
Foto: Dawid van Niekerk
...
“Ons weergawe van die liedjie word op Vrydag 10 Junie uitgereik. Ons het onlangs verneem dat Mimi Coertse op 12 Junie 90 Jaar oud word. Dis nogal amazing hoe hierdie dinge so uitwerk. Ons het groot respek vir haar en wat haar musiek vir die skatkis van Afrikaans beteken. Ons hoop sy het ’n wonderlike verjaardag!”
...
Die akoestiese-folk-groep Van Der Aven het in Maart 2020 die kollig begin steel toe hulle die gewilde musiekplatform Texx and the City se Band or Bust-kompetisie by die Toyota US Woordfees gewen het. Dié gesogte kompetisie het meer as 250 inskrywings gelok, waarvan vyf deur is na die finale ronde.
Van Der Aven (Roelof van der Merwe, Theunis van der Merwe en Paul Lodewyk Avenant) is ’n (soort van) nuwe musiekgroep in die Suid-Afrikaanse musieklandskap. Hulle het egter al ’n hele rukkie lank saam opgetree as BrotherBrother.
Van Der Aven het die beoordelaars Theo Crous, Karen Zoid, Wynand Myburgh en Tecla Ciolfi van Texx and the City so beïndruk dat hulle eenparig as die wengroep aangewys is.
Ciolfi sê dat sy dadelik geweet het dat daar iets baie spesiaal aan hierdie groep is. “Hierdie ouens het die vermoë om op ’n suiwer emosionele vlak met hul gehoor te kommunikeer en ’n mens ligter te laat voel na die afloop van hul vertonings.”
Die groep moes weens die inperking twee jaar ná die kompetisie wag om hul EP, wat in Augustus vanjaar uitgereik word, by Jürgen von Wechmar by Sunset Studios in Stellenbosch op te neem. “Heimwee” is die eerste enkelsnit van hierdie kort nuwe album.
“Heimwee” is ook Van Der Aven se eerste Afrikaanse enkelsnit. Die lirieke is gebaseer op ’n gedig deur die Afrikaanse skrywer en digter JRL van Bruggen. Hy het hierdie besonderse gedig geskryf tydens sy studie in Nederland, toe hy terugverlang het na die wye vlaktes van Suid-Afrika.
Roelof het op die woorde van “Heimwee” afgekom toe hy tydens die eerste maand van die grendeltyd in Suid-Afrika in 2020 via Google na die Afrikaanse woord vir homesick gesoek het. Hy was alleen in ’n klein woonstel in Stellenbosch en het verlang na die ooptes van sy tuiste in die Karoo. Hy het dadelik by die gedig aanklank gevind en was geïnspireer om sy eie musiek daarvoor te skryf.
’n Klassieke weergawe van “Heimwee” is oorspronklik deur Mimi Coertse opgeneem.
Roelof sê: “Ons weergawe van die liedjie word op Vrydag 10 Junie uitgereik. Ons het onlangs verneem dat Mimi Coertse op 12 Junie 90 Jaar oud word. Dis nogal amazing hoe hierdie dinge so uitwerk. Ons het groot respek vir haar en wat haar musiek vir die skatkis van Afrikaans beteken. Ons hoop sy het ’n wonderlike verjaardag!”
Nog ’n sielvolle weergawe van “Heimwee” is deur Coenie de Villiers, in samewerking met Jan Blohm en Mauritz Lotz, op De Villiers se album Hart van glas uitgereik.

Foto: Dawid van Niekerk
Izak de Vries het vroeër in die week na Van Der Aven se “Heimwee” geluister en het toe met Roelof van der Merwe gesels.
***
Ek het “Heimwee” geluister. Dit is ’n baie ou gedig wat jy getoonset het, en dit is al vantevore getoonset. Jy bring ’n nuwe klank. Dis anders. Ek hou daarvan. Daar is nie nog so ’n klank in Afrikaans nie. Hoe sou jy die lied se klank beskryf?
Jinne, begin sommer met die moeilike vrae! Ek sukkel self om ons klank te beskryf, maar ons het in die band al daarna begin verwys as “melodiese Karoo folk rock”. Ons plaas baie fokus op ons harmonieë en melodiese verwerkings, maar daar is tog ’n redelike rock-invloed ook en ek glo dit is iets wat oorgedra word in ons verwerking en musiek.
Wie is jou inspirasie in die musiekbedryf?
Ek hou van ’n baie groot verskeidenheid van musiek en sê altyd goeie musiek is goeie musiek, maak nie saak watter genre dit is nie. Kunstenaars soos Mumford and Sons, The Lumineers, The Milk Carton Kids, Bon Iver, Foo Fighters, Kings of Leon, Snow Patrol en Coldplay is van die internasionale kunstenaars wat tans op my radar is, en op plaaslike grond was Zinkplaat, Foto na Dans, Die Heuwels Fantasties, Beatenberg en Fokofpolisiekar nog altyd groot inspirasies vir my musiek en my liriekskrywe.
