Valsrivier: Naomi Meyer se indrukke

  • 0

Die Valsrivier-akteurs (bron: Computicket)

Valsrivier, Domique Botha se hoogs aangeskrewe debuutroman van 2014, maak vanjaar by die Toyota US Woordfees ’n buiging as toneelstuk. Theatrerocket vervaardig die produksie, wat deur Saartjie Botha vir die verhoog verwerk is. Janice Honeyman is die regisseur en die rolverdeling spog met Anna-Mart van der Merwe, Stian Bam, Tinarie van Wyk Loots, Robert Hindley, Wiseman Sithole en Peggy Tunyiswa. (Bron: https://www.litnet.co.za/toyota-us-woordfees-2020-dominique-botha-oor-valsrivier-op-die-verhoog.)


 

Valsrivier by die Woordfees – te midde van die korona.

Vroeg in die vertoning hoes iemand in die teater. Dit klink nie te ernstig nie. Maar ek wonder tog, vlugtig, of ek meer gespanne sou voel oor daardie onskuldige hoesbui in die volgepakte teater as daar reeds gevalle van die virus op hierdie dorp gediagnoseer is.

Die toneelstuk is ’n verwerking van Dominique Botha se gelyknamige boek, wat as memoires geskryf is. Die verhaal handel oor Dominique se ouerhuis in die apartheidsjare – haar ouers met hul verligte idees vir die tyd, en haar problematiese broer, wat uiteindelik selfdood gepleeg het. In die boek word die land se apartheidsgebeure sterk beklemtoon en is daar beelde van die landskap (die Vrystaat) waar Dominique grootgeword het. Dit is ook baie sterk in die toneelstuk teenwoordig.

Op die verhoog is daar één kernmiddelpunt. As toneelstuk wentel die verhaal om Dominique se broer. Hy is die hoofkarakter in hierdie verhaal, al is ook al die ander karakters belangrik – veral weens die impak wat elkeen van hulle op hom het.

“Om te skryf, is gesprekke met dooies,” is die openingswoorde.

Dominique Botha se gesin is anders as die res van die wit Suid-Afrikaanse samelewing. Haar ma (Anna-Mart van der Merwe se karakter) se woorde klink ironies: “Lank gelede, voor ons land die enigste een in die wêreld geword het.”

Die gesin is enersyds verlig en in opstand teen apartheid. Terselfdertyd is die sisteem se manier van doen, deel van die gesin se grein. Gesprekke oor die dood duik subtiel op. Die pa praat byvoorbeeld met sy seun oor hoe om die dood van ’n vriend te verwerk. Toe die seun te veel gaan drink, is die pa se reaksie: “’n Man moet sy drank kan vat.”

Daar is tonele van lyfstraf. Vir ’n pa wat anders dink as die mense van sy tyd, is daar beslis sekere gebruike wat oorgedra is van generasie na die volgende generasie. Daar is verwyte uit die pa se mond aan sy seun: “Hoekom is jy nie meer soos jou suster nie?”

Tog is daar baie liefde sigbaar. Terwyl ek die toneelstuk kyk, kyk ek dit ook as ma. Ek wonder oor die impak van elke daad op elke kind. En tog kan die ouers dit nie verhelp nie: Hulle bevraagteken ’n sisteem, en bly terselfdertyd daarin vasgevang.

Die werkersgesin wat inkom in die huis van Andries Botha. Die groettoneel is veelseggend: “Jy is ’n wit man met ’n naam, Andries Botha. Ek is Abel Dhlamini.”

Is hierdie verhaal ’n gesin se memoires? Die skrywer s’n? Die samelewing s’n?

Daar is kiekies in die gesinslewe. ’n Begrafnis, ’n datum, ’n gedig, van Vusi Dhlamini se dood.

Pogings tot medemenslikheid van die wit gesin af, maar is dit soos Soos familie waaroor Ena Jansen skryf? Mense wat werklik vir mekaar omgee, maar altyd in ’n soort vertikale verhouding met mekaar staan, wat nie werklik vriende kán wees nie, omdat die gesin nie die samelewing se waardes en orde omver kan werp nie?

Die pa se reaksie op die seun wat nie studeer nie: “Wat hy nodig het, is dissipline en roetine.”

Die ma: “Ek was ook jonk, ek wou ook wegkom.”

Die seun vra: “Wil Ma steeds wegkom?”

Die ma: “Ja.”

Valsrivier. “And a river runs through it,” dink ek. Hoeveel valshede en halwe waarhede is nie in hierdie teks versteek nie.

