Valiant van die Woordmakersvallei

  • 1

Wellingtonners Louis Duvenage, Jannes Kruger en Bokkie Duvenage was byderhand om hul eertydse skoolvriend se nuutste album te vier. Agter hulle is Duan Rossouw se 1968 Ford. (Foto: Engela Duvenage)

Vroegaand staan ’n bebrilde Pierre Nolte met ou skoolvriende en gesels in Ounooi se Jaart, die binnehof van die Breytenbach Sentrum op Wellington. Agter hulle het iemand ’n ou oranjerooi 1968-Ford geparkeer.

’n Valiant is dit nou nie, maar tog is die slap wa gepaste dekor vir die aand: Dis die heel eerste bekendstellingsgeleentheid van die musikant Valiant Swart se nuutste album, Rondry, fliek en die buitelewe. Dit is deur Vonk Musiek uitgegee en is ook sy eerste sedert Nagrit in 2015.

Heel gepas vind dié eerste bekendstelling (op 19 Mei 2023) in Wellington in die Wagenmakersvallei plaas, waar Nolte/Swart as skoolseun leer kitaar speel het. Die Bôrdienghuis Teater, waar die bekendstelling gaan plaasvind, is ’n klipgooi vanaf Hugenote Hoërskool, waar hy in die 1980’s lid van sy skool se interskool-band was saam met skoolmaat Wikus Lombaard. Dié sou later die eerste “drummer” van die Valiant Swart Band wees. Oor die jare het die Vallei woordmense soos Breyten Breytenbach en Adam Small opgelewer – en Valiant die liedjie-/rubriekskrywer.

“Julle is die eerste mense wat hierdie nuwe musiek hoor. Dis die wêreldpremière dié,” vertel hy later vir ’n waarderende gehoor wat die Bôrdienghuis Teater vol sit.

Nie dat daar soos van ouds enige musiek agterna te koop was sodat mense in ’n tou kon staan en die sanger sy handtekening op die betrokke items kon aanbring nie. Al 43 minute en 36 sekondes van sy 10 nuwe snitte was wel van vroeër die dag af op die meeste stromingsplatforms beskikbaar. Enkeles in die gehoor het teen die aand se kant reeds daarna geluister, onder meer op Spotify.

Ook op Apple-musiek.

Later vanjaar sal vinielplate uitgereik word. “Maar ons is nog in die queue,” verduidelik hy, so ‘n bietjie soos Professor Verstrooid aan’t vroetel met ’n plastieklêer (’n “flippie”, soos die skoolkinders sou sê). Dit bevat sy nuwe stel liedjiewoorde, vars uitgedruk die vorige aand, en kry lêplek op ’n swart musiekstaander voor hom.

“Ek kan nie onthou wanneer laas ek ’n musiekstaander gebruik het nie,” lag hy dan vir homself, ingesak agter sy kitaar.

En dan: “Ek voel so ’n bietjie Koos Kombuis as ek so rondblaai op soek na liedjies. Hy teken net mooier.”

Dis Valiant se eerste album in byna agt jaar, die 17de sedert sy eerste, Die Mystic Boer, in 1995 uitgereik is. Vele spreekwoordelike sakke sout is in hierdie afgelope jare opgeëet. Die minste daarvan is die bril met die dun swart raam wat dié rocker deesdae dra. Met die bril is die 57-jarige selfs minder gemaklik as met die musiekstaander.

“Die probleem met die bril is dat dit opwasem as ek opgewonde raak,” selfspot hy weer. “En lyk my nie ek het gisteraand die lirieke in ’n groot genoeg font uitgedruk nie.”

Die meeste lede van die gehoor is oud genoeg om presies te weet wat hy bedoel, en grinnik saam. Net een seun in die gehoor is skoolgaande. Sy ma sorg dat hy later ’n selfie saam met sy held neem.

Saam met sy regterhand op die kitaar, Illimar Neitz, begin Valiant half melancholies, soek-soek na die gehoor se reaksie, met “Ek en die blues”.

Ek en die blues
ons kom altyd om die draai
Ek en die blues, as dit koud is en die wind waai
is ons enige tyd bereid om jou op te laai.
Kom saam, kom saam, kom saam met my en die blues vanaand.

Dan volg een of twee van sy bekende nommers, wat hy sonder ’n blik na die musiekstaander aanpak. Na meer as 30 jaar op die verhoog – en ’n Sama-toekenning in 2008 saam met Ollie Viljoen van boeremusiekfaam vir “Vuur en vlam” – vat hy outomaties vlam met hulle.

Oor die nuwe album stem hy en Neitz na ’n paar oor-en-weer-kyke en knikke saam: “Ons het so ’n week lank opgeneem, en toe so ’n maand of wat verder daaraan gewerk.”

Hy erken hy was maar lekker op sy senuwees om na soveel jare weer ateljee toe te gaan.

“But it was like a fish to water,” lag Valiant verlig, sy skrefiesoë aan’t vonkel agter daardie nuwe lense.

Saam met die nuwe musiek kom ook onbekende Valiant-stories. Soos die ene oor waar die album se titelsnit, “Rondry, fliek en die buitelewe”, vandaan kom.

“Ek onthou daardie woorde al vandat ek ’n laitie was,” begin hy.

Kleintyd as sy skoolvriende almal see toe is om oor Desembervakansies uit die warme Wellington te ontsnap, is die Noltes na Beaufort-Wes in die Karoo, sy ouma en sy string jonger tannies toe.

“Dis g’n wonder Gert [Vlok Nel] is so mistroostig met tye nie.

“Maar dis dierbare, dierbare mense daardie,” voeg hy dan immer hoflik by.

“Vandat ek my eerste een gekry het [by sy pa], was ek die outjie met die kitaar. In my mind in elk geval. Nou ja. Ek het baie daar gespeel.”

