Van boeke, lesers en skrywers (Deel 1)

  • 2

Stories vertel is deel van die mens se DNS. In die oertyd was dit dalk ’n manier om die tyd om te kry tussen jag, versamel en oorleef.

Dit was ’n manier om kennis oor te dra van een persoon na die volgende. Dit was ’n manier om vermaak te verskaf om die kampvuur wanneer een groep by ’n ander groep aangedoen het. Later, heelwat later, het iemand die idee gekry om merkies op ’n rots te maak en op daai manier te kommunikeer. Die mens is kreatief. Rotse dra swaar, en kort voor lank het die behoefte vir ’n draagbare manier van stories oordra ontstaan. Papirus, dierevelle, kleiner stukke rots, tatoeëermerke op mense-lywe ... as ink daarop kon vassit, was dit gebruik om te skrywe.

Lees en boeke het my nog altyd fassineer. Hoe het iemand daaraan gedink om daai squiggles verstaanbaar te maak? Hoe het dit gebeur dat genoeg mense saamgestem het dat hierdie streep en daai streep en ’n derde merk saam ’n betekenis-eenheid vorm? Hoekom was die stories om die kampvuur nie meer genoeg nie en die sangers wat rondgaan en deur liedjies hulle stories vertel onvoldoende? Woorde, die smaak, tekstuur en klank daarvan is ’n oneindige bron van verwondering. En om dit dan saam te groepeer op ’n manier wat nie net sin maak nie, maar wat ander mense laat soebat vir nog – dis ’n tipe magic, met skrywers as die abrakadabra-towenaars. Harry Potter kan sy ou skoene agternagooi.

Boeke is wonderwerke. Gedagtes en idees word oor tyd en ruimte heen oorgedra sonder dat die skrywer en die leser noodwendig saam is. Hulle hoef nie eens terselfdertyd te lewe nie. Dink net: sonder boeke sou ons nooit Shakespeare beleef het nie. Sonder boeke, en daai wonderwerkers, vertalers, sou ons nooit die vreugde van Okri, Gibran, Rumi of Neruda kon ervaar nie. Sonder boeke sou menige jong kind in ’n klein dorpie nooit weet dat daar ander maniere van wees is nie. Sonder boeke sou kinders wat op enige manier outsiders in hul eie groep was, nooit weet dat daar ander soos hulle is, en dat hulle daarom minder alleen in die wêreld hoef te voel nie.

Juis daarom is biblioteke so belangrik: dis die mees demokratiese, inklusiewe vorm van gelykmaking wat daar is. Ook die mees subversiewe vorm. Hoekom anders onderdruk diktators heel eerste die skrywers en joernaliste? Hulle verstaan die gevaar van ’n gedagte wat oorgedra word. Ryk of arm, vet of maer, lank of kort, wit of swart, die genot van sin maak uit daai squiggles bind mense. Die genot van ’n gebou binnestap waar derduisende boeke wag om uitgeneem te word, die rustigheid, die stilte, die reuk van papier, dit bind lesers. En jy hoef nie geld te hê daarvoor nie. Al wat nodig is, is die vermoë om te lees, en die bereidwilligheid om die gebou binne te stap en dit te gebruik. Biblioteke is die groot equaliser. Die kind in die plakkershut en die kind in die mansion is gelyk wanneer hulle deur daai deure stap.

Juis daarom is dit so skandalig wanneer politici biblioteke sluit en finansies aanvoer as rede. Wat is die prys van ’n verbeelding, wat is die prys van vrye denke? Daarom is ’n Nkandla-biblioteek waar rye en rye boeke staan, in geen gevaar dat hulle ooit oopgemaak en gelees gaan word, so offensive. Kennis is gemaak om gedeel te word. Idees, die oopmaak van ander wyses van being, ander maniere van dink, is broodnodig om volronde, denkende mense te vorm.

Empatie word geskep wanneer een persoon in staat gestel word om hom- of haarself in die skoene van ’n ander te plaas. Hoe anders sou ’n Xhosa-kind ooit weet wat dit was om ’n Jood in Nazi-Duitsland te wees? Hoe sou ’n wit Suid-Afrikaanse seun ooit weet wat die ervarings van ’n swart katoenwerker in die suide van Amerika is?

