Uvalde kon verhoed gewees het

  • 2

Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer)

Die eerste berigte oor die skietery by die laerskool in Uvalde, Texas, het gemeld dat 14 kinders en een leerkrag gedood is.

So skokkend soos wat dit klink, het ek eintlik verwag die getalle sal styg. Dit het ook.

Negentien kinders en twee leerkragte is uiteindelik dood verklaar. Die skieter is op die toneel gedood. Sy ouma is ook geskiet, maar dit word nie gemeld of sy oorleef het nie.

..........
Negentien kinders en twee leerkragte is uiteindelik dood verklaar. Die skieter is op die toneel gedood. Sy ouma is ook geskiet, maar dit word nie gemeld of sy oorleef het nie.
...........

Dit is al erg genoeg, maar dit is net die begin van die afgryslike feite en/of gerugte wat die ronde na die skietery begin doen het. Op een stadium kon ek niks verder lees nie – dit het te ontstellend geword.

Tussen al die gerugte deur wat warrel, is die volgende bevestig.

Feit 1: Van die polisiebeamptes teenwoordig het ingegaan, hulle eie kinders gaan haal, en die skool verlaat. Die ander kinders is agtergelaat terwyl die skieter voortgeskiet het.

Feit 2: Van die ouers wou self die skool binnestorm om hul kinders te gaan red, en minstens een vrou is deur die polisie gearresteer en in boeie geplaas.

Feit 3: Die skieter het in ’n sloot ingejaag nadat hy sy ouma geskiet het, en is toe te voet verby die polisie om die skool binne te gaan.

Feit 4: 19 gewapende polisiebeamptes het buite die klaskamer gestaan terwyl die skieter binne skiet, en het vir 75 minute lank gewag vir toestemming om die klas binne te gaan. ‘n Grenspatrollie het op die ou end opgedaag en teen instruksies in die klaskamer ingegaan en die skieter gedood.

Feit 5: Terwyl die aktiewe skietsituasie aan die gang was, het die immigrantediens gekom om ondersoek in te stel na die immigrasiestatus van ouers en kinders. Iemand, waarskynlik dieselfde polisie wat niks wou doen nie, moes hulle laat kom het.

Dit gaan die verstand te bowe dat gewapende polisiebeamptes, wat tog opleiding gehad het in hoe om sulke situasies te hanteer, besluit het om niks te doen nie. Negentien beamptes, en een skieter, en hulle sien nie kans om op te tree nie? Maar hulle was dapper genoeg om hul eie kinders te gaan red.

Dit bring my by die volgende vraag: Watse tipe mens red jou eie kind en laat ander kinders aan hul eie lot oor? Ek kan nie dink hoedat daardie beamptes snags slaap nie.

Die vlakke van onbevoegdheid – nee, gevoelloosheid – is verstommend.

...........
Dit gaan die verstand te bowe dat ’n 18-jarige persoon ’n AR-15-geweer op krediet kon koop terwyl hy nie eens werk nie. ’n Verduideliking vir hoe hy in die eerste plek verby polisiebeamptes gekom en toegang tot die skool verkry het, is ook nie beskikbaar nie.
............

Dit gaan die verstand te bowe dat ’n 18-jarige persoon ’n AR-15-geweer op krediet kon koop terwyl hy nie eens werk nie. ’n Verduideliking vir hoe hy in die eerste plek verby polisiebeamptes gekom en toegang tot die skool verkry het, is ook nie beskikbaar nie.

In ’n land waar ons gereeld hoor en sien hoedat mense doodgeskiet word vir die geringste oortreding, van stukkende agterliggies tot ornamente wat van hul truspieëltjie af hang, is dit verstommend dat hierdie skieter nie reg aan die begin geneutraliseer is nie. Ja, geneutraliseer. Doodgeskiet. Dit kon 21 ander lewens gered het.

In stede daarvan het die polisie ’n soft shoe shuffle gedoen terwyl kinders so jonk as sewe en agt afgemaai word. As die grenspatrollie nie opgedaag het nie, sou die plaaslike polisie waarskynlik die skieter laat uitstap het en hom vriendelik versoek het om hulle asseblief polisiestasie toe te vergesel.

Net ’n week vroeër was daar ’n dodelike skietery in ’n supermark in Buffalo, New York.

Daar word nou hande gewring oor hoe om wapengeweld te bekamp. Allerhande planne word gemaak, behalwe die mees ooglopende: Beperk wie vuurwapens kan bekom, verban semi-outomatiese vuurwapens, en stel strenger maatreëls in oor redes waarvoor vuurwapens bekom mag word.

Sommige politici, soos Mitt Romney, ontvang tot soveel as $13 miljoen dollar van die vuurwapenassosiasie NRA. Dertien miljoen redes om nie vuurwapenbeheer toe te pas nie. Hoe kan die duisende lewens wat elke jaar verloor word in massaskieterye, daarteen opweeg?

In ander lande word daar beslissend opgetree teen vuurwapengeweld. Nieu-Seeland het so onlangs as 2019 binne weke aanvalswapens verban na twee aanvalle op moskees. Een en vyftig mense is daar gedood. In die VSA sterf daar elke jaar duisende mense in vuurwapenaanvalle. Kinders word nou al as deel van hul skoolopleiding geleer wat om te doen as iemand die skool binnekom en begin skiet. Net in die VSA is dit ’n natuurlike reaksie op geweld. Dit, en die “thoughts and prayers” waarvoor politici so lief is.

In plaas van bid het dit tyd geword dat daar daadwerklik opgetree word.

My voorstel? Dagvaar elke politikus wat teen vuurwapenmaatreëls stem. Laat hulle aan eie bas voel hoedat geld uit hulle sakke gaan. Verklaar hulle verder ongeskik om ooit weer ’n openbare amp te beklee.

Gee elke enkele polisiebeampte wat betrokke was by die Uvalde-fiasko die trekpas sonder pensioen. Kla dié wat hul eie kinders gaan haal het en die res aan hul eie lot oorgelaat het, aan van kriminele verlating van kinders. Dagvaar die polisiedepartement vir elke sent wat hulle het.

Dagvaar die vuurwapenvervaardigers wat die vuurwapens op die mark laat kom. Maak hulle bankrot, soos wat met die opioïedvervaardigers begin gebeur.

...........
Uvalde, Buffalo, en elke ander massaskietery wat in ons geheues ingebrand is, kon voorkom gewees het. Vele mense wat ryk en vol lewens kon gelei het, is weggeruk. Dit het tyd geword dat iemand daarvoor betaal.
..............

Uvalde, Buffalo, en elke ander massaskietery wat in ons geheues ingebrand is, kon voorkom gewees het. Vele mense wat ryk en vol lewens kon gelei het, is weggeruk. Dit het tyd geword dat iemand daarvoor betaal.

En vir Amerikaners, wat skynbaar net die taal van die dollar verstaan, het dit tyd geword dat hulle sakke geruk word.

Genoeg is genoeg.

  • 2

Kommentaar

  • Anthony "Speedo" Wilson

    Dankie Bettina! Weer eens in die kol met nog 'n goeie artikel. Jy kan nie glo dat Donald Trump nou die dag nog die NRA verdedig het nie. Hulle moet maar liewers wapenwette maak wat die liefhebbers van gewere en die tweede amendment kwaad maak, as om weer voorvalle soos dié te hê! Blykbaar kom die wette al van die dae van die Wilde Weste af.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top