Van monarge en monumente gepraat

  • 2

Prent: Pixabay

’n Paar maande gelede nog het Suid-Afrikaners ontvlug in Amerikaanse politiek. Die Trump-Biden-faksies het tot woedende en skreeusnaakse debatte op sosiale media gelei, maar nou, met die demokrate veilig en flegmaties aan stuur van sake, soek ons nuwe afleiding. Ons is immers kamerade in Covid … Mense is sat vir die verdowende klank van nuusbulletins: staatskaping, korrupsie en die leë beloftes rondom vaksiene (wat selde arriveer). Daar is altyd “miljoene eenhede” op pad, en áltyd, let maar op, “binne die volgende paar weke”. Nada.

........

Megxit is ’n gelaaide nuutskepping: Dit verwys na Prins Harry, Hertog van Sussex, en sy vrou, Meghan Markle, wat op 8 Januarie 2020 op Instagram aangekondig het dat hulle gaan uittree as senior koninklikes en finansieel onafhanklik gaan word.

.........

En dan is daar die Britse monargie. Collins English Dictionary het die woord Megxit as een van sy top tien woorde vir 2020 gelys. Die woord is só dikwels deur joernaliste gebruik, dit vorm nou amptelik deel van die nuwe leksikon. Megxit is ’n gelaaide nuutskepping: Dit verwys na Prins Harry, Hertog van Sussex, en sy vrou, Meghan Markle, wat op 8 Januarie 2020 op Instagram aangekondig het dat hulle gaan uittree as senior koninklikes en finansieel onafhanklik gaan word. Die suggestie is dat Meghan die “exit” geïnisieer het (en dat Harry onder pantoffelregering leef; die woord is ook beïnvloed deur “Brexit”). Eintlik het die bom die wêreld eers op 7 Maart 2021 getref toe die egpaar tydens ’n onderhoud met kletskoningin Oprah Winfrey hulle lot bekla het en hulle familie se vuil wasgoed in die openbaar gewas het. Die prins en sy Amerikaanse vrou het vir ’n herrie gesorg toe hulle persoonlike detail rondom vetes met Kate Middleton en Prins Charles aan die wêreld verklap het. Die 36-jarige seun het by Oprah gehuil omdat sy pa hom finansieel afgesny het. Hy oorleef nou net op Ma Diana se erflating, het hy gekla (hy het ongeveer $16 miljoen met sy 30ste verjaardag ontvang), maar oor sy reuse-erflating van die koninginmoeder het hy nie ’n dooie woord gerep nie. Koningin Elizabeth II het Harry, die koninklike droster, ontneem van sy militêre range, titels en patronate. Die Sussexe mag ook nie meer die titel “HRH” (“His/Her Royal Highness”) gebruik nie – hulle mag op geen wyse die koningin, simbool van die Troon, verteenwoordig nie. Onmiddellik het die Amerikaanse jeug hulle steun aan die prins en gade gegee en ’n vloedgolf swart T-hemde met die drukwerk “HRH” op het die wêreld getref. Dáároor het die koningin geen invloed of seggenskap nie; die verwysing het in elk geval geen konteks nie. Intussen is Prins Philip, die prins-gemaal, op 99 oorlede. Die Britse pers, die grootste deel van die Britse bevolking, die monargie en die Statebond beskou Harry as renegaat. Terwyl die 95-jarige monarg die kwellinge en angs rondom Prins Philip se gesondheid moes verwerk, tree haar rooikopkleinseun en sy vrou gevoelloos op deur hulle uittrede tydens ’n smeeronderhoud aan te kondig – die tydsberekening was, om die minste te sê, fataal. Dwarsoor die wêreld het mense se harte uitgegaan na Koningin Elizabeth ná die afsterwe van haar man van 73 jaar; die krom, maar immer waardige figuur in swart het vir ’n knop in die keel gesorg. Maar die monarg het soos ’n Übermensch herrys en enkele dae na Philip se dood haar koninklike pligte hervat. Interessant: In sprokies beskik koninklikes dikwels oor bomenslike eienskappe. Die “royalists”, wat hulle geposisioneer het aan die kant van Koningin Elizabeth (die Troon), het met hernieude ywer losgetrek met toksiese mediadekking rondom Harry en Meghan. Ek vermoed ek klink ook soos ’n geelperstannie. Maar die royalty se seepsages, live soap opera, is véél interessanter as Suid-Afrikaanse politieke retoriek. Dit het die nuwe vermaak geword, ook te oordeel aan die legio Suid-Afrikaners wat reeds aangesluit het by die talle koninklike sosialemediaplatforms wat deur bewonderaars geadministreer word. Eintlik is die Harry-en-Meghan-sage ’n storm in ’n teekoppie vergeleke met die Tudor-dinastie in  die 1500’s toe die koppe gerol het in die Londense Tower. Danksy die demokratisering van die media en die deursigtigheid van die internet verloop dinge, teoreties gesproke, vandag heel beskaafd. Genadiglik is daar nou net relieke en bespiegelings oor van al die gruwels wat hulle uitgespeel het in die monargie van die donker Middeleeue.