Julle het drie het lank covers gedoen onder die naam BrotherBrother. Nou is daar hierdie nuwe klank, ’n nuwe naam. Gaan ons binnekort nog sulke musiek hoor?
Ons het met BrotherBrother begin met covers doen, aangesien ons meestal opgetree het by markies en troues waar mense graag bekende songs wil saam sing, maar later van tyd het ons wel van ons eie musiek gemaak wat baie meer na die folk-genre geleun het en wat ook slegs in Engels was. Ons het altyd met die idee geloop om meer Afrikaanse musiek te begin maak en om alternatiewe Afrikaanse musiek weer ’n nuwe stem te gee. Dus het ons besluit om ons naam te verander na Van Der Aven en ons stempel op Afrikaanse musiek te probeer afdruk. Ons het reeds ses nuwe songs opgeneem en beplan om rondom die derde kwartaal van die jaar die nuwe musiek vry te stel as ’n EP.
Julle kom al drie uit die Karoo. Wanneer het julle die eerste keer begin saam speel?
Ek en Theunis is broers en het van kleins af al saam gesing en musiek gemaak. Theunis en Paul het mekaar ontmoet in die Grote Kerk in die Kaap waar hulle saam in die kerkband gespeel het en het daar uitgevind dat ons baie naby aan mekaar grootgeword het. Paul is van Murraysburg en ek en Theunis kom van Beaufort-Wes af. Een Sondag in Stellenbosch het Theunis vir ons die geleentheid gereël om vir Albert Frost te open en ons het dadelik besluit om vir Paul in te trek op dromme. En soos hulle in Engels sê, “The rest is history.” Vandag is dit al ses jaar later en ons drie geniet nog elke oomblik van saam musiek maak.
En dan die naam: Van der Aven is net so vars en anders soos julle musiek. Verduidelik die naam?
Met die skuif na meer Afrikaanse musiek en ’n nuwe klank het ons besluit dat ’n nuwe naam nodig is (en ook was BrotherBrother ’n baie algemene naam). Ons het lank gewik en weeg en uiteindelik besluit op Van Der Aven, ’n samevoeging van ons vanne (Van der Merwe en Avenant), en sien dit as ons broederskap se nuwe “familienaam”.
Hoekom het julle BrotherBrother laat vaar?
BrotherBrother is die naam wat ons lank gelede gekies het toe ek en Theunis begin saam optree het, en toe Paul deel raak het ons maar net met die naam voortgegaan. Met die terugkeer na ons wortels in Afrikaans het ons besluit om die ou naam te laat vaar omdat ons ’n vars begin wou maak met ’n nuwe en sterker identiteit. “BrotherBrother” was ook nie baie oorspronklik nie en daar is baie bands met soortgelyke name, dus het dit dit baie moeilik gemaak om ons te vind op sosiale media. Met Van Der Aven aan die ander kant is dit uniek, en heg ons ons eie name aan ons musiek, wat dit baie meer persoonlik maak.
Julle het die Band or Bust gewen net voor die wêreld tot stilstand gekom het. Flippen cool – meer as 250 inskrywings uitgestof. En toe stop die wêreld. Dit was vir almal sleg, maar is ek reg dat transformasie van BrotherBrother as cover band na hierdie unieke Van Der Aven dalk nie sou gebeur het as julle onmiddellik kon begin gatskop het nie?
Ons het wel reeds oorspronklike musiek gespeel tydens die Band or Bust, maar toe was ons musiek nog slegs Engels gewees. Maar in verband met jou vraag: Nee, ek dink nie die transformasie sou noodwendig gebeur het, of so skielik gebeur het indien hierdie tyd van retrospeksie nie gebeur het nie. Die “stop” het vir ons die kans gegee om te gaan sit en besluit wat doen ons, wat wil ons doen, en hoe wil ons daar uitkom. Dit het natuurlik ook vir my baie tyd gegee om te gaan sit en skryf aan nuwe lirieke en musiek.
Julle het al drie eintlik ander werke ook, is ek reg? Of is julle voltydse musikante?
So tussen ons drie is die enigste werklike musikant Paul (in terme van opleiding). Paul het perkussie gestudeer in die Kaap en bied tans musieklesse aan en het ook sy eie besigheid begin (www.ubuntujam.co.za), waar hy by skole en korporatiewe geleenthede dromsirkels fasiliteer vir spanbougeleenthede.
Theunis is ’n digitale bemarker en werk gelukkig fleksie-ure en van die huis af, wat dit vir die band baie makliker maak.
Ek is ’n chemiese ingenieur en het in April 2022 my meestersgraad ontvang, maar op die oomblik fokus ek hoofsaaklik op musiek en hou my oor op die grond vir deeltydse geleenthede in die ingenieurswese-industrie.
***
Stroom “Heimwee” hier:
Volg die groep op Facebook en Instagram:
***
Magdaleen Minnaar se vertolking van die klassieke toonsetting is beeldskoon.
En dan is daar Coenie de Villiers, Jan Blom en Mauritz Lotz se weergawe.