Van sy ander Karoo-vermaak was die lees van fotoboekies soos Kyk waarin die tydskrif se weergawe van “Hoekie vir eensames” agterin verskyn het. Kompleet met foto’s daarby.

“Ek het daai goed verslind.

“Dit was die Tinder of its time,” verklaar hy onder groot gelag.

“Dis mense wat liefde soek. Hulle soek ’n maat. En dan pimp hulle hulself uit. In so ’n blokkie,” verduidelik hy, dui ’n vierkant met sy vingers aan. “Met ’n kiekie. Die ouens het baie keer so ’n lekker ‘crinkle cut’-kuif gehad.

“Die meisies. Ai. Karin op Kakamas is ’n 23-jarige aster of doedie, en sy werk by die koöperasie. En sy weeg 42 kilogram,” sê hy in ’n hoë aansitstem.

“En dan’s daar die belangstellings. Glo my, in omtrent 50% van gevalle was dit rondry, fliek en die buitelewe. En dan hou hulle altyd van lang stappies langs die strand. En ek wil net sê: ‘Girl, jy woon in f*kk*n Strydenburg!’”

Dan val hy stadig weg met die titelsnit, verhalend soos ’n volbloed Valiant Swart-song:

In ’n townhouse in Tiervlei
loop sy in haar gown.
Sy’t ’n uitsig op die freeway
en ’n painting van ’n clown.
Dis elfuur in die oggend,
sy sit die TV aan
’n Siggie en ’n soapie.
Haar shift is eers vanaand.
Biscuits en witwyn.
Sy wonder of sy moet.
Net een of twee vir die pyn.
En drie of vier vir voorspoed.
Sy sluimer in en die droom begin:
Sy hou van rondry, en fliek, en die buitelewe.
Sondagmiddag by die Oord.
Sy droom van rondry, en fliek, en die buitelewe.
Bellbottom boyfriends wat bier drink en rook.

Die gehoor fokus woord vir woord saam – soos Valiant self geensins mooi gewoond aan die nuwes nie. Maar hulle vind waarderend aanklank by bekendhede daarin, en in ritmes tipies aan sy vorige albums en enkelsnitte.

Hulle luister na die tragedie van die lewe in “Rondloperhond”. En voel aan hoe mens lekker op die filosofiese “Serpentyn Boogie” kan langarm:

Die verlede is ’n vreemde kontrei,
vir die vreemdeling wat deur hom ry.
Die toekoms is ’n lotery,
’n wiel wat spin en na nêrens lei.
Die verlede is ’n sirkelpad.
’n Versteende kring om ’n verlore stad.
Die toekoms is ’n hersenskim,
’n serpentyn in ’n appelboom.
Elke dag is ’n geleende kans.
Jy moet altyd in die hede dans.
Want gister het vir ewig verstryk
en wie weet vir seker hoe more gaan lyk.

Twee van sy storie-songs, “Sak Sarel” en “Brandtrap vastrap”, verwys na brandtrappe, verduidelik Swart, skynbaar steeds onseker oor presies hoekom dit die geval sou wees.

Op “Rock ’n roll engel” sing hy saam met Danie Reënwolf:

Sy’s ’n rock ’n roll engel.
Sy het ’n soft spot vir die drummer.
Hy maak haar skaam.
Sy’s ’n rock ’n roll engel.
Sy’s die girl vir my.

“My vrou dink ‘Daar onder in die Rowerspelonk’ speel af in iets soos ’n Tintin-cartoon,” vertel hy uit die huis uit.

“Lied van die Langpad” is ’n lekker kitaarkwêlanommer, nog een in Valiant se oeuvre van nostalgies-melancholiese “ek is weg van die huis af”-nommertjies wat hy iewers as rondreisende musikant geskryf het.

Die jare gaan so vinnig verby
net een leeftyd vir jou en vir my.
Hoor jy daai lied van die langpad
die klankbaan van dae wat draai
om die son en die maan en sterre wat verskiet en vergaan?

Dalk’s dit steeds die benoudheid, onsekerheid oor hoe die gehoor die album sal ontvang, maar halfpad deur die set vergeet hy ’n song kort eintlik ’n mondfluitjie daarby. En iewers reken hy sy nuwe liedjies is nou op.

“Onthou, julle is by die ‘world premiere’,” herinner hy die gaste weer, in ’n gemaakte Southern-aksent.

Op sy beurt herinner Neitz hom daar’s nog ’n handvol nuwes oor. Valiant begin weer deur die flippie blaai. En die gehoor skuif reg vir nog.

En wanneer al 10 die nuwes wel gespeel is, haal Valiant vinnig-vinnig sy bril af.

Illemar Neitz en Valiant Swart op die Bordienghuis Teater se verhoog met die bekendstelling van Rondry, fliek en die buitelewe. (Foto: Engela Duvenage)

Sy ogies vonkel nou éérs. Die nuwighede is verby. En die nuwe stories en woorde daarmee saam. Nie meer nodig om van notas af te speel nie. Hy begin in autopilot speel. “Eyeshadow” eerste, ook “Witwyntannies”. “Sweet Stellenganga” sodat hy stories uit sy universiteitsdae kan vertel. Later volg ook “Sonvanger” en “Die Mystic Boer”.

Classic Valiant Swart. Woordmaker, musiekmaker, storiemaker vanuit die Woordmakersvallei.

Lees ook:

Toast rig ’n gemaskerde satelliet op Roof en (Or)Wellington

Dis my ding, Wellington: Die stigting van die Breytenbach Sentrum

  • 1

Kommentaar

  • Die nuwe musiek is goed. Vir my beter as meeste van die vorige albums. En dié was ook nie te versmaai nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top