadelik: “Die lewe is daar om gelewe te word. In die boek skryf ek oor oom David, my eerste sielkundige, wat my baie, baie geleer het, maar bowenal ’n gedagte van Goethe: ‘The point of life is life.’ Net dit. Jy kan jou kop breek oor wat met jou gebeur het, wat met jou aan die gebeur is of wat dalk met jou gaan gebeur, maar die Camino het my laat besef dat mens nie noodwendig moet dink aan die een kant of die ander nie, maar eerder albei.”

“So reisskryf en die soeke na die self is dieselfde?” daag ek.

“Dis alles die lewe. Dis die punt. Soos oom David gesê het: ‘Without it you’re missing the point.’”

Tevrede met sy antwoord lê Erns verder weg aan die hoederlewers en cauli-pizza wat ons bestel het. Op die Camino was ernstige Banting uit soos kan kom, maar terug by die huis gaan Erns sorg dat hy nooit weer 92 km weeg nie.

Ek kou klaar en skiet hom ’n volgende vraag: “Jy was op ’n digitale detoks. Sonder selfoon, rekenaar of kamera. En jy het aanvanklik gesê jy is nie op die Camino om te skryf nie, maar om jouself skoon te stap. Tog het jy na die tyd besluit jy het wel ’n storie om te vertel. En soos die goeie reisskrywer wat jy is, het jy die storie weergegee met ongelooflike besonderhede. Plekke, mense, afstande, geregte en vistas voluit beskryf. Hoe?”

“Ek het op g’n stadium gevoel ek móét blog nie. Ek het hierdie Moleskine-boekies saam gehad en partykeer, na ek lekker moer toe gestap was, na my siësta (wat een van die mees beskaafde aktiwiteite in die lewe is), dan het ek so eenkant gaan sit en sommer net geskryf oor die belewenis. Bloot om dit weer te belewe. Op ’n punt het ek ’n nota vir myself gemaak dat wat ek ook al sit en skribbel nie publiseerbaar is nie. In ‘Famous blue raincoat’ sing Leonard Cohen: ‘You’re living for nothing now/ I hope you’re keeping some kind of record.’ Ek hou van die idee van ‘some kind of record’. Ek het darem nie vir niks geleef nie. Ek het geleef vir stap, stap, stap. Walk it off ...

“Ek weet nie, miskien het ek met ‘some kind of record’ aan ’n Weg-artikel of -rubriek gedink. Dalk ’n gedig of vir die eerste keer in tien jaar weer ’n song. Beslis nog nie ’n boek nie. Later het ek tog besef ek het ’n storie om te vertel. Ek het aanvanklik gesukkel met die formaat van die boek. Ek wou dit nie skryf soos ’n gidsboek of een van Weg se praktiese, brood-en-botter-artikels nie, maar ook nou nie soos ’n esoteriese, selfhelp- en lewensmotiveringsboek nie. Daar was nie ’n Damaskus-ervaring skielik een aand nie ...”

Erns en Camino-vriende (Foto: Robert Purkarthofer)

Soos Erns gesels oor sy dubbelreis – een van 1 025 km en die ander van 80 000 woorde – besef ek dat wat inderwaarheid met hom gebeur het, is transformasie. Hier is ’n man wat van voor ’n reis tot ná ’n reis en van voor sy debuutboek tot daarna getransformeer het. Terug na homself toe. En hy hou van wat hy gekry het. ’n Ou angs, onsekerheid en onrustigheid het plek gemaak vir ’n rustigheid, aanvaarding en bewustheid van die tyd en plek van alles. Hy is baie Zen sonder om Zen te wees.

Die groot ding is, almal kan nie ses weke se tyd en geld bekostig om die Camino te gaan stap om daarby uit te kom nie, maar baie van die ervaring en gewaarwordinge kan mens kry deur Elders te lees.

Erns is lief vir aanhalings – van slim sêgoed tot gedigte en sielvolle songs se lirieke van groot waarseggers. Hy het dit nog altyd gebruik. Baie skrywers, veral reisskrywers, doen dit. Wat ek wel agtergekom het, is dat hy aan die begin van sy stap sulke aanhalings gesien het as iets wat iemand anders gesê het en dat dit weldeurdag en slim is, maar dat hy dan later dit wat hom as woorde beïndruk het, ’n werklikheid en deel van sy lewe gemaak het. Aan die begin van die Camino (en dus vroeg in die boek) by ’n herberg in Beilari lees hy byvoorbeeld ’n aanhaling van Boeddha: “There is no way to happiness. Happiness is the way.” Dit is baie toepaslik en het groot indruk op hom gemaak. Na aan die einde van die boek verwys hy weer na daardie woorde en die leser besef die woorde is nie meer voor sy oë nie, die happiness is in sy hart.

Op pad na Finisterre (Foto: Timna Kirshenbaum)

So kom ons biere, pizza en gesprek heel te gou aan ’n einde. Erns weier dat ek huis toe Uber en in ruil vir die saamrygeleentheid bied ek aan om vir hom twee reisboeke (Peter Moore se Wrong way home en Paul Theroux se Dead hand) wat in die gesprek ter sprake gekom het, en wat ek aan huis het, te leen.

Hy stop in die oprit en saam stap ons huis se kant toe. Ek kry gou die twee boeke en terwyl ons ’n loopdop drink, hoor ons ’n slag buite en glas wat spat. Ons hardloop uit, net betyds om te sien sy Jimny se agterruit lê versplinter op die grond. Erns se werksak met sy laptop, hardeskyf, notaboeke en sy eie eksemplaar van Elders is weg.

Ek voel of ek gaan ontplof van kwaadheid. Ek voel diep ontsteld en verantwoordelik. Dis immers in my oprit en ek het die hek oop gelos. Ek kan slange vang. Ek loop op en af terwyl ons vir die polisie wag. Ek mor. Bal my vuiste. Vloek. Op ’n punt gaan staan ek weer voor Erns en braak gal oor die grypdief en die penarie waarin hy nou is. Briesend ... Erns sit sy hand op my skouer en kyk my vierkant in die oë. Met so ’n skewe glimlag.

“Walk it off ...”

Ek glo dis tyd vir ’n vliegkaartjie Spanje toe.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top