.......

Danksy die demokratisering van die media en die deursigtigheid van die internet verloop dinge, teoreties gesproke, vandag heel beskaafd. Genadiglik is daar nou net relieke en bespiegelings oor van al die gruwels wat hulle uitgespeel het in die monargie van die donker Middeleeue.

.........

Hóéveel verleentheid moet die koningin nog verduur, kan mens vra. Dink byvoorbeeld aan die fondsinsamelingsprojekte vir die finansieel-sukkelende prins. Of só het mense gedink. ’n Vrou genaamd Anastasia Hanson van Kalifornië het ’n charity-projek op GoFundMe begin sodat jammerhartiges elk ’n paar dollar kan skenk om die prins en aktrise te help om hulle huisverband te betaal. Hierdie aanlyn insameling het nie goed afgegaan nie, en is ná twee dae en slegs drie donasies gesluit: $5, $100, en weer $5. Jan Publiek stel duidelik nie daarin belang om die projek vir dié twee brats te borg nie – en dit vir ’n mansion van 9 slaapkamers en 16 badkamers. Genúgtig.

Die mensdom was nog altyd gefassineer deur adellikes; daarvan getuig die talle skinderblaaie, koningshuiskenners en -joernaliste. Koningin Elizabeth word beskou as die gewildste adellike in die monargie – en Prins Andrew die minste gewild, kortkop gevolg deur Meghan. Die gepeupel verkies dat hulle koninklikes hulle waardig en soos royalty gedra, nie die teenoorgestelde nie. Dis ’n lewende argetipe. Harry en Meghan se gevolg is oorwegend in Amerika, veral die Amerikaanse jeug wat reken ’n monargie is ’n premoderne, uitgediende instelling. Iewers het ’n joernalis opgemerk dat Harry, wat sy koninklike geboortereg die rug toegekeer het en aangekondig het dat hy van nou af net “Harry” is, steeds bekend gestel word as “Prince Harry, the Duke of Sussex”. Dis die enigste titels wat hy mag gebruik, en nou ja … Om skielik ’n gewone Tom, Dick and Harry te wees, is toe nie so lekker nie. Veral nie as jou celeb-status in adellikheid gesetel is nie. Meghan Markle het nie op haar laat wag nie; daar verskyn binnekort ’n kinderboek getitel The bench, deur “Meghan, the Duchess of Sussex”. Hmm, die koninklike koei word steeds mildelik gemelk. Die boek is ’n verhaal oor die band tussen vader en seun, soos waargeneem uit die perspektief van ’n moeder. Kritici het dadelik gereageer, oorgehaal met hulle gifpenne, en gereken die boek is ’n geforseerde poging van die hertogin om haar stempel op Harry en Archie af te druk. Moet net nie vergeet nie, Meghan ís ’n hertogin. MEghan, of Mememeghan, verwys die Britse pers na haar. En halfsuster Samantha Markle het ook nie op haar laat wag nie en skryf óók ’n boek – oor Meghan, waarin sy beweer die hertogin is ’n gewetenlose en kwaadwillige narsis wat die prins “in haar mag” het. Harry, wat skynbaar nie die skerpste potlood in die blikkie is nie, laat hom aan die neus rondlei, en hy sal nie alleen in die VSA kan oorleef nie. Intussen hou dié twee hulle brood aan albei kante gebotter, en Harry, tussen twee vure, is maar alte bewus daarvan dat sy familie hom ysig behandel het tydens sy oupa se begrafnis – hulle vertrou hom glad nie, kwansuis oor die talle “lekkasies” aan die pers. Harry leef in vrees vir Meghan, fluister die mense; sy is berug vir haar plofbare humeur, soos toe sy ’n bediende met ’n koppie warm tee gegooi het. So gepraat van ’n storm in ’n teekoppie … Catfights met Kate en Meghan se alewige kompetisie met die Hertogin van Cambridge – afguns? Tiaras en tirades. Trane oor blommemeisies. Kate wat skree en deure klap? Régtig? Wat nog? Pokerspelers is bekend as uitstekende lesers van liggaamstaal. Hierdie kenners, wat die Oprah-onderhoud ontleed het, beweer dat Meghan met haar hand óór Harry se hand die onderhoud “gestuur” het en dat sy, nou ja, letterlik die oorhand gehad het. Die Markles gaan nou hulle eie potjie krap met projekte wat sentreer rondom klimaatsverandering, vaksiene, geestesgesondheid en ander welwillendheidsaksies. O, dít voor ek vergeet van die reuse-kontrakte wat die Hertog en Hertogin van Netflix geteken het …  