Iewers noem die ma dat sy nie in God glo nie. Wanneer die seun valse briewe van geluk van die Grens af skryf, skryf die ma terug: “Ek bid vir jou.”

Dalk het die weermag en daardie leuens hom gebreek. Hy het uiteindelik ge-awol. En toe begin die selfdoodpogings. Hier weet mens nou al hoe die verhaal gaan eindig. Mens kyk net toe. “’n Soldaat se liggaam is die eiendom van die staat,” sê die Dominique-karakter in die verhaal (Tinarie van Wyk Loots).

Later is daar gesprekke oor waterpype; die Valsrivier hou aan met vloei, dwarsdeur die huis. Terwyl die pa die seun bad en afdroog, is daar gesprekke oor pype. Water vloei oor die seun se liggaam. Dalk is die liefde van die pa eg, maar die water in die pype, steeds vals.

Daar is verwysings na Dominique: Sy bly gewig verloor. So terloops word dit genoem. Die gewigstema word glad nie ontgin nie. Iemand vertel my dit het haar gehinder met die lees van die boek en in die toneelstuk weer. Slegs twee verwysings daarna. Maar niemand brei hierop uit nie. Dalk doelbewus? Was dit ’n eetsteurnis waaroor niemand praat nie? En is dit ’n kortstondige knik in die rigting van Dominique – dis nie net haar broer wat beskadig is nie; dalk is dit sy ook?

Dominique hoor hoe kwaad haar broer is. Sy luister hoe hy die sisteem vloek en praat oor al die kranksinnige dinge van die tyd. Sy is ’n toeskouer, voortdurend. Sy hou dit vir haarself. Haar pa en ma weet sy weet meer, maar sy praat nie met hulle daaroor nie. Sy slaan gade, die man wat sê: “Jou broer stel in elke denkbare ondervinding belang en elke denkbare ondervinding stel in hom belang.”

Is haar broer gay? Hy slaap by prostitute. Hy is verlief op ’n vrou iewers in Afrika. Hy moet wegkom van die dwelms, sê hy by herhaling.

Hoekom is haar ouers, met hulle verligte idees, dan nie verlig genoeg om te weet hoe om met hul kinders te kommunikeer nie? Of sy, ’n verligte en denkende mens, om vir haar ouers te sê haar broer kry swaar nie? Maar mens veroordeel nie. Mens slaan gade en jy besef: Ons is almal vasgevang in ’n land, in ’n sisteem, in ’n mikrokosmos. Wie weet of ons die regte besluite neem en watter impak dit op ander mense rondom ons het?.

Of kan mens nie alles onder woorde bring nie? Is Valsrivier net so vals en syfer die water so diep dat mens net kan probeer skep en nie by die bron uitkom nie? Skryf as ’n poging om sin te maak. As gesprekke met die dooies.

(Ek dink vlugtig aan Lizette Rabe se Om tot verhaal te kom.)

Die politieke verwysings val my op. Destyds, soos vandag: die woede jeens FW de Klerk wat nou weer kop uitgesteek het. Gesprekke oor dagga as euwel. Vandag soos gister, herhalende patrone.

“Alles eindig waar dit begin,” sê Dominique se ma iewers teen die einde van die toneelstuk rond.

En: “Jy het my altyd vooruit geloop,” sê die Dominique-karakter toe haar broer sy lewe geneem het.

’n Toneelstuk wat mens laat besef die verlede is nog nie verby nie. Dominique dra dit met haar saam, en die res van ons ook.

Is dit oplaas die samelewing en die sisteem wat hom dryf tot by die punt waar hy nie meer kan nie? Is dit sy ouers wat vasgevang is in die sisteem, ten spyte van hulle protes daarteen? Is dit sy eie innerlike samestelling?

Een hoes in die teater beteken nie noodwendig dat die hoesende met die koronavirus besmet is nie. Maar as die deure toe is en die vensters ook, en daardie hoesende dra inderdaad die kiem, is dit so: Almal wat deel is van hierdie tyd, in hierdie tydsgreep en die hier en nou, is hieraan uitgelewer. Jy mag dalk ’n kiem met jou saamdra, miskien met jou hande verder versprei net deur aan ’n oppervlak te raak. Soos ek ook gedagtes oor Valsrivier met my saamdra, die valshede en die besmettinge van daardie tyd, en die impak op elkeen van ons wat vandag nog leef.

Lees ook:

Toyota US Woordfees 2020: Dominique Botha oor Valsrivier op die verhoog

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top