Meer as dit, lees stel kinders in staat om akademies te presteer. Deur akademies goed te doen, kan jy ’n beter lewe vir jouself skep.

Anroux Marais, die Wes-Kaapse minister van sport en kultuur besef die belang van biblioteke in ons gemeenskappe. In ’n onlangse toespraak, by die opening van die Prince Albert Leesfees, sê sy: “Die korrelasie tussen leesvaardighede en leervermoë en prestasie is al oor en oor bewys. Dis daarom dat my department uit hul pad gaan om biblioteke te bring aan alle uithoeke van die provinsie. Vir ons maak dit nie saak wat jy lees nie, solank jy net lees. Vir dié doel het die Biblioteekdiens meer as 6,5 miljoen boeke in voorraad.”

Die Engelse skrywer en digter, Samuel Johnson, het al in 1775 gesê: “Knowledge is of two kinds. We know a subject ourselves, or we know where we can find information upon it.”

Skrywers, lesers en boeke is ’n simbiotiese driemanskap – een wat lewens kan verander, kan verryk en kan verbeter.

 

Hierdie is die eerste rubriek in ’n drieluik oor biblioteke, skrywers en lesers.

  • 2

Kommentaar

  • Barbaarse oorwinnaars het altyd deur die eeue vir biblioteke gegaan.So is die Alexandrynse biblioteek, wat al die eienskappe van ‘n moderne biblioteek gehad het, al was die geskrifte op klei, vernietig. Die scribes ( priesters) wat die antieke geskrifte oorgeskryf en die voorlopers van bibliotekarisse was soos ons dit vandag ken is deur die barbare aangeval. As ek vandag lees van biblioteke wat in SA afgebrand word van Standerton tot Zwehlihle in Hermanus kan ek net my kop skud oor die dwaasheid van die mensdom. Die onderwysdepartement in SA skenk weinig aandag aan biblioteke by skole. Daar is geen beleid wat hierdie afdeling dek nie en weinig fondse word aan die afdeling spandeer. Soos een vorige provinsiale onderwyshoof dit gestel het: onderwysers moet net die departementele dokumente lees, hulle het nie tyd om nog boeke oor hul vak te lees nie, so daar is geen nodigheid vir 'n onderwysbiblioteek in die provinsie nie.

  • Stories.
    Daar is niks wat die mensdom verenig soos stories nie.
    Ons kan verskil oor kulture heen, oor die politiek, godsdiens, voor- en afkeure
    en allerlei aspekte wat ons van mekaar onderskei
    Maar een ding het ons in gemeen
    Die behoefte na en liefde vir stories.
    Stories van die verlede en hede en môre
    Stories oor bekendes, fiktiewe karakters en mense wat ons inspireer
    Oor onwerklikhede, fantasieë en grype na 'n verbeelde toekoms
    Stories is skeppend
    Dit spoor ons aan om dieper te delf in die eie ek
    Om te eksploreer en buite ons verwysingsraamwerk te durf beweeg
    Met die lees of vertel van' n storie maak ons verbeeldingsvlugte en word jy die ander
    Durf jy gaan waar jy voorheen sou skroom
    Word jy die held of heldin
    Die skurk en die sendeling
    Die persona wat jy nog altyd nastrewe
    Stories is uitdagend dog troostend
    Jesus het dikwels stories vertel aan die hand van gelykenisse
    So ook Buddha, Mohammed, Confucius et al
    Stories is die draers van liefde, pyn, insig en verslaentheid
    En transporteer jou terug na wat kon gewees het
    Ook vorentoe na wat kan wees
    Stories begin by die grootoog kind wat luister
    en tog as volwassene steeds wag op daardie moment
    wanneer alles inmekaar pas
    Die sirkel sluit
    Die les geleer
    Die grap gevang
    En jy verstaan.
    Stories is onontbeerlik om te lewe.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top