........

Die mensdom was nog altyd gefassineer deur adellikes; daarvan getuig die talle skinderblaaie, koningshuiskenners en -joernaliste. Koningin Elizabeth word beskou as die gewildste adellike in die monargie – en Prins Andrew die minste gewild, kortkop gevolg deur Meghan. Die gepeupel verkies dat hulle koninklikes hulle waardig en soos royalty gedra, nie die teenoorgestelde nie. Dis ’n lewende argetipe.

.........

Koningin Elizabeth II, aan die ander kant, is seker die mees stabiliserende faktor wat die koningshuis nog gehad het. Amper 70 jaar op die troon, en sy skop stof in die oë van Koningin Victoria en George III, wat self dekades lank aan bewind was. Elizabeth sal verewig word in die annale van die geskiedenis as een van die grootste monarge ooit. In 1947 het Prinses Elizabeth, tesame met haar ouers en jonger suster, ’n toer deur SA onderneem. Sy het ook ’n radiotoespraak gelewer waarin sy haar toewyding aan die Statebond bevestig het. ’n Familielid van my wat toentertyd hoof was van die Hoër Volkskool, Graaff-Reinet, het sy kantoorblindings afgetrek, want hy “wou nie die Ingelse sien nie”. Die wonde van die Anglo-Boereoorlog het nog vlak gelê; vandag nog is daar Afrikaanses wat die Engelse nie kan vergewe nie. En van monumente gepraat: Koningin Victoria se standbeeld staan op die terrein van die Parlementsgebou in Kaapstad; dié beeld is opgerig tydens die koningin se goue jubileum. En oor hierdie einste beeld het die digter, Peter Blum, in die gedig “Oor monnemente gepraat”, heel geestig sy mond uitgespoel. Die beeld is in 2015 deur EFF-beeldstropers geskend.

