Van boeke, lesers en skrywers (Deel 2)

  • 0

In hierdie tweede artikel in die lees-drieluik, praat ek met Marisca Coetzee, bestuurder van die Leeslaboratorium aan die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum.

Alhoewel Coetzee se werk fokus op studente en personeel aan die universiteit, wou ek spesifiek meer by haar hoor oor die lees-ervaring van jonger kinders, juis omdat hierdie groep die leespubliek van die toekoms is. In ʼn onlangse artikel in The Guardian was daar geskryf oor die Library of the Future, ʼn Sweedse projek waar hedendaagse skrywers gevra word om boeke te skryf wat eers oor 100 jaar gepubliseer sal word. Margaret Atwood was een van die eerste skrywers wie se bydrae gelewer was. Elke jaar, vir die volgende 100 jaar, lewer ʼn skrywer ʼn manuskrip. In ʼn onderhoud wat met Atwood gevoer was ten tyde van die seremonie om die manuskrip te oorhandig, het sy onder andere tong in die kies gesê sy voel jammer vir die skrywer wat in jaar 99 ʼn manuskrip moet lewer, want daai persoon sal nog lewe wanneer alles gepubliseer word. Sy (Atwood) sal dan lankal in die vergetelheid wees.

Ek vind die hele projek, en veral Atwood se kommentaar, geweldig optimisties. Dit impliseer immers dat mense oor 100 jaar nog sal belangstel om te lees en te skryf, en dat die kuns van boeke maak, met papier, nog sal bestaan. Dis in hierdie konteks dat ek Coetzee gevra het om oor jonger lesers se leesgewoontes te praat.

1) Verduidelik wat die Leeslaboratorium doen, en dan natuurlik jou spesifieke rol daarin.

Die Taalsentrum van die Universiteit Stellenbosch vorm deel van die steundienste wat aan studente gelewer word.  Die Leeslab funksioneer binne die Taalsentrum en bied lees-ondersteuning aan studente en personeel.  Die Leeslab stel dit ten doel om studente te bemagtig deur hulle lees- en leerstrategieë optimaal te ontwikkel om hul akademiese sukses te verseker. 

The Reading Lab provides:

  • free consultations sessions aimed at discussing your unique reading needs and determining a feasible plan of action
  • free one-on-one tutoring
  • tailor made workshops
  • reading software (for speed reading and comprehension development)
  • instructional print material
  • academic vocabulary development
  • general assessments using standardised reading tests
  • systematic study techniques
  • time management
  • academic reading skills

2) Daar's onlangs bevind dat die oorgrote meerderheid graad 4-leerders funksioneel ongeletterd is. Watter faktore, anders as gehalte van onderwys, kan help om dit om te keer?


Ouerbetrokkenheid.  Dit is so eenvoudig en so gekompliseerd soos dit.  Die antwoord is eenvoudig, die uitvoering daarvan uiters gekompliseerd. Gesinne in Suid-Afrika is nie die gelukkige prentjie van ʼn pappa en ʼn mamma, 2,3 kinders en ʼn hond, ʼn kat en ʼn goudvis nie.  Die gemiddelde gesin is Suid-Afrika is ʼn stukkende gesin. ʼn Afwesige pa, ʼn grootouer wat moet pa-staan, ʼn ousus wat moet boeties en sussies grootmaak.  Die gesinskern is gebreek.  In hierdie gesin moet daar in basiese behoeftes voorsien word en selfs dan gaan dit broekskeur. Gevolglik word die opvoedingstaak aan die skool oorgelaat, want daar vind weinig min daarvan by die huis plaas. 

Klaskamers bars uit hul nate en een leerkrag kan nie aan elke leerder die nodige aandag gee nie. As jou kind in graad 1 nie onmiddellik leer hoe om te klank nie, hoe om sigwoorde te herken nie en hoe om basiese somme te doen nie, het jy reeds met ʼn agterstand begin.  Die realiteit is dat daardie agterstand met elke maand wat jy in graad 1 is, groter en groter word.  Wanneer daar dan van jou verwag word om aan die einde van graad 2 self jou instruksies te lees en korrek uit te voer, kan ʼn leerder dit nie doen nie en die spreekwoordelike skrif is aan die muur.  Ouers moet van die eerste week van graad 1 ʼn aktiewe rol speel in die vasleggingsproses van dit wat in die klaskamer gebeur. 

3) Hoe moedig mens 'n leeskultuur aan in huise waar ouers nie lees nie?