Meghan Markle het tydens die Oprah-onderhoud gesê sy het gedink om in die koningshuis in te trou sou soos ’n sprokie wees. Wel, dis die keersy van die muntstuk. Clarissa Pinkola Estés wys gereeld in haar Jungiaanse lesings van sprokies op die wreedheid in dié genre. Gaan ’n mens terug op die tydlyn van die koningshuis tot in die 1500’s, die Huis van Tudor, dan is dit ’n gruwel- én sprokiesverhaal in een. Dat Koningin Elizabeth I uiteindelik (!) gekroon is, was ’n wonder. Want die noodlot was van die begin af teen haar – haar eie pa, Koning Henry VIII, het haar ma, Anne Boleyn, se kop laat afkap in die Londense Tower. Kamtig weens hoogverraad en owerspel – alles leuens, want die volgende dag is hy met Jane Seymour getroud. Die koning het Elizabeth onteien as koninklike nasaat en prinses, en haar in die sorg van ander iewers in ’n huis op die platteland laat grootword. Henry VIII het sy Katolieke geloof verruil vir dié van Protestant – om te skei. Hy het ses vroue in totaal gehad, waarvan hy twee laat onthoof het. Niemand het ’n koning teëgegaan in daardie dae nie; sy mag was absoluut. Ná die koning se dood (vermoedelik weens sifilis, in volksmond “sif” of “vuilsiek”), het Elizabeth se halfbroer koning geword toe hy slegs nege jaar oud was – koning Edward VI. Regente het die seun help regeer. Hy is op 15 oorlede, en Elizabeth se ander halfsuster, Mary I, is gekroon tot koningin. Haar heksejag en moorde op Protestante het haar die bynaam “bloody Mary” besorg, en sy het selfs vir Elizabeth in die Londense Tower laat opsluit – kwansuis agv ’n beweerde komplot teen haar, maar sy is later weer vrygelaat.

Van die Londense Tower gepraat … Dit was ’n grieselrige kasteel wat in 1070 deur William the Conqueror laat bou is. Die kasteel is berug vir sy moorde, martelings, die geld en juwele wat daar toegesluit is, mense wat onthoof is, Duitse spioene wat tydens WO II daar tereggestel is … en natuurlik die spoke wat die kasteel bewandel. Wel, dit was ’n makabere plek, om die minste te sê: Koning Henry VIII het sy huwelikseremonie met Anne Boleyn daar gehou, net om ’n paar jaar later terug te keer sodat sy onthoof kon word. As die bekendste staatsgevangenis in Engeland, is die Londense Tower waarskynlik die Engelse weergawe van Frankryk se Château d’If, daardie horribale kasteel wat Alexandre Dumas beskryf in The Count of Monte Cristo. Daar bestaan ’n bygeloof dat daar altyd sewe kraaie in die Londense Tower moet wees – en as die kraaie wegvlieg, sal die VK tot ’n val kom.

Eers ná Mary I se dood is Elizabeth gekroon as Koningin Elizabeth I. Sy het die ekonomie bestendig, die duur oorlog teen Frankryk beëindig en die Anglikaanse geloof herstel deur dit as staatskerk te vestig, waarvan sy die hoof was. Daar word na die Elizabethaanse bewind verwys as die “goue era”, en dis dalk nie toevallig dat die twee koninginne, Elizabeth I en II, ooreenkomste toon nie.

Die Sussexe het ongelukkig met hulle uittrede as senior koninklikes, en die daaropvolgende onderhoud met Oprah, die monargie groot skade berokken. Die koninklike familie het onverwyld met hulle pligte voortgegaan. Mettertyd is Prins Charles vergewe vir sy ontrou en huwelik met Camilla Parker Bowles, ’n hertogin wat nie ’n voet verkeerd sit nie en altyd verras met haar yslike en eienaardige hoede, wat aan vlieënde pierings of sci-fi-skeppings herinner. Prins Andrew is lankal vergewe vir sy kaperjolle met die prikkelpop, Koo Stark – die volksbybel, Huisgenoot, het in die vroeë 80’s verwys na haar “blou films”, terwyl die woord “porno” agter bakhande gefluister is. En nou is daar die prins se betrokkenheid by die Epstein-skandaal …

Maar die koningin, die stabiele vorstin, is reeds 95. Die noodsaak van ’n monargie het ná die gewraakte onderhoud weer ter sprake gekom – dit word deur generasie Z, die sg woke-generasie, gesien as ’n anachronistiese resep vir verwarring wat dormante monargisme aanwakker – met die klem op klasse- en rasseverskille en gewaande superioriteit. Net die tyd sal leer of dié bekende dinastie sal voortbestaan.

  • 2

Kommentaar

  • Die geskiedenis van die troon is fassinerend! Moderne tye of te nie, die stuk bewys net weer dat niks verander het nie. Die koppe rol steeds. Wonderlik geskryf!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top