Kinders modelleer die gedrag wat hulle by ander sien, veral die tipe gedrag wat hulle by volwassenes sien.  Opvoeders kan ʼn “mini-biblioteek” (letterlik een rak met ʼn paar boeke) in elke klaskamer hê waar kinders toegang het tot die boeke.  Opvoeders kan daagliks ʼn paar bladsye (afhangende van die graad van die leerders) van ʼn boek aan die klas voorlees en die wonderwêreld van boeke aan leerders bekendstel. Plakkate (en dit hoef nie fênsie te wees nie) wat die geleenthede wat boeke en lees skep adverteer, kan in klaskamers opgesit word.  Betrek leerders by die proses en laat hulle self die plakkate maak. 

 

 4) Kan jy kommentaar lewer op die verband tussen geletterdheid en geneigdheid tot misdadigheid?

Saam met geletterdheid kom blootstelling. Aan teks, aan verhale en aan ander se stories. Die verstaan van “die ander” se stories dra by tot die ontwikkeling van empatie. Ek glo dat die empatiese persoon minder geneig is tot misdadigheid terwyl die teenoorgestelde ook waar is.  Hoe meer jy moet baklei vir oorlewing in ʼn wêreld wat jou niks skuld nie, hoe meer broei die woede in jou. En soos wat die woede die punt van oorkook bereik, is die volgende byna logiese en natuurlike stap dikwels misdadigheid. 

5) In hierdie dae van selfoontaal, is daar groter gevaar dat kinders se leesvaardighede aangetas word?

Ek los hierdie vraag eerder in die hand van bekwame navorsers, maar ek kan wel my opinie deel.  Ek dink nie dat selfoontaal noodwendig kinders se leesvaardighede negatief beïnvloed wanneer hulle die lees-om-te-leerfase (graad 4 en verder) bereik nie.  Lees is dan eerder ʼn denkproses wat betekenis moet heg aan die letters en woorde op papier, of dan nou ʼn skerm.  Die kwaliteit van hierdie denkproses is afhanklik van kinders se agtergrondkennis en hulle vermoëns om bv afleidings te kan maak, te visualiseer, verbande te kan lê, teks te evalueer, ensovoorts. As jy kyk na die voorbeeld hieronder, illustreer dit die vermoë van die mens se brein om met beperkte en/of verkeerde visuele inligting wel korrekte afleidings te kan maak.

 

6) Wat is die rol van biblioteke om liefde vir lees te ontwikkel?

Biblioteke is onontbeerlik. Die verdwyning van biblioteke beteken die geestelike, emosionele en intellektuele verval van ʼn beskawing. Biblioteke skep ʼn veilige hawe, ʼn stil wegkruipplek weg van die geraas en die soms onmenslike realiteit waarin mense hulself bevind. 

So twee jaar gelede met die geweld op kampusse wat deur #FeesMustFall veroorsaak is, het ek Bellville-biblioteek toe gegaan om vir my kinders boeke uit te neem.  Die biblioteek se ingangsportaal en die ruimte voor by die uitleentoonbank was vol tafels en stoele wat nie gewoonlik daar is nie.  Byna al die tafels was toe onder boeke en papiere en orals was studente. By die gemakstoele was daar ʼn tydelike klaskamer waar ʼn dosent en sy studente hul klasse voortgesit het te midde van die chaos op hul kampusse. Die biblioteek het hul klaskamer geword.

In dieselfde biblioteek het ek keer op keer gesien hoe jong mammas met hul kinders ure in die biblioteek spandeer. Mammas wat self nie Afrikaans of Engels magtig is nie kinderboeke met prente sit en lees om hulself die tale te probeer leer. Mammas wat in ʼn biblioteek ʼn veilige hawe vir hulself en hul kinders vind. Mammas wat hul kinders aan die wêreld van boeke bekendstel omdat boeke ons dikwels in ʼn veiliger wêreld kan vashou en koester teen dit wat buite die biblioteek se mure gebeur.  

Biblioteke maak vir ons die wêreld groter as was ons beperkte bestaan is. Ons gaan op avonture, leer van liefde en leed, word prinsesse en speurders, en vlieg in warmlugbalonne oor die Serengeti. 

Biblioteke het ʼn verantwoordelikheid om altyd ʼn veilige hawe midde-in die chaos van menswees te bly.  Dit moet ʼn plek wees wat ons anker en terselfdertyd vlerke gee om te kan vlieg na eindelose geleenthede. 

Hierdie is die tweede artikel in die drieluik oor skrywers, lesers en boeke.

Lees ook

Van boeke, lesers en skrywers (Deel 1)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top